Wednesday, September 18, 2013

HOE TROOS EK JOU MY KIND?







Ek sit vanaand voor die rekenaar en kyk wat op Facebook aangaan en lees die koerant op die internet.  Henru is al in droomland, maar Amòr kan nie slaap nie.  Ek stel voordat sy op my bed kom lê dat sy net aan die slaap kan raak, want dit is al na 23:00.  Die TV is baie sag op kanaal 146 met die Afrikaanse musiek net-net hoorbaar en ek hoor die sagte snikke hier agter my...



Ek draai om en in die skemerlig van die rekenaarskerm wat in die kamer skyn, sien ek die trane oor haar wange.  Ek vra haar saggies wat is fout en sy antwoord nie.  Ek vra dringender aan haar om my net te vertrou en te vertel waarom sy huil dat ek net kan verstaan en die sluise bars vir die eerste keer oop...  Hoekom?  Hoekom óns?  Hoekom Boeta? Ek gaan NOOIT iets saam met hom kan doen nie... die rou snikke skeur uit haar bors, uit haar liggaam en haar liggaam ruk soos sy snik...
Ek staan op en gaan sit by haar waar sy op die bed sit en ek hou haarnet vas en ek vra net “Here, hoe troos ek my kind?”  Waar kry ek die antwoorde vandaan as ek self ook dikwels in die nagte nie kan slaap en hierdie liggaampie hier langs my in die bed voel en dit steek soos 'n dolk deur my hart as ek besef maar dit is wat dit is:  'n liggaam wat asemhaal, 'n liggaam wat gevoed word, 'n liggaam wat funksioneer in die sin dat daar normale uitskeidings deur stoelgange en uriene is, 'n liggaam wat daagliks gestrek en geoefen word om die spiere bietjie soepel te kry en die liggaam in stand te hou, maar waar mens dikwels sien dat hierdie liggaam agteruitgaan.

Al troos wat by my opkom op daardie stadium is in die woorde wat ek ook eendag gelees het en wat my ook help, naamlik dat Henru se liggaam miskien stukkend is, maar sy siel is heel en ek sê vir haar eendag as ons te sterwe kom, gaan ons almal saam by Liewe Jesus wees en daar gaan sy liggaam nie meet misvormd wees of enige pyn of seer hê nie, maar dit het net die teenoorgestelde uitwerking en die snikke word nè erger en rouer en die seer kan ek aanvoel.  Al wat ek later kan doen, is om haarnet vas te hou dat die trane haar seer kan spoel en bietjie ligter kan maak, maar troos kan ek haar nie troos nie.
Ek voel hier binne my ek kan dit uitskree as...! As....!  As.... is verbrande hout.  Ek wil die verwyte in die nag uitskree teenoor mense wat die lewe en die mooi in ander se lewe gesteel het en hulle geluk op die hartseer en ongeluk bou, maar met die genade van Bo weerhou ek my daarvan om dit vir Amòr te sê en hou ek haarnet vas...

Amòr sê-vra vir my sy wonder hoe sou hy gewees het as hy normaal was en ek dink hoe woelig sy was en net nie normaal kon loop in die huis nie, sy moes altyd hardloop van die een vertrek na die ander en het selfs een aand die kamer se deur se handvatsel afgebreek toe sy met haar arm daaraan gestamp het toe sy weer in die gang afgehardloop het en met die deur kennis gemaak het.  Daar was 'n gat in haar arm en moes ek haar dokter toe vat waar sy twee of drie steke in die wond gekry het.  So tussen die trane en snikke kry ek ‘'n effense glimlaggie maar dan huil sy weer hartverskeurend en in die trane sê sy hoë lekker dit sou wees.
Noudat ek haar aandag het, sê ek weer iets en dit is die verkeerde ding wat ek sê.  Ek sê vir haar hoe dink sy sou sy en Henru baklei het en weer bars die walle oop en is haar antwoord eerder dat hulle kon baklei as wat hy net so daar lê.  So tussendeur draai sy telkens haar kom in Henru se rigting en staar hom net aan en die trane die rol en die snikke skeur uit haar lyf.  Die toiletpapier rol wat sy gehad het, is naderhand amper op en ek gee vir haar een van Henru se “spoeg doeke” en steeds vra ek net “Hoe troos ek jou.....”

Ek kry dit later reg om haar te oorreed om langs hom op die bed te lê en hom net vas te hou.  Ek sê ook vir haar dat ek en Tannie Christa en die dokters al baie hieroor gepraat het en al wat ons kan doen, is om hom te voed, laat drink, hom skoon te hou en hom gelukkig te hou.  Ek herinner haar aan hoe hy Sondagmiddag (15/09/2013) vir haar gelag het as sy hom gesoen het toe sy teruggekom het van haar besoek aan Harrismith, hoe hy lag as hy eet en ek eers moet wag dat hy eers klaar lag, anders kan hy verstik en net so ook wanneer ek vir hom bottel gee, wat hy kraai van die lag!  En dan weer die vraag – Wat kan ek doen om dit vir hom beter te maak?  Wat antwoord jy anders as net “Ons kan niks doen nie, dit is net in die Here se hande, maar vir ons is dit onmoontlik om iets te doen.
Ek probeer weer en sê vir haar hy is ten minste nog by ons, wat sou gebeur het as hy gesterf het in die ongeluk en weer is dit die verkeerde ding om te sê want haar antwoord is dat hy nou nog hier is, maar netnou gaan hy dood... en sy huil histeries.

Ek laat haar soos my klein dogtertjie van so paar jaar gelede op my skoot kom sit en hou haarnet vas en besluit om niks verder te sê nie, maar net om haar vas te hou dat sy kan rustig raak.  Ek voel waar haar liggaam teen myne raak hoe die snikke uit haar liggaam skeur en die trane rol soos riviere oor haar wang, druppels hang onder haar ken en dan vee sy dit met die doek af.
Sy staan later op en gaan badkamer toe en toe sy terugkom, kry ek dit reg dat sy langs Henru op die bed gaan lê en net sy hand vashou en so raak sy aan die slaap...

Ek gaan Google om trooswoorde vir my en haar te kry en kom op die volgende gedeelte af:

Troos wat troos …

deur Lina du Plessis

Ek onthou vaagweg die woorde van ‘n liedjie waarin ‘n Mamma vir haar grootmens-kind wie se hart gebreek is, sing … toe jy klein was, was dit maklik om jou seerkry reg te soen, maar hoe troos ek nou …

Toe klein Ponelopele ‘n paar maande gelede verdrink en in my hande gesterf het, het ek besef hoe magteloos en woordeloos mens is wanneer dit kom by troos. Hoe troos ek iemand tydens so ‘n tragedie? Kan ek iemand hoegenaamd troos? Sal troos help? Ons wil iets sê, want ons voel ons moet iets sê … Dis dan wanneer ons gryp na sinnelose verklarings, verduidelikings, en leë trooswoorde soos: Dit was die Here se wil; die Here het besluit om hom te kom haal; dit was sy tyd; die Here het die mooiste blommetjie kom pluk vir die hemel; hy was te goed om op aarde te wees; daar is ‘n doel mee; die Here weet wat Hy doen; en vele ander.

Dit troos my nie, want dit maak nie sin nie. God is dan ‘n God van LEWE. Hy het LEWE geskep, hoe kan Hy dit dan sommer net op ‘n dag wegneem? Maak Hy onskuldige kinders dood? Dalk is dit beter om net stil te bly, naby te wees, vas te hou en saam te huil soos Jesus gehuil het toe sy beste vriend Lasarus dood is.

Ek het weereens besef daar is nie antwoorde nie, want die hoekom en waarom vrae wat ons vra, het nie antwoorde nie. Ons verstaan nie, want ons hoef nie te verstaan nie. Sal verstaan hoegenaamd die pyn en hartseer wegneem? Dit laat my aan die Job-storie dink. Sy vriende het amper 37 hoofstukke vol verklarings gegee vir die tragedie wat met hom gebeur het. Hulle het probeer. Ons het nie Jobs-troosters nodig nie. Ons het goddelike troos nodig.

Ons mag vrae vra, glo ek. Ons mag selfs met God worstel en vir Hom sê wat ons dink en voel. Dis in elk geval beter om vir God self te vra as om vir mense te vra. Ons lewe in ‘n gebroke wêreld met beperkte insig. Troos lê in elk geval nie in goeie verklarings nie. Al wat ons moet onthou is dat God God is. Dan kan ek saam met Job sê: “Ek het oor dinge gepraat waarvan ek niks weet nie. Hierdie dinge was net te groot vir my klein verstandjie om te verstaan.” (Job 42:3).

Wanneer ek terugkyk na daardie oomblikke weet ek dat God daar was. In die krisis, was Hy daar, na die krisis was Hy daar en Hy is nog steeds daar, baie, baie naby, in ons, by ons, om ons. Hy vou ons toe in sy goddelike trooskombersie, want net Hy kan regtig troos. Wanneer ons God se teenwoordigheid so tasbaar ervaar, vervaag al die antwoordlose vrae. “Ek het vroeër net gehoor wat ander mense van U sê, maar nou het ek U met my eie oë gesien. Ek trek alles terug wat ek gesê het. Om te wys dat ek baie spyt is oor wat ek gesê het, gooi ek grond en as op my kop.” Aldus Job (Job 42:5-6).

Dit was onlangs Paasfees, dood en opstanding. God huil oor sy skepping wat daagliks sterf, maar Hy skep ook elke dag nuwe lewe. Ons leef elke dag in die spanning van dood en lewe, maar ons hoop is in die opstanding nie in leë verklarings wat op die ou end op niks uitloop nie. Ons moet versigtig wees met trooswoorde. Dit is God se werk en Hy weet hoe! Al wat ek opnuut weet is dat ons enigste troos in lewe en in dood is dat ons aan Jesus Christus behoort. Dis al en dit is genoeg.

Jesus, dankie dat U lewe, vir altyd en altyd en dat U self sagte salf op ons seerkry kom sit met U deurboorde hande.

Monday, September 9, 2013

DIT GAAN GOED

Ai, mens kan nie glo die tyd gaan so vining verby nie.  Hier is September ook al weer amper verby.
 
Ek was so bietjie buite aksie met my eie gesondheid en het nie veel geskryf hier nie.  Dit gaan egter nou weer goed met my en sal ek DV Maandag die 16de September weer my dienste hervat by die werk.
 
Met Henru gaan dit BAIE goed.  Ons het nou die dag dit bespreek met die fisio en spraak terapeute van hoe sleg dit die begin van die jaar gegaan het, maar dit was net of Henru daarna 'n ongelooflike verandering ondergaan het.  Hy is meer opgewonde as mens met hom werk en reageer beter om mens se stem, maar die sleg is dat sy hande al meer en meer agteruitgaan en total ineengetrek is.  Ek kry dit darem oop wanneer ek hom bad.  Sy arms is ook ineengetrek en as ek hom laat sit op die kant van die bed om sy winde uit te kry as hy klaar sy bottle gedrink het, dan lyk hy vir my (met alle respek) soos een van hierdie watervoëls wat in die son sit met hulle vlerke gesprei dat die son hulle kan droog bak.
 
Daar is ook niks fout met sy aptyd nie en eet hy goed, so ook met die inname van vloeistof.
 
 
BEWEEG AAN
Dis tyd om aan te beweeg, sê die Here. Beweeg aan vanuit die seer van jou verlede. Beweeg aan in jou volmaakte genesing en oorwinning. Beweeg aan van...uit jou selfverwyte en self-sabotasie. Jy het jouself al genoeg gestraf en gemartel oor die foute in jou verlede. Beweeg aan vanuit jou gemaksone en vrese … vanuit jou verskonings en gevoel van minderwaardigheid. Beweeg vanuit hulle wat jou in die rug gesteek en verwerp het. Hou op om jou wonde te lek. Dit is nou die tyd om ‘closure’ te kry en aan te beweeg. Beweeg aan vanuit elke vorm van armoede en ellende; vanuit ‘n gees van krankheid en ‘n gevoel van verlies. Voordat jy my beste vir jou kan omhels, sê die Here, moet jy eers alle negatiewe ‘release and let go’. Want kyk, alles het nuut geword, sê die Here. My heerlikheid is hier!
(Hansie Smit - STEP) - www.stepministries.net

Tuesday, July 23, 2013

MILPARK HOSPITAL: ICU

 

Ek was nog bietjie dome met die kamera en het nie die instellings geken nie.  Dit was in  ICU na die 25ste Februarie 2001.

Tuesday, July 16, 2013

WAT MAAK KOOKWATER AAN JOU?

Jammer ek is so stil, maar dit gaan so goed dat ek amper niks het om te sê nie.  Behalwe dat ons maar steeds sukkel met die longe, is daar gen klagtes nie.  Henru is so laf en giggle deesdae weer soos 'n skool dogtertjie oor alles.  Ek is so dankbaar vir hierdie wonderlike tye wat ons saam geniet.

Ek het weer iets moois gekry wat ek graag met julle deel:



Wat maak kookwater aan jou?

Toe 'n jong vrou eendag by haar ma huil en moedeloos haar lewe beskryf. asof sy net wil handdoek ingooi, neem haar ma haar sonder 'n woord kombuis toe.

Daar neem sy drie kastrolle en vul elk. met water. In die eerste plaas sy 'n paar wortels, in die tweede 'n paar eiers en in die derde gemaalde koffiebone. Toe sit sy dit op die stoof en laat dit kook...

Twintig minute later skakel sy die plate af. Sy haal die wortels uit die bakkie, toe die eiers en laaste die heerlike geurige koffie en vra haar dogter: "Wat sien jy?"

"Wortels, eiers en koffie," antwoord sy.
Die ma laat voel haar toe aan die wortels. Dit was sag gekook.
Sy dop 'n eier af en laat haar voel aan die klipharde eier.
Daarna skink sy vir haar 'n heelike geurige koffie. 

"Elk van die drie het dieselfde krisis deurstaan - "KOKENDE WATER" - verduidelik haar ma. "Maar elke een het verskillend gereageer. Die wortel is hard en onverbiddelik die water in, maar dit het sag en swak daaruit gekom. Die eier was broos en sag. Die dun dop het die vloeibare inhoud beskerm. Maar die kookwater het die binnekant verhard. Die gemaalde koffiebone het uniek reageer. In plaas daarvan dat dit verander het, het dit die kookwater waarin dit was verander.

 "Watter een is jy?" vra sy die dogter. "As krisis en pyn aan jou deur klop, hoe reageer jy? Soos die eier, die wortel of die koffieboon?"
 
Baie mense swig onder die druk van krisisse en word kragteloos. Ander lyk oënskynlik maar nog net dieselfde van buite, maar binnekant is dit kliphard. Sal dit nie wonderlik wees as ons soos die koffiebone kan reageer nie?"

Mag jou week soos 'n koppie geurige koffie wees...
Dat jy die situasie sal kan verander deurdat jy WEET Jesus is REEDS besig om die krisis of moeilikheid NAMENS jou te hanteer...
Mag jy jou koffie die week uit jou piering drink, omdat jou beker oorloop van al God se seëninge in jou lewe...

Wednesday, June 26, 2013

"WATER, DORS EN 'n BRIEFIE"


Water, dors en ’n briefie

“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ’n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ’n bekertjie water om te drink.” Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ’n stukkie brood saam.” Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ’n handvol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ’n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

— 1 Konings 17:9-14 —


As daar een ding is wat ons in vandag se tyd nodig het, dan is dit geloof. Maar wat is geloof? Geloof is om God met jou lewe te vertrou en daarom te leef soos Hy jou vra – sonder voorwaardes.

Daarom kan ons sê geloof is die vermoë om met God se oë te sien.

Dit is nie so maklik om van beloftes alleen te leef nie. Maar dit is wat die Here van ons vra.

In die dertigerjare was daar ’n groot droogte en verskriklike depressie in Suid-Afrika. ’n Storie uit daardie tyd vertel van ’n man wat Koos Kalahari genoem is. Dit handel oor die Kalahariwoestyn wat maar min drinkwater vir die reisiger (oor die algemeen) aangebied het. Iewers in die woestyn sou die dors pelgrim op ’n boorgat afkom met ’n handpomp op.

As hierdie handpomp gewerk het, het jy water gekry. As dit nie gewerk het nie was daar niks, só eenvoudig was dit. Aan hierdie handpomp se handvatsel, so gaan die storie, was daar ’n blikkie met ’n stuk draad vasgemaak. Binne in was daar ’n briefie wat met een van daardie ou, pers “indellible” potlode geskrywe was. Dit het ongeveer só gelees:

Hierdie pomp is op 1 Junie 1932 gediens. Ek het ’n nuwe leerwaster ingesit. As die pomp lank gestaan het, raak die waster droog. Dan moet dit gepraaim word. Onder die wit klip is daar ’n bottel met water. Dis genoeg om die pomp mee te praaim. As jy eers van die water drink is dit nie genoeg nie. Gooi ’n kwart van die bottel in die pomp se pyp af, sodat die leer-waster nat kan word. Gooi die res van die water in, en pomp die handvatsel vinnig op en af. Jy sal water kry. As jy genoeg water gekry het, maak weer die bottel vol en sit dit onder die klip vir die volgende ou.

Geteken: Koos Kalahari.

 

“Sometimes you got to give everything away to get something back.”


Wat sou jy doen met ’n brief soos hierdie? Sê nou maar dit was jý wat half dood van die dors by daardie ou pomp in die woestyn uitgekom het, wat sou jy gedoen het? Sal jy die water uit die bottel drink en maar ’n kans vat vir die res van die pad? Of sal jy die bottel se kosbare inhoud in die geroeste pyp afgooi en hoop jy kry water? Hierdie karakter, Koos Kalahari, hoeveel kan jy hom vertrou?

Sal jy jou lewe waag met dit wat hy op daardie briefie in die blikkie geskryf het?

Daar is net een manier om uit te vind: Jy sal nie weet of hy vertrou kan word, voor jy nie probeer het nie.

Eers vir my dan vir julle. Het ons reg gehoor? Dit klink vir ons na verwerplike selfsug. As jy nou in Elia se posisie was, sou jy dit waag om so iets vir hierdie vrou te sê wat nou net vir hom vertel het dat sy niks het nie en na hierdie laaste maaltyd staar sy en haar kind die verskriklikheid van ’n hongerdood in die gesig? Tog het sy gegaan en dan lees ons: “Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.”

Dit is geloof, om te leer om uit die hand van die Here te leef, omdat jy Sy beloftes vertrou. Sien, geloof is doodgewoon die vermoë om beter te kan sien as wat ander mense kan sien. Geloof is die insig om te weet wat belangrik is. Een ding wat elke keer met ’n Christenmens moet gebeur, is dat jy jou lewe sal beoordeel en sal vra: Sien ek nog die dinge raak waarop dit werklik aankom? Is die onsienlike God ALLES in my lewe? Verstaan ek nog wat belangrik is in die koninkryk van die Here?

In daardie huis was drie gelukkige mense. Hulle pot en kruik was nooit leeg nie; dit was ook nooit vol nie; ’n vol pot en kruik kon hulle maklik onafhanklik van God laat voel het. Net genoeg vir elke dag. Die vriendelike aangesig van die Here het elke dag oor die huis van die weduwee geskyn.

Nou kom ons lewensverhaal hierby. Moontlik sit ons soos die weduwee van Sarfat en wonder oor die laaste bietjie meel en die klein bietjie olie wat ons vir die toekoms het: ’n bietjie hoop, ’n bietjie geloof, ’n bietjie eie krag, ’n bietjie vermoëns, ’n bietjie middele – in elk geval glad nie genoeg nie.

Kom ek vertel jou iets. Byna tweeduisend jaar terug het Jesus Christus, die Seun van God gesê: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Matt. 6:33). Glo jy dit? Kan jy hierdie woorde vertrou? Daar is net een manier om uit te vind.

Gebed:
Here, maak stil my klagtes,
kalmeer my angs,
verban my twyfel,
sodat ek in U tot rus kan kom.
Plaas my voete op die vaste Rots,
wat U self is – o Ewige en Sterke.
Amen

Wednesday, June 19, 2013

AARTAPPELSKYFIES

Ons lewe is weer redelik terug na "normaal" en dit gaan baie goed met Henru.
Ek het Henru weer terug op die Stilnox en sedertdien gaan dit net beter en beter.  Ek wens julle kon dit saam met my beleef hoe hy deesdae reageer!  Dit maak my dag.

Ek het die volgende vandag raakgelees en deel dit ook graag met julle met erkenning aan die skrywer wie onbekend is: 


·        AARTAPPELSKYFIES

’n Klein seuntjie wil bitter graag die Hemelse Vader ontmoet. Hy besef dat dit sal tyd neem om te reis na waar die Here woon! Dus pak hy in sy tas ’n pakkie aartappelskyfies en ’n 6-pak vrugtesap en toe begin hy met sy reis.

Toe hy ongeveer drie blokke van sy huis af is, ontmoet hy ’n ouerige man. Die man het in die speelpark gesit en stilweg gestaar na die duiwe wat op die grond rondloop. Die seun gaan langs die oom sit en maak sy tas oop. Hy was van plan om van sy vrugtesap te drink, toe hy opmerk dat die ou man honger voorkom. Hy bied toe vir die oom van die skyfies aan. Dankbaar neem die ou man dit, terwyl ’n vriendelike sagte glimlag oor die ou man se gesig versprei, soos hy na die seuntjie kyk.
...
Die ou man se glimlag was verskriklik mooi dat die seuntjie dit weer wou sien, en hy bied vir die oom ’n blikkie koeldrank aan. Weer eens glimlag die ou man teenoor die seuntjie. Die mannetjie was verheugd! Die hele middag sit die twee daar eet en glimlag teenoor mekaar – sonder om ’n woord te sê.

Toe dit skemer word, besef die seuntjie hoe moeg hy was en hy staan op om te loop. Skaars het hy ’n paar treë gegee, of hy swaai om. Hy hardloop na die ou man terug om hom ’n drukkie te gee. Hy kyk op na die ou man en gee hom die grootste glimlag ooit . . .

Toe die seuntjie na ’n kort tydjie die voordeur van hul huis oopmaak, was sy moeder verbaas om die vrolike gesiggie te sien. Sy vra hom, “Wat het jy vandag gedoen wat jou so gelukkig maak?” Hy reageer spontaan, “Ek het middagete met God gehad.” Nog voordat sy moeder kon reageer, voeg hy by, “Weet jy wat, Ma? Hy besit die mooiste glimlag wat ek nog gesien!”

Intussen het die ou man, ook oorweldig van geluk by sy huis aangekom. Sy seun was verstom oor die blik van tevredenheid op sy Pa se gesig. Hy vra, “Pa wat het jy vandag gedoen wat jou so gelukkig maak?”

Die ou man antwoord, "Ek het aartappelskyfies saam met die Here in die park geëet.” Voordat sy seun kon reageer, voeg hy by, "Weet jy, hy is veel jonger as wat ek verwag het!”

Te dikwels onderskat ons die krag van ’n aanraking, ’n glimlag, ’n vriendelike woord, ’n geopende oor, ’n eerlike kompliment of die kleinste omgee-daad, almal het die vermoë om die lewe te verander. Mense kom in ons lewens vir ’n rede, ’n seisoen, of lewenslank! Omhels almal gelykwaardig!!

Geniet middagete met God . . . . . bring skyfies.

Deel hierdie leesstuk met die mense wie jou lewe op ’n spesiale manier geraak het. Laat hulle besef hoe belangrik hulle is. Ek het!!!

God sit steeds op Sy troon. Jy mag deur ’n moeilike tyd nou gaan, maar die Hemelse Vader is gereed om jou te seën op so ’n wyse wat Hy alleen kan doen.

Behou die geloof!

Sunday, June 2, 2013

2 Junie 2013 : 13de VERJAARDAG: GEBED VIR MY SEUN - NIC STEVENS



Liewe Boeta,
Vandag 13 jaar gelede is jy gebore en vir 8 maande en 3 weke het ek jou sien groei en ontwikkel en sal ek nooit vergeet die laaste oomblikke voor die ongeluk wat ek saam met julle kinders gedeel het nie.

Vandag sit ek en huil hier oor dit wat kon wees en wonder ek hoe dit sou wees as jy ook normaal kon groot word soos ander kinders.  Hoe sou dit wees...

Ek hoop jy geniet die dag in jou wêreldjie waar jy is en weet ek is lief vir jou.

Aan Hannes, Francois en Amòr - dankie dat julle daar is en verstaan, al is dit dikwels vir julle ook moeilik en seer.  Ek is baie lief vir julle ook,





 
 

Wednesday, May 15, 2013

15 MEI 2013

Dit gaan steeds goed met Henru.  Ek het hom weer terug op die Stilnox en daar is 'n BAIE groot verbetering.  Dis ongelooflik as ek in die middae by die huis kom hoe hy weer lag en gesels.  Sy versorger sê hy reageer ook baie erg op die dreuning van die voertuig as ek aangery kom, maar nie op ander voertuie wat hier ingery kom nie.

As ek dan by die huis inkom, gee hy sulke gilletjies en lag so uit sy maag uit as ek hom groet en 'n drukkie gee.  Partykeer is dit so erg dat sy sussie Amor haar ore toedruk soos hy gesels, lag en sommer net lekker skreeu van opgewondenheid.  Dit is onbeskryflik hoe hierdie reaksie mens se dag "boost" as jy nie 'n lekker dag gehad het nie en by die huis kom en hy reageer so.

Ek het hom gou by die dokter gehad want die longe wil nie lekker opklaar nie.  Gelukkig is daar geen infeksie nie, maar die dokter het antibiotika gegee dat ons kan voorsorg tref teen die winter wat op hande is.

Ek het ook laas week 'n skou gaan bywoon vir hulpmiddels vir gestremdes en daar is kussings wat mens kan gebruik om hom mee te kan posisioneer wat beter sal werk as die gewone kussings wat ons nou gebruik.  Dan is daar ook die masseer matras wat help met die voorkoming van druksere en het ek dit vandag bestel.  Dit kos darem nie 'n plaas se geld nie en ek weet sommer dit gaan ook help met die spasmas.

Sunday, May 5, 2013

MOET JULLE NIE BEKOMMER NIE

Toe ek die inskrywing gemaak het op 3 Februarie 2013 van “Die Here sorg”, het ek die gedeelte in die Bybel staan gesoek en kon dit nie vind nie.  Sê nou vir my of hierdie toeval is of nie, ek glo met my hele hart die Here sorg vir ons en ons “walk the walk” soos oom Joseph gesê het. 

Saterdag 4 Mei 2013 het Dirk my gevra om hom te help om sy vriend, Oom Joseph Von Schönfeldt te help trek van Brakpan hier na Centurion.  Hy het nie veel goed nie en sal net een waentjie vrag wees.
Om dit te doen, het ek nie 'n keuse anders as om Henru saam te neem nie, want Hannes werk en ek kan hom nie by Amòr los nie.

Na 'n effense moeilike nag gaan slaap Henru teen 04:30 en ek besluit toe ek gaan nie eers die wekker stel nie, Dirk kan my wakker maak as hy hier aankom soos ons afgespreek het en dan kan ek klaarmaak en ons kan ry.
06:55 word ek wakker sonder rede, maar besef dit Henru se medikasie tyd.  Ek gee dit vir hom met 'n bottel melk en hy raak so aan die slaap terwyl hy die bottel leegdrink.  Daarna slaap ek ook weer net om 09:35 wakker te word.  Ek besef dis byna tyd dat Dirk hier gaan aankom en staan op, gaan stort en maak klaar, pak Henru se doeke en bottel in, gee hom nog 'n bottel om te drink en teen ±10:20 vertrek ons om die waentjie te gaan kry en ons ry na Brakpan.

Net voor ons afdraai op die R24, sê ek vir Dirk dat ek 'n vreemde geluid hoor op die een wiel en toe ons op die hoofweg is, is dit net een geraas soos iets skuur.  Ons klim uit, maar kan niks sien nie en ek besluit om verder te ry, maar die geluid klink erger, later soos wanneer die handrem opgetrek is en mens probeer so ry.  Ek bel die persoon by wie ek die kombi die week vantevore laat diens het en hy sê ek moet probeer om by 'n “fitment centre” uit te kom dat hulle kan kyk en hy sal dan die nodige reëlings tref.
Ek is uiters bekommerd dat die remme dalk kan vasslaan, maar ons kruip maar so aan en daar mis ek die afrit.  Weer moet ons soek na 'n ander plek en dit laai op binne my van bekommernis.  Die gedagtes maal in my kop van wat gebeur as die kombi breek, hoe kom ons by die huis, waar kry ons iemand wat ons kan kom haal met ‘'n voertuig wat Henru gemaklik in kan sit, ag, ek raak sommer skuins verbouereerd van bekommernis.

Om 'n lang storie kort te maak, ons kry toe 'n plek en toe die ou kyk, sê hy daar is groot fout want die wiele is ontsettend warm.  Ek laai Henru uit want daar is gelukkig 'n lekker bank waarop hy kan lê en na 'n ruk kom die bestuurder by my en sê alles is reg, daar is nie groot fout nie, dis net die “dust cover” wat losgekom het en dis alles reg, ons kan weer rustig verder ry, dit kos ons ook nie geld nie.
Dirk het gou gaan koeldrank koop en die bestuurder vra my uit na Henru waarop ek hom kortliks vertel wat gebeur het en hy sê to, soos so baie mense al gesê het, hy weet nie hoe ek dit regkry nie, maar hy bewonder my dat ek dit doen.

Ons laai toe Oom Joseph se goed op en ons ry terug Pretoria toe.  Op pad daarheen is die versorging van Henru weer ter sprake en hy sê ook hy weet nie hoe ek daarmee “cope” nie.
Soos ek al so dikwels in die verlede gesê het en erken het, ek sou dit nie op my eie kon regkry nie.  Ek kry bonatuurlike krag en ondersteuning en dit kan net van die Here kom en daarom sal ek altyd aan Hom die erkenning gee daarvoor, want op my eie sou ek nie in staat wees daartoe nie.

Maar dis nou juis hier waar die sameloop van omstandighede is.  'n Kollega is verlede jaar hierdie tyd oorlede en by sy gedenkdiens het die pastoor gelees van die lelies van die veld en die gras wat vandag daar is en môre verdor het in verbrand word en dit het ook 'n diep impak op my gelaat en vandag toe ek op die rekenaar werk, het ek weer op die kennisgewing en begrafnisbrief wat ek meegehelp het afgekom en baie daaraan gedink.
So is ek ook besig om 'n DVD saam te stel van die familie en vandag is ek by die laaste kind van my pa-hulle, tannie sus.  Haar man Oom Hannes is ook verlede jaar die 8ste Desember oorlede en toe ek nou vanaand die begrafnisbrief se besonderhede aanteken, toe sien ek die Skriflesing vir die diens was uit Lukas 12:13-21, maar kon nie die teksvers onthou nie, wel van die preek waar die dominees gesê het van die lewe wat nie bestaan uit die oorvloed van sy besittings nie.

Ek gaan soek dit toe op in die e-sword program wat ek het VA die Bybel en daar kry ek alles saam wat ek na gesoek het.  Veral in die Ou vertaling waar dit so duidelik staan in Lukas 12:25  En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
Dit kan ek vanaand onomwonde sê en erken, ja, ek is dikwels bekommerd oor Henru, Amòr, Hannes en Francois, oor wat die toekoms gaan gebeur met hulle, maar dan kom kry ek hierdie gerusstelling soos dit so duidelik in die Bybel staan en daarom haal ek die hele gedeelte aan, maar lees toe ook die volgende weer 'n keer raak:

Lukas 12:34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
Ek deel dit graag:

Lukas 12:13-34:  En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.
Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as ‘n regter of deler oor julle aangestel?
En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.
Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ‘n Ryk man se grond het goed gedra.
En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie?
Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel.
En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.
Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?
So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.
En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.
Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.
Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!
En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?
Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.
As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!
Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;
want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.
Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.
Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.
Lukas 12:34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Saturday, April 27, 2013

WEES STIL EN WEET...

Dikwels vra mense vir my hoe "cope" ek met die omstandighede waarin ek is en al wat ek met eerlikheid en opregtheid kan sê is dat ek dit aan die Here se wonderlike liefde en genade kan toeskryf.  Daar is GEEN manier waarop ek dit alleen en in my eie krag sou kon maak tot hier nie. Ja, dikwels baklei ek met die Here en vra hoekoms en waaroms en  huil my hart uit voor Hom, dit voel dikwels asof ek bid maar my gebed slaan teen die plafon vas of word deur die wind weggewaai of iets, maar op SY tyd en SY manier kom gee Hy weer rigting en krag om net aan te gaan.  Daar is regtig dae waarop ek erken en dit uitspreek en sê dat ek so moeg is, maar dan kom hou Hy my vas en sê vir my so in die stilte "Ek is lief vir jou, my kind".  Dit is dan wanneer ek ook aan my eie kinders dink wanneer ek sien hulle is hartseer of moedeloos of iets en al wat ek dan vir hulle kan doen is ok ook vir hulle 'n drukkie te gee en hulle te verseker van my liefde vir hulle.

So dikwels soek ek die stem van die Here om my net gerus te stel en dan dink ek aan hierdie gedeelte in die Bybel:
1Konings 19:11-19: En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl ‘n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind ‘n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nieEn ná die aardbewing ‘n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van ‘n sagte koelteEn toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom ‘n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía?

So is die Here in die gesuis van die sagte koelte, die gerustheid wat dit bring en mens net die kalmte en rustigheid gee om aan te gaan.

So ook is hierdie hieronder maar net vir baie mense 'n mooi prentjie, maar dit spreek in my lewe boekdele, want dit is hoe ek, met die krag van Jesus Christus, dit regkry om elke dag op te staan en aan te gaan.

Explore more such posts at : @[131006910258124:274:Sms2everyone]
Explore more SMS at : http://sms2everyone.com/
 



☆★ Suzie's Daily Quotes ☆★








Wednesday, April 24, 2013

HENRU SE DAAGLIKSE LEWE

Ek het 'n versoek gekry om Henru se daaglikse lewe met julle te deel:

Gewoonlik is hy so teen ongeveer 05:30 as die wekker afgaan wakker en dan kry hy sy eerste epileptiese aanval vir die dag. Dit duur gewoonlik so tussen 5 tot 15 minute. (Gedurende hierdie tyd gaan maak ek dan vir Amor en Hannes wakker en hulle maak klaar vir werk en skool). Ek maak dan ook sy bottel met ±50ml soja melk en sy medikasie van 7,5ml Convulex en 75mg Lyrica. 

Soms as ek in die kamer kom, dan is hy wakker en drink dit maklik, maar soms gebeur dit dat hy glad nie wil drink nie, dan is dit maar met die spuit om dit so vir hom in te gee.

Hy moet sy medikasie op spesifieke tye kry en het ek oor die jare aangepas om dit tussen 06:00 tot 07:00 vir hom te gee en dan weer tussen 18:00 tot 19:00.  Die rede daarvoor is dat indien die toksiese vlakke opbou, die bloedtoetse daarvan dan in die tyd net voor die volgende dosering gedoen moet word.  Hierdie tyd het die dokters vir my gesê is die “trog tyd”.

Sy versorger is dan teen ongeveer 06:55 by die huis en gee ek dan vir haar opdragte vir die dag waarna ek dan teen ongeveer 07:00 werk toe ry.

Onder “normale omstandighede” soos dit gegaan het tot die 20ste Januarie 2013, vang hy dan dikwels so kort slapie tot ongeveer 07:30.  Dan gee sy versorger vir hom sy ontbyt om te eet wat bestaan uit pap, hetsy Malta bella, pro nutro, corn flakes, oats of selfs muesli. 

Dan kry hy 250ml bottel om te drink wat of soja melk, koffie of tee is. 

Ek gee meestal vir hom die soja melk, want as hy besluit hy wil nie tee of koffie hê nie, dan knyp hy letterlik sy mond toe en weier om te drink tot mens dit vir hom gee wat hy wil drink.  Hy is ook baie kieskeurig met sy pap.  Die pro nutro mag nie so skoon gegee word nie – dit moet gemeng wees met rice crispies.  Dan is hy ook lief vir weat bix, maar as hy nie wil eet nie, dan sal hy nie.

Hoekom soja melk?  Na hy uit die hospitaal gekom het, het die dokters aanbeveel dat hy nie baie suiwel moet drink nie en het ek toe op aanbeveling van Dr. Döhne op Harrismith die soja melk gekry.  Dit was eers in poeier vorm, maar is later om een of ander rede onttrek van die mark en kon ek dit nie meer kry nie.  Ek het toe die long life soja melk gekry en het hy dit toe gedrink.

Ek wou hom stelselmatig aan suiwel begin blootstel en het dit aanvanklik baie goed gegaan as ek hom ‘'n bakkie jogurt gegee het, maar op ‘'n stadium het hy vreeslik begin braak.  Dit was so erg dat hy verskeie kere in die hospitaal opgeneem is en toetse is gedoen, maar niks kon gekry word wat die naarheid en braking veroorsaak het nie.

Dokter Lippert het toe aanbeveel dat ek alles wat ek hom gegee het om te eet en drink moes neerskryf en dan so probeer vasstel wat dit is wat hom so laat opgooi het en dis hoe ons vasgestel het dit is die jogurt, maar dit was nie ‘'n allergie nie – hy kon net eenvoudig om een of ander rede dit nie inhou nie.  Ons het tot X-strale laat neem en as ek reg onthou was dit die “barium “toets wat gedoen is en dit het ook niks opgelewer nie.  Toe ek die jogurt wegneem, was die braking op 'n einde.  Ek het weer later probeer om beesmelk in sy tee en koffie te gooi en weer het die braking voorgekom tot ek die beesmelk totaal en al onttrek het.  Ek het ook toetse met bokmelk gedoen en het dieselfde reaksie gekry en so bly ons nou al jare op die soja melk.  Daar is ook net sekere soorte wat hy drink: 'n donker blou boks of die van Checkers of die van Pick 'n Pay – niks anders nie.

Teen ongeveer 09:00 word daar fisio gedoen en word sy onderskeie hand en voet spalke aangesit.  Die bene en arms word gestrek asook die rug en as die fisio klaar is, word hy op sy maag op 'n wig kussing geplaas sodat hy op sy eie bietjie kan strek deur die kop op te tel.  Dit duur enige tyd van 20 minute tot 'n uur – hy laat duidelik van hom hoor as hy nie meer so wil wees nie.

Teen 11:00 kry hy weer iets om te drink.  Om meer oor sy drinkgewoontes te noem – as hy besluit het hy wil iets nie drink nie sal niks hom maak om dit te drink nie.   Ek het al op een keer probeer om vir hom sweeto koeldrank te gee, dit ook probeer meng met soja melk om vir hom 'n “steri stumpi” iets te maak, dit net so met water aan te maak, cream soda, Fanta grape, Fanta pineapple, DANONE se vrugtesappe, Ceres se vrugtesappe, ook die van purity, tee, koffie – enigiets net dat hy nie net altyd soja melk moet drink nie – ja, tot Tropica se verskillende geure, maar hy weier, dan drink hy net sy soja melk.

So tussenin sal ons steeds maar gereeld bietjie strek oefeninge doen en die spalkies afwissel.  Verder word hy ook bietjie met afwisseling in sy stoel geplaas om bietjie te sit of dan op die staan bed – vasgegespe soos 'n stokmannetjie!  Hier sal ons met speelgoed met hom speel en musiek speel wat hy baie van hou.

Teen 13:00 gee ons hom enige vrugte wat ons fynmaak, maar dit is ook 'n riller!  As hy dit nie wil eet nie, dan sal hy dit so tussenin met sy tong uitwerk en weier om te sluk.  Baie duidelik het hy 'n wil van sy eie.  Vrugte wat hy wel van hou is papaja en piesang gemeng en miskien ‘'n peer, maar appels en ander vrugte eet hy met groot gesukkel.  Ek het al geleer as hy nie wil nie, forseer ek hom nie om te eet nie.  As hy honger is, sal hy eet.

Hy kry dan ook weer 'n  bottel om te drink en vreemd genoeg, dikwels sal hy dan of tee of koffie drink, maar meestal is dit steeds soja melk wat hy drink.

Gedurende die middag word hy ook afgewissel van die bed na die stoel en na die staan bed.

Teen ongeveer 15:00 word hy gewoonlik sommerso in die bed gewas soos hulle maar met bedlêende pasiënte in die hospitaal ook doen, maar ek probeer om hom so elke 3de dag fisies in die bad te sit en hom te bad waar hy dan bietjie kan week en die geskrop kan word (darem nie letterlik nie) maar waar hy ordentlik gewas word.

Hierdie bad sessies is vir hom skynbaar baie snaaks en sal hy skreeu soos 'n maer vark, maar hy bly die hele tyd smile of lag tussenin.  Hy is baie lief daarvoor as ek sy hare was en sy kop masseer, dan trek sy oë sommer toe met so skewe glimlag!

Dit is ook nie een van die maklikste take om te verrig om hom te bad nie, want hy is meestal in so spasma, dat hy stokstyf in die bad lê en sy kop agteroor trek.  Dit is letterlik soos om ‘'n baie swaar stomp in die water te hou en die een punt (sy kop) bo te hou terwyl hy daarmee afdruk.  Daarom tap ek ook nie so baie water in die bad nie, want dan kan hy nie sy kop onder die water druk nie.  Mens is letterlik uitgeput as jy net sy hare klaar gewas het.  Om daardie rede sny ek ook sy hare meestal met ‘'n nommer 4 knipper want dit is makliker as om lang hare skoon te hou.

Ek is dan gewoonlik teen ongeveer 16:10 by die huis. 

As die weer dit toelaat, gaan stap ons ongeveer 30 minute in die buurt met sy stoel, anders sal ek hom in die stoel sit en soms bietjie op die keyboard speel en hy en Klippie, die papegaai, hou dan ‘'n sang kompetisie deur te kyk wie die hardste kan skreeu saam met die keyboard.  (Het nie geweet ek speel so sleg nie).

Hierna is dit kos maak en teen 18:00 kry hy sy medikasie – 12,5ml Convulex en 150mg Lyrica en dan sy kookkos wat fyngemaak is. 

Sy kos bestaan dan uit enigiets wat ek vir ons ook maak om te eet, net in 'n fyner vorm.  Van braaivleis en pap tot melkkos en baie snaaks hiervan is dat die melkkos geen uitwerking het op hom soos die jogurt en melk in-tee en koffie nie.  Dis iets wat my verstand te bowe gaan.

As hy klaar geëet het teen ongeveer 19:00 kry hy sy laaste bottel vir die aand want om een of ander rede drink hy ook nie sommer na hierdie tyd nie. 

Mens kan probeer soos jy wil – hy sal so paar slukkies drink, maar nooit meer as ongeveer 50ml nie.

Dikwels raak hy so aan die slaap terwyl hy sy bottel drink, maar gewoonlik slaap hy teen ongeveer 20:00 en dan gaan dit tot ongeveer 22:00 wanneer hy weer ‘'n aanval kry en dan weer tot 00:30 na 01:00.  Dan is sy doek gewoonlik nat en maak ek hom droog.  Dan gaan slaap ek en sal ons dag dan weer teen ongeveer 05:30 begin.

So is dit maar elke dag, behalwe Dinsdae wanneer die fisioterapeut intensiewe fisio kom doen, gewoonlik so van 07:00 tot 08:00 of in daardie tydgleuf tot 09:30.

Woensdae kom die spraak terapeut van 16:00 tot 17:00 en dit geniet hy vreeslik. 

Net die reaksie wanneer sy hier aankom, want mens kan sien hy luister na die voertuig en dan wag hy op haar stem, dan gil hy van opgewondenheid en gesels vreeslik met haar – vertel die hele week se gebeure in sy onverstaanbare manier aan haar.

Saterdae en Sondae slaap ons maar meestal bietjie laat. 

Ek gee steeds vir hom tussen 06:00 tot 07:00 sy medisyne en dan slaap hy bietjie meer en rus ons ook.  Ons doen nie soveel oefeninge soos in die week nie en vat dit net heeltemal kalm.

Dit gebeur van tyd tot tyd dat daar een of ander probleem ontstaan, maar niks ernstigs nie.  Die ergste was nou van die 20ste Januarie tot op hierdie stadium waar ek feitlik nie een nag voor 02:30 in die bed klim nie.  In hierdie tyd het hy weer vreeslik baie aanvalle gehad en is ek te bang om te gaan slaap, maar weereens wonderbaarlik, oor naweke gee hy my kans om slaap in te haal, want dan slaap hy ook redelik meer.

Ek het kameras in die huis sodat ek kan sien wat in die nag gebeur het wanneer ek ook geslaap het of as die versorger my bel en sê daar is ‘'n probleem, dan kan ek gou inskakel en kyk wat aangaan, maar daar is die minimum probleme en slaap hy wanneer ek slaap oor naweke.

Dit is vir my hartverskeurend oor naweke waar mens net mooi niks met hom kan doen nie – nie eers saam met hom kan TV kyk nie.  Ek sit hom wel in die stoel voor die TV, maar daar is geen reaksie dat hy iets op die TV kan sien nie.  Al wat ek met hom mee kan speel is sy musiek speelgoed en dan moet ek dit self nog aktiveer en kan hy nie eers sy hande gebruik om iets daarmee te doen nie.

Swem kan ons ook nie wanneer dit warme is nie, want as die water te koud is, dan skrik hy hom elke keer in ‘'n aanval in.  Die enigste waar dit goed gegaan het, was toe ek hom vir die water terapie geneem het waar dit ‘'n verhitte swembad is van 35° waar hy dan ook sommer in die swembad aan die slaap geraak het, maar ek kan nie R300 per maand betaal net om bietjie te gaan swem nie!

Dis maar 'n samevatting van sy lewe – elke dag, dag vir dag net op die besluite van ander mense aangewese wanneer hulle dink as daar iets deur hom gewys word wat hy ongelukkig is te gaan soek totdat hy weer tevrede is of om met hom te speel deur hom te soen en gesels, wat ook maar net ‘'n paar minute duur en dan is sy aandag weer na iets anders.

Dit is wanneer ek hierdie goed so neerskryf en intens sien en beleef wat ek die vrae vra van hoekom?  Watter lewe het hy?  Daar is geen niks wat hy geniet nie en geen niks wat hy geleer kan word om te doen nie.  Hy is werklik net 'n liggaam wat funksioneer deur asem te haal, sy hart wat klop, kos wat hy eet en iets wat hy drink en dan sy stoelgange en urinering, maar niks anders kwaliteit van lewe nie.  Dis hoekom ek hom nooit in 'n  versorgingsplek sal sit nie – al kyk hulle hoe goed na hom, want daardie oomblikke wat ons so kan lag en gesels en saam geniet, kan geen geld in die wêreld koop nie en dit sal hy beslis nie beleef in 'n versorgingsplek nie.

1 Korintiërs 13:9-13

Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.  Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.  Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.  En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

 

Friday, April 19, 2013

KEUSES???

Die Hemel Weet!

Die lewe loop 'n vreemde pad wat 'n mens soms nie beplan.
Maar jy't 'n keuse wat jy daarvan maak.
oms kyk jy terug na 'n verdwaalde weg
Somtyds dink jy jy was reg.
Wonder jy ook weer wat staan tussen ons vanaand.

En die hemel weet ek was lief vir jou.
Sal ek jou nooit vas kan hou.
Is dit als te laat om n weer probeer te maak.
En die vlamme brand die hel breek los.
Vir elke traan het dit ons gekos.
Se my wat staan weer tussen jou en my vanaand.

Nou staan ons hier die kruispad wag.
Nie links of regs sien ek die lig.
Wie se keuse is dit hierdie keer.
Jy kyk weer terug jy raak verward
Ek draai maar links en ek volg die swart.
Want hier staan dit weer tussen jou en my vanaand



xxXXxx
 
 
 
 
Net ‘n mens
Keer op keer vind ek myself in storms waardeur ek my pad moet vind
En keer op keer is jy die een wat antwoord uit die donker dan maak als sin
En elke keer as jy probeer om sterk te wees en trane weg te vee weet ek
Daar's rede vir die storms ons kan saam die winters deurmaak net jy en ek

Ek's net 'n mens, ek kry ook seer
Ek kan voel jou woorde vloei sag oor my en heel my weer
Ek's net 'n mens wat bly probeer
En jy bly saam by my deur die moeilike tye
En ek waardeer jou meer en meer

Keer op keer as ek verdwaal dan weet ek jy's die een wat my kom haal
So lank as wat ek asemhaal is jy die een die heel en al van my verhaal
En elke keer al kry ek seer is jy weer daar om moed te gee ja dit weet ek
Daar's rede vir die storms ons kan saam die winters deurmaak net jy en ek

Ek's net 'n mens ek kry ook seer
Ek ek kan voel jou woorde vloei sag oor my en heel my weer
Ek's net 'n mens wat bly probeer
En jy bly saam by my deur my moeilike tye en ek waardeer jou meer en meer