Tuesday, July 23, 2013

MILPARK HOSPITAL: ICU

 

Ek was nog bietjie dome met die kamera en het nie die instellings geken nie.  Dit was in  ICU na die 25ste Februarie 2001.

Tuesday, July 16, 2013

WAT MAAK KOOKWATER AAN JOU?

Jammer ek is so stil, maar dit gaan so goed dat ek amper niks het om te sê nie.  Behalwe dat ons maar steeds sukkel met die longe, is daar gen klagtes nie.  Henru is so laf en giggle deesdae weer soos 'n skool dogtertjie oor alles.  Ek is so dankbaar vir hierdie wonderlike tye wat ons saam geniet.

Ek het weer iets moois gekry wat ek graag met julle deel:



Wat maak kookwater aan jou?

Toe 'n jong vrou eendag by haar ma huil en moedeloos haar lewe beskryf. asof sy net wil handdoek ingooi, neem haar ma haar sonder 'n woord kombuis toe.

Daar neem sy drie kastrolle en vul elk. met water. In die eerste plaas sy 'n paar wortels, in die tweede 'n paar eiers en in die derde gemaalde koffiebone. Toe sit sy dit op die stoof en laat dit kook...

Twintig minute later skakel sy die plate af. Sy haal die wortels uit die bakkie, toe die eiers en laaste die heerlike geurige koffie en vra haar dogter: "Wat sien jy?"

"Wortels, eiers en koffie," antwoord sy.
Die ma laat voel haar toe aan die wortels. Dit was sag gekook.
Sy dop 'n eier af en laat haar voel aan die klipharde eier.
Daarna skink sy vir haar 'n heelike geurige koffie. 

"Elk van die drie het dieselfde krisis deurstaan - "KOKENDE WATER" - verduidelik haar ma. "Maar elke een het verskillend gereageer. Die wortel is hard en onverbiddelik die water in, maar dit het sag en swak daaruit gekom. Die eier was broos en sag. Die dun dop het die vloeibare inhoud beskerm. Maar die kookwater het die binnekant verhard. Die gemaalde koffiebone het uniek reageer. In plaas daarvan dat dit verander het, het dit die kookwater waarin dit was verander.

 "Watter een is jy?" vra sy die dogter. "As krisis en pyn aan jou deur klop, hoe reageer jy? Soos die eier, die wortel of die koffieboon?"
 
Baie mense swig onder die druk van krisisse en word kragteloos. Ander lyk oënskynlik maar nog net dieselfde van buite, maar binnekant is dit kliphard. Sal dit nie wonderlik wees as ons soos die koffiebone kan reageer nie?"

Mag jou week soos 'n koppie geurige koffie wees...
Dat jy die situasie sal kan verander deurdat jy WEET Jesus is REEDS besig om die krisis of moeilikheid NAMENS jou te hanteer...
Mag jy jou koffie die week uit jou piering drink, omdat jou beker oorloop van al God se seëninge in jou lewe...

Wednesday, June 26, 2013

"WATER, DORS EN 'n BRIEFIE"


Water, dors en ’n briefie

“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ’n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ’n bekertjie water om te drink.” Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ’n stukkie brood saam.” Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ’n handvol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ’n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

— 1 Konings 17:9-14 —


As daar een ding is wat ons in vandag se tyd nodig het, dan is dit geloof. Maar wat is geloof? Geloof is om God met jou lewe te vertrou en daarom te leef soos Hy jou vra – sonder voorwaardes.

Daarom kan ons sê geloof is die vermoë om met God se oë te sien.

Dit is nie so maklik om van beloftes alleen te leef nie. Maar dit is wat die Here van ons vra.

In die dertigerjare was daar ’n groot droogte en verskriklike depressie in Suid-Afrika. ’n Storie uit daardie tyd vertel van ’n man wat Koos Kalahari genoem is. Dit handel oor die Kalahariwoestyn wat maar min drinkwater vir die reisiger (oor die algemeen) aangebied het. Iewers in die woestyn sou die dors pelgrim op ’n boorgat afkom met ’n handpomp op.

As hierdie handpomp gewerk het, het jy water gekry. As dit nie gewerk het nie was daar niks, só eenvoudig was dit. Aan hierdie handpomp se handvatsel, so gaan die storie, was daar ’n blikkie met ’n stuk draad vasgemaak. Binne in was daar ’n briefie wat met een van daardie ou, pers “indellible” potlode geskrywe was. Dit het ongeveer só gelees:

Hierdie pomp is op 1 Junie 1932 gediens. Ek het ’n nuwe leerwaster ingesit. As die pomp lank gestaan het, raak die waster droog. Dan moet dit gepraaim word. Onder die wit klip is daar ’n bottel met water. Dis genoeg om die pomp mee te praaim. As jy eers van die water drink is dit nie genoeg nie. Gooi ’n kwart van die bottel in die pomp se pyp af, sodat die leer-waster nat kan word. Gooi die res van die water in, en pomp die handvatsel vinnig op en af. Jy sal water kry. As jy genoeg water gekry het, maak weer die bottel vol en sit dit onder die klip vir die volgende ou.

Geteken: Koos Kalahari.

 

“Sometimes you got to give everything away to get something back.”


Wat sou jy doen met ’n brief soos hierdie? Sê nou maar dit was jý wat half dood van die dors by daardie ou pomp in die woestyn uitgekom het, wat sou jy gedoen het? Sal jy die water uit die bottel drink en maar ’n kans vat vir die res van die pad? Of sal jy die bottel se kosbare inhoud in die geroeste pyp afgooi en hoop jy kry water? Hierdie karakter, Koos Kalahari, hoeveel kan jy hom vertrou?

Sal jy jou lewe waag met dit wat hy op daardie briefie in die blikkie geskryf het?

Daar is net een manier om uit te vind: Jy sal nie weet of hy vertrou kan word, voor jy nie probeer het nie.

Eers vir my dan vir julle. Het ons reg gehoor? Dit klink vir ons na verwerplike selfsug. As jy nou in Elia se posisie was, sou jy dit waag om so iets vir hierdie vrou te sê wat nou net vir hom vertel het dat sy niks het nie en na hierdie laaste maaltyd staar sy en haar kind die verskriklikheid van ’n hongerdood in die gesig? Tog het sy gegaan en dan lees ons: “Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.”

Dit is geloof, om te leer om uit die hand van die Here te leef, omdat jy Sy beloftes vertrou. Sien, geloof is doodgewoon die vermoë om beter te kan sien as wat ander mense kan sien. Geloof is die insig om te weet wat belangrik is. Een ding wat elke keer met ’n Christenmens moet gebeur, is dat jy jou lewe sal beoordeel en sal vra: Sien ek nog die dinge raak waarop dit werklik aankom? Is die onsienlike God ALLES in my lewe? Verstaan ek nog wat belangrik is in die koninkryk van die Here?

In daardie huis was drie gelukkige mense. Hulle pot en kruik was nooit leeg nie; dit was ook nooit vol nie; ’n vol pot en kruik kon hulle maklik onafhanklik van God laat voel het. Net genoeg vir elke dag. Die vriendelike aangesig van die Here het elke dag oor die huis van die weduwee geskyn.

Nou kom ons lewensverhaal hierby. Moontlik sit ons soos die weduwee van Sarfat en wonder oor die laaste bietjie meel en die klein bietjie olie wat ons vir die toekoms het: ’n bietjie hoop, ’n bietjie geloof, ’n bietjie eie krag, ’n bietjie vermoëns, ’n bietjie middele – in elk geval glad nie genoeg nie.

Kom ek vertel jou iets. Byna tweeduisend jaar terug het Jesus Christus, die Seun van God gesê: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Matt. 6:33). Glo jy dit? Kan jy hierdie woorde vertrou? Daar is net een manier om uit te vind.

Gebed:
Here, maak stil my klagtes,
kalmeer my angs,
verban my twyfel,
sodat ek in U tot rus kan kom.
Plaas my voete op die vaste Rots,
wat U self is – o Ewige en Sterke.
Amen

Wednesday, June 19, 2013

AARTAPPELSKYFIES

Ons lewe is weer redelik terug na "normaal" en dit gaan baie goed met Henru.
Ek het Henru weer terug op die Stilnox en sedertdien gaan dit net beter en beter.  Ek wens julle kon dit saam met my beleef hoe hy deesdae reageer!  Dit maak my dag.

Ek het die volgende vandag raakgelees en deel dit ook graag met julle met erkenning aan die skrywer wie onbekend is: 


·        AARTAPPELSKYFIES

’n Klein seuntjie wil bitter graag die Hemelse Vader ontmoet. Hy besef dat dit sal tyd neem om te reis na waar die Here woon! Dus pak hy in sy tas ’n pakkie aartappelskyfies en ’n 6-pak vrugtesap en toe begin hy met sy reis.

Toe hy ongeveer drie blokke van sy huis af is, ontmoet hy ’n ouerige man. Die man het in die speelpark gesit en stilweg gestaar na die duiwe wat op die grond rondloop. Die seun gaan langs die oom sit en maak sy tas oop. Hy was van plan om van sy vrugtesap te drink, toe hy opmerk dat die ou man honger voorkom. Hy bied toe vir die oom van die skyfies aan. Dankbaar neem die ou man dit, terwyl ’n vriendelike sagte glimlag oor die ou man se gesig versprei, soos hy na die seuntjie kyk.
...
Die ou man se glimlag was verskriklik mooi dat die seuntjie dit weer wou sien, en hy bied vir die oom ’n blikkie koeldrank aan. Weer eens glimlag die ou man teenoor die seuntjie. Die mannetjie was verheugd! Die hele middag sit die twee daar eet en glimlag teenoor mekaar – sonder om ’n woord te sê.

Toe dit skemer word, besef die seuntjie hoe moeg hy was en hy staan op om te loop. Skaars het hy ’n paar treë gegee, of hy swaai om. Hy hardloop na die ou man terug om hom ’n drukkie te gee. Hy kyk op na die ou man en gee hom die grootste glimlag ooit . . .

Toe die seuntjie na ’n kort tydjie die voordeur van hul huis oopmaak, was sy moeder verbaas om die vrolike gesiggie te sien. Sy vra hom, “Wat het jy vandag gedoen wat jou so gelukkig maak?” Hy reageer spontaan, “Ek het middagete met God gehad.” Nog voordat sy moeder kon reageer, voeg hy by, “Weet jy wat, Ma? Hy besit die mooiste glimlag wat ek nog gesien!”

Intussen het die ou man, ook oorweldig van geluk by sy huis aangekom. Sy seun was verstom oor die blik van tevredenheid op sy Pa se gesig. Hy vra, “Pa wat het jy vandag gedoen wat jou so gelukkig maak?”

Die ou man antwoord, "Ek het aartappelskyfies saam met die Here in die park geëet.” Voordat sy seun kon reageer, voeg hy by, "Weet jy, hy is veel jonger as wat ek verwag het!”

Te dikwels onderskat ons die krag van ’n aanraking, ’n glimlag, ’n vriendelike woord, ’n geopende oor, ’n eerlike kompliment of die kleinste omgee-daad, almal het die vermoë om die lewe te verander. Mense kom in ons lewens vir ’n rede, ’n seisoen, of lewenslank! Omhels almal gelykwaardig!!

Geniet middagete met God . . . . . bring skyfies.

Deel hierdie leesstuk met die mense wie jou lewe op ’n spesiale manier geraak het. Laat hulle besef hoe belangrik hulle is. Ek het!!!

God sit steeds op Sy troon. Jy mag deur ’n moeilike tyd nou gaan, maar die Hemelse Vader is gereed om jou te seën op so ’n wyse wat Hy alleen kan doen.

Behou die geloof!

Sunday, June 2, 2013

2 Junie 2013 : 13de VERJAARDAG: GEBED VIR MY SEUN - NIC STEVENS



Liewe Boeta,
Vandag 13 jaar gelede is jy gebore en vir 8 maande en 3 weke het ek jou sien groei en ontwikkel en sal ek nooit vergeet die laaste oomblikke voor die ongeluk wat ek saam met julle kinders gedeel het nie.

Vandag sit ek en huil hier oor dit wat kon wees en wonder ek hoe dit sou wees as jy ook normaal kon groot word soos ander kinders.  Hoe sou dit wees...

Ek hoop jy geniet die dag in jou wêreldjie waar jy is en weet ek is lief vir jou.

Aan Hannes, Francois en Amòr - dankie dat julle daar is en verstaan, al is dit dikwels vir julle ook moeilik en seer.  Ek is baie lief vir julle ook,





 
 

Wednesday, May 15, 2013

15 MEI 2013

Dit gaan steeds goed met Henru.  Ek het hom weer terug op die Stilnox en daar is 'n BAIE groot verbetering.  Dis ongelooflik as ek in die middae by die huis kom hoe hy weer lag en gesels.  Sy versorger sê hy reageer ook baie erg op die dreuning van die voertuig as ek aangery kom, maar nie op ander voertuie wat hier ingery kom nie.

As ek dan by die huis inkom, gee hy sulke gilletjies en lag so uit sy maag uit as ek hom groet en 'n drukkie gee.  Partykeer is dit so erg dat sy sussie Amor haar ore toedruk soos hy gesels, lag en sommer net lekker skreeu van opgewondenheid.  Dit is onbeskryflik hoe hierdie reaksie mens se dag "boost" as jy nie 'n lekker dag gehad het nie en by die huis kom en hy reageer so.

Ek het hom gou by die dokter gehad want die longe wil nie lekker opklaar nie.  Gelukkig is daar geen infeksie nie, maar die dokter het antibiotika gegee dat ons kan voorsorg tref teen die winter wat op hande is.

Ek het ook laas week 'n skou gaan bywoon vir hulpmiddels vir gestremdes en daar is kussings wat mens kan gebruik om hom mee te kan posisioneer wat beter sal werk as die gewone kussings wat ons nou gebruik.  Dan is daar ook die masseer matras wat help met die voorkoming van druksere en het ek dit vandag bestel.  Dit kos darem nie 'n plaas se geld nie en ek weet sommer dit gaan ook help met die spasmas.

Sunday, May 5, 2013

MOET JULLE NIE BEKOMMER NIE

Toe ek die inskrywing gemaak het op 3 Februarie 2013 van “Die Here sorg”, het ek die gedeelte in die Bybel staan gesoek en kon dit nie vind nie.  Sê nou vir my of hierdie toeval is of nie, ek glo met my hele hart die Here sorg vir ons en ons “walk the walk” soos oom Joseph gesê het. 

Saterdag 4 Mei 2013 het Dirk my gevra om hom te help om sy vriend, Oom Joseph Von Schönfeldt te help trek van Brakpan hier na Centurion.  Hy het nie veel goed nie en sal net een waentjie vrag wees.
Om dit te doen, het ek nie 'n keuse anders as om Henru saam te neem nie, want Hannes werk en ek kan hom nie by Amòr los nie.

Na 'n effense moeilike nag gaan slaap Henru teen 04:30 en ek besluit toe ek gaan nie eers die wekker stel nie, Dirk kan my wakker maak as hy hier aankom soos ons afgespreek het en dan kan ek klaarmaak en ons kan ry.
06:55 word ek wakker sonder rede, maar besef dit Henru se medikasie tyd.  Ek gee dit vir hom met 'n bottel melk en hy raak so aan die slaap terwyl hy die bottel leegdrink.  Daarna slaap ek ook weer net om 09:35 wakker te word.  Ek besef dis byna tyd dat Dirk hier gaan aankom en staan op, gaan stort en maak klaar, pak Henru se doeke en bottel in, gee hom nog 'n bottel om te drink en teen ±10:20 vertrek ons om die waentjie te gaan kry en ons ry na Brakpan.

Net voor ons afdraai op die R24, sê ek vir Dirk dat ek 'n vreemde geluid hoor op die een wiel en toe ons op die hoofweg is, is dit net een geraas soos iets skuur.  Ons klim uit, maar kan niks sien nie en ek besluit om verder te ry, maar die geluid klink erger, later soos wanneer die handrem opgetrek is en mens probeer so ry.  Ek bel die persoon by wie ek die kombi die week vantevore laat diens het en hy sê ek moet probeer om by 'n “fitment centre” uit te kom dat hulle kan kyk en hy sal dan die nodige reëlings tref.
Ek is uiters bekommerd dat die remme dalk kan vasslaan, maar ons kruip maar so aan en daar mis ek die afrit.  Weer moet ons soek na 'n ander plek en dit laai op binne my van bekommernis.  Die gedagtes maal in my kop van wat gebeur as die kombi breek, hoe kom ons by die huis, waar kry ons iemand wat ons kan kom haal met ‘'n voertuig wat Henru gemaklik in kan sit, ag, ek raak sommer skuins verbouereerd van bekommernis.

Om 'n lang storie kort te maak, ons kry toe 'n plek en toe die ou kyk, sê hy daar is groot fout want die wiele is ontsettend warm.  Ek laai Henru uit want daar is gelukkig 'n lekker bank waarop hy kan lê en na 'n ruk kom die bestuurder by my en sê alles is reg, daar is nie groot fout nie, dis net die “dust cover” wat losgekom het en dis alles reg, ons kan weer rustig verder ry, dit kos ons ook nie geld nie.
Dirk het gou gaan koeldrank koop en die bestuurder vra my uit na Henru waarop ek hom kortliks vertel wat gebeur het en hy sê to, soos so baie mense al gesê het, hy weet nie hoe ek dit regkry nie, maar hy bewonder my dat ek dit doen.

Ons laai toe Oom Joseph se goed op en ons ry terug Pretoria toe.  Op pad daarheen is die versorging van Henru weer ter sprake en hy sê ook hy weet nie hoe ek daarmee “cope” nie.
Soos ek al so dikwels in die verlede gesê het en erken het, ek sou dit nie op my eie kon regkry nie.  Ek kry bonatuurlike krag en ondersteuning en dit kan net van die Here kom en daarom sal ek altyd aan Hom die erkenning gee daarvoor, want op my eie sou ek nie in staat wees daartoe nie.

Maar dis nou juis hier waar die sameloop van omstandighede is.  'n Kollega is verlede jaar hierdie tyd oorlede en by sy gedenkdiens het die pastoor gelees van die lelies van die veld en die gras wat vandag daar is en môre verdor het in verbrand word en dit het ook 'n diep impak op my gelaat en vandag toe ek op die rekenaar werk, het ek weer op die kennisgewing en begrafnisbrief wat ek meegehelp het afgekom en baie daaraan gedink.
So is ek ook besig om 'n DVD saam te stel van die familie en vandag is ek by die laaste kind van my pa-hulle, tannie sus.  Haar man Oom Hannes is ook verlede jaar die 8ste Desember oorlede en toe ek nou vanaand die begrafnisbrief se besonderhede aanteken, toe sien ek die Skriflesing vir die diens was uit Lukas 12:13-21, maar kon nie die teksvers onthou nie, wel van die preek waar die dominees gesê het van die lewe wat nie bestaan uit die oorvloed van sy besittings nie.

Ek gaan soek dit toe op in die e-sword program wat ek het VA die Bybel en daar kry ek alles saam wat ek na gesoek het.  Veral in die Ou vertaling waar dit so duidelik staan in Lukas 12:25  En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
Dit kan ek vanaand onomwonde sê en erken, ja, ek is dikwels bekommerd oor Henru, Amòr, Hannes en Francois, oor wat die toekoms gaan gebeur met hulle, maar dan kom kry ek hierdie gerusstelling soos dit so duidelik in die Bybel staan en daarom haal ek die hele gedeelte aan, maar lees toe ook die volgende weer 'n keer raak:

Lukas 12:34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
Ek deel dit graag:

Lukas 12:13-34:  En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.
Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as ‘n regter of deler oor julle aangestel?
En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.
Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ‘n Ryk man se grond het goed gedra.
En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie?
Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel.
En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.
Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?
So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.
En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.
Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.
Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!
En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?
Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.
As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!
Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;
want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.
Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.
Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.
Lukas 12:34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.