Tuesday, February 5, 2013

5 FEBRUARIE 2013

Vroeg opstaan vanoggend.  05:15 gaan die wekker af.  Henru het goed geslaap en is nog aan die slaap toe ek gaan stort.  06:00 maak ek hom wakker, gee sy medisyne en maak hom klaar en ry Unitas hospitaal toe na Dr Lippert se spreekkamer en 07:00 is ons daar.

Hy doen weer 'n volledige ondersoek.  Hy sê Henru se hart is baie rustig en gewoonlik as kinders siek is, is die hart onrustig.  Die longe is hy "oraait" mee, daar is 'n effense bronchitus, maar niks om oor bekommerd te wees nie, maar hy sal nietemin antibiotika gee sodat ons dit kan behandel voor dit vererger.

Die slaap - hy sê ek moet rustig wees daaroor, dit is die resultaat van die brein wat krimp en daar kan niks aan gedoen word nie.  Solank hy rustig slaap en niks probleme andersins het nie, kan ek kalm en rustig voortgaan soos altyd.

Ons gaan terug huis toe en is net na 9 by die huis.  Ek kry sy ontbyt gereed en toe dit reg is, slaap hy.  So in die slaap eet hy sy onbyt - klein happies dat hy nie verstik nie en eet alles op.  Hy drinkook 'n bottel rooibostee met heuning in en hy slaap.

11:30 drink hy weer so in sy slaap 'n bottel rooibostee.

12:46 ... die diepe slaap...



13:00 drink hy steeds sonder om sy oë eers oop te maak 'n bottel Nutren Fibre.

13:15 ry ek en gaan haal sy medikasie by die apteek en gaan haal Amor by die skool.  Net na 14:00 is ons terug en hy slaap steeds.  As mens praat, dan strek hy hom uit, maar maak nie sy oë oop nie.

Ek en Amor gaan gou winkels toe vir kruideniersware en ek gaan sny my hare, gaan laai Amor se vriendin Benine by haar huis af en is net na 16:00 by die huis.  Henru begin wakker word en hoes.  'n Niesbui oorval hom en ek spuit bietjie neussproei in sy neus.  Dit lyk of hy nou erg verkoue is want die traantjies loop sommer uit sy oë uit en sy gesig is bloedrooi, maar as ek met hom praat, dan lag hy.  Hy trek sy neus so op 'n plooi en ek vryf sy neus en oë en hy lag soos hy altyd maak as ek dit doen.  Hy drink weer rooibostee met heuning.

Ek maak vir hom kos - visvingers en gemengde groente met "vegie bake" sous.  17:30 gee ek sy kos en dis asof hy nie die kos vinnig genoeg kry nie en as ek met die teelepel teen die bord se kant die kos skep, dan maak hy al sy mond so groot oop.  Hy eet al sy kos op en ek gee die antibiotika tablet wat ek opgelos het in bietjie water en met bietjie kondensmelk met die spuit vir hom,  Hy drink dit goed, maar gril verskriklik!  Ek gee vir hom so bietjie koffie wat Amor vir my gemaak het met die spuit om die smaak mee af te sluk.

Ek gaan sit die bord in die wasbak en toe ek terugkom by hom toe slaap hy.  Hannes kom sit ook in die sitkamer en ons kyk 7de Laan, maar ek gesels eers op whatsapp met vriende en toe die Kyknet nuus by die sport begin, is Henru wakker.  Hy nies wer vreeslik en ek smeer bietjie vicks aan sy bors en so by sy neus.  Hy drink weer 'n bottel Nutren Fibre en toe ek klaar opgeruim het by sy bed, toe slaap hy.

Amor was kerk toe en toe sy 21:30 by die huis kom nadat een vaan haar vriendinne se pa haar kom aflaai het, vat ek Henru kamer toe, maar hy word nie eers wakker toe ek hom optel, in die kamer neersit en sy doek omruil nie en so slaap hy nou 22:30 nog steeds.  Sy bors klink bietjie beter as vanoggend.


 
oooOOOooo
 
Ek het nog altyd stilgebly daaroor, maar gaan dit nou hier meld want hoekom moet dit so wees?  As iemand dit kan verklaar, sal ek dit waardeeer.
 
Verlede jaar met die operasie se kostes het ek aan sy ma Telma, gevra of sy nie 'n bydrae kan maak nie.  Sy betaal het toe slegs R800 per maand onderhoud betaal vir Amor en geen sent vir Henru nie.  Sy het aangebied om, in plaas van die verhoging wat sy vir Amor moet betaal van ± 10%, met and woorde R880 per maand dan R1000 per maand te betaal.
 
Oktober 2012 het ek Amor se skoolboeke vir die jaar gekoop wat R1638 gekos get asook Amor se Gasvryheidstudie benodigdhede, nl vakbelading en sjef uitrusting ten bedrae van R1295.  Haar skoolfonds beloop R14 500 per jaar.  Henru se rugoperasie het R330 000 gekos en sy stoel R44 885.  Al hierdie fondse moes op 'n manier bymekaar gekry en betaal word.
 
Gister (die 4de) laat weet sy per sms sy het haar rekenaar gelock en kan nie EFT doen nie, sy sal die kontant vandag inbetaal en toe kry ek vanoggend die verrassings SMS dat sy slegs R880 inbetaal het.
 
Sedert Henru die 20ste Januarie 2013 begin het met sy huidige situasie het ek haar elke keer of gebel en persoonlik in kennis gestel of 'n sms gestuur soos en wanneer daar veranderings plaasvind.  Tot vandag toe het sy GEEN navraag gedoen oor hoe dit met hom gaan nie.  Ja, ek is bitter vandag en môre sal dit weer beter gaan, maar watter tipe mens doen dit?  Wat het Henru of Amor aan haar gedoen dat sy hulle benadeel?  Ek het verneem hulle het 'n huis gekoop en is nou op pad op 'n bootreis van 12 dae.  Ek vra maar net en wonder hoe leef sy met haar gewete saam.
 
oooOOOooo
 


No comments:

Post a Comment