Thursday, December 11, 2014

'n NUWE MOONTLIKHEID UIT WITRIVIER

Marietha Scholtz het Sondag, 6 Desember 2014, aan my hierdie berig gestuur.  Dis gepubliseer in "Die Laevelder" op 5 Desember 2014.
 
WITRIVIER – ‘n Vierjarige serebraal-gestremde seun het Woensdag sy eerste treë gegee, te danke aan dr. Hein van Wyk se stamselnavorsing.
Wandré Els kon nooit sy bene reguit maak of optel nie. Hy kon slegs agtertoe in sy rystoel beweeg. Woensdag het hy en sy ma, Annatjie hand aan hand by Van Wyk se kantoor uitgestap.
Dit volg na twee weke se intensiewe plaatjieryke plasmabehandeling en ‘n dag se stamseloorplanting. “Die neuroanti-inflammatoriese effek van die stamselle veroorsaak dat die spastisiteit in pasiënte drasties verminder,” sê Van Wyk. “Sommige effekte is onmiddellik en duidelik sigbaar, selfs terwyl ons die stamselle toedien. Die pasiënte se arms raak stelselmatig meer reguit en hul gesigte raak meer ontspanne.”
Wandré ontang al vir twee weke plaatjie-behandeling en het Woensdag vir die eerste keer stamselle ontvang. “Alhoewel sommige effekte gesien kan word, sal die stamselle se volle effek eers oor drie of vier weke verskyn en dan is dit blywend. Die plaatjieryke plasma het ook genesende eienskappe, so dit het baie gehelp om Wandré se spraak en motoriese vaardighede te verbeter.”
Van Wyk is een van vier dokters in die land wat tans met stamselle werk. Hy en sy kollegas gebruik geaktiveerde bloedplaatjies om inflammasie of afbrake in die liggaam op te spoor. Geaktiveerde plaatjies is meer doelgerig en sterker. “Die plaatjies is soos Pac-Man wat oral beweeg en sy teiken soek. Dan stuur hulle ‘n sein aan stamselle sodat hulle ‘weet’ waar om te gaan werk. Omdat stamselle neutraal is, kan hulle enige weefsel word. Die stamselle ‘verstaan’ dan dat hulle senuweeselle moet word om die senuwee te genees. In die plasma is daar ook baie selle wat inflammasie behandel en daarom is dit dan ook anti-inflammatories. Dit werk uitstekend vir serebrale verlamming.”
Bloedplaatjies word uit geskenkte bloed getrek en stamselle uit vetweefsel. Sekere groeifaktore word saam met die plaatjies uitgetrek en saam met die stamselle en plaatjies toegedien. “Hulle soek die afbreking uit, die stamselle volg en die groeifaktore werk soos kunsmis vir die stamselle.”
Die etiek van stamselnavorsing is al hoog en laag bespreek, maar volgens Van Wyk hoef stamselle nie noodwendig op ‘n onetiese wyse verky te word nie. “Ons oes die stamselle uit vetselle en nie uit plasentale weefsel nie. Die laasgenoemde wyse is ‘n teerpunt vir baie mense. Stam-selle van vet is die veiligste om te oes en dit kan brein- of senuweeweefsel word.”
Van Wyk sê die waarheid is dat stamselnavorsing gebruik kan word om sommige ongeneesbare toestande, soos diabetes of breinskade, te behandel. “Spesialiste in Rusland is tans besig met dié navorsing en dit sal binnekort beskikbaar wees.” Hy werk al ‘n jaar met stamselnavorsing en sy kollegas is al agt jaar daarmee besig. In dié tyd is daar nog geen newe-effekte in pasiënte opgemerk nie. Daar is ten minste 36 serebraalgestremde kinders in die land waarvoor dié behandeling al gewerk het.
“Wandré kan self die verskil agterkom,” sê Annatjie. “Hy besef hy kan nou fietsry. Hy is so trots op homself, hy roep elke keer die hele gesin om te kyk hoe hy ry. Die behandeling is wonderlik. Ek wens ons het vroeër na Van Wyk toe gegaan.”
 
Sy het vir my die dokter se telefoonnommer gekry en ek het Maandag gebel om te hoor of hy kan help.  Sy ontvangsdame het gesê dat hy met verlof gaan Vrydag die 12de en nie op daardie strdium by die spreekkamer is nie.  Sy het my sy selfoonnommer gegee en gesê ek moet met hom gesels.  Ek het hom gebel en hy het gesê hy glo daar is hoop vir Henru met die behandeling en indien moontlik, moet ek Dinsdag oggend 09:00 by sy spreekkamer in Witrivier wees dan doen hy die behandeling.  So het dit toe verloop:
 
9 Desember 2014
 
Ek en Henru het Dinsdag die lang pad aangepak Witrivier toe. Ek het my kamera ingepak en ook lêplek gemaak vir Henru in die kombi want ek was onder die indruk ons gaan 09:00 by Dr van Wyk wees en 'n konsultasie is mos maar so 15-30 minute lank.  Ons is dan naby die wildtuin dan kan ons die dag daar deurbring en die middag weer terug ry. 04:00 vertrek ons van die huis, maar mens se paadjie is nie altyd soos mens dink dit kan wees nie.
Ek ry altyd Machadodorp, Waterval Boven en Waterval onder om want dit is vir my 'n goeie pad.  Nadat ek by die Schoemanskloof afdraai verby is het daar skielik noodvoertuie van agter verby gejaag en was ek op die uitkyk vir waar die ongeluk is.  Ongeveer 25km van die Schoemanskloof afdraai, was daar stilstaande vragmotors voor my - die pad was gesluit as gevolg van 'n motorongeluk en aangesien daar nog noodvoertuie opdaag en dit een baan en elke rigting is, weet ek sommer die pad gaan geruime tyd gesluit wees.  Ek draai om en ry die Schoemanskloof pad, maar dis gladnie aangenaam nie.  Die mis is ontsettend dig en intussen is al die verkeer op die pad.  Dis vragmotors en oorlaaide slaapwaens aan taxis en ons kruie maar so voort.
Half 9 is ons in Witrivier, stop by die adres in Alie van Bergenstraat 30 en ek laai henru uit sy karstoel in sy rolstoel en toe ek op die sypaadjie wil aanstap na waar ek dink die spreekkamer is, roep 'n vroeuestem my dat die spreekkamer in die ander rigting is.  'n Voertuig het voor die naambord geparkeer en dus was dit nie sigbaar van die straat nie.
Die mense is ontsettend vriendelik en behulpsaam in die spreekkamer.  Dr van Wyk kom aangestap, groet vriendelik en verwelkom ons, mens voel sommer tuis.  Hy neem ons direk deur na die spreekkamer waar hy my ook aan sy seun voorstel.
Die prosedure word aan my verduidelik.  Eers soek ons 'n aar en Henru se are is so dun, dat die dokter half benoud raak.  Hy vind 'n geskikte aar in henru se regter voet en begin om bloed te trek.  4 buisies.  Dit gaan stadig want die bloed wil nie vloei nie en die aar is baie dun.  Ek en die dokter se seun vryf Henru se been en na wat soos 'n ewigheid voel, is die 4 buisies vol.  Die lyn word behou en 'n drup wor solank vir Henru in die aar gesit.
Die bloed word nou "gespin" in die masjien sodat die plaatjies en die plasma skei.  Die deurskynende bloedplasma bo en die rooi bloedselle onder.  Die plasma word onttrek en "geaktiveer" onder 'n lig.  Die geaktiveeerde plasma word nou in die drupsakkie gespuit en moet dit nou inloop.
Intussen is Henru vas aan die slaap en toon feitlik geen reaksies nie.  Ek prober op enige wyse hom wakker maak, maar glad nie, hy slaap so vas soos 'n klip.  Dokter vra uit oor die omstandighede en ons prober steeds hom wakker kry, maar niks.  As hy so bietjie wakker word, "smile" hy en slaap dan verder.  Ons beweeg en bevoel Henru se arms en ben, maar hy slaap so dat mens nie dadelik enige reaksies kan waarneem nie.  Die situasie word verder aan my verduidelik dat dit 3-4 weke kan duur voor daar reaksie is of in sommige gevalle is die reaksie onmiddellik.
Henru word ook verder ondersoek en sy pupille is vergroot en reageer nie op lig as die dokter lig daarin skyn nie.  Dr van Wyk sê hy vermoed, op grond van Henru se slaap en pupille, dat daar drukking op die brein kan wees, maar ons sal nou eers kyk wat die reaksie op die plasma behandeling is.  Hy sê ook te oordeel na Henru se toestand moet hy baie seer gekry het.  Dit tref my toe eers dat ek die scans by die huis vergeet het, maar die laaste een was in elk geval ongeveer in 2005 geneem. Ons moet weer so in die 3de of 4de week in Januarie gaan vir nog behandeling en dan gaan hy ook 'n MRI scan laat doen en laat 'n neuroloog ook vir Henru ondersoek.
Dis ongeveer 12:15 toe ons klaar is nadat dokter ook vir Henru 'n glukose drup toegedien het.  Dokter het ook vir my drie bottels "STF balanced oil" gegee wat ek drie keer per dag 10ml vir Henru moet gee.  Dit is "organic sunflower (Omega 6) en "organic flax seed (omega 3) balanced oil".  Dit sal ook help met die voeding van die brein en moontlik ook met die epilepsie. 
Ek besluit ek gaan nie vir Henru weer in sy stoel laai vir die entjie en weer oorlaai in sy karstoel nie, maar gaan solank die rolstoel in die kombi laai en sal hom dan die entjie dra tot by die kombi.  Dokter sê hy sal by Henru bly dan kan ek die kombi nader bring.
Toe ek Henru van die bed af optel, kan ek agterkom die linker arm wat altyd stokstyf is, is meer ontspanne - nie "major" nie, maar dis beter.  Soos ek hom altyd dra met sy bene oor my linker arm en sy rug in my regterarm, skop hy altyd die bene styf en as ek hom dan in die kar in sy stoel sit, is die bene so styf dat dit moeilik is om hom in posisie te plaas in die stoel.  Dit tref my dadelik dat ek hom met gemak kan inlaai en die bene kan beweeg.
Op pad na Witrivier - en ek is so spyt ek het nie 'n foto van die been geneem nie - was Henru se regterbeen heeltemal styf geskop en as hy so ongemaklik geraak het langs die pad en gekerm het, kon ek nie die been beweeg nie.  Ek moes elke keer stop en hom uitlaai, laat lê agter in die kombi en die been strek om dit weer bietjie "los" te maak.  nou kan ek die been bietjie beweeg en oplig en selfs bietjie vorentoe beweeg en hom bietjie "gemakliker maak" terwyl ons ry, maar ek moes maar nog steeds stop  en hom uitlaai vir die stuitjie wat seer word, maar die in en uitlaai is makliker.
Ek ry van die spreekkamer tot in Nelspruit waar ek by McDonalds vir Henru oats koop omdat hy nog nie geëet of gedrink het nie.  Hy weier steeds om sy bottle te drink maar eet die hele houer se inhod klaar terwyl hy slaap en glad nie eers sy oë oopmaak nie.  Ek prober weer vir hom iets gee om te drink, maar hy weier en ek gee ongeveer 150ml se melk vir hom met 'n lepel in.
Ek laai hom weer in sy stoel en ons wildtuin besoek moet maar wag tot ons weer in daardie rigting gaan en ons ry terug huis toe.  Die stuitjie pla en ons moet gereeld stop waar ons kan om bietjie verligting te kan gee en uiteindelik is ons teen ongeveer 17:00 by die huis.
Henru het die heelpad gesit en slaap, selfs as die stuitjie gepla het, het hy so met toe oë gekerm tot ek stop en hom gemaklik kon kry en weer die pad vat.  By die huis het hy geslaap toe ek hom aflaai.  hy wou niks drink nie en het darem weer geëet, maar baie min.  Ek gee vir hom teen 19:00 'n bottle met Nutren Fibre en sy medikasie asook die olie en verbasend drink hy dit maklik, maar steeds so aan die slaap.
Teen 22:00 gaan ek ook slaap en dra Henru kamer toe.  Hy word glad nie wakker nie en slaap regdeur tot 06:00 die volgende oggend.  Ek wil vir hom sy bottle gee, maar hy is so laf soos nog iets en gorrel met die melk en lag dan daaroor, baie snaaks.  Ek gee naderhand die medikasie emt die olies vir hom in met 'n spuit, maar alles is baie snaaks vir hom.
Ek sê niks vir Sophy, sy oppasser, van die behandeling nie en is werk toe.  hy kry 13:00 sy olies saam met sy bottle tee en toe ek by die huis kom 16:00, is hy wakker.  Sophy sê hy het feitlik niks geslaap nie.  Hy het goed geëet en gedrink en hy gesels baie.
Die hele tyd is hy so laf soos nog iets.  Lag vir elke geluid wat ek maak of terwyl ek kos maak en hy hoor die borde of die masjien waarmee ek sy kos fyn maak, lag hy sommer dat sy asem wegraak.  Ek gee hom kos, maar dit is net so snaaks vir hom.  Hy eet egter baie goed so tussen die gelag deur.
Toe ek weer sy aand bottle vir hom wil gee, weier hy om te drink en is baie laf.  Ek moet weer sy medisyne en olies met die spuit vir hom gee, maar dis ook 'n groot gelag.  Teen 23:30 maak ek vir hom tee en hy drink omtrent 50ml daarvan en raak toe so efffens aan die slaap.  Hy slaap nie rustig nie maar laap wel.
Ek staan 05:15 op vanoggend en gaan stort en maak klaar, maar hy slaap nog.  net na 06:00 toe ek sy bottle met die olie en medikasie wil gee, weier hy om te drink en weer trek ek die spuit nader en gee dit vir hom in.  En vat hom van die kamer na sy bed in die sitkamer en hy giggle soos 'n skooldogtertjie.
Toe ek hom van die bed optel, is dit 'n ander kind wat ek optel.  Die bene wat altyd styf skop en maak dat ek soos 'n krap in die gang af skuif na die sitkamer, is los en gebuig en ek kan gemaklik in die gnag stap tot by die sitkamer.  Sophy kom in en begin met hom gesels en hy "praat" land en sand met haar tot ek ry werk toe.
16:00 toe ek ny die huis aankom, het Sophy die tye neergeskryf soos hy geslaap het en dit was glad nie lank nie.  hy was meeste van die tyd wakker, maar hy slaap egter toe ek by die huis instap.  Ek vra haar uit oor hoe die dag andersins verloop het en Henru word toe wakker, rek hom lekker uit en ja, strek sy arms, hoewel gebuig, voor hom uit.  Hy het dit nog nie gedoen nie.  As hy hom so gestrek het, was sy arms steeds gebuig en ingetrek teen sy bors, maar hierdie was anders.  Sophy raak skoon opgewonde en vra wat het die dokter gesê want die linker arm is so los en die voete trek nog steeds in, maar sy kan beter met dit werk as sy doe oefeninge doen.
Ek gesels met hom en hy gesels terug en lag en is skoon opgewonde.  Ek maak vir hom lekker hoender gaar en kapok aartappel (wat hy haat en nie eet nie) met kaassous en botter en ja!  Hy eet dit asof hy 'n jaar laas geëet het!  Geen uitdruk met die tong nie, geen gesigte trek of mond toeknyp nie.  Hy eet 'n hele hoenderbors fillet (van 'n plaas hoender en nie winkel hoenders nie) asook twee medium aartappels sonder enige moeilikheid.
Net na 8 vat ek hom kamer toe en kan weer lekker in die gang as stap met die bene wat ontspanne is.  Ek gee sy medikasie en olie met bietjie melk en hy drink sonder moeite.  Ek maak vir hom 'n bottle tee en hy drink dit ook sonder moeite en nou, soos ek hier gesit en tik het, het hy rustig aan die slaap geraak en slaap soos 'n baba.
Dit is ons storie soos dit verloop het vandat Marietha Scholtz die e-pos vir my gestuur het Sondag aand en ek die afspraak kon maak Maandag.  Baie dankie daarvoor Marietha en ook dat jy daar by die spreekkamer 'n draai kom maak het.  Dit het geweldig baie vir my beteken met jou ondersteuning.  Ek sal laat weet as ons weer gaan vir die volgende behandeling.
Die volgende behandeling is weer plasma die Maandag en die Vrydag en daarna die stamsel behandeling.
Iets wat vir my treffend was en wat my nog meer hoop gee, was toe ek Woensdag vir Dr van Wyk 'n whatsapp stuur van hoe Henru was soos ek hierbo beskryf het asook 'n foto van die laaste scan en sy antwoord aan my terug was "Is hy slapper vandag?  Gister toe jy die kar gaan haal het, het ek 'n gebed vir hom gedoen.  Nou wag ons vir die wonderwerk.  Ek het baie groot agting vir jou toewyding.  Dis pragtig"  Dit het my net meer laat besef dat dokters instrumente in God se hande is en God bly die allergrootste geneesheer.
Ek vra asseblief dat almal wie hierdie lees ook saam met ons sal bid vir 'n wonderwerk, maar laat God se wil sal geskied in die lewe van Henru en nie soos ek of enigiemand anders wil nie.
Ek sal julle op hoogte hou van enigiets wat verder gebeur.
 
 

Tuesday, October 28, 2014

OPVOLG DOKTERSBESOEK 2014/10/28

Was vandag vir checkup by Dr Lippert met Henru vir sy medikasie omdat hy meer as normaalweg slaap en hy 6kg gewig verloor het. Hy weeg nou 32.9kg. Dokter sê hy is nog binne die perke en geen aanpassing is nodig nie. Ek moet hom op 'n ryk dieëet sit met room en ideal melk en alles wat lekker is om te kyk of ons nie sy gewig kan optel nie. As daar nie verandering binne die volgende week is met die ryk kos nie, moet ons x-strale laat neem van sy bors en hom laat toets vir TB omdat sy vorige versorger 2 jaar gelede dit onder lede gehad het.
Dan was daar nog die skokkende mededeling wat die dokter gesê het dat meeste ortopeute dit sal goed dink om die voorarms wat so in spasma is te laat amputeer. Ek kan dit net eenvoudig nie glo dat hy eers so iets vir my sê nie. Iemand het my gesê van 'n suksesvolle dokter in Kempton Park met nuwe tegnologie wat dalk kan help met die spasmas. Ek het dadelik 'n afspraak gemaak vir volgende Vrydag die 7de November 10:30. Kom ons kyk wat gebeur.
*********************************
I took Henru for a checkup today to see if his medication is still OK because he lost 6kg on WEIGHT and sleeps abnormally long times. Doctor is happy except for the weight. I must feed Henru with a rich diet and add cream and ideal milk. If there's no change in his weight and the problems with his lungs within the next week, we must take him for chest x-rays and test him for TB because the caretaker of 2012 suffered with TB.
Then the doctor made a shocking suggestion that most orthopaedics will think good of it to amputate the fore arms. I can't believe he even told me this. Somebody told me about a doctor in Kempton Park who uses new technology and operations for spastic patients. I got an appointment for next week Friday, 7 November 10:30 to find out what his opinion is.

Friday, October 17, 2014

MY KIND... INSPIRASIE

My kind, Ek sien jou seer wat jy saam met jou dra.  Ek sien in die nag wanneer jy alleen is en die trane oor jou wange rol.  Weet dit dat elke traan wat jy gestort het, het Ek opgevang en dit is in erkentenis gebring voor my.  Kyk jou trane sal in blydskap verander word en dit wat die vyand van jou gesteel het,  sal jy honderd voudig terug ontvang.  Ek is die Een wat voor jou sal uit beweeg en jou pad vir jou gelyk sal maak.  Ek is die Een wat voor jou staan en elke pyl wat teenoor jou afgeskiet word keer sodat niks jou sal tref nie.  Weet dit as jy dalk gedink het en gevra het waar is God?  Sien Hy my raak?  Weet dit dat Ek nog nooit jou begewe of verlaat het nie, maar dat Ek jou hand in Myne vasgehou het.  Weet dit hoe kosbaar jy is My kind.  Tot jou naam is in My handpalms uitgegraveer en het Ek selfs die hare op jou hoof genommer sodat nie een sal uitval sonder dat Ek nie daarvan sal weet nie... Hou moed My kind, Ek is met jou tot aan die einde...


Lillian Aucamp

Tuesday, October 14, 2014

SO MOOI...

Ronelle Booyens se kommentaar vandag op facebook na aanleiding van die gebeure...  Baie dankie, dis baie mooi:

Vanaand staan ek amper half stomgeslaan, half hartseer, en totaal en al in verwondering en met die grootste respek vir iemand wat ek so amper terloops al ontmoet het. Dis 'n enkel-pappa wat al vir sy tiener dogter skoen cupcakes by my bestel het. Ek was nogal heel beïndruk dat hy so 'op die ball' was met al sy instruksies  

Die middag toe hy die cupcakes kom haal, het hy op 'n stadium genoem dat hy 'n gestremde seun het, en ek kan onthou dat ek gedink het dat dit nogal gedoen wil wees. En nie verder gedink nie, en met my lewe aangegaan.


Tot ek vandag op FB meer oor die pappa en sy seun te wete kom en 'n klein blik op hulle daaglikse bestaan gekry het.

En ek sien in hierdie pa wat dit is as liefde 'n werkwoord is. Wat dit beteken om elke dag ALLES van jouself te gee. Wat dit is om 'n plan te maak met dit wat jy het, met dit wat jou toegedeel is. Wat dit beteken om sterk te bly staan ter wille van jou kinders. Sonder 'n sweempie selfbejammering. Wat bereid is om te vra vir hulp. Want dis vir sy kind. Ek sien onvoorwaardelike Jesus-liefde wat hierdie pa vir sy seun het.

En ek sien hoe 'n gemeenskap saamstaan om op verskillende maniere te help. En ek besef net weer dat DIT is waaroor die lewe gaan. Om iewers 'n verskil te maak. Om iemand se hande sterk te maak, om op te lig, om met sagte oë na ons medemens te kyk. Om ook met ons harte te kyk, sodat ons, te midde van die gejaag, werklik kan sien...



Monday, October 13, 2014

NOG 'N DEUR GAAN TOE MAAR GROOT VENSTERS GAAN OOP

Gister (Sondag 12 Oktober 2014) was ek weer op 'n laagtepunt soos niks.  Ek was moedeloos en het met die Here baklei, want ek verstaan nie hierdie dinge nie en weet nie hoekom dit gebeur nie, maar toe kom die Here en hy slaan my vir 'n ses dat ek onderstebo is...

Die versorger wat Januarie hier begin het, Florah, het elke maand dokter toe gegaan vir haar bloeddruk.  Dan moes ek elke keer verlof vat en toe Maandag die 6de is sy weer dokter toe.  Sy daag toe 10:30 hier op en sê sy voel nie lekker nie.  Donderdag middag laat weet sy my sy is siek en ek moet huis toe kom.  Sy is weer vroeër huis toe.  Vrydag oggend daag sy eers 10:30 weer op en ek sê vir haar dit is moeilik as sy so kort-kort siek is, ons moet praat laat ons kan kyk wat gaan gebeur as sy Desember nog verkof ook wil hê.

Sondag middag stuur sy 'n SMS dat sy weer siek is en dat sy nie meer kom werk nie want die stres om Henru te versorg is te veel vir haar.

Ek plaas toe 'n boodskap op facebook op die groepe People who live in Centurion en People who live in Centurion Area met oorweldigende reaksie.

Boodskappe van bemoediging stroom in en mense gee nommers en CV's, sms'e, whatsapp, e-pos, oproepe - ek kan nie voorbly en vat nie grond nie.  Vier onderhoude word gereël en sorteer hulle self uit.  Een van die aansoekers  sê sy aanvaar die R2700 want dis meer as haar R2000 per maand.  Ek het 'n wendy wat as pakplek gebruik word en ek sal dit môre herorganiseer dat sy daar kan slaap vir die week en naweke gaan sy Soshanguve toe.  Sy kan tot kos maak ook.  Ek wil haar gaan wys hoe werk die wasmasjien en skottelgoed wasser en sy vra my of sy my kan wys en as dit verkeerd is kan ek haar net reg help.  Sy verduidelik tot van die waterbesparing op die masjiene en kom heeltemal reg sonder dat ek haar help.  Ek meld van huis skoonmaak wat ek en die kinders self kan doen en sy sê dis nie ons werk nie, sy sal dit doen.

Maar die ergste skok van alles kom toe nog!  Mense bied aan op facebook om te kom help met die huis skoonmaak, om kruideniers per maand te gaan koop, om 'n fonds te stig en ook finansiële hulp te gee.  Ek kan nie voorbly om al die e-pos en boodskappe op watter manier te beantwoord nie.

Ek het nog altyd gesê dat die Here my geweeg het en goed genoeg geag het om Henru vir Hom hier op aarde op te pas.  Henru se liggaam is wel gebroke, maar sy siel is heel en dit moet ek koester vir God tot Hy eendag Henru kom haal.  Hier het God my (met alle respek) vir 'n ses my voete onder my uitgeslaan, plat op my gat en voorsien Hy in die behoeftes om Henru te versorg,

Hoe sê mens dankie aan elkeen van die wie bygedra het en nog bydra, maar meeste van alles, hoe se ek dankie aan my God wie dit gedoen het.  Ek loof en prys my God vir alles wat Hy vir my doen en toe ek op my swakste is, maak Hy my weer sterk in 'n oogwink.


Wednesday, September 24, 2014

24 SEPTEMBER 2014 - BIETJIE OPDATERING

Sjoe, die tyd gaan so vinnig verby en ek kan nie bybly met alles nie.  

Ons was die jaar weer bevoorreg om twee keer besoek in die wildtuin te gaan aflê.  Eers saam met my Pa, my sus Mariëtte en haar vriend Sam Odendaal en toe weer saam met wildlewe fotograwe.  Dit was 'n fees!  Saam met my Pa’le het Henru eers in sy stoel voor by my gesit en wanneer hy moeg raak, het ons hom op die sitplek langs my pa laat lê.  Ek weet nie hoekom nie, miskien die vars lug, maar hy het meeste van die tyd geslaap wanneer ons gery het, kan dalk ook van die ryery wees.  Wanneer ons egter op grondpaaie gery het (die paaie was baie sinkplaatagtig) het Henru aan die giggel gegaan.  Dit was seker maar die vibrasie wat hom gekielie het.

Toe ons die tweede keer in Augustus daar was, het ek die kombi se sitplekke uitgehaal en sy matras daar gesit.  So kon hy in sy stoel sit tot hy moeg raak en dan het hy op sy matras gaan lê.  Weer was dit die gegiggel op die grondpaaie!

Dankie aan die SA Polisiediens, Skukuza, wie dit vir ons moontlik gemaak het om te kon gaan.  Julle vriendelikheid en hulpvaardigheid word opreg waardeer.  Sonder julle sou ons nooit hierdie wegbreekkanse kon hê nie.

Wat ek eintlik met bogenoemde wil sê, is dat dit besonders goed gaan met Henru.  Behalwe die erge griep wat ons opgedoen het en hy bietjie erg slym op die bors het, gaan dit goed.  Ek het maar weer die suction gedoen en die stoom ding en selfs dit is nou vir hom snaaks en kla hy nie daaroor nie.  Hy wil ook net nie lekker drink uit sy tietiebottel nie en wanneer ek dus nou vir hom sy medisyne gee met die spuit, is dit ook 'n gegiggel van begin tot einde.  Hy maak selfs nou al sy mond oop om die medisyne te drink en dit is galbitter.

Ek het bietjie 'n nuwe dokument oor Henru opgestel aangesien sy fondse op is.  Al die inligting is daar beskikbaar en as iemand enige navrae het, jy is vry om met my kontak te maak, want ek sien hier is redelik baie aktiwiteite aan die gang op die blad, maar niemand laat enige kommentaar nie.  Dalk is dit ook omdat ek tegnologies gestremd is en nie weet hoe om dit op te stel om die kommentaar te pos nie.

Dankie, ook weer vir almal se ondersteuning op een of ander manier.  Dit klink al soos 'n clichê as ek dankie sê, maar weet dit kom uit my hart.  Ook aan ons Hemels Vader wie op elke moontlike manier voorsien wanneer dinge vir ons donker lyk.  Elke keer is daar uitkoms in die een of ander manier. Elke boodskap, SMS, facebook boodskap, oproepe – dit word opreg waardeer.  

Daar is ook weer 'n fondsinsamelingsprojek vir Henru aan die gang en dit word gereël deur Madri Henn in samewerking met my Ousus, Dalené Broodryk.  Beide van hulle is op facebook beskikbaar indien enigiemand navrae het.


Nogmaals baie dankie vir alles.

Sunday, May 11, 2014

EK WONDER...

Diegene wi my vandag wil verkwalik moet dit maar doen, maar as ek so alleen hier saam met Henru by die huis sit en die ander kinders by hulle ma in Harrismith is, wonder hoe voel sy "ma" op hierdie dag oor Henru waar hy nie saam met haar kan wees nie en die feit dat sy hom so lank laas gesien het, ek kan nie eers onthou wanneer dit was nie.  As ek net dink hoe mis ek my ma en ook my tweede ma vandag en hoe dit altyd was met Moedersdag en hulle verjaardae...  Lief vir julle twee en mis julle baie ♥♥♥



Monday, February 10, 2014

10 FEBRUARIE 2014 - OPVOLG DOKTERSBESOEKE

Henru se opvolg doktersbesoeke is nou voorlopig klaar vir die jaar 2014, behalwe as daar iets gebeur.

Dr Hans Pretorius is tevrede met die heupe.

Dr Lippert is tevrede met die EEG en het net die medikasie aangepas want Henru weeg nou 'n hele 38,7kg!  (Was dit sports om hom geweeg te kry, maar met behulp van sy spraakterapeut, Christa, kon ons darem sy gewig bepaal).  Sy medikasie is net aangepas volgens sy gewig, maar geen ander probleme te bespeur nie.

Vandag Dr Coetzee vir sy rug en hy is ook tevrede.  Ek moet hom nou een keer per jaar neem tot hy 17 is om te monitor wat al die klomp skroewe en stawe in sy rug maak.  Henru groei steeds en daar is na 17 maande geen probleme wat waargeneeem kan word na die rugoperasie nie. 

Dit gaan ook nog goed met die nuwe versorger en tot dusvêr beter as die een wie ek verlede jaar gekry het.  Sy doen amper meer as wat van haar verwag word en die terugvoering wat ek kry is tot dusver ook net positief.  Hoop dit bly so.

Ek kan net weereens op my knieë gaan en sê "Dankie Liewe Jesus dat U so goed gehelp het en steeds help, ons dra en ondersteun in elke opsig, dat ons nou al 'n jaar weer deurgegaan het van verlede jaar, 28 Januarie 2012 tot nou en daar geen moeilikheid was nie.  Ek is tot alles in staat deur U wat my die krag gee."

Dankie ook vir elkeen se gebede en ondersteuning want sonder julle sou ons dit nie kon doen nie.