Ek was toe weer by die dokter en
sal dit oorleef. Hy het my drie maande se medikasie gegee en dan moet ek hom
weer gaan sien. Die bloedtoetse wys dat die telling afgekom het en soos hy dit
ook gestel het, is baie daarvan toe te skryf aan spanning. Dit maak nogal vir
my sin, want ek het agtergekom dat daar meer probleme is wanneer ek gespanne is
en die situasie met Henru van die 20ste Januarie 2013 tot nou het
ook maar 'n groot invloed op my spanningsvlakke. Behalwe dit is daar ook nog
die klomp gemors van die werk wat in al wat 'n koerant is. Waar is die dae toe
ons nog dissipline gehad het in die lewe, nie net in die SAPD nie?
Met Henru gaan dit nog steeds
goed "onder die omstandighede". Hy slaap nog steeds meeste van die
tyd, maar ek het het, soos ek voorheen ook al gesê het, berusting gevind
daarin. Solank hy eet en genoeg vloeistof inkry, dan is ek en die dokters
gelukkig.
Hy slaap vir ongeveer 2 ure op 'n
slag en kry dan 'n epileptiese aanval "grand mal" (of die groot een)
met konvulsies wat wissel van soms 5 minute tot 45 minuet en daarna slaap hy
weer. Maar hy is skelm ook, want as hy so slaap en ek praat met hom, dan
"smile" hy ook nog so in sy slaap.
Dus, soos die dokter ook gesê
het, daar is niks wat vir hom gedoen kan word nie en solank Henru
"gelukkig en gemaklik is" moet ek vrede maak met die situasie. Dit is
net soveel makliker gesê as om dit te doen, maar ja, ek kan niks daaraan verander
nie en vat steeds elke dag soos hy na my toe kom en kyk wat lewer dit op.
Gewoonlik word hy ook meer wakker
hier rondom 17:00 en dan is hy in so goeie bui dat mens hom kan opvreet. Nou
die middag was Dirk hier en het Henru weer sy doek mis gepiepie en was alles op
die laken (gelukkig daardie spesiale laken wat nie die hele bed natmaak nie. Ek
maak toe grappies met Henru en vertel hom hoe hy die bed natgemaak het en hoe
ek nou alles moet was en alles en as mens dit nie self beleef en gesien het
nie, sal mens nie kan glo hoe hy daaroor gelag het nie! Dis net verstommend hoe
hy soms reageer op goed, ek weet nie of dit die stemtoon is nie, maar ja, daar
is besliste reaksie.
Moet dan ook nie vergeet van as
ek so paar dae soos toe ek nou af siek was nie geskeer het nie en ek druk net
my ken so saggies in sy nek met die stoppels, dan giggel hy behoorlik uit sy
maag uit.
Dis dae soos dan wanneer hy so
reageer wat ek wonder hoe dit sou wees as hy in 'n inrigting sou wees - sou hy
die liefde en aandag kry soos hy dit nou hier deur ons ervaar? Amor en Hannes
gee ook net soveel aandag en liefde aan hom en hy reageer ook net so positief
daarop. Wat sou hulle met hom in 'n inrigting gemaak het? Dis hoekom ek dit
nooit sal doen nie - omdat ek sy reaksie en sy liefde raaksien as mens so elke
dag met hom werk - om hom in 'n inrigting te laat plaas nie.
No comments:
Post a Comment