Wednesday, June 26, 2013

"WATER, DORS EN 'n BRIEFIE"


Water, dors en ’n briefie

“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ’n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ’n bekertjie water om te drink.” Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ’n stukkie brood saam.” Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ’n handvol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ’n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

— 1 Konings 17:9-14 —


As daar een ding is wat ons in vandag se tyd nodig het, dan is dit geloof. Maar wat is geloof? Geloof is om God met jou lewe te vertrou en daarom te leef soos Hy jou vra – sonder voorwaardes.

Daarom kan ons sê geloof is die vermoë om met God se oë te sien.

Dit is nie so maklik om van beloftes alleen te leef nie. Maar dit is wat die Here van ons vra.

In die dertigerjare was daar ’n groot droogte en verskriklike depressie in Suid-Afrika. ’n Storie uit daardie tyd vertel van ’n man wat Koos Kalahari genoem is. Dit handel oor die Kalahariwoestyn wat maar min drinkwater vir die reisiger (oor die algemeen) aangebied het. Iewers in die woestyn sou die dors pelgrim op ’n boorgat afkom met ’n handpomp op.

As hierdie handpomp gewerk het, het jy water gekry. As dit nie gewerk het nie was daar niks, só eenvoudig was dit. Aan hierdie handpomp se handvatsel, so gaan die storie, was daar ’n blikkie met ’n stuk draad vasgemaak. Binne in was daar ’n briefie wat met een van daardie ou, pers “indellible” potlode geskrywe was. Dit het ongeveer só gelees:

Hierdie pomp is op 1 Junie 1932 gediens. Ek het ’n nuwe leerwaster ingesit. As die pomp lank gestaan het, raak die waster droog. Dan moet dit gepraaim word. Onder die wit klip is daar ’n bottel met water. Dis genoeg om die pomp mee te praaim. As jy eers van die water drink is dit nie genoeg nie. Gooi ’n kwart van die bottel in die pomp se pyp af, sodat die leer-waster nat kan word. Gooi die res van die water in, en pomp die handvatsel vinnig op en af. Jy sal water kry. As jy genoeg water gekry het, maak weer die bottel vol en sit dit onder die klip vir die volgende ou.

Geteken: Koos Kalahari.

 

“Sometimes you got to give everything away to get something back.”


Wat sou jy doen met ’n brief soos hierdie? Sê nou maar dit was jý wat half dood van die dors by daardie ou pomp in die woestyn uitgekom het, wat sou jy gedoen het? Sal jy die water uit die bottel drink en maar ’n kans vat vir die res van die pad? Of sal jy die bottel se kosbare inhoud in die geroeste pyp afgooi en hoop jy kry water? Hierdie karakter, Koos Kalahari, hoeveel kan jy hom vertrou?

Sal jy jou lewe waag met dit wat hy op daardie briefie in die blikkie geskryf het?

Daar is net een manier om uit te vind: Jy sal nie weet of hy vertrou kan word, voor jy nie probeer het nie.

Eers vir my dan vir julle. Het ons reg gehoor? Dit klink vir ons na verwerplike selfsug. As jy nou in Elia se posisie was, sou jy dit waag om so iets vir hierdie vrou te sê wat nou net vir hom vertel het dat sy niks het nie en na hierdie laaste maaltyd staar sy en haar kind die verskriklikheid van ’n hongerdood in die gesig? Tog het sy gegaan en dan lees ons: “Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.”

Dit is geloof, om te leer om uit die hand van die Here te leef, omdat jy Sy beloftes vertrou. Sien, geloof is doodgewoon die vermoë om beter te kan sien as wat ander mense kan sien. Geloof is die insig om te weet wat belangrik is. Een ding wat elke keer met ’n Christenmens moet gebeur, is dat jy jou lewe sal beoordeel en sal vra: Sien ek nog die dinge raak waarop dit werklik aankom? Is die onsienlike God ALLES in my lewe? Verstaan ek nog wat belangrik is in die koninkryk van die Here?

In daardie huis was drie gelukkige mense. Hulle pot en kruik was nooit leeg nie; dit was ook nooit vol nie; ’n vol pot en kruik kon hulle maklik onafhanklik van God laat voel het. Net genoeg vir elke dag. Die vriendelike aangesig van die Here het elke dag oor die huis van die weduwee geskyn.

Nou kom ons lewensverhaal hierby. Moontlik sit ons soos die weduwee van Sarfat en wonder oor die laaste bietjie meel en die klein bietjie olie wat ons vir die toekoms het: ’n bietjie hoop, ’n bietjie geloof, ’n bietjie eie krag, ’n bietjie vermoëns, ’n bietjie middele – in elk geval glad nie genoeg nie.

Kom ek vertel jou iets. Byna tweeduisend jaar terug het Jesus Christus, die Seun van God gesê: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Matt. 6:33). Glo jy dit? Kan jy hierdie woorde vertrou? Daar is net een manier om uit te vind.

Gebed:
Here, maak stil my klagtes,
kalmeer my angs,
verban my twyfel,
sodat ek in U tot rus kan kom.
Plaas my voete op die vaste Rots,
wat U self is – o Ewige en Sterke.
Amen

No comments:

Post a Comment