Sjoe, die
tyd gaan so vinnig verby en ek kan nie bybly met alles nie.
Ons was die jaar weer bevoorreg om twee keer
besoek in die wildtuin te gaan aflê.
Eers saam met my Pa, my sus Mariëtte en haar vriend Sam Odendaal en toe
weer saam met wildlewe fotograwe. Dit
was 'n fees! Saam met my Pa’le het Henru
eers in sy stoel voor by my gesit en wanneer hy moeg raak, het ons hom op die
sitplek langs my pa laat lê. Ek weet nie
hoekom nie, miskien die vars lug, maar hy het meeste van die tyd geslaap
wanneer ons gery het, kan dalk ook van die ryery wees. Wanneer ons egter
op grondpaaie gery het (die paaie was baie sinkplaatagtig) het Henru aan die giggel
gegaan. Dit was seker maar die vibrasie
wat hom gekielie het.
Toe ons die
tweede keer in Augustus daar was, het ek die kombi se sitplekke uitgehaal en sy
matras daar gesit. So kon hy in sy stoel
sit tot hy moeg raak en dan het hy op sy matras gaan lê. Weer was dit die gegiggel op die grondpaaie!
Dankie aan die SA Polisiediens, Skukuza, wie dit vir ons moontlik gemaak het om te kon gaan. Julle vriendelikheid en hulpvaardigheid word opreg waardeer. Sonder julle sou ons nooit hierdie wegbreekkanse kon hê nie.
Wat ek eintlik
met bogenoemde wil sê, is dat dit besonders goed gaan met Henru. Behalwe die erge griep wat ons opgedoen het
en hy bietjie erg slym op die bors het, gaan dit goed. Ek het maar weer die suction gedoen en die
stoom ding en selfs dit is nou vir hom snaaks en kla hy nie daaroor nie. Hy wil ook net nie lekker drink uit sy
tietiebottel nie en wanneer ek dus nou vir hom sy medisyne gee met die spuit,
is dit ook 'n gegiggel van begin tot einde.
Hy maak selfs nou al sy mond oop om die medisyne te drink en dit is
galbitter.
Ek het
bietjie 'n nuwe dokument oor Henru opgestel aangesien sy fondse op is. Al die inligting is daar beskikbaar en as
iemand enige navrae het, jy is vry om met my kontak te maak, want ek sien hier
is redelik baie aktiwiteite aan die gang op die blad, maar niemand laat enige
kommentaar nie. Dalk is dit ook omdat ek
tegnologies gestremd is en nie weet hoe om dit op te stel om die kommentaar te
pos nie.
Dankie, ook
weer vir almal se ondersteuning op een of ander manier. Dit klink al soos 'n clichê as ek dankie sê, maar weet dit kom uit my hart. Ook aan ons Hemels Vader wie op elke moontlike manier voorsien wanneer dinge vir ons donker lyk. Elke keer is daar uitkoms in die een of ander manier. Elke boodskap, SMS, facebook boodskap,
oproepe – dit word opreg waardeer.
Daar
is ook weer 'n fondsinsamelingsprojek vir Henru aan die gang en dit word gereël
deur Madri Henn in samewerking met my Ousus, Dalené Broodryk. Beide van hulle is op facebook beskikbaar
indien enigiemand navrae het.
Nogmaals
baie dankie vir alles.
No comments:
Post a Comment