Wednesday, March 13, 2013

13 MAART 2013


JOU NAAM
Jou naam is in my handpalm gegraveer, sê die Here. Ek verstaan jou wanneer jy swak is en bewe. Ek trap nie op jou wanneer jy gefaal het nie. Ek is spesiaal naby aan jou wanneer jy op jou swakste is. Moenie hard wees op jouself wanneer jy swak is en twyfel nie. Ek verstaan menslike twyfel en vrees. Ek het begrip vir jou wanneer jy verward is in die storm. Solank jy net weet Ek is saam met jou in die vuuroond. Ek sal jou weer optel en herstel. Jy sal weer glo en glimlag. Jy sal weer helderheid en kalmte beleef. Die Gees tree vir jou in wanneer jy te swak is om vir jouself te bid, sê die Here. Jy word gedra in my liefde vir jou!
(Hansie Smit Step)

 
 
♡Soms skuif die Here die berg uit jou pad omdat JY glo HY kan, en soms laat Hy jou oor die berg klim, omdat HY glo JY kan. Maar TOG trek Hy vir jou skoene van Geloof aan en vat Hy jou hand as jy voel jy gaan val! Mag Sy Liefde en Genade jou toevou & mag jy in die holte van ons Hemelse Vader se hand rus.♡
Lillian Aucamp


Spreuke 11:25 - Mense wat 'n ander iets gun, het self altyd oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik.

Spreuke 11:30 - Iemand wat reg optree, is soos 'n vrugbare boom. 'n Mens wat wys is, red ander se lewens.

Indien armoede beklem, en daar droefheid is oor die dood.
As liggaamlike pyn onrus bring, ballingskap terneerdruk.
As watter daad ook al ons ongelukkig maak,
dan is daar altyd goeie mense wat nie alleen die kuns verstaan,
om bly te wees saam met die wat bly is nie,
maar ook te ween saam met die bedroefdes.
Mense wat weet hoe om opbeurend te wees,
en 'n vertroostende gesprek kan voer.
Veel bitterheid word so versag, baie druk so verlig.
Talle teenslae so oorwin.
Maar eintlik werk God so,
deur mense te gebruik.
- Augustinus -

Wat ook al vandag vir jou 'n beproewing is, God is altyd in beheer.  Al lyk dinge onmoontlik, jou laste te swaar om te dra, jou hartseer te groot om te verstaan, is die Here nog steeds daar. 

Soveel keer in my lewe wanneer daar nood, hartseer, vernedering, onregverdigheid, ongelukkigheid en bekommernis was, was daar altyd iemand wat my bygestaan het.
Soveel keer wanneer ek nie kon bid of die regte woorde gehad het om te bid nie, was daar iemand wat ek kon bel en vra om vir my te bid.
In tye wanneer ek so graag die regte ding wou doen, soos wat God van my verwag, en nie geweet het hoe nie, was daar iemand wat my daardeur kon help. 
In tye waar daar dood en siekte was en ek nie God se plan verstaan het nie, was daar iemand wat vir my die lig kon wys. 

Ons is almal gereedskap in God se hande.  Hy vorm ons om deur ons eie hartseer en ondervindings, ander te kan bystaan.  Elkeen van ons het die kennis op een of ander veld om vir iemand anders te kan bemoedig.  Ons kan ons eie seer genees deur iemand anders se seer by Jesus se voete neer te lê.
Gebed heel.  Gebed maak gesond.  Gebed maak deure oop wat nie oopgemaak kan word nie.  Gebed bring mense nader aan mekaar en soms wanneer ek vir iemand bid wat ek dink dit nie eintlik verdien nie, weet ek dat dit my nader aan God bring deur vergifnis te kan hê.
Kyk vandag om jou heen.  Is daar iemand wat altyd lag, maar die oë is hartseer?  Is daar iemand wat knorrig en moeilik is?  Onregverdig of ongeskik is?  Vol klagtes en ontevredenheid is?  Jy moet asb nie daardie persoon tromp-op loop en dit so probeer verander nie.  Wees net daar.
Wanneer iemand deur beproewings gaan en nie daaroor wil praat nie, moet nie aanhou torring nie.  Dit lyk dan eerder of jy nuuskierig is as wat jy omgee.  Wees jy daardie persoon waarvan Augustinus praat.  God wil jou gebruik om mense by te staan en te bemoedig, maar vra God se hand sodat jy dit vir die regte redes doen. 

Gebed:  Here Jesus, baie dankie dat U my wil gebruik.  Dankie dat ek in diens van U kan wees om ander by te staan.  U gee vir my woorde op die regte tyd en soms wanneer ek nie regtig weet hoe om te bemoedig nie, gee U vir my die krag om net daar te wees.  Here, help my dan asb ook om te weet wanneer dit regtig net nodig is vir 'n drukkie as 'n woordjie.  Amen.
Madelize Coetzee

No comments:

Post a Comment