Thursday, December 11, 2014

'n NUWE MOONTLIKHEID UIT WITRIVIER

Marietha Scholtz het Sondag, 6 Desember 2014, aan my hierdie berig gestuur.  Dis gepubliseer in "Die Laevelder" op 5 Desember 2014.
 
WITRIVIER – ‘n Vierjarige serebraal-gestremde seun het Woensdag sy eerste treë gegee, te danke aan dr. Hein van Wyk se stamselnavorsing.
Wandré Els kon nooit sy bene reguit maak of optel nie. Hy kon slegs agtertoe in sy rystoel beweeg. Woensdag het hy en sy ma, Annatjie hand aan hand by Van Wyk se kantoor uitgestap.
Dit volg na twee weke se intensiewe plaatjieryke plasmabehandeling en ‘n dag se stamseloorplanting. “Die neuroanti-inflammatoriese effek van die stamselle veroorsaak dat die spastisiteit in pasiënte drasties verminder,” sê Van Wyk. “Sommige effekte is onmiddellik en duidelik sigbaar, selfs terwyl ons die stamselle toedien. Die pasiënte se arms raak stelselmatig meer reguit en hul gesigte raak meer ontspanne.”
Wandré ontang al vir twee weke plaatjie-behandeling en het Woensdag vir die eerste keer stamselle ontvang. “Alhoewel sommige effekte gesien kan word, sal die stamselle se volle effek eers oor drie of vier weke verskyn en dan is dit blywend. Die plaatjieryke plasma het ook genesende eienskappe, so dit het baie gehelp om Wandré se spraak en motoriese vaardighede te verbeter.”
Van Wyk is een van vier dokters in die land wat tans met stamselle werk. Hy en sy kollegas gebruik geaktiveerde bloedplaatjies om inflammasie of afbrake in die liggaam op te spoor. Geaktiveerde plaatjies is meer doelgerig en sterker. “Die plaatjies is soos Pac-Man wat oral beweeg en sy teiken soek. Dan stuur hulle ‘n sein aan stamselle sodat hulle ‘weet’ waar om te gaan werk. Omdat stamselle neutraal is, kan hulle enige weefsel word. Die stamselle ‘verstaan’ dan dat hulle senuweeselle moet word om die senuwee te genees. In die plasma is daar ook baie selle wat inflammasie behandel en daarom is dit dan ook anti-inflammatories. Dit werk uitstekend vir serebrale verlamming.”
Bloedplaatjies word uit geskenkte bloed getrek en stamselle uit vetweefsel. Sekere groeifaktore word saam met die plaatjies uitgetrek en saam met die stamselle en plaatjies toegedien. “Hulle soek die afbreking uit, die stamselle volg en die groeifaktore werk soos kunsmis vir die stamselle.”
Die etiek van stamselnavorsing is al hoog en laag bespreek, maar volgens Van Wyk hoef stamselle nie noodwendig op ‘n onetiese wyse verky te word nie. “Ons oes die stamselle uit vetselle en nie uit plasentale weefsel nie. Die laasgenoemde wyse is ‘n teerpunt vir baie mense. Stam-selle van vet is die veiligste om te oes en dit kan brein- of senuweeweefsel word.”
Van Wyk sê die waarheid is dat stamselnavorsing gebruik kan word om sommige ongeneesbare toestande, soos diabetes of breinskade, te behandel. “Spesialiste in Rusland is tans besig met dié navorsing en dit sal binnekort beskikbaar wees.” Hy werk al ‘n jaar met stamselnavorsing en sy kollegas is al agt jaar daarmee besig. In dié tyd is daar nog geen newe-effekte in pasiënte opgemerk nie. Daar is ten minste 36 serebraalgestremde kinders in die land waarvoor dié behandeling al gewerk het.
“Wandré kan self die verskil agterkom,” sê Annatjie. “Hy besef hy kan nou fietsry. Hy is so trots op homself, hy roep elke keer die hele gesin om te kyk hoe hy ry. Die behandeling is wonderlik. Ek wens ons het vroeër na Van Wyk toe gegaan.”
 
Sy het vir my die dokter se telefoonnommer gekry en ek het Maandag gebel om te hoor of hy kan help.  Sy ontvangsdame het gesê dat hy met verlof gaan Vrydag die 12de en nie op daardie strdium by die spreekkamer is nie.  Sy het my sy selfoonnommer gegee en gesê ek moet met hom gesels.  Ek het hom gebel en hy het gesê hy glo daar is hoop vir Henru met die behandeling en indien moontlik, moet ek Dinsdag oggend 09:00 by sy spreekkamer in Witrivier wees dan doen hy die behandeling.  So het dit toe verloop:
 
9 Desember 2014
 
Ek en Henru het Dinsdag die lang pad aangepak Witrivier toe. Ek het my kamera ingepak en ook lêplek gemaak vir Henru in die kombi want ek was onder die indruk ons gaan 09:00 by Dr van Wyk wees en 'n konsultasie is mos maar so 15-30 minute lank.  Ons is dan naby die wildtuin dan kan ons die dag daar deurbring en die middag weer terug ry. 04:00 vertrek ons van die huis, maar mens se paadjie is nie altyd soos mens dink dit kan wees nie.
Ek ry altyd Machadodorp, Waterval Boven en Waterval onder om want dit is vir my 'n goeie pad.  Nadat ek by die Schoemanskloof afdraai verby is het daar skielik noodvoertuie van agter verby gejaag en was ek op die uitkyk vir waar die ongeluk is.  Ongeveer 25km van die Schoemanskloof afdraai, was daar stilstaande vragmotors voor my - die pad was gesluit as gevolg van 'n motorongeluk en aangesien daar nog noodvoertuie opdaag en dit een baan en elke rigting is, weet ek sommer die pad gaan geruime tyd gesluit wees.  Ek draai om en ry die Schoemanskloof pad, maar dis gladnie aangenaam nie.  Die mis is ontsettend dig en intussen is al die verkeer op die pad.  Dis vragmotors en oorlaaide slaapwaens aan taxis en ons kruie maar so voort.
Half 9 is ons in Witrivier, stop by die adres in Alie van Bergenstraat 30 en ek laai henru uit sy karstoel in sy rolstoel en toe ek op die sypaadjie wil aanstap na waar ek dink die spreekkamer is, roep 'n vroeuestem my dat die spreekkamer in die ander rigting is.  'n Voertuig het voor die naambord geparkeer en dus was dit nie sigbaar van die straat nie.
Die mense is ontsettend vriendelik en behulpsaam in die spreekkamer.  Dr van Wyk kom aangestap, groet vriendelik en verwelkom ons, mens voel sommer tuis.  Hy neem ons direk deur na die spreekkamer waar hy my ook aan sy seun voorstel.
Die prosedure word aan my verduidelik.  Eers soek ons 'n aar en Henru se are is so dun, dat die dokter half benoud raak.  Hy vind 'n geskikte aar in henru se regter voet en begin om bloed te trek.  4 buisies.  Dit gaan stadig want die bloed wil nie vloei nie en die aar is baie dun.  Ek en die dokter se seun vryf Henru se been en na wat soos 'n ewigheid voel, is die 4 buisies vol.  Die lyn word behou en 'n drup wor solank vir Henru in die aar gesit.
Die bloed word nou "gespin" in die masjien sodat die plaatjies en die plasma skei.  Die deurskynende bloedplasma bo en die rooi bloedselle onder.  Die plasma word onttrek en "geaktiveer" onder 'n lig.  Die geaktiveeerde plasma word nou in die drupsakkie gespuit en moet dit nou inloop.
Intussen is Henru vas aan die slaap en toon feitlik geen reaksies nie.  Ek prober op enige wyse hom wakker maak, maar glad nie, hy slaap so vas soos 'n klip.  Dokter vra uit oor die omstandighede en ons prober steeds hom wakker kry, maar niks.  As hy so bietjie wakker word, "smile" hy en slaap dan verder.  Ons beweeg en bevoel Henru se arms en ben, maar hy slaap so dat mens nie dadelik enige reaksies kan waarneem nie.  Die situasie word verder aan my verduidelik dat dit 3-4 weke kan duur voor daar reaksie is of in sommige gevalle is die reaksie onmiddellik.
Henru word ook verder ondersoek en sy pupille is vergroot en reageer nie op lig as die dokter lig daarin skyn nie.  Dr van Wyk sê hy vermoed, op grond van Henru se slaap en pupille, dat daar drukking op die brein kan wees, maar ons sal nou eers kyk wat die reaksie op die plasma behandeling is.  Hy sê ook te oordeel na Henru se toestand moet hy baie seer gekry het.  Dit tref my toe eers dat ek die scans by die huis vergeet het, maar die laaste een was in elk geval ongeveer in 2005 geneem. Ons moet weer so in die 3de of 4de week in Januarie gaan vir nog behandeling en dan gaan hy ook 'n MRI scan laat doen en laat 'n neuroloog ook vir Henru ondersoek.
Dis ongeveer 12:15 toe ons klaar is nadat dokter ook vir Henru 'n glukose drup toegedien het.  Dokter het ook vir my drie bottels "STF balanced oil" gegee wat ek drie keer per dag 10ml vir Henru moet gee.  Dit is "organic sunflower (Omega 6) en "organic flax seed (omega 3) balanced oil".  Dit sal ook help met die voeding van die brein en moontlik ook met die epilepsie. 
Ek besluit ek gaan nie vir Henru weer in sy stoel laai vir die entjie en weer oorlaai in sy karstoel nie, maar gaan solank die rolstoel in die kombi laai en sal hom dan die entjie dra tot by die kombi.  Dokter sê hy sal by Henru bly dan kan ek die kombi nader bring.
Toe ek Henru van die bed af optel, kan ek agterkom die linker arm wat altyd stokstyf is, is meer ontspanne - nie "major" nie, maar dis beter.  Soos ek hom altyd dra met sy bene oor my linker arm en sy rug in my regterarm, skop hy altyd die bene styf en as ek hom dan in die kar in sy stoel sit, is die bene so styf dat dit moeilik is om hom in posisie te plaas in die stoel.  Dit tref my dadelik dat ek hom met gemak kan inlaai en die bene kan beweeg.
Op pad na Witrivier - en ek is so spyt ek het nie 'n foto van die been geneem nie - was Henru se regterbeen heeltemal styf geskop en as hy so ongemaklik geraak het langs die pad en gekerm het, kon ek nie die been beweeg nie.  Ek moes elke keer stop en hom uitlaai, laat lê agter in die kombi en die been strek om dit weer bietjie "los" te maak.  nou kan ek die been bietjie beweeg en oplig en selfs bietjie vorentoe beweeg en hom bietjie "gemakliker maak" terwyl ons ry, maar ek moes maar nog steeds stop  en hom uitlaai vir die stuitjie wat seer word, maar die in en uitlaai is makliker.
Ek ry van die spreekkamer tot in Nelspruit waar ek by McDonalds vir Henru oats koop omdat hy nog nie geëet of gedrink het nie.  Hy weier steeds om sy bottle te drink maar eet die hele houer se inhod klaar terwyl hy slaap en glad nie eers sy oë oopmaak nie.  Ek prober weer vir hom iets gee om te drink, maar hy weier en ek gee ongeveer 150ml se melk vir hom met 'n lepel in.
Ek laai hom weer in sy stoel en ons wildtuin besoek moet maar wag tot ons weer in daardie rigting gaan en ons ry terug huis toe.  Die stuitjie pla en ons moet gereeld stop waar ons kan om bietjie verligting te kan gee en uiteindelik is ons teen ongeveer 17:00 by die huis.
Henru het die heelpad gesit en slaap, selfs as die stuitjie gepla het, het hy so met toe oë gekerm tot ek stop en hom gemaklik kon kry en weer die pad vat.  By die huis het hy geslaap toe ek hom aflaai.  hy wou niks drink nie en het darem weer geëet, maar baie min.  Ek gee vir hom teen 19:00 'n bottle met Nutren Fibre en sy medikasie asook die olie en verbasend drink hy dit maklik, maar steeds so aan die slaap.
Teen 22:00 gaan ek ook slaap en dra Henru kamer toe.  Hy word glad nie wakker nie en slaap regdeur tot 06:00 die volgende oggend.  Ek wil vir hom sy bottle gee, maar hy is so laf soos nog iets en gorrel met die melk en lag dan daaroor, baie snaaks.  Ek gee naderhand die medikasie emt die olies vir hom in met 'n spuit, maar alles is baie snaaks vir hom.
Ek sê niks vir Sophy, sy oppasser, van die behandeling nie en is werk toe.  hy kry 13:00 sy olies saam met sy bottle tee en toe ek by die huis kom 16:00, is hy wakker.  Sophy sê hy het feitlik niks geslaap nie.  Hy het goed geëet en gedrink en hy gesels baie.
Die hele tyd is hy so laf soos nog iets.  Lag vir elke geluid wat ek maak of terwyl ek kos maak en hy hoor die borde of die masjien waarmee ek sy kos fyn maak, lag hy sommer dat sy asem wegraak.  Ek gee hom kos, maar dit is net so snaaks vir hom.  Hy eet egter baie goed so tussen die gelag deur.
Toe ek weer sy aand bottle vir hom wil gee, weier hy om te drink en is baie laf.  Ek moet weer sy medisyne en olies met die spuit vir hom gee, maar dis ook 'n groot gelag.  Teen 23:30 maak ek vir hom tee en hy drink omtrent 50ml daarvan en raak toe so efffens aan die slaap.  Hy slaap nie rustig nie maar laap wel.
Ek staan 05:15 op vanoggend en gaan stort en maak klaar, maar hy slaap nog.  net na 06:00 toe ek sy bottle met die olie en medikasie wil gee, weier hy om te drink en weer trek ek die spuit nader en gee dit vir hom in.  En vat hom van die kamer na sy bed in die sitkamer en hy giggle soos 'n skooldogtertjie.
Toe ek hom van die bed optel, is dit 'n ander kind wat ek optel.  Die bene wat altyd styf skop en maak dat ek soos 'n krap in die gang af skuif na die sitkamer, is los en gebuig en ek kan gemaklik in die gnag stap tot by die sitkamer.  Sophy kom in en begin met hom gesels en hy "praat" land en sand met haar tot ek ry werk toe.
16:00 toe ek ny die huis aankom, het Sophy die tye neergeskryf soos hy geslaap het en dit was glad nie lank nie.  hy was meeste van die tyd wakker, maar hy slaap egter toe ek by die huis instap.  Ek vra haar uit oor hoe die dag andersins verloop het en Henru word toe wakker, rek hom lekker uit en ja, strek sy arms, hoewel gebuig, voor hom uit.  Hy het dit nog nie gedoen nie.  As hy hom so gestrek het, was sy arms steeds gebuig en ingetrek teen sy bors, maar hierdie was anders.  Sophy raak skoon opgewonde en vra wat het die dokter gesê want die linker arm is so los en die voete trek nog steeds in, maar sy kan beter met dit werk as sy doe oefeninge doen.
Ek gesels met hom en hy gesels terug en lag en is skoon opgewonde.  Ek maak vir hom lekker hoender gaar en kapok aartappel (wat hy haat en nie eet nie) met kaassous en botter en ja!  Hy eet dit asof hy 'n jaar laas geëet het!  Geen uitdruk met die tong nie, geen gesigte trek of mond toeknyp nie.  Hy eet 'n hele hoenderbors fillet (van 'n plaas hoender en nie winkel hoenders nie) asook twee medium aartappels sonder enige moeilikheid.
Net na 8 vat ek hom kamer toe en kan weer lekker in die gang as stap met die bene wat ontspanne is.  Ek gee sy medikasie en olie met bietjie melk en hy drink sonder moeite.  Ek maak vir hom 'n bottle tee en hy drink dit ook sonder moeite en nou, soos ek hier gesit en tik het, het hy rustig aan die slaap geraak en slaap soos 'n baba.
Dit is ons storie soos dit verloop het vandat Marietha Scholtz die e-pos vir my gestuur het Sondag aand en ek die afspraak kon maak Maandag.  Baie dankie daarvoor Marietha en ook dat jy daar by die spreekkamer 'n draai kom maak het.  Dit het geweldig baie vir my beteken met jou ondersteuning.  Ek sal laat weet as ons weer gaan vir die volgende behandeling.
Die volgende behandeling is weer plasma die Maandag en die Vrydag en daarna die stamsel behandeling.
Iets wat vir my treffend was en wat my nog meer hoop gee, was toe ek Woensdag vir Dr van Wyk 'n whatsapp stuur van hoe Henru was soos ek hierbo beskryf het asook 'n foto van die laaste scan en sy antwoord aan my terug was "Is hy slapper vandag?  Gister toe jy die kar gaan haal het, het ek 'n gebed vir hom gedoen.  Nou wag ons vir die wonderwerk.  Ek het baie groot agting vir jou toewyding.  Dis pragtig"  Dit het my net meer laat besef dat dokters instrumente in God se hande is en God bly die allergrootste geneesheer.
Ek vra asseblief dat almal wie hierdie lees ook saam met ons sal bid vir 'n wonderwerk, maar laat God se wil sal geskied in die lewe van Henru en nie soos ek of enigiemand anders wil nie.
Ek sal julle op hoogte hou van enigiets wat verder gebeur.
 
 

No comments:

Post a Comment