Wednesday, January 8, 2014

'n NUWE JAAR

So het 2013 gekom en gegaan met 'n baie slegte begin vir Henru en op 'n hoogtepunt geëindig.  Hier staan ons aan die begin van 2014 en ons ry op die kruin van die golf. Voorspoed vir die nuwe jaar van ons af! 

Dit gaan op hierdie stadium so goed met Henru - hy giggel vir alles!  As ek in die kombuis werskaf en sy kos voorberei met die masjien waarmeee ek dit fyn maak, dan giggel hy, of sommer kap met sy melkpoeier blik as dit bykans leeg is op die kas, dan gigggel hy, as ek sy doek omruil, giggel hy, as ek of ouboet Hannes in 'n sekere stemtoon praat, dan giggel hy - so erg dat ek hom moet keer dat hy nie sy asem uitlag nie!  Die beste van alles is dat hy op sekere goed reageer ook.  As hy so giggel en sy asem raak kort, dan sê ek vir hom: "Haal asem" en dan haal hy asem.  Hy gee dan tussenin so lekker gil ook dat ek soms dink die bure gaan dink ek mishandel hom!

In die middae as ek by die huis kom dan stap ek met opste by hom verby en sal hom net so in die verbygaan groet met 'n "Hallo Boeta", dan lê hy in afwagting op my.  As ek nie na hom gaan en hom soen nie, dan gooi hy so gil uit tot ek hom so op sy ken soen en dit is dan 'n gegiggel.  Dis ongelooflik hoe hy floreer op aandag.

Saans as ek nou bietjie tot ruste wil kom, dan giggel hy ook vir my.  Ek vryf sy oorbel so liggies dan lyk dit of hy aan die slaap raak, tot sy asemhaling raak rustiger en nes ek dink dat hy slaap, dan giggel hy ook vir my, so of hy sou sê:  "Lekker uitgevang, ek slaap tog nie."

Ek kry steeds ook gereeld boodskappe van bemoediging en gebede en wil net vir almal baie dankie sê daarvoor.  Dit is net dit wat mens staande hou.  Veral Kersfees en nuwe jaar is dit vir my baie erg as mens sien kinders van sy ouderdom en jonger - hoe hulle alles geniet en hy moet maar op 'n bank of op sy bed lê en net hoor van wat om hom aangaan.  Dit help nie eers ek probeer dit wegsteek nie, dit ontstel my geweldig, maar dan is daar net hierdie klein boodskappie wat deurkom dat daar iewers iemand is wie vir ons bid en aan ons dink en dan kry mens sommer weer nuwe moed.  Baie dankie daarvoor.   Love you all! ♥


No comments:

Post a Comment