Monday, October 13, 2014

NOG 'N DEUR GAAN TOE MAAR GROOT VENSTERS GAAN OOP

Gister (Sondag 12 Oktober 2014) was ek weer op 'n laagtepunt soos niks.  Ek was moedeloos en het met die Here baklei, want ek verstaan nie hierdie dinge nie en weet nie hoekom dit gebeur nie, maar toe kom die Here en hy slaan my vir 'n ses dat ek onderstebo is...

Die versorger wat Januarie hier begin het, Florah, het elke maand dokter toe gegaan vir haar bloeddruk.  Dan moes ek elke keer verlof vat en toe Maandag die 6de is sy weer dokter toe.  Sy daag toe 10:30 hier op en sê sy voel nie lekker nie.  Donderdag middag laat weet sy my sy is siek en ek moet huis toe kom.  Sy is weer vroeër huis toe.  Vrydag oggend daag sy eers 10:30 weer op en ek sê vir haar dit is moeilik as sy so kort-kort siek is, ons moet praat laat ons kan kyk wat gaan gebeur as sy Desember nog verkof ook wil hê.

Sondag middag stuur sy 'n SMS dat sy weer siek is en dat sy nie meer kom werk nie want die stres om Henru te versorg is te veel vir haar.

Ek plaas toe 'n boodskap op facebook op die groepe People who live in Centurion en People who live in Centurion Area met oorweldigende reaksie.

Boodskappe van bemoediging stroom in en mense gee nommers en CV's, sms'e, whatsapp, e-pos, oproepe - ek kan nie voorbly en vat nie grond nie.  Vier onderhoude word gereël en sorteer hulle self uit.  Een van die aansoekers  sê sy aanvaar die R2700 want dis meer as haar R2000 per maand.  Ek het 'n wendy wat as pakplek gebruik word en ek sal dit môre herorganiseer dat sy daar kan slaap vir die week en naweke gaan sy Soshanguve toe.  Sy kan tot kos maak ook.  Ek wil haar gaan wys hoe werk die wasmasjien en skottelgoed wasser en sy vra my of sy my kan wys en as dit verkeerd is kan ek haar net reg help.  Sy verduidelik tot van die waterbesparing op die masjiene en kom heeltemal reg sonder dat ek haar help.  Ek meld van huis skoonmaak wat ek en die kinders self kan doen en sy sê dis nie ons werk nie, sy sal dit doen.

Maar die ergste skok van alles kom toe nog!  Mense bied aan op facebook om te kom help met die huis skoonmaak, om kruideniers per maand te gaan koop, om 'n fonds te stig en ook finansiële hulp te gee.  Ek kan nie voorbly om al die e-pos en boodskappe op watter manier te beantwoord nie.

Ek het nog altyd gesê dat die Here my geweeg het en goed genoeg geag het om Henru vir Hom hier op aarde op te pas.  Henru se liggaam is wel gebroke, maar sy siel is heel en dit moet ek koester vir God tot Hy eendag Henru kom haal.  Hier het God my (met alle respek) vir 'n ses my voete onder my uitgeslaan, plat op my gat en voorsien Hy in die behoeftes om Henru te versorg,

Hoe sê mens dankie aan elkeen van die wie bygedra het en nog bydra, maar meeste van alles, hoe se ek dankie aan my God wie dit gedoen het.  Ek loof en prys my God vir alles wat Hy vir my doen en toe ek op my swakste is, maak Hy my weer sterk in 'n oogwink.


No comments:

Post a Comment