Tuesday, October 14, 2014

SO MOOI...

Ronelle Booyens se kommentaar vandag op facebook na aanleiding van die gebeure...  Baie dankie, dis baie mooi:

Vanaand staan ek amper half stomgeslaan, half hartseer, en totaal en al in verwondering en met die grootste respek vir iemand wat ek so amper terloops al ontmoet het. Dis 'n enkel-pappa wat al vir sy tiener dogter skoen cupcakes by my bestel het. Ek was nogal heel beïndruk dat hy so 'op die ball' was met al sy instruksies  

Die middag toe hy die cupcakes kom haal, het hy op 'n stadium genoem dat hy 'n gestremde seun het, en ek kan onthou dat ek gedink het dat dit nogal gedoen wil wees. En nie verder gedink nie, en met my lewe aangegaan.


Tot ek vandag op FB meer oor die pappa en sy seun te wete kom en 'n klein blik op hulle daaglikse bestaan gekry het.

En ek sien in hierdie pa wat dit is as liefde 'n werkwoord is. Wat dit beteken om elke dag ALLES van jouself te gee. Wat dit is om 'n plan te maak met dit wat jy het, met dit wat jou toegedeel is. Wat dit beteken om sterk te bly staan ter wille van jou kinders. Sonder 'n sweempie selfbejammering. Wat bereid is om te vra vir hulp. Want dis vir sy kind. Ek sien onvoorwaardelike Jesus-liefde wat hierdie pa vir sy seun het.

En ek sien hoe 'n gemeenskap saamstaan om op verskillende maniere te help. En ek besef net weer dat DIT is waaroor die lewe gaan. Om iewers 'n verskil te maak. Om iemand se hande sterk te maak, om op te lig, om met sagte oë na ons medemens te kyk. Om ook met ons harte te kyk, sodat ons, te midde van die gejaag, werklik kan sien...



No comments:

Post a Comment