Tuesday, October 28, 2014

OPVOLG DOKTERSBESOEK 2014/10/28

Was vandag vir checkup by Dr Lippert met Henru vir sy medikasie omdat hy meer as normaalweg slaap en hy 6kg gewig verloor het. Hy weeg nou 32.9kg. Dokter sê hy is nog binne die perke en geen aanpassing is nodig nie. Ek moet hom op 'n ryk dieëet sit met room en ideal melk en alles wat lekker is om te kyk of ons nie sy gewig kan optel nie. As daar nie verandering binne die volgende week is met die ryk kos nie, moet ons x-strale laat neem van sy bors en hom laat toets vir TB omdat sy vorige versorger 2 jaar gelede dit onder lede gehad het.
Dan was daar nog die skokkende mededeling wat die dokter gesê het dat meeste ortopeute dit sal goed dink om die voorarms wat so in spasma is te laat amputeer. Ek kan dit net eenvoudig nie glo dat hy eers so iets vir my sê nie. Iemand het my gesê van 'n suksesvolle dokter in Kempton Park met nuwe tegnologie wat dalk kan help met die spasmas. Ek het dadelik 'n afspraak gemaak vir volgende Vrydag die 7de November 10:30. Kom ons kyk wat gebeur.
*********************************
I took Henru for a checkup today to see if his medication is still OK because he lost 6kg on WEIGHT and sleeps abnormally long times. Doctor is happy except for the weight. I must feed Henru with a rich diet and add cream and ideal milk. If there's no change in his weight and the problems with his lungs within the next week, we must take him for chest x-rays and test him for TB because the caretaker of 2012 suffered with TB.
Then the doctor made a shocking suggestion that most orthopaedics will think good of it to amputate the fore arms. I can't believe he even told me this. Somebody told me about a doctor in Kempton Park who uses new technology and operations for spastic patients. I got an appointment for next week Friday, 7 November 10:30 to find out what his opinion is.

Friday, October 17, 2014

MY KIND... INSPIRASIE

My kind, Ek sien jou seer wat jy saam met jou dra.  Ek sien in die nag wanneer jy alleen is en die trane oor jou wange rol.  Weet dit dat elke traan wat jy gestort het, het Ek opgevang en dit is in erkentenis gebring voor my.  Kyk jou trane sal in blydskap verander word en dit wat die vyand van jou gesteel het,  sal jy honderd voudig terug ontvang.  Ek is die Een wat voor jou sal uit beweeg en jou pad vir jou gelyk sal maak.  Ek is die Een wat voor jou staan en elke pyl wat teenoor jou afgeskiet word keer sodat niks jou sal tref nie.  Weet dit as jy dalk gedink het en gevra het waar is God?  Sien Hy my raak?  Weet dit dat Ek nog nooit jou begewe of verlaat het nie, maar dat Ek jou hand in Myne vasgehou het.  Weet dit hoe kosbaar jy is My kind.  Tot jou naam is in My handpalms uitgegraveer en het Ek selfs die hare op jou hoof genommer sodat nie een sal uitval sonder dat Ek nie daarvan sal weet nie... Hou moed My kind, Ek is met jou tot aan die einde...


Lillian Aucamp

Tuesday, October 14, 2014

SO MOOI...

Ronelle Booyens se kommentaar vandag op facebook na aanleiding van die gebeure...  Baie dankie, dis baie mooi:

Vanaand staan ek amper half stomgeslaan, half hartseer, en totaal en al in verwondering en met die grootste respek vir iemand wat ek so amper terloops al ontmoet het. Dis 'n enkel-pappa wat al vir sy tiener dogter skoen cupcakes by my bestel het. Ek was nogal heel beïndruk dat hy so 'op die ball' was met al sy instruksies  

Die middag toe hy die cupcakes kom haal, het hy op 'n stadium genoem dat hy 'n gestremde seun het, en ek kan onthou dat ek gedink het dat dit nogal gedoen wil wees. En nie verder gedink nie, en met my lewe aangegaan.


Tot ek vandag op FB meer oor die pappa en sy seun te wete kom en 'n klein blik op hulle daaglikse bestaan gekry het.

En ek sien in hierdie pa wat dit is as liefde 'n werkwoord is. Wat dit beteken om elke dag ALLES van jouself te gee. Wat dit is om 'n plan te maak met dit wat jy het, met dit wat jou toegedeel is. Wat dit beteken om sterk te bly staan ter wille van jou kinders. Sonder 'n sweempie selfbejammering. Wat bereid is om te vra vir hulp. Want dis vir sy kind. Ek sien onvoorwaardelike Jesus-liefde wat hierdie pa vir sy seun het.

En ek sien hoe 'n gemeenskap saamstaan om op verskillende maniere te help. En ek besef net weer dat DIT is waaroor die lewe gaan. Om iewers 'n verskil te maak. Om iemand se hande sterk te maak, om op te lig, om met sagte oë na ons medemens te kyk. Om ook met ons harte te kyk, sodat ons, te midde van die gejaag, werklik kan sien...



Monday, October 13, 2014

NOG 'N DEUR GAAN TOE MAAR GROOT VENSTERS GAAN OOP

Gister (Sondag 12 Oktober 2014) was ek weer op 'n laagtepunt soos niks.  Ek was moedeloos en het met die Here baklei, want ek verstaan nie hierdie dinge nie en weet nie hoekom dit gebeur nie, maar toe kom die Here en hy slaan my vir 'n ses dat ek onderstebo is...

Die versorger wat Januarie hier begin het, Florah, het elke maand dokter toe gegaan vir haar bloeddruk.  Dan moes ek elke keer verlof vat en toe Maandag die 6de is sy weer dokter toe.  Sy daag toe 10:30 hier op en sê sy voel nie lekker nie.  Donderdag middag laat weet sy my sy is siek en ek moet huis toe kom.  Sy is weer vroeër huis toe.  Vrydag oggend daag sy eers 10:30 weer op en ek sê vir haar dit is moeilik as sy so kort-kort siek is, ons moet praat laat ons kan kyk wat gaan gebeur as sy Desember nog verkof ook wil hê.

Sondag middag stuur sy 'n SMS dat sy weer siek is en dat sy nie meer kom werk nie want die stres om Henru te versorg is te veel vir haar.

Ek plaas toe 'n boodskap op facebook op die groepe People who live in Centurion en People who live in Centurion Area met oorweldigende reaksie.

Boodskappe van bemoediging stroom in en mense gee nommers en CV's, sms'e, whatsapp, e-pos, oproepe - ek kan nie voorbly en vat nie grond nie.  Vier onderhoude word gereël en sorteer hulle self uit.  Een van die aansoekers  sê sy aanvaar die R2700 want dis meer as haar R2000 per maand.  Ek het 'n wendy wat as pakplek gebruik word en ek sal dit môre herorganiseer dat sy daar kan slaap vir die week en naweke gaan sy Soshanguve toe.  Sy kan tot kos maak ook.  Ek wil haar gaan wys hoe werk die wasmasjien en skottelgoed wasser en sy vra my of sy my kan wys en as dit verkeerd is kan ek haar net reg help.  Sy verduidelik tot van die waterbesparing op die masjiene en kom heeltemal reg sonder dat ek haar help.  Ek meld van huis skoonmaak wat ek en die kinders self kan doen en sy sê dis nie ons werk nie, sy sal dit doen.

Maar die ergste skok van alles kom toe nog!  Mense bied aan op facebook om te kom help met die huis skoonmaak, om kruideniers per maand te gaan koop, om 'n fonds te stig en ook finansiële hulp te gee.  Ek kan nie voorbly om al die e-pos en boodskappe op watter manier te beantwoord nie.

Ek het nog altyd gesê dat die Here my geweeg het en goed genoeg geag het om Henru vir Hom hier op aarde op te pas.  Henru se liggaam is wel gebroke, maar sy siel is heel en dit moet ek koester vir God tot Hy eendag Henru kom haal.  Hier het God my (met alle respek) vir 'n ses my voete onder my uitgeslaan, plat op my gat en voorsien Hy in die behoeftes om Henru te versorg,

Hoe sê mens dankie aan elkeen van die wie bygedra het en nog bydra, maar meeste van alles, hoe se ek dankie aan my God wie dit gedoen het.  Ek loof en prys my God vir alles wat Hy vir my doen en toe ek op my swakste is, maak Hy my weer sterk in 'n oogwink.


Wednesday, September 24, 2014

24 SEPTEMBER 2014 - BIETJIE OPDATERING

Sjoe, die tyd gaan so vinnig verby en ek kan nie bybly met alles nie.  

Ons was die jaar weer bevoorreg om twee keer besoek in die wildtuin te gaan aflê.  Eers saam met my Pa, my sus Mariëtte en haar vriend Sam Odendaal en toe weer saam met wildlewe fotograwe.  Dit was 'n fees!  Saam met my Pa’le het Henru eers in sy stoel voor by my gesit en wanneer hy moeg raak, het ons hom op die sitplek langs my pa laat lê.  Ek weet nie hoekom nie, miskien die vars lug, maar hy het meeste van die tyd geslaap wanneer ons gery het, kan dalk ook van die ryery wees.  Wanneer ons egter op grondpaaie gery het (die paaie was baie sinkplaatagtig) het Henru aan die giggel gegaan.  Dit was seker maar die vibrasie wat hom gekielie het.

Toe ons die tweede keer in Augustus daar was, het ek die kombi se sitplekke uitgehaal en sy matras daar gesit.  So kon hy in sy stoel sit tot hy moeg raak en dan het hy op sy matras gaan lê.  Weer was dit die gegiggel op die grondpaaie!

Dankie aan die SA Polisiediens, Skukuza, wie dit vir ons moontlik gemaak het om te kon gaan.  Julle vriendelikheid en hulpvaardigheid word opreg waardeer.  Sonder julle sou ons nooit hierdie wegbreekkanse kon hê nie.

Wat ek eintlik met bogenoemde wil sê, is dat dit besonders goed gaan met Henru.  Behalwe die erge griep wat ons opgedoen het en hy bietjie erg slym op die bors het, gaan dit goed.  Ek het maar weer die suction gedoen en die stoom ding en selfs dit is nou vir hom snaaks en kla hy nie daaroor nie.  Hy wil ook net nie lekker drink uit sy tietiebottel nie en wanneer ek dus nou vir hom sy medisyne gee met die spuit, is dit ook 'n gegiggel van begin tot einde.  Hy maak selfs nou al sy mond oop om die medisyne te drink en dit is galbitter.

Ek het bietjie 'n nuwe dokument oor Henru opgestel aangesien sy fondse op is.  Al die inligting is daar beskikbaar en as iemand enige navrae het, jy is vry om met my kontak te maak, want ek sien hier is redelik baie aktiwiteite aan die gang op die blad, maar niemand laat enige kommentaar nie.  Dalk is dit ook omdat ek tegnologies gestremd is en nie weet hoe om dit op te stel om die kommentaar te pos nie.

Dankie, ook weer vir almal se ondersteuning op een of ander manier.  Dit klink al soos 'n clichê as ek dankie sê, maar weet dit kom uit my hart.  Ook aan ons Hemels Vader wie op elke moontlike manier voorsien wanneer dinge vir ons donker lyk.  Elke keer is daar uitkoms in die een of ander manier. Elke boodskap, SMS, facebook boodskap, oproepe – dit word opreg waardeer.  

Daar is ook weer 'n fondsinsamelingsprojek vir Henru aan die gang en dit word gereël deur Madri Henn in samewerking met my Ousus, Dalené Broodryk.  Beide van hulle is op facebook beskikbaar indien enigiemand navrae het.


Nogmaals baie dankie vir alles.

Sunday, May 11, 2014

EK WONDER...

Diegene wi my vandag wil verkwalik moet dit maar doen, maar as ek so alleen hier saam met Henru by die huis sit en die ander kinders by hulle ma in Harrismith is, wonder hoe voel sy "ma" op hierdie dag oor Henru waar hy nie saam met haar kan wees nie en die feit dat sy hom so lank laas gesien het, ek kan nie eers onthou wanneer dit was nie.  As ek net dink hoe mis ek my ma en ook my tweede ma vandag en hoe dit altyd was met Moedersdag en hulle verjaardae...  Lief vir julle twee en mis julle baie ♥♥♥



Monday, February 10, 2014

10 FEBRUARIE 2014 - OPVOLG DOKTERSBESOEKE

Henru se opvolg doktersbesoeke is nou voorlopig klaar vir die jaar 2014, behalwe as daar iets gebeur.

Dr Hans Pretorius is tevrede met die heupe.

Dr Lippert is tevrede met die EEG en het net die medikasie aangepas want Henru weeg nou 'n hele 38,7kg!  (Was dit sports om hom geweeg te kry, maar met behulp van sy spraakterapeut, Christa, kon ons darem sy gewig bepaal).  Sy medikasie is net aangepas volgens sy gewig, maar geen ander probleme te bespeur nie.

Vandag Dr Coetzee vir sy rug en hy is ook tevrede.  Ek moet hom nou een keer per jaar neem tot hy 17 is om te monitor wat al die klomp skroewe en stawe in sy rug maak.  Henru groei steeds en daar is na 17 maande geen probleme wat waargeneeem kan word na die rugoperasie nie. 

Dit gaan ook nog goed met die nuwe versorger en tot dusvêr beter as die een wie ek verlede jaar gekry het.  Sy doen amper meer as wat van haar verwag word en die terugvoering wat ek kry is tot dusver ook net positief.  Hoop dit bly so.

Ek kan net weereens op my knieë gaan en sê "Dankie Liewe Jesus dat U so goed gehelp het en steeds help, ons dra en ondersteun in elke opsig, dat ons nou al 'n jaar weer deurgegaan het van verlede jaar, 28 Januarie 2012 tot nou en daar geen moeilikheid was nie.  Ek is tot alles in staat deur U wat my die krag gee."

Dankie ook vir elkeen se gebede en ondersteuning want sonder julle sou ons dit nie kon doen nie.