Sunday, March 31, 2013

SOMS

Soms, Here, is my hart té stukkend om heelgemaak te word. Dis wanneer ek sommer net myself in 'n kokon wil toespin sodat niemand aan my kan torring nie. Dankie dat U in sulke tye die woorde hoor wat ek nie kan uitspreek nie en die seer sien waarna ek nie wil kyk nie. Dankie dat U juis dan U sagte hand van liefde onder my sit en my dra totdat my hart weer gereed is om fladderend die wêreld te begroet. Dankie dat U by uitstek 'n Vader vir stukkend-hart-m­ense is... vir my is. - Milanie Vosloo

***************
*************
***********
 
Elke traan is een treetjie nader aan 'n glimlag, so as jy dan moet huil of wil huil, huil jou hart uit totdat jy weer kan glimlag vir die lewe. Trane gee uiting aan dit wat die gemoed van vol is - soms is dit hartseer trane en soms trane van blydskap en vreugde, wat alles te doene het met ons gevoelens hier diep binne ons. Dis soms broodnodige terapie vir die vensters van die siel en is eintlik maar net suiwer liefde in vloeibare vorm
 
♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦



Soms kan ons lewens wees soos die vrugteboom
wat in die winter nie meer vrug dra nie,
dor, verlate en droog,
maar wie sou kon dink dat die dorre takke
weer bloeisels sal dra en die beste vrugte voortbring?
Dit is hoe sterk ons geloof en hoop moet wees,
want ten spyte van ons verlede,
woon ons Redder in ons
en deur Geloof groei ons daagliks saam met Hom!
Dankie dat U die ware wingerdstok is...

Friday, March 29, 2013

29 MAART 2013

Ek was toe weer by die dokter en sal dit oorleef. Hy het my drie maande se medikasie gegee en dan moet ek hom weer gaan sien. Die bloedtoetse wys dat die telling afgekom het en soos hy dit ook gestel het, is baie daarvan toe te skryf aan spanning. Dit maak nogal vir my sin, want ek het agtergekom dat daar meer probleme is wanneer ek gespanne is en die situasie met Henru van die 20ste Januarie 2013 tot nou het ook maar 'n groot invloed op my spanningsvlakke. Behalwe dit is daar ook nog die klomp gemors van die werk wat in al wat 'n koerant is. Waar is die dae toe ons nog dissipline gehad het in die lewe, nie net in die SAPD nie?
Met Henru gaan dit nog steeds goed "onder die omstandighede". Hy slaap nog steeds meeste van die tyd, maar ek het het, soos ek voorheen ook al gesê het, berusting gevind daarin. Solank hy eet en genoeg vloeistof inkry, dan is ek en die dokters gelukkig.
Hy slaap vir ongeveer 2 ure op 'n slag en kry dan 'n epileptiese aanval "grand mal" (of die groot een) met konvulsies wat wissel van soms 5 minute tot 45 minuet en daarna slaap hy weer. Maar hy is skelm ook, want as hy so slaap en ek praat met hom, dan "smile" hy ook nog so in sy slaap.
Dus, soos die dokter ook gesê het, daar is niks wat vir hom gedoen kan word nie en solank Henru "gelukkig en gemaklik is" moet ek vrede maak met die situasie. Dit is net soveel makliker gesê as om dit te doen, maar ja, ek kan niks daaraan verander nie en vat steeds elke dag soos hy na my toe kom en kyk wat lewer dit op.
Gewoonlik word hy ook meer wakker hier rondom 17:00 en dan is hy in so goeie bui dat mens hom kan opvreet. Nou die middag was Dirk hier en het Henru weer sy doek mis gepiepie en was alles op die laken (gelukkig daardie spesiale laken wat nie die hele bed natmaak nie. Ek maak toe grappies met Henru en vertel hom hoe hy die bed natgemaak het en hoe ek nou alles moet was en alles en as mens dit nie self beleef en gesien het nie, sal mens nie kan glo hoe hy daaroor gelag het nie! Dis net verstommend hoe hy soms reageer op goed, ek weet nie of dit die stemtoon is nie, maar ja, daar is besliste reaksie.
Moet dan ook nie vergeet van as ek so paar dae soos toe ek nou af siek was nie geskeer het nie en ek druk net my ken so saggies in sy nek met die stoppels, dan giggel hy behoorlik uit sy maag uit.
Dis dae soos dan wanneer hy so reageer wat ek wonder hoe dit sou wees as hy in 'n inrigting sou wees - sou hy die liefde en aandag kry soos hy dit nou hier deur ons ervaar? Amor en Hannes gee ook net soveel aandag en liefde aan hom en hy reageer ook net so positief daarop. Wat sou hulle met hom in 'n inrigting gemaak het? Dis hoekom ek dit nooit sal doen nie - omdat ek sy reaksie en sy liefde raaksien as mens so elke dag met hom werk - om hom in 'n inrigting te laat plaas nie.

Wednesday, March 20, 2013

20 MAART 2013

Daar is op hierdie stadium nie veel om meer te sê nie. Die omstandighede rondom die slapery wissel maar elke dag. Een dag slaap Henru die hele dag deur en een nag is hy weer die hele nag wakker, soms slaap hy so dag en 'n half aanmekaar sonder om wakker te word en ander dae is dit weer normaal soos ek hom ken.

Ek en Henru wissel mekaar so bietjie af en is ek vandag weer by die huis. Ek is veronderstel om in die hospitaal te wees met prostaat probleme, maar kan nie gaan nie want het nie iemand om na Henru om te sien nie. Gister en vandag is dit weer so seer dat ek amper nie kan sit nie. Wag juis nou op die dokter om te hoor wat hy verder beplan, maar my amptelike afspraak is die 26ste Maart 2013 om 09:30. Moet eers nog weer bloed gaan trek om te kyk of die tellings gedaal het van die PSA se 59.9 en die infeksie se 280.2 waar albei 3 moet wees. Ek voel sommer goor, bewerig, duiselig en seer.

Henru het nou wakker geword (09:30) en is Tebogo besig met sy oefeninge en kos gee. Ek gaan eers bietjie rus na ek nou medisyne gedrink het.

Wednesday, March 13, 2013

13 MAART 2013


JOU NAAM
Jou naam is in my handpalm gegraveer, sê die Here. Ek verstaan jou wanneer jy swak is en bewe. Ek trap nie op jou wanneer jy gefaal het nie. Ek is spesiaal naby aan jou wanneer jy op jou swakste is. Moenie hard wees op jouself wanneer jy swak is en twyfel nie. Ek verstaan menslike twyfel en vrees. Ek het begrip vir jou wanneer jy verward is in die storm. Solank jy net weet Ek is saam met jou in die vuuroond. Ek sal jou weer optel en herstel. Jy sal weer glo en glimlag. Jy sal weer helderheid en kalmte beleef. Die Gees tree vir jou in wanneer jy te swak is om vir jouself te bid, sê die Here. Jy word gedra in my liefde vir jou!
(Hansie Smit Step)

 
 
♡Soms skuif die Here die berg uit jou pad omdat JY glo HY kan, en soms laat Hy jou oor die berg klim, omdat HY glo JY kan. Maar TOG trek Hy vir jou skoene van Geloof aan en vat Hy jou hand as jy voel jy gaan val! Mag Sy Liefde en Genade jou toevou & mag jy in die holte van ons Hemelse Vader se hand rus.♡
Lillian Aucamp


Spreuke 11:25 - Mense wat 'n ander iets gun, het self altyd oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik.

Spreuke 11:30 - Iemand wat reg optree, is soos 'n vrugbare boom. 'n Mens wat wys is, red ander se lewens.

Indien armoede beklem, en daar droefheid is oor die dood.
As liggaamlike pyn onrus bring, ballingskap terneerdruk.
As watter daad ook al ons ongelukkig maak,
dan is daar altyd goeie mense wat nie alleen die kuns verstaan,
om bly te wees saam met die wat bly is nie,
maar ook te ween saam met die bedroefdes.
Mense wat weet hoe om opbeurend te wees,
en 'n vertroostende gesprek kan voer.
Veel bitterheid word so versag, baie druk so verlig.
Talle teenslae so oorwin.
Maar eintlik werk God so,
deur mense te gebruik.
- Augustinus -

Wat ook al vandag vir jou 'n beproewing is, God is altyd in beheer.  Al lyk dinge onmoontlik, jou laste te swaar om te dra, jou hartseer te groot om te verstaan, is die Here nog steeds daar. 

Soveel keer in my lewe wanneer daar nood, hartseer, vernedering, onregverdigheid, ongelukkigheid en bekommernis was, was daar altyd iemand wat my bygestaan het.
Soveel keer wanneer ek nie kon bid of die regte woorde gehad het om te bid nie, was daar iemand wat ek kon bel en vra om vir my te bid.
In tye wanneer ek so graag die regte ding wou doen, soos wat God van my verwag, en nie geweet het hoe nie, was daar iemand wat my daardeur kon help. 
In tye waar daar dood en siekte was en ek nie God se plan verstaan het nie, was daar iemand wat vir my die lig kon wys. 

Ons is almal gereedskap in God se hande.  Hy vorm ons om deur ons eie hartseer en ondervindings, ander te kan bystaan.  Elkeen van ons het die kennis op een of ander veld om vir iemand anders te kan bemoedig.  Ons kan ons eie seer genees deur iemand anders se seer by Jesus se voete neer te lê.
Gebed heel.  Gebed maak gesond.  Gebed maak deure oop wat nie oopgemaak kan word nie.  Gebed bring mense nader aan mekaar en soms wanneer ek vir iemand bid wat ek dink dit nie eintlik verdien nie, weet ek dat dit my nader aan God bring deur vergifnis te kan hê.
Kyk vandag om jou heen.  Is daar iemand wat altyd lag, maar die oë is hartseer?  Is daar iemand wat knorrig en moeilik is?  Onregverdig of ongeskik is?  Vol klagtes en ontevredenheid is?  Jy moet asb nie daardie persoon tromp-op loop en dit so probeer verander nie.  Wees net daar.
Wanneer iemand deur beproewings gaan en nie daaroor wil praat nie, moet nie aanhou torring nie.  Dit lyk dan eerder of jy nuuskierig is as wat jy omgee.  Wees jy daardie persoon waarvan Augustinus praat.  God wil jou gebruik om mense by te staan en te bemoedig, maar vra God se hand sodat jy dit vir die regte redes doen. 

Gebed:  Here Jesus, baie dankie dat U my wil gebruik.  Dankie dat ek in diens van U kan wees om ander by te staan.  U gee vir my woorde op die regte tyd en soms wanneer ek nie regtig weet hoe om te bemoedig nie, gee U vir my die krag om net daar te wees.  Here, help my dan asb ook om te weet wanneer dit regtig net nodig is vir 'n drukkie as 'n woordjie.  Amen.
Madelize Coetzee

11 MAART 2013

Ons was weer by Dr. Coetzee vir Henru se 6 maande opvolg ondersoek na die rugoperasie en die dokter is baie tevrede met Henru. Daar is weer X-strale geneem van die rug en die dokter asook die radioloog se bevinding is dat alles nog in plek is en daar geen probleme is nie. Die dokter wil Henru eers weer volgende jaar weer hierdie tyd sien.
Met betrekking tot die slapery gaan dit nog steeds so op en af, maar dit gaan ook goed. Soms slaap hy sommer so vir twee dae aanmekaar sonder om wakker te word en ander dae is hy weer op en wakker, maar ek wens julle kan hierdie beleef as hy so wakker is - dit is die en glimlag en lag. Vanaand was die TV byvoorbeeld aan op Villa Rosa op KykNET en die een ou het vreeslik gehoes. Henru het behoorlik geskater van die lag daaroor. Toe ek sy bottel vir hom gee, het hy so gelag dat hy nie kon drink nie. Ek het hom moeg gespeel en laat lag tot hy so dors was en die bottel behoorlik gedrink het.
Geen mens wat hierdie episodes nie self beleef nie, kan besef hoe dit voel as hy so opgewonde raak nie.
Ons sukkel ook nog steeds bietjie met die longe, maar ek het ook vir Dr. Coetzee gevra oor die longe. Sy antwoord was dat hy niks fout kan sien met die longe op die X-strale wat geneem is nie. Ons stoom maar nog steeds voort met die nebulizer en suig met die apparaat uit wat ons kan, maar kla doen ek beslis nie op hierdie stadium nie.
 ****************
**************
 
Mag die druppeltjies van GOD se Seën tot binne jou hartjie val en jou glimlaggie nooit verdwyn, mag jy vrede en geluk vind en onthou jy is GOD se Kind.
Lillian Aucamp

Monday, March 4, 2013

4 MAART 2013

Daar het eintlik geen dramatiese gebeure anders as wat ons al aan "gewoond" geraak het gebeur nie.
Donderdag (28/2) en Vrydag (1/3) was ek by die huis want Tebogo het iets uit haar oog laat haal by die hospitaal en het ek na Henru omgesien.

Hy het hierdie twee dae feitlik glad nie wakker geword nie en steeds so in sy slaap geëet en gedrink.

Saterdag (2/3) was hy net die teenoorgestelde en was sy ou lawwe self.  As ek sy bottel vir hom gee, het hy gegiggel asof dit die snaakste ding is wat kan gebeur.  Dieselfde as ek sy doek omruil of as ek hom kos gee.  Ek moes so versigtig wees dat hy nie verstik nie.

Sondag was ek siek en het in die bed gebly en hy het saam met my maar so tussendeur geslaap en wakker gewees, maar hy het goed geëet en gedrink.

Sondag aand/nag het hy eers teen 04:00 vanoggend gaan slaap.  Hy het vreeslik genies en was weer vol slym.  Ek het drie keer die masjien gebruik om hom skoon te suig, maar toe hy eers slaap, toe slaap hy weer tot vanaand 17:30.  Dit was eintlik baie snaaks ook om hom so met die masjien skoon te suig van die slym.  Tot sy neus was toe een as ek die pypie in sy neus druk, was dit ook vir hom snaaks.  So ook as ek sy "hoesknoppie" gedruk het dat hy moes hoes en as hy dan gehoes het en ek suig hom skoon, was dit ook snaaks vir hom.

Ek gaan nou probeer slaap want ek voel nie te waffers nie.  Hy is nog wakker, maar gee sulke laaaang gape.