Tuesday, October 28, 2014

OPVOLG DOKTERSBESOEK 2014/10/28

Was vandag vir checkup by Dr Lippert met Henru vir sy medikasie omdat hy meer as normaalweg slaap en hy 6kg gewig verloor het. Hy weeg nou 32.9kg. Dokter sê hy is nog binne die perke en geen aanpassing is nodig nie. Ek moet hom op 'n ryk dieëet sit met room en ideal melk en alles wat lekker is om te kyk of ons nie sy gewig kan optel nie. As daar nie verandering binne die volgende week is met die ryk kos nie, moet ons x-strale laat neem van sy bors en hom laat toets vir TB omdat sy vorige versorger 2 jaar gelede dit onder lede gehad het.
Dan was daar nog die skokkende mededeling wat die dokter gesê het dat meeste ortopeute dit sal goed dink om die voorarms wat so in spasma is te laat amputeer. Ek kan dit net eenvoudig nie glo dat hy eers so iets vir my sê nie. Iemand het my gesê van 'n suksesvolle dokter in Kempton Park met nuwe tegnologie wat dalk kan help met die spasmas. Ek het dadelik 'n afspraak gemaak vir volgende Vrydag die 7de November 10:30. Kom ons kyk wat gebeur.
*********************************
I took Henru for a checkup today to see if his medication is still OK because he lost 6kg on WEIGHT and sleeps abnormally long times. Doctor is happy except for the weight. I must feed Henru with a rich diet and add cream and ideal milk. If there's no change in his weight and the problems with his lungs within the next week, we must take him for chest x-rays and test him for TB because the caretaker of 2012 suffered with TB.
Then the doctor made a shocking suggestion that most orthopaedics will think good of it to amputate the fore arms. I can't believe he even told me this. Somebody told me about a doctor in Kempton Park who uses new technology and operations for spastic patients. I got an appointment for next week Friday, 7 November 10:30 to find out what his opinion is.

Friday, October 17, 2014

MY KIND... INSPIRASIE

My kind, Ek sien jou seer wat jy saam met jou dra.  Ek sien in die nag wanneer jy alleen is en die trane oor jou wange rol.  Weet dit dat elke traan wat jy gestort het, het Ek opgevang en dit is in erkentenis gebring voor my.  Kyk jou trane sal in blydskap verander word en dit wat die vyand van jou gesteel het,  sal jy honderd voudig terug ontvang.  Ek is die Een wat voor jou sal uit beweeg en jou pad vir jou gelyk sal maak.  Ek is die Een wat voor jou staan en elke pyl wat teenoor jou afgeskiet word keer sodat niks jou sal tref nie.  Weet dit as jy dalk gedink het en gevra het waar is God?  Sien Hy my raak?  Weet dit dat Ek nog nooit jou begewe of verlaat het nie, maar dat Ek jou hand in Myne vasgehou het.  Weet dit hoe kosbaar jy is My kind.  Tot jou naam is in My handpalms uitgegraveer en het Ek selfs die hare op jou hoof genommer sodat nie een sal uitval sonder dat Ek nie daarvan sal weet nie... Hou moed My kind, Ek is met jou tot aan die einde...


Lillian Aucamp

Tuesday, October 14, 2014

SO MOOI...

Ronelle Booyens se kommentaar vandag op facebook na aanleiding van die gebeure...  Baie dankie, dis baie mooi:

Vanaand staan ek amper half stomgeslaan, half hartseer, en totaal en al in verwondering en met die grootste respek vir iemand wat ek so amper terloops al ontmoet het. Dis 'n enkel-pappa wat al vir sy tiener dogter skoen cupcakes by my bestel het. Ek was nogal heel beïndruk dat hy so 'op die ball' was met al sy instruksies  

Die middag toe hy die cupcakes kom haal, het hy op 'n stadium genoem dat hy 'n gestremde seun het, en ek kan onthou dat ek gedink het dat dit nogal gedoen wil wees. En nie verder gedink nie, en met my lewe aangegaan.


Tot ek vandag op FB meer oor die pappa en sy seun te wete kom en 'n klein blik op hulle daaglikse bestaan gekry het.

En ek sien in hierdie pa wat dit is as liefde 'n werkwoord is. Wat dit beteken om elke dag ALLES van jouself te gee. Wat dit is om 'n plan te maak met dit wat jy het, met dit wat jou toegedeel is. Wat dit beteken om sterk te bly staan ter wille van jou kinders. Sonder 'n sweempie selfbejammering. Wat bereid is om te vra vir hulp. Want dis vir sy kind. Ek sien onvoorwaardelike Jesus-liefde wat hierdie pa vir sy seun het.

En ek sien hoe 'n gemeenskap saamstaan om op verskillende maniere te help. En ek besef net weer dat DIT is waaroor die lewe gaan. Om iewers 'n verskil te maak. Om iemand se hande sterk te maak, om op te lig, om met sagte oë na ons medemens te kyk. Om ook met ons harte te kyk, sodat ons, te midde van die gejaag, werklik kan sien...



Monday, October 13, 2014

NOG 'N DEUR GAAN TOE MAAR GROOT VENSTERS GAAN OOP

Gister (Sondag 12 Oktober 2014) was ek weer op 'n laagtepunt soos niks.  Ek was moedeloos en het met die Here baklei, want ek verstaan nie hierdie dinge nie en weet nie hoekom dit gebeur nie, maar toe kom die Here en hy slaan my vir 'n ses dat ek onderstebo is...

Die versorger wat Januarie hier begin het, Florah, het elke maand dokter toe gegaan vir haar bloeddruk.  Dan moes ek elke keer verlof vat en toe Maandag die 6de is sy weer dokter toe.  Sy daag toe 10:30 hier op en sê sy voel nie lekker nie.  Donderdag middag laat weet sy my sy is siek en ek moet huis toe kom.  Sy is weer vroeër huis toe.  Vrydag oggend daag sy eers 10:30 weer op en ek sê vir haar dit is moeilik as sy so kort-kort siek is, ons moet praat laat ons kan kyk wat gaan gebeur as sy Desember nog verkof ook wil hê.

Sondag middag stuur sy 'n SMS dat sy weer siek is en dat sy nie meer kom werk nie want die stres om Henru te versorg is te veel vir haar.

Ek plaas toe 'n boodskap op facebook op die groepe People who live in Centurion en People who live in Centurion Area met oorweldigende reaksie.

Boodskappe van bemoediging stroom in en mense gee nommers en CV's, sms'e, whatsapp, e-pos, oproepe - ek kan nie voorbly en vat nie grond nie.  Vier onderhoude word gereël en sorteer hulle self uit.  Een van die aansoekers  sê sy aanvaar die R2700 want dis meer as haar R2000 per maand.  Ek het 'n wendy wat as pakplek gebruik word en ek sal dit môre herorganiseer dat sy daar kan slaap vir die week en naweke gaan sy Soshanguve toe.  Sy kan tot kos maak ook.  Ek wil haar gaan wys hoe werk die wasmasjien en skottelgoed wasser en sy vra my of sy my kan wys en as dit verkeerd is kan ek haar net reg help.  Sy verduidelik tot van die waterbesparing op die masjiene en kom heeltemal reg sonder dat ek haar help.  Ek meld van huis skoonmaak wat ek en die kinders self kan doen en sy sê dis nie ons werk nie, sy sal dit doen.

Maar die ergste skok van alles kom toe nog!  Mense bied aan op facebook om te kom help met die huis skoonmaak, om kruideniers per maand te gaan koop, om 'n fonds te stig en ook finansiële hulp te gee.  Ek kan nie voorbly om al die e-pos en boodskappe op watter manier te beantwoord nie.

Ek het nog altyd gesê dat die Here my geweeg het en goed genoeg geag het om Henru vir Hom hier op aarde op te pas.  Henru se liggaam is wel gebroke, maar sy siel is heel en dit moet ek koester vir God tot Hy eendag Henru kom haal.  Hier het God my (met alle respek) vir 'n ses my voete onder my uitgeslaan, plat op my gat en voorsien Hy in die behoeftes om Henru te versorg,

Hoe sê mens dankie aan elkeen van die wie bygedra het en nog bydra, maar meeste van alles, hoe se ek dankie aan my God wie dit gedoen het.  Ek loof en prys my God vir alles wat Hy vir my doen en toe ek op my swakste is, maak Hy my weer sterk in 'n oogwink.