Sunday, February 3, 2013

SLEGTE NUUS

Op 14 Desember 2012 is ons na my oom, Hannes van Coller, se begrafnis op Reitz.  Omdat Roselinah van Qwa Qwa af kom en elke keer met die taxi daarheen moet ry, laat ek haar, soos altyd wanneer ons Bethlehem toe gaan, saam met ons ry om kostes te spaar van die taxi.

Omrede ons eers begrafnis toe gaan, laai ek haar toe af op die plek waar die taxi's hulle passasiers kry na Qwa Qwa.  Ons tref ons reëlings dat sy weer die 7de Januarie 2013 sal terug wees vir die nuwe jaar.

26 Desember 2012 toe ons klaar maak om terug te kom Pretoria toe, kry ek 'n oproep van haar oom wie vir my sê dat Roselinah baie siek is en sy gaan hospitaal toe.  So probeer ek maar in die week om met haar self te praat, maar kan haar nie op haar selfoon in die hande kry nie en vind maar by haar oom uit dat dit nie goed gaan met haar nie.

Sondag, 30 Desember 2012 teen 10:30 die oggend kry ek 'n oproep van haar oom met die nuus dat Roselinah oorlede is.  Dis iets waaraan niemand iets kan doen nie, maar dit is steeds 'n groot slag vir ons.  Sy het vir 16 jaar by ons gewerk, nog voor Amòr se geboorte.  Na die egskeiding het sy Maandag tot Donderdag by Telma gewerk en Vrydae by my om te kom stryk. 

Na die ongeluk het sy voltyds weer by my gewerk en het sy in diens opleiding gekry, net soos ek ook, om Henru te versorg.  Sy was baie toegewyd en het alles in haar vermoë gedoen om Henru na die beste van haar vermoë te versorg.

Met die trek Pretoria toe, het sy haar eie kinders in die sorg van haar man en suster in Qwa Qwa gelos om vir Henru te kom versorg.  Nadat haar man ongeveer 5 jaar gelede oorlede is, het haar suster na haar kinders omgesien.

Alhoewel daar dae was wat ons koppe gestamp het oor goed wat sy nie gedoen het met betrekking tot Henru nie, was sy steeds, ten spyte daarvan dat sy geen formele opleiding gehad het nie, baie toegewyd aan Henru en baie lief vir hom.  Daar was baie keer wat daar iets gebeur het wat Henru nie gesond was nie, wat sy lang trane oor hom gehuil het.

Dankie Nina vir wat jy vir Henru gedoen het, maar nie net vir hom nie, ook die hulp vir my en die ander kinders.  Sy was so beskermend teenoor hulle en al het hulle hoeveel kattekwaad aangevang, sou sy nooit by my kom nuus aandra het nie en het hulle altyd beskerm.  Mag sy in vrede rus.



No comments:

Post a Comment