Saturday, February 23, 2013

23 FEBRUARIE 2001 - 2013




23 FEBRUARIE 2001

12 jaar gelede is ons lewe onherroeplik uitmekaar geruk en verander, maar met ongekende genade het ons Hemelse Vader my met bonatuurlike krag gedra deur bitter moeilike traumatiese gebeure en omstandighede met Sy liefde deur die ondersteuning van mense wie Hy oor ons pad gebring het tot vandag. Dankie Here dat ek tot alles in staat is deur die krag wat U elke dag aan my gegee het en steeds gee ten spyte van die aanslae van buite. Here, net U en ek weet presies met watter opregtheid, ten spyte van al die seer, ek in hierdie oggend vir U kom dankie sê vir U liefde en genade, vir familie en vriende, ja - selfs onbekendes - wie U oor ons pad gestuur het om ons te help. Ek het U lief en vertrou op U soos die onvoorwaardelike liefde en vertroue van 'n klein kindjie. Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. Dankie dat ek U ook "my Vader" kan noem.
Henru het so pas (14:45) vir die eerste keer vandag wakker geword. Het hom vanoggend 05:40 sy medisyne gegee met 'n bottel soja melk, 10:00 oats om te eet en 13:15 tee sonder dat hy wakker geword het. Gaan hom nou weer tee gee.

 

 

SPEELGOED – KUPIDO

Sorgvuldig pak ek een vir een die speelgoed uit die kas
Die speelgoed van seuntjie wat ‘n wyle myne was
Hy was maar net aan ons geleen dit sou die tyd ons leer
Niemand kan ooit ‘n ander besit nie, ons hoort almal tot die Heer

Die treintjie aan klein Gideon, die vlieër aan Johan
Vir Japie die groen trekker met die sleepwa agteraan
So deel ek al die speelgoed in my gedagtes uit
Dis beter om dit weg te gee as om dit weg te sluit 

Hy was so mededeelsaam, hy sou dit so wou hê
Laat die speelgoed eerder vreugde bring as net daar in die kas lê
Ek mis my kind oneindig, maar daar is tog iets wat my verbly
Want ek weet die mooiste engel in die hemel is hy 

Ek het geen doel tot kommer, my kind is veilig daar
Bo in sy hemelwoning saam met engele geskaar
Die bitter smaak van skeiding sal eendag wees so soet
Wanneer die mooiste engel in die hemel my begroet 

Hy was so mededeelsaam, hy sou dit so wou hê
Laat die speelgoed eerder vreugde bring as net daar in die kas lê
Ek mis my kind oneindig, maar daar is tog iets wat my verbly
Want ek weet die mooiste engel in die hemel is hy 

Ek mis my kind oneindig, maar daar is tog iets wat my verbly
Want ek weet die mooiste engel in die hemel is hy
 
 
oooOOOooo

Nadat ek omtrent my oë uitgehuil het oor dit wat was en wat kon wees, het die woede my weer beetgepak oor alles. Ek het Henru se fisio gedoen en hom versorg deur die dag en aangegaan soos altyd, maar toe hy weer so begin roggel in die vog in sy longe kon ek dit net nie meer hou nie en neem toe 'n foto van hom. 

Ek stuur dit aan Telma en Willem en sê vir hulle 16:25: "Net ingeval jy dalk gewonder het hoe lyk die kind wie se lewe jy 12 jaar gelede ongeveer die tyd opgef*k het". Die bitterheid en die seer oorweldig my en ek probeer om my self te beheer, maar soos ek alleen hier saam met Henru sit, maal my gedagtes. Ek dink ook aan Francois wie Maandag verjaar en dan 21 sal wees en vanaand sy partytjie hou en dat ek nie daar kan wees nie. Dink net hoe 'n 13 jarige seun saam met sy Ouboet kon party hou. Ek onthou soos gister toe ek 13 geword het en ook my 21ste verjaardag en die hartseer oorweldig my dat ek nie saam met my kinders hierdie geleentheid in Francois se lewe kan deel nie. 

16:43 kry ek 'n SMS terug van Telma se nommer: "Jou kinders het hierdie gesien en als wat jy op Facebook gesê het. Dit is Willem wat jou antwoord, nie Telma. Jy gun nie eers jou seun die dag nie".

17:04 antwoord ek terug: "En...? Ek het nie hierdie vir hulle gewys nie, dit was jy. Wat van dit wat ek op fb geskryf het? Dit is die waarheid net soos hierdie ook die waarheid is. Julle moet mos altyd ander blameer, julle het mos niks verkeerd gedoen nie.
 

17:30 antwoord terug van Telma se nommer. "Heeltemal reg dit is tyd hulle jou ware Hendrik sien. Die groot man wat sy kinders se Ma geestelik afbreuk om beter te voel. Die was dan die laaste kommunikasie, lekker slaap.
 

17:48 antwoord ek terug: Ek is nie skaam daaroor nie, wat van my geestelike en emosionele afbreking? Julle party en rits die hele wêreld vol en sy wil nie eers bydra om haar eie kinders te help nie. Dit is weereens die waarheid, die "arme onskuldige ma" maar sy dra nie eers by om haar kinders te versorg nie! Om haarself te beskerm en haar eie leuens te verbloem word die blaam op die "F&*#%up" pa verplaas. Dis ongelukkig altyd so, in plaas van die waarheid te aanvaar en te erken sal die skuldige altyd iemand anders blameer. Dankie vir die gesels en jy moet net so lekker slaap en soete drome hê."
 

18:41 toe stuur ek weer 'n SMS: "O ja, voor jy gaan slaap net nog ietsie, geniet die party terwyl die kond wie se lewe julle opgef*k het nie eers in sy Boeta se vreugde kan deel nie. Drink, dans en wees vrolik want julle het mos geen worries oor hom nie! Lekker dux."
 

Die Facebook goed handel oor die feit dat ek aan Magda Wiid geskryf het die dag toe Telma-hulle op die bootreis vertrek het en sy nie eers Amor se onderhoud van R1000 ten volle betaal het wat SY aangebied het nie en slegs R880 betaal het, nie bydrae tot Henru se uitgawes nie, nie bydra tot Amor se skool uitgawes nie, net moot niks nie. Die Magda het vir my gesê dat sy en Telma nie meer "close" is nie, maar intussen het sy alles wat ek gesê het vir Telma oorgestuur. Dit is ook al die inligting wat alreeds op Henru se "support group" geskryf is en ook hier op die blog vanaf die 20ste Januarie 2013. Magda kon om die een of ander rede nie toegang kry tot die blog of die support groep nie, en toe was daar onder andere hierdie gesprek wat iemand vir my gemail het:

Dit is hierdie tipe van dinge wat my bitter maak! Henru was NOOIT eers in die hospitaal nie soos ek verduidelik het hoe ek, die dokter en die berader dit bespreek het en besluit het en hier word ek as die leuenaar uitgemaak. Ek hoef my vir niks te verdedig nie en is hier die CCTV footage wat alle gebeure kan staaf. Waar was Telma met al Henru se situasies en operasies? Die laaste waar hy op life support was met sy rugoperasie - wat het sy toe gedoen? Haar besigheid en sosiale verpligtinge is baie meer belangrik as haar kinders.
 
oooOOOooo
 
 

 
 
 


 


No comments:

Post a Comment