Friday, January 17, 2014

'n TOE DEUR MAAR OOP VENSTERS

"So dikwels staar ons ons blind aan die deur wat toegegaan het dat ons nie die venster(s) sien wat God vir ons oopmaak nie".

Hoekom moet mens altyd aan krisisse blootgestel word en deur al hierdie spannings en dramas deur die lewe gaan?

Ek moet Henru neem vir sy 6 maande ondersoek en aanpassing van sy medikasie soos hy groei.  Toe ek bel die 6de Januarie 2013 toe die dokter se spreekkamer oopmaak, is hulle vol geboek tot Augustus maar die ontvangsdame sê sy plaas my op die "stand by" lys.  Sy bel toe Woensdag en sê ek kan afspraak kry vir 07:45 gister 16 Januarie.

Christa Fourie kom die middag vir haar terapie sessie en ons het groot sports om Henru geweeg te kry maar kry dit uiteindelik reg en trek hy die skaal op 38,7kg!

Donderdag oggend gaan laai ek Amor by die skool af en gaan Unitas hospitaal toe vir die afspraak by Dr Lippert.  Hy is baie tevrede met Henru, net sy slaap patroon moet ons bietjie probeer verander en sy epilepsie medikasie aangepas met die gewig en ons kom huis toe.

Hier wag toe 'n vreemde wese in die gedaante van die vrou wie na Henru omsien se gedaante my in.  Ek weet nie wat haar ingevaar het nie, maar na haar jaarlikse verhoging van haar salaris en die vorige dag se bespreking van aanpassings om dit vir ons albe makliker te maak, toegewings en ingewings ens, is sy nie tevrede met haar salaris van R3 000 per maand nie.  Sy vaar uit soos 'n besetene en sê sy wil nie meer hier werk nie en wil die einde van die maand loop.  Hoe meer ek probeer uitvind wat die werklike probleem is, hoe minder wil sy praat en sy, wie nou haar voordoen as 'n "vrou van die kerk" en Woensdae gaan preek en ek weet nie watter "heilige" rituele volg nie, gaan so tekere en sê dat sy nie genoeg betaal word vir die werk nie en God my sal straf en ek kan nie eers onthou wat alles nie.

As gevolg van haar optrede, vrees ek selfs dat sy Henru dalk iets kan aandoen en versoek haar om onmiddellik pad te gee want ek het geen vertroue meer in haar nie en weet nie watter skade sy my of Henru of een van die ander kinders kan aandoen nie.

Ek voel sommer of ek my werk kan bedank en self na Henru omsien.  Ek bel ook die dame wie daarmee werk by die stasie en vra sy moet my help.  Danica sê sy is vandag die maatskaplike werkster en ek moet met haar praat, al kan sy net luister, maar sy sal in elk geval vasstel wat sy kan doen en help waar sy kan.

So sit ek my en bekommer en kom dit by my op dat ek verlede jaar met Sanet Bester gepraat het en sy het iemand se kontak nommer vir my gegee wat ek dalk kan navraag doen.  Ek bel haar (Flora) en sy sê sy het nie werk nie, maar dat sy vandag hier kan wees vir 'n onderhoud.  Ek gee haar kortliks 'n agtergrond van wat van haar verwag word sodat sy kan besluit of sy in die pos belang stel.  Na ons aanvanklike inligtingsonderhoud sê sy dat sy wel belangstel en sy kom vir die formele onderhoud.

Vanoggend daag sy toe op en kom voor as 'n baie aangename persoon.  Ek gee aan haar 'n totale oorsig van wat die situasie is en wat haar werk sal behels en sy sê toe dat sy die werk aanvaar.

Sonder om die vorige versorger af te kraak, maar sy was nie wat sy voorgegee het om te wees nie, maar sy het tog goed na Henru omgesien.  Haar grootste probleem was geld.  Sy wou die minimum doen en het net altyd geld gesoek.  In teenstelling met Flora wie sê sy het begrip vir my situasie, maar die een help die ander een en het sy ten minste 'n werk, is sy baie tevrede daarmee wat ek haar aanbied.

My vraag vandag is – hoe werk hierdie goed?  Is dit toeval, soos ander sê die noodlot of is God se hand hierin teenwoordig?   

My oortuiging en geloof dui vir my God se teenwoordigheid hierin.  Hier maak een deur toe en die vensters na buite word oopgemaak soos die spreekwoord lui.  Ek en die vorige werknemer het ook al probleme gekry/ondervind en sy wou ook toe al loop, maar na onderhandelinge het sy onderneem om te bly en te werk volgens my vereistes.  Ek het my blind gestaar teen die heropleiding van iemand anders, die vreemde persoon in my huis, die aanpassing weer met Henru en al dies meer, maar tog was ek nie tevrede met haar werk nie.  My ander bekommernis was hoe raak ek van haar ontslae op 'n wettige manie?  Hier kom die oplossing so uit die bloute en onmiddellik is daar 'n ander uitkoms en oplossing.  My eerlike opinie:  Dankie, Here, U het ons gedra vandag een af en doen dit nog deurlopend elke dag.  Ek sien in elke gebeurtenis U hand en kan net dankie sê dat U voorsien in al ons daaglikse behoeftes.  Sonder U hulp en ondersteuning sou ek dit nie gemaak het tot hier nie.  Baie dankie en ek loof en pry U grote naam vir al u goedheid, guns en liefde.
 






Wednesday, January 8, 2014

'n NUWE JAAR

So het 2013 gekom en gegaan met 'n baie slegte begin vir Henru en op 'n hoogtepunt geëindig.  Hier staan ons aan die begin van 2014 en ons ry op die kruin van die golf. Voorspoed vir die nuwe jaar van ons af! 

Dit gaan op hierdie stadium so goed met Henru - hy giggel vir alles!  As ek in die kombuis werskaf en sy kos voorberei met die masjien waarmeee ek dit fyn maak, dan giggel hy, of sommer kap met sy melkpoeier blik as dit bykans leeg is op die kas, dan gigggel hy, as ek sy doek omruil, giggel hy, as ek of ouboet Hannes in 'n sekere stemtoon praat, dan giggel hy - so erg dat ek hom moet keer dat hy nie sy asem uitlag nie!  Die beste van alles is dat hy op sekere goed reageer ook.  As hy so giggel en sy asem raak kort, dan sê ek vir hom: "Haal asem" en dan haal hy asem.  Hy gee dan tussenin so lekker gil ook dat ek soms dink die bure gaan dink ek mishandel hom!

In die middae as ek by die huis kom dan stap ek met opste by hom verby en sal hom net so in die verbygaan groet met 'n "Hallo Boeta", dan lê hy in afwagting op my.  As ek nie na hom gaan en hom soen nie, dan gooi hy so gil uit tot ek hom so op sy ken soen en dit is dan 'n gegiggel.  Dis ongelooflik hoe hy floreer op aandag.

Saans as ek nou bietjie tot ruste wil kom, dan giggel hy ook vir my.  Ek vryf sy oorbel so liggies dan lyk dit of hy aan die slaap raak, tot sy asemhaling raak rustiger en nes ek dink dat hy slaap, dan giggel hy ook vir my, so of hy sou sê:  "Lekker uitgevang, ek slaap tog nie."

Ek kry steeds ook gereeld boodskappe van bemoediging en gebede en wil net vir almal baie dankie sê daarvoor.  Dit is net dit wat mens staande hou.  Veral Kersfees en nuwe jaar is dit vir my baie erg as mens sien kinders van sy ouderdom en jonger - hoe hulle alles geniet en hy moet maar op 'n bank of op sy bed lê en net hoor van wat om hom aangaan.  Dit help nie eers ek probeer dit wegsteek nie, dit ontstel my geweldig, maar dan is daar net hierdie klein boodskappie wat deurkom dat daar iewers iemand is wie vir ons bid en aan ons dink en dan kry mens sommer weer nuwe moed.  Baie dankie daarvoor.   Love you all! ♥


Wednesday, September 18, 2013

HOE TROOS EK JOU MY KIND?







Ek sit vanaand voor die rekenaar en kyk wat op Facebook aangaan en lees die koerant op die internet.  Henru is al in droomland, maar Amòr kan nie slaap nie.  Ek stel voordat sy op my bed kom lê dat sy net aan die slaap kan raak, want dit is al na 23:00.  Die TV is baie sag op kanaal 146 met die Afrikaanse musiek net-net hoorbaar en ek hoor die sagte snikke hier agter my...



Ek draai om en in die skemerlig van die rekenaarskerm wat in die kamer skyn, sien ek die trane oor haar wange.  Ek vra haar saggies wat is fout en sy antwoord nie.  Ek vra dringender aan haar om my net te vertrou en te vertel waarom sy huil dat ek net kan verstaan en die sluise bars vir die eerste keer oop...  Hoekom?  Hoekom óns?  Hoekom Boeta? Ek gaan NOOIT iets saam met hom kan doen nie... die rou snikke skeur uit haar bors, uit haar liggaam en haar liggaam ruk soos sy snik...
Ek staan op en gaan sit by haar waar sy op die bed sit en ek hou haarnet vas en ek vra net “Here, hoe troos ek my kind?”  Waar kry ek die antwoorde vandaan as ek self ook dikwels in die nagte nie kan slaap en hierdie liggaampie hier langs my in die bed voel en dit steek soos 'n dolk deur my hart as ek besef maar dit is wat dit is:  'n liggaam wat asemhaal, 'n liggaam wat gevoed word, 'n liggaam wat funksioneer in die sin dat daar normale uitskeidings deur stoelgange en uriene is, 'n liggaam wat daagliks gestrek en geoefen word om die spiere bietjie soepel te kry en die liggaam in stand te hou, maar waar mens dikwels sien dat hierdie liggaam agteruitgaan.

Al troos wat by my opkom op daardie stadium is in die woorde wat ek ook eendag gelees het en wat my ook help, naamlik dat Henru se liggaam miskien stukkend is, maar sy siel is heel en ek sê vir haar eendag as ons te sterwe kom, gaan ons almal saam by Liewe Jesus wees en daar gaan sy liggaam nie meet misvormd wees of enige pyn of seer hê nie, maar dit het net die teenoorgestelde uitwerking en die snikke word nè erger en rouer en die seer kan ek aanvoel.  Al wat ek later kan doen, is om haarnet vas te hou dat die trane haar seer kan spoel en bietjie ligter kan maak, maar troos kan ek haar nie troos nie.
Ek voel hier binne my ek kan dit uitskree as...! As....!  As.... is verbrande hout.  Ek wil die verwyte in die nag uitskree teenoor mense wat die lewe en die mooi in ander se lewe gesteel het en hulle geluk op die hartseer en ongeluk bou, maar met die genade van Bo weerhou ek my daarvan om dit vir Amòr te sê en hou ek haarnet vas...

Amòr sê-vra vir my sy wonder hoe sou hy gewees het as hy normaal was en ek dink hoe woelig sy was en net nie normaal kon loop in die huis nie, sy moes altyd hardloop van die een vertrek na die ander en het selfs een aand die kamer se deur se handvatsel afgebreek toe sy met haar arm daaraan gestamp het toe sy weer in die gang afgehardloop het en met die deur kennis gemaak het.  Daar was 'n gat in haar arm en moes ek haar dokter toe vat waar sy twee of drie steke in die wond gekry het.  So tussen die trane en snikke kry ek ‘'n effense glimlaggie maar dan huil sy weer hartverskeurend en in die trane sê sy hoë lekker dit sou wees.
Noudat ek haar aandag het, sê ek weer iets en dit is die verkeerde ding wat ek sê.  Ek sê vir haar hoe dink sy sou sy en Henru baklei het en weer bars die walle oop en is haar antwoord eerder dat hulle kon baklei as wat hy net so daar lê.  So tussendeur draai sy telkens haar kom in Henru se rigting en staar hom net aan en die trane die rol en die snikke skeur uit haar lyf.  Die toiletpapier rol wat sy gehad het, is naderhand amper op en ek gee vir haar een van Henru se “spoeg doeke” en steeds vra ek net “Hoe troos ek jou.....”

Ek kry dit later reg om haar te oorreed om langs hom op die bed te lê en hom net vas te hou.  Ek sê ook vir haar dat ek en Tannie Christa en die dokters al baie hieroor gepraat het en al wat ons kan doen, is om hom te voed, laat drink, hom skoon te hou en hom gelukkig te hou.  Ek herinner haar aan hoe hy Sondagmiddag (15/09/2013) vir haar gelag het as sy hom gesoen het toe sy teruggekom het van haar besoek aan Harrismith, hoe hy lag as hy eet en ek eers moet wag dat hy eers klaar lag, anders kan hy verstik en net so ook wanneer ek vir hom bottel gee, wat hy kraai van die lag!  En dan weer die vraag – Wat kan ek doen om dit vir hom beter te maak?  Wat antwoord jy anders as net “Ons kan niks doen nie, dit is net in die Here se hande, maar vir ons is dit onmoontlik om iets te doen.
Ek probeer weer en sê vir haar hy is ten minste nog by ons, wat sou gebeur het as hy gesterf het in die ongeluk en weer is dit die verkeerde ding om te sê want haar antwoord is dat hy nou nog hier is, maar netnou gaan hy dood... en sy huil histeries.

Ek laat haar soos my klein dogtertjie van so paar jaar gelede op my skoot kom sit en hou haarnet vas en besluit om niks verder te sê nie, maar net om haar vas te hou dat sy kan rustig raak.  Ek voel waar haar liggaam teen myne raak hoe die snikke uit haar liggaam skeur en die trane rol soos riviere oor haar wang, druppels hang onder haar ken en dan vee sy dit met die doek af.
Sy staan later op en gaan badkamer toe en toe sy terugkom, kry ek dit reg dat sy langs Henru op die bed gaan lê en net sy hand vashou en so raak sy aan die slaap...

Ek gaan Google om trooswoorde vir my en haar te kry en kom op die volgende gedeelte af:

Troos wat troos …

deur Lina du Plessis

Ek onthou vaagweg die woorde van ‘n liedjie waarin ‘n Mamma vir haar grootmens-kind wie se hart gebreek is, sing … toe jy klein was, was dit maklik om jou seerkry reg te soen, maar hoe troos ek nou …

Toe klein Ponelopele ‘n paar maande gelede verdrink en in my hande gesterf het, het ek besef hoe magteloos en woordeloos mens is wanneer dit kom by troos. Hoe troos ek iemand tydens so ‘n tragedie? Kan ek iemand hoegenaamd troos? Sal troos help? Ons wil iets sê, want ons voel ons moet iets sê … Dis dan wanneer ons gryp na sinnelose verklarings, verduidelikings, en leë trooswoorde soos: Dit was die Here se wil; die Here het besluit om hom te kom haal; dit was sy tyd; die Here het die mooiste blommetjie kom pluk vir die hemel; hy was te goed om op aarde te wees; daar is ‘n doel mee; die Here weet wat Hy doen; en vele ander.

Dit troos my nie, want dit maak nie sin nie. God is dan ‘n God van LEWE. Hy het LEWE geskep, hoe kan Hy dit dan sommer net op ‘n dag wegneem? Maak Hy onskuldige kinders dood? Dalk is dit beter om net stil te bly, naby te wees, vas te hou en saam te huil soos Jesus gehuil het toe sy beste vriend Lasarus dood is.

Ek het weereens besef daar is nie antwoorde nie, want die hoekom en waarom vrae wat ons vra, het nie antwoorde nie. Ons verstaan nie, want ons hoef nie te verstaan nie. Sal verstaan hoegenaamd die pyn en hartseer wegneem? Dit laat my aan die Job-storie dink. Sy vriende het amper 37 hoofstukke vol verklarings gegee vir die tragedie wat met hom gebeur het. Hulle het probeer. Ons het nie Jobs-troosters nodig nie. Ons het goddelike troos nodig.

Ons mag vrae vra, glo ek. Ons mag selfs met God worstel en vir Hom sê wat ons dink en voel. Dis in elk geval beter om vir God self te vra as om vir mense te vra. Ons lewe in ‘n gebroke wêreld met beperkte insig. Troos lê in elk geval nie in goeie verklarings nie. Al wat ons moet onthou is dat God God is. Dan kan ek saam met Job sê: “Ek het oor dinge gepraat waarvan ek niks weet nie. Hierdie dinge was net te groot vir my klein verstandjie om te verstaan.” (Job 42:3).

Wanneer ek terugkyk na daardie oomblikke weet ek dat God daar was. In die krisis, was Hy daar, na die krisis was Hy daar en Hy is nog steeds daar, baie, baie naby, in ons, by ons, om ons. Hy vou ons toe in sy goddelike trooskombersie, want net Hy kan regtig troos. Wanneer ons God se teenwoordigheid so tasbaar ervaar, vervaag al die antwoordlose vrae. “Ek het vroeër net gehoor wat ander mense van U sê, maar nou het ek U met my eie oë gesien. Ek trek alles terug wat ek gesê het. Om te wys dat ek baie spyt is oor wat ek gesê het, gooi ek grond en as op my kop.” Aldus Job (Job 42:5-6).

Dit was onlangs Paasfees, dood en opstanding. God huil oor sy skepping wat daagliks sterf, maar Hy skep ook elke dag nuwe lewe. Ons leef elke dag in die spanning van dood en lewe, maar ons hoop is in die opstanding nie in leë verklarings wat op die ou end op niks uitloop nie. Ons moet versigtig wees met trooswoorde. Dit is God se werk en Hy weet hoe! Al wat ek opnuut weet is dat ons enigste troos in lewe en in dood is dat ons aan Jesus Christus behoort. Dis al en dit is genoeg.

Jesus, dankie dat U lewe, vir altyd en altyd en dat U self sagte salf op ons seerkry kom sit met U deurboorde hande.

Monday, September 9, 2013

DIT GAAN GOED

Ai, mens kan nie glo die tyd gaan so vining verby nie.  Hier is September ook al weer amper verby.
 
Ek was so bietjie buite aksie met my eie gesondheid en het nie veel geskryf hier nie.  Dit gaan egter nou weer goed met my en sal ek DV Maandag die 16de September weer my dienste hervat by die werk.
 
Met Henru gaan dit BAIE goed.  Ons het nou die dag dit bespreek met die fisio en spraak terapeute van hoe sleg dit die begin van die jaar gegaan het, maar dit was net of Henru daarna 'n ongelooflike verandering ondergaan het.  Hy is meer opgewonde as mens met hom werk en reageer beter om mens se stem, maar die sleg is dat sy hande al meer en meer agteruitgaan en total ineengetrek is.  Ek kry dit darem oop wanneer ek hom bad.  Sy arms is ook ineengetrek en as ek hom laat sit op die kant van die bed om sy winde uit te kry as hy klaar sy bottle gedrink het, dan lyk hy vir my (met alle respek) soos een van hierdie watervoëls wat in die son sit met hulle vlerke gesprei dat die son hulle kan droog bak.
 
Daar is ook niks fout met sy aptyd nie en eet hy goed, so ook met die inname van vloeistof.
 
 
BEWEEG AAN
Dis tyd om aan te beweeg, sê die Here. Beweeg aan vanuit die seer van jou verlede. Beweeg aan in jou volmaakte genesing en oorwinning. Beweeg aan van...uit jou selfverwyte en self-sabotasie. Jy het jouself al genoeg gestraf en gemartel oor die foute in jou verlede. Beweeg aan vanuit jou gemaksone en vrese … vanuit jou verskonings en gevoel van minderwaardigheid. Beweeg vanuit hulle wat jou in die rug gesteek en verwerp het. Hou op om jou wonde te lek. Dit is nou die tyd om ‘closure’ te kry en aan te beweeg. Beweeg aan vanuit elke vorm van armoede en ellende; vanuit ‘n gees van krankheid en ‘n gevoel van verlies. Voordat jy my beste vir jou kan omhels, sê die Here, moet jy eers alle negatiewe ‘release and let go’. Want kyk, alles het nuut geword, sê die Here. My heerlikheid is hier!
(Hansie Smit - STEP) - www.stepministries.net

Tuesday, July 23, 2013

MILPARK HOSPITAL: ICU

 

Ek was nog bietjie dome met die kamera en het nie die instellings geken nie.  Dit was in  ICU na die 25ste Februarie 2001.

Tuesday, July 16, 2013

WAT MAAK KOOKWATER AAN JOU?

Jammer ek is so stil, maar dit gaan so goed dat ek amper niks het om te sê nie.  Behalwe dat ons maar steeds sukkel met die longe, is daar gen klagtes nie.  Henru is so laf en giggle deesdae weer soos 'n skool dogtertjie oor alles.  Ek is so dankbaar vir hierdie wonderlike tye wat ons saam geniet.

Ek het weer iets moois gekry wat ek graag met julle deel:



Wat maak kookwater aan jou?

Toe 'n jong vrou eendag by haar ma huil en moedeloos haar lewe beskryf. asof sy net wil handdoek ingooi, neem haar ma haar sonder 'n woord kombuis toe.

Daar neem sy drie kastrolle en vul elk. met water. In die eerste plaas sy 'n paar wortels, in die tweede 'n paar eiers en in die derde gemaalde koffiebone. Toe sit sy dit op die stoof en laat dit kook...

Twintig minute later skakel sy die plate af. Sy haal die wortels uit die bakkie, toe die eiers en laaste die heerlike geurige koffie en vra haar dogter: "Wat sien jy?"

"Wortels, eiers en koffie," antwoord sy.
Die ma laat voel haar toe aan die wortels. Dit was sag gekook.
Sy dop 'n eier af en laat haar voel aan die klipharde eier.
Daarna skink sy vir haar 'n heelike geurige koffie. 

"Elk van die drie het dieselfde krisis deurstaan - "KOKENDE WATER" - verduidelik haar ma. "Maar elke een het verskillend gereageer. Die wortel is hard en onverbiddelik die water in, maar dit het sag en swak daaruit gekom. Die eier was broos en sag. Die dun dop het die vloeibare inhoud beskerm. Maar die kookwater het die binnekant verhard. Die gemaalde koffiebone het uniek reageer. In plaas daarvan dat dit verander het, het dit die kookwater waarin dit was verander.

 "Watter een is jy?" vra sy die dogter. "As krisis en pyn aan jou deur klop, hoe reageer jy? Soos die eier, die wortel of die koffieboon?"
 
Baie mense swig onder die druk van krisisse en word kragteloos. Ander lyk oënskynlik maar nog net dieselfde van buite, maar binnekant is dit kliphard. Sal dit nie wonderlik wees as ons soos die koffiebone kan reageer nie?"

Mag jou week soos 'n koppie geurige koffie wees...
Dat jy die situasie sal kan verander deurdat jy WEET Jesus is REEDS besig om die krisis of moeilikheid NAMENS jou te hanteer...
Mag jy jou koffie die week uit jou piering drink, omdat jou beker oorloop van al God se seëninge in jou lewe...

Wednesday, June 26, 2013

"WATER, DORS EN 'n BRIEFIE"


Water, dors en ’n briefie

“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ’n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ’n bekertjie water om te drink.” Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ’n stukkie brood saam.” Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ’n handvol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ’n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

— 1 Konings 17:9-14 —


As daar een ding is wat ons in vandag se tyd nodig het, dan is dit geloof. Maar wat is geloof? Geloof is om God met jou lewe te vertrou en daarom te leef soos Hy jou vra – sonder voorwaardes.

Daarom kan ons sê geloof is die vermoë om met God se oë te sien.

Dit is nie so maklik om van beloftes alleen te leef nie. Maar dit is wat die Here van ons vra.

In die dertigerjare was daar ’n groot droogte en verskriklike depressie in Suid-Afrika. ’n Storie uit daardie tyd vertel van ’n man wat Koos Kalahari genoem is. Dit handel oor die Kalahariwoestyn wat maar min drinkwater vir die reisiger (oor die algemeen) aangebied het. Iewers in die woestyn sou die dors pelgrim op ’n boorgat afkom met ’n handpomp op.

As hierdie handpomp gewerk het, het jy water gekry. As dit nie gewerk het nie was daar niks, só eenvoudig was dit. Aan hierdie handpomp se handvatsel, so gaan die storie, was daar ’n blikkie met ’n stuk draad vasgemaak. Binne in was daar ’n briefie wat met een van daardie ou, pers “indellible” potlode geskrywe was. Dit het ongeveer só gelees:

Hierdie pomp is op 1 Junie 1932 gediens. Ek het ’n nuwe leerwaster ingesit. As die pomp lank gestaan het, raak die waster droog. Dan moet dit gepraaim word. Onder die wit klip is daar ’n bottel met water. Dis genoeg om die pomp mee te praaim. As jy eers van die water drink is dit nie genoeg nie. Gooi ’n kwart van die bottel in die pomp se pyp af, sodat die leer-waster nat kan word. Gooi die res van die water in, en pomp die handvatsel vinnig op en af. Jy sal water kry. As jy genoeg water gekry het, maak weer die bottel vol en sit dit onder die klip vir die volgende ou.

Geteken: Koos Kalahari.

 

“Sometimes you got to give everything away to get something back.”


Wat sou jy doen met ’n brief soos hierdie? Sê nou maar dit was jý wat half dood van die dors by daardie ou pomp in die woestyn uitgekom het, wat sou jy gedoen het? Sal jy die water uit die bottel drink en maar ’n kans vat vir die res van die pad? Of sal jy die bottel se kosbare inhoud in die geroeste pyp afgooi en hoop jy kry water? Hierdie karakter, Koos Kalahari, hoeveel kan jy hom vertrou?

Sal jy jou lewe waag met dit wat hy op daardie briefie in die blikkie geskryf het?

Daar is net een manier om uit te vind: Jy sal nie weet of hy vertrou kan word, voor jy nie probeer het nie.

Eers vir my dan vir julle. Het ons reg gehoor? Dit klink vir ons na verwerplike selfsug. As jy nou in Elia se posisie was, sou jy dit waag om so iets vir hierdie vrou te sê wat nou net vir hom vertel het dat sy niks het nie en na hierdie laaste maaltyd staar sy en haar kind die verskriklikheid van ’n hongerdood in die gesig? Tog het sy gegaan en dan lees ons: “Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.”

Dit is geloof, om te leer om uit die hand van die Here te leef, omdat jy Sy beloftes vertrou. Sien, geloof is doodgewoon die vermoë om beter te kan sien as wat ander mense kan sien. Geloof is die insig om te weet wat belangrik is. Een ding wat elke keer met ’n Christenmens moet gebeur, is dat jy jou lewe sal beoordeel en sal vra: Sien ek nog die dinge raak waarop dit werklik aankom? Is die onsienlike God ALLES in my lewe? Verstaan ek nog wat belangrik is in die koninkryk van die Here?

In daardie huis was drie gelukkige mense. Hulle pot en kruik was nooit leeg nie; dit was ook nooit vol nie; ’n vol pot en kruik kon hulle maklik onafhanklik van God laat voel het. Net genoeg vir elke dag. Die vriendelike aangesig van die Here het elke dag oor die huis van die weduwee geskyn.

Nou kom ons lewensverhaal hierby. Moontlik sit ons soos die weduwee van Sarfat en wonder oor die laaste bietjie meel en die klein bietjie olie wat ons vir die toekoms het: ’n bietjie hoop, ’n bietjie geloof, ’n bietjie eie krag, ’n bietjie vermoëns, ’n bietjie middele – in elk geval glad nie genoeg nie.

Kom ek vertel jou iets. Byna tweeduisend jaar terug het Jesus Christus, die Seun van God gesê: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Matt. 6:33). Glo jy dit? Kan jy hierdie woorde vertrou? Daar is net een manier om uit te vind.

Gebed:
Here, maak stil my klagtes,
kalmeer my angs,
verban my twyfel,
sodat ek in U tot rus kan kom.
Plaas my voete op die vaste Rots,
wat U self is – o Ewige en Sterke.
Amen