Wednesday, September 18, 2013

HOE TROOS EK JOU MY KIND?







Ek sit vanaand voor die rekenaar en kyk wat op Facebook aangaan en lees die koerant op die internet.  Henru is al in droomland, maar Amòr kan nie slaap nie.  Ek stel voordat sy op my bed kom lê dat sy net aan die slaap kan raak, want dit is al na 23:00.  Die TV is baie sag op kanaal 146 met die Afrikaanse musiek net-net hoorbaar en ek hoor die sagte snikke hier agter my...



Ek draai om en in die skemerlig van die rekenaarskerm wat in die kamer skyn, sien ek die trane oor haar wange.  Ek vra haar saggies wat is fout en sy antwoord nie.  Ek vra dringender aan haar om my net te vertrou en te vertel waarom sy huil dat ek net kan verstaan en die sluise bars vir die eerste keer oop...  Hoekom?  Hoekom óns?  Hoekom Boeta? Ek gaan NOOIT iets saam met hom kan doen nie... die rou snikke skeur uit haar bors, uit haar liggaam en haar liggaam ruk soos sy snik...
Ek staan op en gaan sit by haar waar sy op die bed sit en ek hou haarnet vas en ek vra net “Here, hoe troos ek my kind?”  Waar kry ek die antwoorde vandaan as ek self ook dikwels in die nagte nie kan slaap en hierdie liggaampie hier langs my in die bed voel en dit steek soos 'n dolk deur my hart as ek besef maar dit is wat dit is:  'n liggaam wat asemhaal, 'n liggaam wat gevoed word, 'n liggaam wat funksioneer in die sin dat daar normale uitskeidings deur stoelgange en uriene is, 'n liggaam wat daagliks gestrek en geoefen word om die spiere bietjie soepel te kry en die liggaam in stand te hou, maar waar mens dikwels sien dat hierdie liggaam agteruitgaan.

Al troos wat by my opkom op daardie stadium is in die woorde wat ek ook eendag gelees het en wat my ook help, naamlik dat Henru se liggaam miskien stukkend is, maar sy siel is heel en ek sê vir haar eendag as ons te sterwe kom, gaan ons almal saam by Liewe Jesus wees en daar gaan sy liggaam nie meet misvormd wees of enige pyn of seer hê nie, maar dit het net die teenoorgestelde uitwerking en die snikke word nè erger en rouer en die seer kan ek aanvoel.  Al wat ek later kan doen, is om haarnet vas te hou dat die trane haar seer kan spoel en bietjie ligter kan maak, maar troos kan ek haar nie troos nie.
Ek voel hier binne my ek kan dit uitskree as...! As....!  As.... is verbrande hout.  Ek wil die verwyte in die nag uitskree teenoor mense wat die lewe en die mooi in ander se lewe gesteel het en hulle geluk op die hartseer en ongeluk bou, maar met die genade van Bo weerhou ek my daarvan om dit vir Amòr te sê en hou ek haarnet vas...

Amòr sê-vra vir my sy wonder hoe sou hy gewees het as hy normaal was en ek dink hoe woelig sy was en net nie normaal kon loop in die huis nie, sy moes altyd hardloop van die een vertrek na die ander en het selfs een aand die kamer se deur se handvatsel afgebreek toe sy met haar arm daaraan gestamp het toe sy weer in die gang afgehardloop het en met die deur kennis gemaak het.  Daar was 'n gat in haar arm en moes ek haar dokter toe vat waar sy twee of drie steke in die wond gekry het.  So tussen die trane en snikke kry ek ‘'n effense glimlaggie maar dan huil sy weer hartverskeurend en in die trane sê sy hoë lekker dit sou wees.
Noudat ek haar aandag het, sê ek weer iets en dit is die verkeerde ding wat ek sê.  Ek sê vir haar hoe dink sy sou sy en Henru baklei het en weer bars die walle oop en is haar antwoord eerder dat hulle kon baklei as wat hy net so daar lê.  So tussendeur draai sy telkens haar kom in Henru se rigting en staar hom net aan en die trane die rol en die snikke skeur uit haar lyf.  Die toiletpapier rol wat sy gehad het, is naderhand amper op en ek gee vir haar een van Henru se “spoeg doeke” en steeds vra ek net “Hoe troos ek jou.....”

Ek kry dit later reg om haar te oorreed om langs hom op die bed te lê en hom net vas te hou.  Ek sê ook vir haar dat ek en Tannie Christa en die dokters al baie hieroor gepraat het en al wat ons kan doen, is om hom te voed, laat drink, hom skoon te hou en hom gelukkig te hou.  Ek herinner haar aan hoe hy Sondagmiddag (15/09/2013) vir haar gelag het as sy hom gesoen het toe sy teruggekom het van haar besoek aan Harrismith, hoe hy lag as hy eet en ek eers moet wag dat hy eers klaar lag, anders kan hy verstik en net so ook wanneer ek vir hom bottel gee, wat hy kraai van die lag!  En dan weer die vraag – Wat kan ek doen om dit vir hom beter te maak?  Wat antwoord jy anders as net “Ons kan niks doen nie, dit is net in die Here se hande, maar vir ons is dit onmoontlik om iets te doen.
Ek probeer weer en sê vir haar hy is ten minste nog by ons, wat sou gebeur het as hy gesterf het in die ongeluk en weer is dit die verkeerde ding om te sê want haar antwoord is dat hy nou nog hier is, maar netnou gaan hy dood... en sy huil histeries.

Ek laat haar soos my klein dogtertjie van so paar jaar gelede op my skoot kom sit en hou haarnet vas en besluit om niks verder te sê nie, maar net om haar vas te hou dat sy kan rustig raak.  Ek voel waar haar liggaam teen myne raak hoe die snikke uit haar liggaam skeur en die trane rol soos riviere oor haar wang, druppels hang onder haar ken en dan vee sy dit met die doek af.
Sy staan later op en gaan badkamer toe en toe sy terugkom, kry ek dit reg dat sy langs Henru op die bed gaan lê en net sy hand vashou en so raak sy aan die slaap...

Ek gaan Google om trooswoorde vir my en haar te kry en kom op die volgende gedeelte af:

Troos wat troos …

deur Lina du Plessis

Ek onthou vaagweg die woorde van ‘n liedjie waarin ‘n Mamma vir haar grootmens-kind wie se hart gebreek is, sing … toe jy klein was, was dit maklik om jou seerkry reg te soen, maar hoe troos ek nou …

Toe klein Ponelopele ‘n paar maande gelede verdrink en in my hande gesterf het, het ek besef hoe magteloos en woordeloos mens is wanneer dit kom by troos. Hoe troos ek iemand tydens so ‘n tragedie? Kan ek iemand hoegenaamd troos? Sal troos help? Ons wil iets sê, want ons voel ons moet iets sê … Dis dan wanneer ons gryp na sinnelose verklarings, verduidelikings, en leë trooswoorde soos: Dit was die Here se wil; die Here het besluit om hom te kom haal; dit was sy tyd; die Here het die mooiste blommetjie kom pluk vir die hemel; hy was te goed om op aarde te wees; daar is ‘n doel mee; die Here weet wat Hy doen; en vele ander.

Dit troos my nie, want dit maak nie sin nie. God is dan ‘n God van LEWE. Hy het LEWE geskep, hoe kan Hy dit dan sommer net op ‘n dag wegneem? Maak Hy onskuldige kinders dood? Dalk is dit beter om net stil te bly, naby te wees, vas te hou en saam te huil soos Jesus gehuil het toe sy beste vriend Lasarus dood is.

Ek het weereens besef daar is nie antwoorde nie, want die hoekom en waarom vrae wat ons vra, het nie antwoorde nie. Ons verstaan nie, want ons hoef nie te verstaan nie. Sal verstaan hoegenaamd die pyn en hartseer wegneem? Dit laat my aan die Job-storie dink. Sy vriende het amper 37 hoofstukke vol verklarings gegee vir die tragedie wat met hom gebeur het. Hulle het probeer. Ons het nie Jobs-troosters nodig nie. Ons het goddelike troos nodig.

Ons mag vrae vra, glo ek. Ons mag selfs met God worstel en vir Hom sê wat ons dink en voel. Dis in elk geval beter om vir God self te vra as om vir mense te vra. Ons lewe in ‘n gebroke wêreld met beperkte insig. Troos lê in elk geval nie in goeie verklarings nie. Al wat ons moet onthou is dat God God is. Dan kan ek saam met Job sê: “Ek het oor dinge gepraat waarvan ek niks weet nie. Hierdie dinge was net te groot vir my klein verstandjie om te verstaan.” (Job 42:3).

Wanneer ek terugkyk na daardie oomblikke weet ek dat God daar was. In die krisis, was Hy daar, na die krisis was Hy daar en Hy is nog steeds daar, baie, baie naby, in ons, by ons, om ons. Hy vou ons toe in sy goddelike trooskombersie, want net Hy kan regtig troos. Wanneer ons God se teenwoordigheid so tasbaar ervaar, vervaag al die antwoordlose vrae. “Ek het vroeër net gehoor wat ander mense van U sê, maar nou het ek U met my eie oë gesien. Ek trek alles terug wat ek gesê het. Om te wys dat ek baie spyt is oor wat ek gesê het, gooi ek grond en as op my kop.” Aldus Job (Job 42:5-6).

Dit was onlangs Paasfees, dood en opstanding. God huil oor sy skepping wat daagliks sterf, maar Hy skep ook elke dag nuwe lewe. Ons leef elke dag in die spanning van dood en lewe, maar ons hoop is in die opstanding nie in leë verklarings wat op die ou end op niks uitloop nie. Ons moet versigtig wees met trooswoorde. Dit is God se werk en Hy weet hoe! Al wat ek opnuut weet is dat ons enigste troos in lewe en in dood is dat ons aan Jesus Christus behoort. Dis al en dit is genoeg.

Jesus, dankie dat U lewe, vir altyd en altyd en dat U self sagte salf op ons seerkry kom sit met U deurboorde hande.

No comments:

Post a Comment