Thursday, February 28, 2013

DIE HERE VOORSIEN WEEREENS

Ek wil net graag noem dat my voete weereens onder my uitgeslaan is en het nie woorde daarvoor nie, behalwe as om in dankbaarheid stil te raak...

Weens die slym op Henru se longe het ek gaan soek en navraag doen vir 'n "suction masjien" om Henru se mond mee skoon te maak van die slym. Ek kan nie soos die fisio in die keel afgaan nie, maar soos die slym in sy mond saampak, kan ek nie Henru se mond behoorlik skoon kry nie en kan die masjien wondere verrig. Ek het een gekry vir R2000. Ek moet egter 'n voorskrif kry om te probeer om dit by POLMED te eis.

Ek bel toe vanoggend Dr Lippert se spreekkamer om te vra vir die voorskrif. Vanmiddag toe bel die ontvangsdame my terug en sê Dr Lippert weier om vir my die voorskrif te gee, maar hy skenk aan my die masjien. Woorde het ek nie om hom mee te bedank nie en ek kan net weereens soos altyd die Here dankie sê dat Hy elke keer voorsien op Sy manier

Tuesday, February 26, 2013

26 FEBRUARIE 2013

Hier gaan ons al weer, weet amper nie meer wanneer is op en wanneer is af nie.

Henru het vandag weer geslaap vir die hele dag. Vanoggend toe ek hom na sy bed in die sitkamer dra het hy nie eers gereageer toe ek hom in die kamer optel nie.

Toe ek werk toe is teen 07:00 het hy darem so “gesmile” in sy slaap. Hy het deur die dag ook niks geëet of gedrink nie.

14:00 toe ek Amòr by die skool gaan haal het, het hy ook geen reaksie getoon nie en so ook 16:00 toe ek by die huis gekom het.
 

 

Teen 17:30 het hy wakker geword en ek het vir hom pasta met vis vingers en pasta sous gegee om te eet. Daarna het hy 'n bottel rooibostee gedrink en teen 19:00 het ek hom gestoom. Daar het BAIE slym uitgekom, maar nou is dit bloederig. Die nadeel is ek moet dit met 'n doek uitvee en hy byt sy mond so toe, dat ek nie alles kan uitvee nie. Ek het nou navraag gedoen vir 'n "suction machine", want alhoewel ek baie slym uitkry, bly dit steeds opbou en elke 10 minute moet ek hom eers weer skoonmaak (of probeer skoonmaak). Ek het die dokter gebel en hy sê die bloed is waarskynlik die infeksie wat opklaar, maar ons gaan in elk geval toetse doen. Ons sal ook die 12de X-strale van die longe neem saam met die opvolg van die rugoperasie om bietjie te bespaar. Netnou was dit ook net die ene skuimbolle soos hy weer epilepsie ook gehad het en nou slaap hy weer sy diepe slaap.
 

IETS WAT EK BYGELEER HET

Met die dat Henru se longe so vol vog is, het ek geleer by die fisio om sy "hoes knoppie" te druk. Dit is op die gorrel in die "V" by die "trachea". As ek hom gestoom het en klop op sy borskas voor en agter, dan draai ek hom op sy sy en druk die hoes knoppie. Dis ongelooflik hoeveel slym hy uithoes.
Ongelukkig het ek nie 'n suigapparaat nie en vee dit net met 'n doek uit, maar ek gaan beslis kyk vir 'n suigapparaat om te help daarmee want dan kan mens die slym beter uitkry.

Sunday, February 24, 2013

DIE VARK IN DIE VERHAAL

En so is ek maar weereens die vark in die verhaal. "Hoe kon ek so iets aan haar stuur" refrein in my ore en Hannes en Francois is kwaad vir my. Hoe meer ek probeer verduidelik waaroor dit gaan, word ek gekruisig omdat ek die SMS gister vir Telma gestuur het.

Hannes is so kwaad dat hy my nie eers laat weet het toe hy ry van Harrismith af nie. Ek het maar net gesien toe hy hier inry, by die deur inkom net met 'n "Hallo" en na sy kamer gaan. Toe ek met hom probeer praat, word ek veroordeel dat dit nie reg was om so SMS aan sy ma te stuur nie. Hoe meer ek probeer verduidelik waaroor dit gaan, hoe meer word dit gesê dat dit nie so gedoen moes word nie. Vir 12 jaar (ja, dit was MY keuse en niemand het my daartoe gedwing nie) het ek geen lewe nie, draai my lewe om Henru. Hy kan homself nie help nie en daarom is ek daar.

Ek mag nie seerkry en ontsteld raak nie. Wat het ek van my kinders? Ek is verbied en beperk om hulle te sien. As ek gebel het en hulle het geëet, is daar vir my gesê ek moet later bel. Ek het nooit geweet hoe laat hulle eet nie en maak nie saak watter tye ek gebel het nie, vroeg of laat, ek moes terug staan. Ek moes inskakel by Telma se reëlings - al het EK die selfone vir hulle gegee en betaal.

Saterdag toe Henru ook nie lekker was nie en ek alleen by die huis sit en depressief raak omdat ek nie in my kind se 21st kan deel nie, was dit ook verkeerd en word ek veroordeel daaroor. Toe ek vandag met Hannes daaroor probeer praat nadat hy teruggekom het, word dit voor my kop gegooi "Maar my ma..." Wat van my? Hoeveel keer wou ek al saam met hom gaan wanneer hy gaan pool speel, wou ek saam met hulle gaan kuier, wou ek net tyd saam met hulle deurbring, maar dis my ontneem. As ek dan 'n dip van soos Saterdag, is dit verkeerd.

Soos alles keuses is, het ek vanaand weer 'n keuse gemaak en sal ons maar sien hoe doe keuse die toekoms beïnvloed.

Saterdagnag het Henru soveel vog op sy longe gehad dat ek met hom regop in die bed gesit het en hy so geslaap het. Feitlik elke 10 minute het ek met die spuit slym uit sy mond gehaal, selfs soms met die spoeg doek, net dat ek dit kon uitkry. Twee spoeg doeke later nat van die slym en hy begin rustiger raak teen ongeveer 03:40. Ek moes toe iewers aan die slaap geraak het en net na 06:00 raak ek toe wakker, gee sy medisyne en rooibostee en slaap verder. Teen 10:30 raak ek weer wakker en maak hom ook wakker om nog tee te drink. Sy keel is rooi en hy wil nie eet nie. Ons slaap toe weer tot na 13:30 waarna ek hom weer tee gee en hoesmedisyne. Hy is verder wakker en teen 17:00 gee ek hom weer tee en maak kos - maalvleis met spaghetti en hy eet goed. Ek vat hom kamer toe teen ongeveer 19:30 en hy is baie onrustig en gaan in spasmas in, maar raak aan die slaap en slaap beter - die longe klink ook beter nadat ek hom gestoom het vanmiddag. Ek hoop en bid dat dit nou sal beter gaan.




Soms, Here, is my hart te stukkend om heelgemaak te word..Dis wanneer ek sommer ..net myself in 'n kokon wil toespin sodat niemand aan my kan torring nie.
Dankie dat U in sulke tye die woorde hoor wat ek nie kan uitspreek nie en die seer sien waarna ek nie wil kyk nie. Dankie dat U juis dan U sagte hand van liefde onder my sit en my dra totdat my hart weer gereed is om fladderend die wereld te begroet. Amen.

Saturday, February 23, 2013

"Save You"

Amor het hierdie vanaand vir my gegee omdat ek so "down" is oor alles wat in die verlede gebeur het.... Dankie Sus, ek is lief vir jou...

"Save You"
Take a breath
I pull myself together
Just another step till I reach the door
You'll never know the way it tears me up inside to see you
I wish that I could tell you something
To take it all away

Sometimes I wish I could save you
And there're so many things that I want you to know
I won't give up till it's over
If it takes you forever I want you to know

When I hear your voice
Its drowning in a whisper
It's just skin and bones
There's nothing left to take
And no matter what I do I can't make you feel better
If only I could find the answer
To help me understand

Sometimes I wish I could save you
And there're so many things that I want you to know
I wont give up till it's over
If it takes you forever I want you to know

That if you fall, stumble down
I'll pick you up off the ground
If you lose faith in you
I'll give you strength to pull through
Tell me you won't give up cause I'll be waiting if you fall
Oh you know I'll be there for you

(Ahahaha)
If only I could find the answer
To take it all away

Sometimes i wish i could save you
And there're so many things that I want you to know
I wont give up till it's over
If it takes you forever I want you to know
(Oh)
I wish I could save you
I want you to know
(Ohohh)
I wish I could save you (oh)


TERAPIE

Christa Fourie is Henru se spraakterapeut en Henru is mal daaroor om met speelgoed te speel...

23 FEBRUARIE 2001 - 2013




23 FEBRUARIE 2001

12 jaar gelede is ons lewe onherroeplik uitmekaar geruk en verander, maar met ongekende genade het ons Hemelse Vader my met bonatuurlike krag gedra deur bitter moeilike traumatiese gebeure en omstandighede met Sy liefde deur die ondersteuning van mense wie Hy oor ons pad gebring het tot vandag. Dankie Here dat ek tot alles in staat is deur die krag wat U elke dag aan my gegee het en steeds gee ten spyte van die aanslae van buite. Here, net U en ek weet presies met watter opregtheid, ten spyte van al die seer, ek in hierdie oggend vir U kom dankie sê vir U liefde en genade, vir familie en vriende, ja - selfs onbekendes - wie U oor ons pad gestuur het om ons te help. Ek het U lief en vertrou op U soos die onvoorwaardelike liefde en vertroue van 'n klein kindjie. Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. Dankie dat ek U ook "my Vader" kan noem.
Henru het so pas (14:45) vir die eerste keer vandag wakker geword. Het hom vanoggend 05:40 sy medisyne gegee met 'n bottel soja melk, 10:00 oats om te eet en 13:15 tee sonder dat hy wakker geword het. Gaan hom nou weer tee gee.

 

 

SPEELGOED – KUPIDO

Sorgvuldig pak ek een vir een die speelgoed uit die kas
Die speelgoed van seuntjie wat ‘n wyle myne was
Hy was maar net aan ons geleen dit sou die tyd ons leer
Niemand kan ooit ‘n ander besit nie, ons hoort almal tot die Heer

Die treintjie aan klein Gideon, die vlieër aan Johan
Vir Japie die groen trekker met die sleepwa agteraan
So deel ek al die speelgoed in my gedagtes uit
Dis beter om dit weg te gee as om dit weg te sluit 

Hy was so mededeelsaam, hy sou dit so wou hê
Laat die speelgoed eerder vreugde bring as net daar in die kas lê
Ek mis my kind oneindig, maar daar is tog iets wat my verbly
Want ek weet die mooiste engel in die hemel is hy 

Ek het geen doel tot kommer, my kind is veilig daar
Bo in sy hemelwoning saam met engele geskaar
Die bitter smaak van skeiding sal eendag wees so soet
Wanneer die mooiste engel in die hemel my begroet 

Hy was so mededeelsaam, hy sou dit so wou hê
Laat die speelgoed eerder vreugde bring as net daar in die kas lê
Ek mis my kind oneindig, maar daar is tog iets wat my verbly
Want ek weet die mooiste engel in die hemel is hy 

Ek mis my kind oneindig, maar daar is tog iets wat my verbly
Want ek weet die mooiste engel in die hemel is hy
 
 
oooOOOooo

Nadat ek omtrent my oë uitgehuil het oor dit wat was en wat kon wees, het die woede my weer beetgepak oor alles. Ek het Henru se fisio gedoen en hom versorg deur die dag en aangegaan soos altyd, maar toe hy weer so begin roggel in die vog in sy longe kon ek dit net nie meer hou nie en neem toe 'n foto van hom. 

Ek stuur dit aan Telma en Willem en sê vir hulle 16:25: "Net ingeval jy dalk gewonder het hoe lyk die kind wie se lewe jy 12 jaar gelede ongeveer die tyd opgef*k het". Die bitterheid en die seer oorweldig my en ek probeer om my self te beheer, maar soos ek alleen hier saam met Henru sit, maal my gedagtes. Ek dink ook aan Francois wie Maandag verjaar en dan 21 sal wees en vanaand sy partytjie hou en dat ek nie daar kan wees nie. Dink net hoe 'n 13 jarige seun saam met sy Ouboet kon party hou. Ek onthou soos gister toe ek 13 geword het en ook my 21ste verjaardag en die hartseer oorweldig my dat ek nie saam met my kinders hierdie geleentheid in Francois se lewe kan deel nie. 

16:43 kry ek 'n SMS terug van Telma se nommer: "Jou kinders het hierdie gesien en als wat jy op Facebook gesê het. Dit is Willem wat jou antwoord, nie Telma. Jy gun nie eers jou seun die dag nie".

17:04 antwoord ek terug: "En...? Ek het nie hierdie vir hulle gewys nie, dit was jy. Wat van dit wat ek op fb geskryf het? Dit is die waarheid net soos hierdie ook die waarheid is. Julle moet mos altyd ander blameer, julle het mos niks verkeerd gedoen nie.
 

17:30 antwoord terug van Telma se nommer. "Heeltemal reg dit is tyd hulle jou ware Hendrik sien. Die groot man wat sy kinders se Ma geestelik afbreuk om beter te voel. Die was dan die laaste kommunikasie, lekker slaap.
 

17:48 antwoord ek terug: Ek is nie skaam daaroor nie, wat van my geestelike en emosionele afbreking? Julle party en rits die hele wêreld vol en sy wil nie eers bydra om haar eie kinders te help nie. Dit is weereens die waarheid, die "arme onskuldige ma" maar sy dra nie eers by om haar kinders te versorg nie! Om haarself te beskerm en haar eie leuens te verbloem word die blaam op die "F&*#%up" pa verplaas. Dis ongelukkig altyd so, in plaas van die waarheid te aanvaar en te erken sal die skuldige altyd iemand anders blameer. Dankie vir die gesels en jy moet net so lekker slaap en soete drome hê."
 

18:41 toe stuur ek weer 'n SMS: "O ja, voor jy gaan slaap net nog ietsie, geniet die party terwyl die kond wie se lewe julle opgef*k het nie eers in sy Boeta se vreugde kan deel nie. Drink, dans en wees vrolik want julle het mos geen worries oor hom nie! Lekker dux."
 

Die Facebook goed handel oor die feit dat ek aan Magda Wiid geskryf het die dag toe Telma-hulle op die bootreis vertrek het en sy nie eers Amor se onderhoud van R1000 ten volle betaal het wat SY aangebied het nie en slegs R880 betaal het, nie bydrae tot Henru se uitgawes nie, nie bydra tot Amor se skool uitgawes nie, net moot niks nie. Die Magda het vir my gesê dat sy en Telma nie meer "close" is nie, maar intussen het sy alles wat ek gesê het vir Telma oorgestuur. Dit is ook al die inligting wat alreeds op Henru se "support group" geskryf is en ook hier op die blog vanaf die 20ste Januarie 2013. Magda kon om die een of ander rede nie toegang kry tot die blog of die support groep nie, en toe was daar onder andere hierdie gesprek wat iemand vir my gemail het:

Dit is hierdie tipe van dinge wat my bitter maak! Henru was NOOIT eers in die hospitaal nie soos ek verduidelik het hoe ek, die dokter en die berader dit bespreek het en besluit het en hier word ek as die leuenaar uitgemaak. Ek hoef my vir niks te verdedig nie en is hier die CCTV footage wat alle gebeure kan staaf. Waar was Telma met al Henru se situasies en operasies? Die laaste waar hy op life support was met sy rugoperasie - wat het sy toe gedoen? Haar besigheid en sosiale verpligtinge is baie meer belangrik as haar kinders.
 
oooOOOooo
 
 

 
 
 


 


Thursday, February 21, 2013

AS DIT MAAR SO KON WEES

Vir ‘n Moeder

Dit was die sesde dag toe God moeders gemaak het.
Hy het al oortyd gewerk, toe die Engel vir hom sê:
“U vroetel darem baie rond met hierdie een”
En God antwoord: “Hierdie werk moet My meesterstuk wees”
Sy moet heeltemal wasbaar wees, maar nie plasties nie.
Sy moet 180 vervangbare dele hê.
Sy moet met min tevrede kan wees.
Sy moet ‘n skoot hê wat verdwyn as sy opstaan.
Sy moet met... soentjies alles kan gesond maak – van ‘n gebreekte been tot ‘n gebreekte hart.
Sy moet ook meer as een paar hande hê”

 Die Engel skud sy kop en se: “So baie hande”
... “Dis nie die hande wat my bekommer nie” antwoord God, “maar die baie oe wat oral moet kan sien.
Nadenkend se God: “Ja, een paar oe wat deur geslote deure sien as sy vra wat jy doen.
‘n Ander paar wat sien wat sy nie moet nie en nog ‘n paar wat na haar geliefdes kyk om te sê:
“Ek verstaan jou. Ek weet jy wou nie rerig nie en ek is lief vir jou.”
Met ‘n sagte blik sê die Engel: “Here God, wil U nie maar gaan rus nie”?
“Ek kan nie” sê God. “Ek is so na aan klaar om iets na My beeld te skep.
Ek wil graag hê dit moet iemand wees wat haarself gesond kan maak wanneer sy siek is.
Sy moet ‘n familie van sewe met een pond maalvleis kan voed.
Sy moet ‘n sproetgesig, uithanghemp nege-jarige seuntjie sover kan kry om te gaan bad”
“Is dit dan moontlik” vra die Engel
“Vir hierdie moeder moet dit moontlik wees om haarself onvoorwaardelik te kan gee”
Toe buk die Engel en streel oor haar wang. “Hoekom is hier dan ‘n druppel?”
“Dit is nie ‘n druppel nie,” sê God “Dit is ‘n traan”
“waarvoor is dit”
“Dit is vir geluk, hartseer, teleurstelling, pyn, eensaamheid en trots”
Met verwondering sê die Engel: “ Dit is voorwaar ‘n geniale skepping”
En God sê: “Dit is ‘n MOEDER "

21 Februarie 2013

Wat 'n dag vol emosies!

Ek ry vanoggend werk toe en op pad lui my selfoon, maar ek antwoord dit nooit as ek ry nie. By die polisiestasie aangekom, lyk dit of daar 'n erewag staan en of ek die onderwerp van bespreking is en voel skoon ongemaklik. Tot Annetjie Venter staan daar en dit is uiters vreemd. Ek klim uit my voertuig en stap na die ingang en skielik begroet hulle my met "Geluk Majoor". My selfoon lui weer en dis AO Oosthuizen van Hercules polisiestasie en hy wens my ook geluk, maar ek wis van niks. Na die oproep keer ek terug na die groep en hulle deel my mee dat daar 'n bevorderings lys is en my naam verskyn daarop. Wow, dis ongelooflik! Na 20 jaar in een rang het ek iets iewers reg gedoen en word uiteindelik bevorder. Dankie Liewe Jesus vir hierdie geleentheid wat U na my kant toe gestuur het!

So verloop die dag en moet ek dokumentasie gereed kry wat ingedien moet word.

13:00 vertrek ek met 'n swaar hart skool toe om Amor te gaan haal, maar behalwe dit neem ek haar en twee vriende na die begrafnis van 'n jong seun wie die 13de Februarie 2013 oorlede is in 'n motorfietsongeluk en hy sou die 14de Februarie 16 wees. Ek hou my sterk, maar ek baklei in my binneste en die emosionele pyn wat ek ervaar kan ek vir niemand beskryf nie. Die ergste is dat ek hierdie seun glad nie geken het nie, maar eers van hom verneem die dag toe ek Amor gevra het of sy bewus is van die ongeluk.

Die gebou waar die diens gehou word kan nie al die mense akkommodeer nie en ek sit saam met Koos van Staden, kollega van my en wie die ongelukstoneel bygewoon het, maar ook vriende was met die seun, Chad, se ouers, buite. Hier en daar kan mens iets hoor en die Skriflesing kom uit Psalm 23: Die Here is my Herder. Die oorwinningslied word gesing saam met 'n CD. Die heel tyd maal Henru in my gedagtes.

Amor en haar vriendin huil erg en ek troos hulle. Na die verrigtinge in die gebou begin 'n doedelsakspeler sy lied speel en dit skeur deur Amor en Benine en ek stort ook 'n traan of drie. Amor vra dat ons ry, hulle wil nie graf toe gaan nie. Net daarna besluit hulle dat hulle tog gaan en ek staan by Koos en praat en verneem Chad se pa is ook ongeveer vier jaar gelede dood in 'n motorongeluk. Dis stukkend in my oor hierdie ma en haar jongste seun se verliese van 'n eggenoot en seun en pa en broer. Weer maal dit in my hoe dit sal wees die dag as ek een van my kinders aan die dood sal afstaan? Behalwe die seer en die pyn, die feit dat daar soveel nydigheid is tussen my en hulle ma. Maak nie saak wat ek doen of probeer nie, ek bly altyd die vark in die verhaal. Soos gister ook weer met bewerings en beskuldigings wat rondgeslinger is op fb.

Ons ry terug huis toe en ek maak Henru se kos reg, voer hom, gee sy bottel met sy medisyne, doen sy fisio op sy longe en stoom hom. Hannes is saam met sy meisie Madelein uit en Amor vra of sy na 'n vriendin kan gaan want sy het nie môre skool nie en ek en Henru is alleen by die huis. Dit hier waar die hartseer en verlange na my Ma my tref en ek wonder wat sy vandag sou sê of doen. Dit was haar grootste begeerte dat ek 'n offisier moes word voor ek 30 was. Ek het die doelwit wel bereik om my eksamens te slaag, maar kon eers my kursus in 1993 doen, maar ek was offisier voor ek 31 was en ek sal moederlief se gesig nooit vergeet toe ek dit op die video sien die dag met die uit passering in die Paarl, 2 Desember 1993. Die trots wat sy gehad het en die afwagting om my te sien toe ons van die paradegrond af terug gegaan het. Dankie Ma vir dit wat Ma vir my beteken het en vandag met hierdie bevordering dra ek dit op aan Ma daar waar Ma sit in die hemel en ek glo ook alles weet wat hier met ons gebeur. Ek mis Ma!

 

Sunday, February 17, 2013

17 FEBRUARIE 2013

Vriendskap is 'n kalmeermiddel sonder newe effekte..'n Sielkunde sessie sonder tariewe..'n Liggie sonder kragonderbrekin­gs..'n Geskenk sonder blinkpapier....­.Liefde....is sonder Grense! Wys jul liefde vir mekaar...wees altyd daar en se dat jy omgee......*
 
Vandag wil ek net sommer dankie sê vir al die familie en vriende wie ons so dra met gebed, vriendskap, ondersteuning, liefde en sommer net op allerhande wyses. 
 
Behalwe die feit dat Henru nog steeds so baie slaap, gaan dit goed.  Die longe is ook nog nie lekker nie, maar ek het Vrydag 'n nebuliser gekry wat ek nou sommer self hier by die huis kan gebruik.  Dit kos nou wel R700, maar ek kan self daardie fisio hier by die huis doen met die klop en die stoom.  Elke sessie by die fisio kos R500 en moes ek in elk geval alreeds R2 000 betaal het vir 4 sessies van 30 minute.  As ek hom laas week weer gevat het, was dit nog R2 500 en waar sou dit gestop het?  Nou kan ek hom elke dag stoom tot dit beter is en ek spaar daardie klomp geld by die fisio.

Na die naweek se stoom is Henru se longe 100% beter en klink dit nie meer of hy so roggel nie.  Die naweek was goed en het hy nie so baie geslaap nie.  Gisteraand (Sondagaand) het hy so teen 22:30 gaan slaap en was rustig deur die nag.  Hy het vanoggend (Maandag 18/02/2013) ook baie goed sy medisyne gedrink sonder om hom teë te sit.