Friday, January 17, 2014

'n TOE DEUR MAAR OOP VENSTERS

"So dikwels staar ons ons blind aan die deur wat toegegaan het dat ons nie die venster(s) sien wat God vir ons oopmaak nie".

Hoekom moet mens altyd aan krisisse blootgestel word en deur al hierdie spannings en dramas deur die lewe gaan?

Ek moet Henru neem vir sy 6 maande ondersoek en aanpassing van sy medikasie soos hy groei.  Toe ek bel die 6de Januarie 2013 toe die dokter se spreekkamer oopmaak, is hulle vol geboek tot Augustus maar die ontvangsdame sê sy plaas my op die "stand by" lys.  Sy bel toe Woensdag en sê ek kan afspraak kry vir 07:45 gister 16 Januarie.

Christa Fourie kom die middag vir haar terapie sessie en ons het groot sports om Henru geweeg te kry maar kry dit uiteindelik reg en trek hy die skaal op 38,7kg!

Donderdag oggend gaan laai ek Amor by die skool af en gaan Unitas hospitaal toe vir die afspraak by Dr Lippert.  Hy is baie tevrede met Henru, net sy slaap patroon moet ons bietjie probeer verander en sy epilepsie medikasie aangepas met die gewig en ons kom huis toe.

Hier wag toe 'n vreemde wese in die gedaante van die vrou wie na Henru omsien se gedaante my in.  Ek weet nie wat haar ingevaar het nie, maar na haar jaarlikse verhoging van haar salaris en die vorige dag se bespreking van aanpassings om dit vir ons albe makliker te maak, toegewings en ingewings ens, is sy nie tevrede met haar salaris van R3 000 per maand nie.  Sy vaar uit soos 'n besetene en sê sy wil nie meer hier werk nie en wil die einde van die maand loop.  Hoe meer ek probeer uitvind wat die werklike probleem is, hoe minder wil sy praat en sy, wie nou haar voordoen as 'n "vrou van die kerk" en Woensdae gaan preek en ek weet nie watter "heilige" rituele volg nie, gaan so tekere en sê dat sy nie genoeg betaal word vir die werk nie en God my sal straf en ek kan nie eers onthou wat alles nie.

As gevolg van haar optrede, vrees ek selfs dat sy Henru dalk iets kan aandoen en versoek haar om onmiddellik pad te gee want ek het geen vertroue meer in haar nie en weet nie watter skade sy my of Henru of een van die ander kinders kan aandoen nie.

Ek voel sommer of ek my werk kan bedank en self na Henru omsien.  Ek bel ook die dame wie daarmee werk by die stasie en vra sy moet my help.  Danica sê sy is vandag die maatskaplike werkster en ek moet met haar praat, al kan sy net luister, maar sy sal in elk geval vasstel wat sy kan doen en help waar sy kan.

So sit ek my en bekommer en kom dit by my op dat ek verlede jaar met Sanet Bester gepraat het en sy het iemand se kontak nommer vir my gegee wat ek dalk kan navraag doen.  Ek bel haar (Flora) en sy sê sy het nie werk nie, maar dat sy vandag hier kan wees vir 'n onderhoud.  Ek gee haar kortliks 'n agtergrond van wat van haar verwag word sodat sy kan besluit of sy in die pos belang stel.  Na ons aanvanklike inligtingsonderhoud sê sy dat sy wel belangstel en sy kom vir die formele onderhoud.

Vanoggend daag sy toe op en kom voor as 'n baie aangename persoon.  Ek gee aan haar 'n totale oorsig van wat die situasie is en wat haar werk sal behels en sy sê toe dat sy die werk aanvaar.

Sonder om die vorige versorger af te kraak, maar sy was nie wat sy voorgegee het om te wees nie, maar sy het tog goed na Henru omgesien.  Haar grootste probleem was geld.  Sy wou die minimum doen en het net altyd geld gesoek.  In teenstelling met Flora wie sê sy het begrip vir my situasie, maar die een help die ander een en het sy ten minste 'n werk, is sy baie tevrede daarmee wat ek haar aanbied.

My vraag vandag is – hoe werk hierdie goed?  Is dit toeval, soos ander sê die noodlot of is God se hand hierin teenwoordig?   

My oortuiging en geloof dui vir my God se teenwoordigheid hierin.  Hier maak een deur toe en die vensters na buite word oopgemaak soos die spreekwoord lui.  Ek en die vorige werknemer het ook al probleme gekry/ondervind en sy wou ook toe al loop, maar na onderhandelinge het sy onderneem om te bly en te werk volgens my vereistes.  Ek het my blind gestaar teen die heropleiding van iemand anders, die vreemde persoon in my huis, die aanpassing weer met Henru en al dies meer, maar tog was ek nie tevrede met haar werk nie.  My ander bekommernis was hoe raak ek van haar ontslae op 'n wettige manie?  Hier kom die oplossing so uit die bloute en onmiddellik is daar 'n ander uitkoms en oplossing.  My eerlike opinie:  Dankie, Here, U het ons gedra vandag een af en doen dit nog deurlopend elke dag.  Ek sien in elke gebeurtenis U hand en kan net dankie sê dat U voorsien in al ons daaglikse behoeftes.  Sonder U hulp en ondersteuning sou ek dit nie gemaak het tot hier nie.  Baie dankie en ek loof en pry U grote naam vir al u goedheid, guns en liefde.
 






Wednesday, January 8, 2014

'n NUWE JAAR

So het 2013 gekom en gegaan met 'n baie slegte begin vir Henru en op 'n hoogtepunt geëindig.  Hier staan ons aan die begin van 2014 en ons ry op die kruin van die golf. Voorspoed vir die nuwe jaar van ons af! 

Dit gaan op hierdie stadium so goed met Henru - hy giggel vir alles!  As ek in die kombuis werskaf en sy kos voorberei met die masjien waarmeee ek dit fyn maak, dan giggel hy, of sommer kap met sy melkpoeier blik as dit bykans leeg is op die kas, dan gigggel hy, as ek sy doek omruil, giggel hy, as ek of ouboet Hannes in 'n sekere stemtoon praat, dan giggel hy - so erg dat ek hom moet keer dat hy nie sy asem uitlag nie!  Die beste van alles is dat hy op sekere goed reageer ook.  As hy so giggel en sy asem raak kort, dan sê ek vir hom: "Haal asem" en dan haal hy asem.  Hy gee dan tussenin so lekker gil ook dat ek soms dink die bure gaan dink ek mishandel hom!

In die middae as ek by die huis kom dan stap ek met opste by hom verby en sal hom net so in die verbygaan groet met 'n "Hallo Boeta", dan lê hy in afwagting op my.  As ek nie na hom gaan en hom soen nie, dan gooi hy so gil uit tot ek hom so op sy ken soen en dit is dan 'n gegiggel.  Dis ongelooflik hoe hy floreer op aandag.

Saans as ek nou bietjie tot ruste wil kom, dan giggel hy ook vir my.  Ek vryf sy oorbel so liggies dan lyk dit of hy aan die slaap raak, tot sy asemhaling raak rustiger en nes ek dink dat hy slaap, dan giggel hy ook vir my, so of hy sou sê:  "Lekker uitgevang, ek slaap tog nie."

Ek kry steeds ook gereeld boodskappe van bemoediging en gebede en wil net vir almal baie dankie sê daarvoor.  Dit is net dit wat mens staande hou.  Veral Kersfees en nuwe jaar is dit vir my baie erg as mens sien kinders van sy ouderdom en jonger - hoe hulle alles geniet en hy moet maar op 'n bank of op sy bed lê en net hoor van wat om hom aangaan.  Dit help nie eers ek probeer dit wegsteek nie, dit ontstel my geweldig, maar dan is daar net hierdie klein boodskappie wat deurkom dat daar iewers iemand is wie vir ons bid en aan ons dink en dan kry mens sommer weer nuwe moed.  Baie dankie daarvoor.   Love you all! ♥