Wednesday, May 15, 2013

15 MEI 2013

Dit gaan steeds goed met Henru.  Ek het hom weer terug op die Stilnox en daar is 'n BAIE groot verbetering.  Dis ongelooflik as ek in die middae by die huis kom hoe hy weer lag en gesels.  Sy versorger sê hy reageer ook baie erg op die dreuning van die voertuig as ek aangery kom, maar nie op ander voertuie wat hier ingery kom nie.

As ek dan by die huis inkom, gee hy sulke gilletjies en lag so uit sy maag uit as ek hom groet en 'n drukkie gee.  Partykeer is dit so erg dat sy sussie Amor haar ore toedruk soos hy gesels, lag en sommer net lekker skreeu van opgewondenheid.  Dit is onbeskryflik hoe hierdie reaksie mens se dag "boost" as jy nie 'n lekker dag gehad het nie en by die huis kom en hy reageer so.

Ek het hom gou by die dokter gehad want die longe wil nie lekker opklaar nie.  Gelukkig is daar geen infeksie nie, maar die dokter het antibiotika gegee dat ons kan voorsorg tref teen die winter wat op hande is.

Ek het ook laas week 'n skou gaan bywoon vir hulpmiddels vir gestremdes en daar is kussings wat mens kan gebruik om hom mee te kan posisioneer wat beter sal werk as die gewone kussings wat ons nou gebruik.  Dan is daar ook die masseer matras wat help met die voorkoming van druksere en het ek dit vandag bestel.  Dit kos darem nie 'n plaas se geld nie en ek weet sommer dit gaan ook help met die spasmas.

Sunday, May 5, 2013

MOET JULLE NIE BEKOMMER NIE

Toe ek die inskrywing gemaak het op 3 Februarie 2013 van “Die Here sorg”, het ek die gedeelte in die Bybel staan gesoek en kon dit nie vind nie.  Sê nou vir my of hierdie toeval is of nie, ek glo met my hele hart die Here sorg vir ons en ons “walk the walk” soos oom Joseph gesê het. 

Saterdag 4 Mei 2013 het Dirk my gevra om hom te help om sy vriend, Oom Joseph Von Schönfeldt te help trek van Brakpan hier na Centurion.  Hy het nie veel goed nie en sal net een waentjie vrag wees.
Om dit te doen, het ek nie 'n keuse anders as om Henru saam te neem nie, want Hannes werk en ek kan hom nie by Amòr los nie.

Na 'n effense moeilike nag gaan slaap Henru teen 04:30 en ek besluit toe ek gaan nie eers die wekker stel nie, Dirk kan my wakker maak as hy hier aankom soos ons afgespreek het en dan kan ek klaarmaak en ons kan ry.
06:55 word ek wakker sonder rede, maar besef dit Henru se medikasie tyd.  Ek gee dit vir hom met 'n bottel melk en hy raak so aan die slaap terwyl hy die bottel leegdrink.  Daarna slaap ek ook weer net om 09:35 wakker te word.  Ek besef dis byna tyd dat Dirk hier gaan aankom en staan op, gaan stort en maak klaar, pak Henru se doeke en bottel in, gee hom nog 'n bottel om te drink en teen ±10:20 vertrek ons om die waentjie te gaan kry en ons ry na Brakpan.

Net voor ons afdraai op die R24, sê ek vir Dirk dat ek 'n vreemde geluid hoor op die een wiel en toe ons op die hoofweg is, is dit net een geraas soos iets skuur.  Ons klim uit, maar kan niks sien nie en ek besluit om verder te ry, maar die geluid klink erger, later soos wanneer die handrem opgetrek is en mens probeer so ry.  Ek bel die persoon by wie ek die kombi die week vantevore laat diens het en hy sê ek moet probeer om by 'n “fitment centre” uit te kom dat hulle kan kyk en hy sal dan die nodige reëlings tref.
Ek is uiters bekommerd dat die remme dalk kan vasslaan, maar ons kruip maar so aan en daar mis ek die afrit.  Weer moet ons soek na 'n ander plek en dit laai op binne my van bekommernis.  Die gedagtes maal in my kop van wat gebeur as die kombi breek, hoe kom ons by die huis, waar kry ons iemand wat ons kan kom haal met ‘'n voertuig wat Henru gemaklik in kan sit, ag, ek raak sommer skuins verbouereerd van bekommernis.

Om 'n lang storie kort te maak, ons kry toe 'n plek en toe die ou kyk, sê hy daar is groot fout want die wiele is ontsettend warm.  Ek laai Henru uit want daar is gelukkig 'n lekker bank waarop hy kan lê en na 'n ruk kom die bestuurder by my en sê alles is reg, daar is nie groot fout nie, dis net die “dust cover” wat losgekom het en dis alles reg, ons kan weer rustig verder ry, dit kos ons ook nie geld nie.
Dirk het gou gaan koeldrank koop en die bestuurder vra my uit na Henru waarop ek hom kortliks vertel wat gebeur het en hy sê to, soos so baie mense al gesê het, hy weet nie hoe ek dit regkry nie, maar hy bewonder my dat ek dit doen.

Ons laai toe Oom Joseph se goed op en ons ry terug Pretoria toe.  Op pad daarheen is die versorging van Henru weer ter sprake en hy sê ook hy weet nie hoe ek daarmee “cope” nie.
Soos ek al so dikwels in die verlede gesê het en erken het, ek sou dit nie op my eie kon regkry nie.  Ek kry bonatuurlike krag en ondersteuning en dit kan net van die Here kom en daarom sal ek altyd aan Hom die erkenning gee daarvoor, want op my eie sou ek nie in staat wees daartoe nie.

Maar dis nou juis hier waar die sameloop van omstandighede is.  'n Kollega is verlede jaar hierdie tyd oorlede en by sy gedenkdiens het die pastoor gelees van die lelies van die veld en die gras wat vandag daar is en môre verdor het in verbrand word en dit het ook 'n diep impak op my gelaat en vandag toe ek op die rekenaar werk, het ek weer op die kennisgewing en begrafnisbrief wat ek meegehelp het afgekom en baie daaraan gedink.
So is ek ook besig om 'n DVD saam te stel van die familie en vandag is ek by die laaste kind van my pa-hulle, tannie sus.  Haar man Oom Hannes is ook verlede jaar die 8ste Desember oorlede en toe ek nou vanaand die begrafnisbrief se besonderhede aanteken, toe sien ek die Skriflesing vir die diens was uit Lukas 12:13-21, maar kon nie die teksvers onthou nie, wel van die preek waar die dominees gesê het van die lewe wat nie bestaan uit die oorvloed van sy besittings nie.

Ek gaan soek dit toe op in die e-sword program wat ek het VA die Bybel en daar kry ek alles saam wat ek na gesoek het.  Veral in die Ou vertaling waar dit so duidelik staan in Lukas 12:25  En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
Dit kan ek vanaand onomwonde sê en erken, ja, ek is dikwels bekommerd oor Henru, Amòr, Hannes en Francois, oor wat die toekoms gaan gebeur met hulle, maar dan kom kry ek hierdie gerusstelling soos dit so duidelik in die Bybel staan en daarom haal ek die hele gedeelte aan, maar lees toe ook die volgende weer 'n keer raak:

Lukas 12:34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
Ek deel dit graag:

Lukas 12:13-34:  En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.
Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as ‘n regter of deler oor julle aangestel?
En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.
Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ‘n Ryk man se grond het goed gedra.
En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie?
Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel.
En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.
Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?
So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.
En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.
Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.
Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!
En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?
Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.
As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!
Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;
want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.
Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.
Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.
Lukas 12:34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.