Sunday, February 24, 2013

DIE VARK IN DIE VERHAAL

En so is ek maar weereens die vark in die verhaal. "Hoe kon ek so iets aan haar stuur" refrein in my ore en Hannes en Francois is kwaad vir my. Hoe meer ek probeer verduidelik waaroor dit gaan, word ek gekruisig omdat ek die SMS gister vir Telma gestuur het.

Hannes is so kwaad dat hy my nie eers laat weet het toe hy ry van Harrismith af nie. Ek het maar net gesien toe hy hier inry, by die deur inkom net met 'n "Hallo" en na sy kamer gaan. Toe ek met hom probeer praat, word ek veroordeel dat dit nie reg was om so SMS aan sy ma te stuur nie. Hoe meer ek probeer verduidelik waaroor dit gaan, hoe meer word dit gesê dat dit nie so gedoen moes word nie. Vir 12 jaar (ja, dit was MY keuse en niemand het my daartoe gedwing nie) het ek geen lewe nie, draai my lewe om Henru. Hy kan homself nie help nie en daarom is ek daar.

Ek mag nie seerkry en ontsteld raak nie. Wat het ek van my kinders? Ek is verbied en beperk om hulle te sien. As ek gebel het en hulle het geëet, is daar vir my gesê ek moet later bel. Ek het nooit geweet hoe laat hulle eet nie en maak nie saak watter tye ek gebel het nie, vroeg of laat, ek moes terug staan. Ek moes inskakel by Telma se reëlings - al het EK die selfone vir hulle gegee en betaal.

Saterdag toe Henru ook nie lekker was nie en ek alleen by die huis sit en depressief raak omdat ek nie in my kind se 21st kan deel nie, was dit ook verkeerd en word ek veroordeel daaroor. Toe ek vandag met Hannes daaroor probeer praat nadat hy teruggekom het, word dit voor my kop gegooi "Maar my ma..." Wat van my? Hoeveel keer wou ek al saam met hom gaan wanneer hy gaan pool speel, wou ek saam met hulle gaan kuier, wou ek net tyd saam met hulle deurbring, maar dis my ontneem. As ek dan 'n dip van soos Saterdag, is dit verkeerd.

Soos alles keuses is, het ek vanaand weer 'n keuse gemaak en sal ons maar sien hoe doe keuse die toekoms beïnvloed.

Saterdagnag het Henru soveel vog op sy longe gehad dat ek met hom regop in die bed gesit het en hy so geslaap het. Feitlik elke 10 minute het ek met die spuit slym uit sy mond gehaal, selfs soms met die spoeg doek, net dat ek dit kon uitkry. Twee spoeg doeke later nat van die slym en hy begin rustiger raak teen ongeveer 03:40. Ek moes toe iewers aan die slaap geraak het en net na 06:00 raak ek toe wakker, gee sy medisyne en rooibostee en slaap verder. Teen 10:30 raak ek weer wakker en maak hom ook wakker om nog tee te drink. Sy keel is rooi en hy wil nie eet nie. Ons slaap toe weer tot na 13:30 waarna ek hom weer tee gee en hoesmedisyne. Hy is verder wakker en teen 17:00 gee ek hom weer tee en maak kos - maalvleis met spaghetti en hy eet goed. Ek vat hom kamer toe teen ongeveer 19:30 en hy is baie onrustig en gaan in spasmas in, maar raak aan die slaap en slaap beter - die longe klink ook beter nadat ek hom gestoom het vanmiddag. Ek hoop en bid dat dit nou sal beter gaan.




Soms, Here, is my hart te stukkend om heelgemaak te word..Dis wanneer ek sommer ..net myself in 'n kokon wil toespin sodat niemand aan my kan torring nie.
Dankie dat U in sulke tye die woorde hoor wat ek nie kan uitspreek nie en die seer sien waarna ek nie wil kyk nie. Dankie dat U juis dan U sagte hand van liefde onder my sit en my dra totdat my hart weer gereed is om fladderend die wereld te begroet. Amen.

No comments:

Post a Comment