Wednesday, September 24, 2014

24 SEPTEMBER 2014 - BIETJIE OPDATERING

Sjoe, die tyd gaan so vinnig verby en ek kan nie bybly met alles nie.  

Ons was die jaar weer bevoorreg om twee keer besoek in die wildtuin te gaan aflê.  Eers saam met my Pa, my sus Mariëtte en haar vriend Sam Odendaal en toe weer saam met wildlewe fotograwe.  Dit was 'n fees!  Saam met my Pa’le het Henru eers in sy stoel voor by my gesit en wanneer hy moeg raak, het ons hom op die sitplek langs my pa laat lê.  Ek weet nie hoekom nie, miskien die vars lug, maar hy het meeste van die tyd geslaap wanneer ons gery het, kan dalk ook van die ryery wees.  Wanneer ons egter op grondpaaie gery het (die paaie was baie sinkplaatagtig) het Henru aan die giggel gegaan.  Dit was seker maar die vibrasie wat hom gekielie het.

Toe ons die tweede keer in Augustus daar was, het ek die kombi se sitplekke uitgehaal en sy matras daar gesit.  So kon hy in sy stoel sit tot hy moeg raak en dan het hy op sy matras gaan lê.  Weer was dit die gegiggel op die grondpaaie!

Dankie aan die SA Polisiediens, Skukuza, wie dit vir ons moontlik gemaak het om te kon gaan.  Julle vriendelikheid en hulpvaardigheid word opreg waardeer.  Sonder julle sou ons nooit hierdie wegbreekkanse kon hê nie.

Wat ek eintlik met bogenoemde wil sê, is dat dit besonders goed gaan met Henru.  Behalwe die erge griep wat ons opgedoen het en hy bietjie erg slym op die bors het, gaan dit goed.  Ek het maar weer die suction gedoen en die stoom ding en selfs dit is nou vir hom snaaks en kla hy nie daaroor nie.  Hy wil ook net nie lekker drink uit sy tietiebottel nie en wanneer ek dus nou vir hom sy medisyne gee met die spuit, is dit ook 'n gegiggel van begin tot einde.  Hy maak selfs nou al sy mond oop om die medisyne te drink en dit is galbitter.

Ek het bietjie 'n nuwe dokument oor Henru opgestel aangesien sy fondse op is.  Al die inligting is daar beskikbaar en as iemand enige navrae het, jy is vry om met my kontak te maak, want ek sien hier is redelik baie aktiwiteite aan die gang op die blad, maar niemand laat enige kommentaar nie.  Dalk is dit ook omdat ek tegnologies gestremd is en nie weet hoe om dit op te stel om die kommentaar te pos nie.

Dankie, ook weer vir almal se ondersteuning op een of ander manier.  Dit klink al soos 'n clichê as ek dankie sê, maar weet dit kom uit my hart.  Ook aan ons Hemels Vader wie op elke moontlike manier voorsien wanneer dinge vir ons donker lyk.  Elke keer is daar uitkoms in die een of ander manier. Elke boodskap, SMS, facebook boodskap, oproepe – dit word opreg waardeer.  

Daar is ook weer 'n fondsinsamelingsprojek vir Henru aan die gang en dit word gereël deur Madri Henn in samewerking met my Ousus, Dalené Broodryk.  Beide van hulle is op facebook beskikbaar indien enigiemand navrae het.


Nogmaals baie dankie vir alles.

Sunday, May 11, 2014

EK WONDER...

Diegene wi my vandag wil verkwalik moet dit maar doen, maar as ek so alleen hier saam met Henru by die huis sit en die ander kinders by hulle ma in Harrismith is, wonder hoe voel sy "ma" op hierdie dag oor Henru waar hy nie saam met haar kan wees nie en die feit dat sy hom so lank laas gesien het, ek kan nie eers onthou wanneer dit was nie.  As ek net dink hoe mis ek my ma en ook my tweede ma vandag en hoe dit altyd was met Moedersdag en hulle verjaardae...  Lief vir julle twee en mis julle baie ♥♥♥



Monday, February 10, 2014

10 FEBRUARIE 2014 - OPVOLG DOKTERSBESOEKE

Henru se opvolg doktersbesoeke is nou voorlopig klaar vir die jaar 2014, behalwe as daar iets gebeur.

Dr Hans Pretorius is tevrede met die heupe.

Dr Lippert is tevrede met die EEG en het net die medikasie aangepas want Henru weeg nou 'n hele 38,7kg!  (Was dit sports om hom geweeg te kry, maar met behulp van sy spraakterapeut, Christa, kon ons darem sy gewig bepaal).  Sy medikasie is net aangepas volgens sy gewig, maar geen ander probleme te bespeur nie.

Vandag Dr Coetzee vir sy rug en hy is ook tevrede.  Ek moet hom nou een keer per jaar neem tot hy 17 is om te monitor wat al die klomp skroewe en stawe in sy rug maak.  Henru groei steeds en daar is na 17 maande geen probleme wat waargeneeem kan word na die rugoperasie nie. 

Dit gaan ook nog goed met die nuwe versorger en tot dusvêr beter as die een wie ek verlede jaar gekry het.  Sy doen amper meer as wat van haar verwag word en die terugvoering wat ek kry is tot dusver ook net positief.  Hoop dit bly so.

Ek kan net weereens op my knieë gaan en sê "Dankie Liewe Jesus dat U so goed gehelp het en steeds help, ons dra en ondersteun in elke opsig, dat ons nou al 'n jaar weer deurgegaan het van verlede jaar, 28 Januarie 2012 tot nou en daar geen moeilikheid was nie.  Ek is tot alles in staat deur U wat my die krag gee."

Dankie ook vir elkeen se gebede en ondersteuning want sonder julle sou ons dit nie kon doen nie.




Friday, January 17, 2014

'n TOE DEUR MAAR OOP VENSTERS

"So dikwels staar ons ons blind aan die deur wat toegegaan het dat ons nie die venster(s) sien wat God vir ons oopmaak nie".

Hoekom moet mens altyd aan krisisse blootgestel word en deur al hierdie spannings en dramas deur die lewe gaan?

Ek moet Henru neem vir sy 6 maande ondersoek en aanpassing van sy medikasie soos hy groei.  Toe ek bel die 6de Januarie 2013 toe die dokter se spreekkamer oopmaak, is hulle vol geboek tot Augustus maar die ontvangsdame sê sy plaas my op die "stand by" lys.  Sy bel toe Woensdag en sê ek kan afspraak kry vir 07:45 gister 16 Januarie.

Christa Fourie kom die middag vir haar terapie sessie en ons het groot sports om Henru geweeg te kry maar kry dit uiteindelik reg en trek hy die skaal op 38,7kg!

Donderdag oggend gaan laai ek Amor by die skool af en gaan Unitas hospitaal toe vir die afspraak by Dr Lippert.  Hy is baie tevrede met Henru, net sy slaap patroon moet ons bietjie probeer verander en sy epilepsie medikasie aangepas met die gewig en ons kom huis toe.

Hier wag toe 'n vreemde wese in die gedaante van die vrou wie na Henru omsien se gedaante my in.  Ek weet nie wat haar ingevaar het nie, maar na haar jaarlikse verhoging van haar salaris en die vorige dag se bespreking van aanpassings om dit vir ons albe makliker te maak, toegewings en ingewings ens, is sy nie tevrede met haar salaris van R3 000 per maand nie.  Sy vaar uit soos 'n besetene en sê sy wil nie meer hier werk nie en wil die einde van die maand loop.  Hoe meer ek probeer uitvind wat die werklike probleem is, hoe minder wil sy praat en sy, wie nou haar voordoen as 'n "vrou van die kerk" en Woensdae gaan preek en ek weet nie watter "heilige" rituele volg nie, gaan so tekere en sê dat sy nie genoeg betaal word vir die werk nie en God my sal straf en ek kan nie eers onthou wat alles nie.

As gevolg van haar optrede, vrees ek selfs dat sy Henru dalk iets kan aandoen en versoek haar om onmiddellik pad te gee want ek het geen vertroue meer in haar nie en weet nie watter skade sy my of Henru of een van die ander kinders kan aandoen nie.

Ek voel sommer of ek my werk kan bedank en self na Henru omsien.  Ek bel ook die dame wie daarmee werk by die stasie en vra sy moet my help.  Danica sê sy is vandag die maatskaplike werkster en ek moet met haar praat, al kan sy net luister, maar sy sal in elk geval vasstel wat sy kan doen en help waar sy kan.

So sit ek my en bekommer en kom dit by my op dat ek verlede jaar met Sanet Bester gepraat het en sy het iemand se kontak nommer vir my gegee wat ek dalk kan navraag doen.  Ek bel haar (Flora) en sy sê sy het nie werk nie, maar dat sy vandag hier kan wees vir 'n onderhoud.  Ek gee haar kortliks 'n agtergrond van wat van haar verwag word sodat sy kan besluit of sy in die pos belang stel.  Na ons aanvanklike inligtingsonderhoud sê sy dat sy wel belangstel en sy kom vir die formele onderhoud.

Vanoggend daag sy toe op en kom voor as 'n baie aangename persoon.  Ek gee aan haar 'n totale oorsig van wat die situasie is en wat haar werk sal behels en sy sê toe dat sy die werk aanvaar.

Sonder om die vorige versorger af te kraak, maar sy was nie wat sy voorgegee het om te wees nie, maar sy het tog goed na Henru omgesien.  Haar grootste probleem was geld.  Sy wou die minimum doen en het net altyd geld gesoek.  In teenstelling met Flora wie sê sy het begrip vir my situasie, maar die een help die ander een en het sy ten minste 'n werk, is sy baie tevrede daarmee wat ek haar aanbied.

My vraag vandag is – hoe werk hierdie goed?  Is dit toeval, soos ander sê die noodlot of is God se hand hierin teenwoordig?   

My oortuiging en geloof dui vir my God se teenwoordigheid hierin.  Hier maak een deur toe en die vensters na buite word oopgemaak soos die spreekwoord lui.  Ek en die vorige werknemer het ook al probleme gekry/ondervind en sy wou ook toe al loop, maar na onderhandelinge het sy onderneem om te bly en te werk volgens my vereistes.  Ek het my blind gestaar teen die heropleiding van iemand anders, die vreemde persoon in my huis, die aanpassing weer met Henru en al dies meer, maar tog was ek nie tevrede met haar werk nie.  My ander bekommernis was hoe raak ek van haar ontslae op 'n wettige manie?  Hier kom die oplossing so uit die bloute en onmiddellik is daar 'n ander uitkoms en oplossing.  My eerlike opinie:  Dankie, Here, U het ons gedra vandag een af en doen dit nog deurlopend elke dag.  Ek sien in elke gebeurtenis U hand en kan net dankie sê dat U voorsien in al ons daaglikse behoeftes.  Sonder U hulp en ondersteuning sou ek dit nie gemaak het tot hier nie.  Baie dankie en ek loof en pry U grote naam vir al u goedheid, guns en liefde.