Wednesday, February 11, 2015

NOG TERUGVOERING UIT WITRIVIER

Ons was toe weer by Dr van Wyk vir die opvolg behandeling en moet weer binne die volgende 3 weke gaan vir die stam sel toediening.
 
Vrydag na die behandeling het ons direk terug gery huis toe en dit was nie een keer nodig om te stop langs die pad met Henru en hom eers te strek nie. Vir die eerste keer in jare kon ons ry sonder dat hy een keer gekerm het. Ek het wel sy bene gestrek soos ons gery het - iets wat ek nooit kon doen nie. In die verlede, soos hy sit, het hy spasmas in sy bene gekry en die enigste manier om verligting te kon kry, was om te stop en hom te strek. Nou kon ek die voete verskuif van posisie en die bene meer reguit maak. Daar is 'n daadwerklike verskil en dan die beste is die oë wat reageer. Die pupille was altyd heeltemal vergroot en het nie gereageer op lig nie, alhoewel hy sy oë toegemaak het as daar skerp lig skyn soos son. Nou reageer die pupille en word kleiner en groter soos met lig en donker.
 
Wanneer ek Henru klaar gevoer het en ek sy gesig afvee, dan sit hy 'n keel op want hy hou glad nie daarvan as ek sy gesig afvee nie.  Nou skielik regaar hy deur sy oë toe te knyp en sy gesig weg te draai as ek met die waslap nader kom.  Is dit dalk die sig wat verbeter?  Hy knip ook somtyds sy oë as ek met my hand voor sy oë beweeg.