Monday, February 4, 2013

4 FEBRUARIE 2013

Ek het 01:00 die lig afgeskakel om te gaan slaap.  Henru was nog rustig, het nie gehoes nie en die bors het goed geklink.

05:30 lui die wekker en Henru word ook net daarna wakker.  Hy is vol geselsies en ek gaan maak vir hom sy bottel met 75ml sojamelk en besluit om weer te probeer om die medisyne met die melk te gee in plaas van die spuit.  Hy neem die tiet gemaklik en drink die bottel leeg.  Ek probeer nog 150ml sojamelk en hy drink dit ook klaar.  Ek gaan maak klaar vir werk en hy is die heletyd op en wakker en 07:00 ry ek werk toe.

13:20 kom ek by die huis en Tebogo rapporteer aan my dat hy wakker was tot ongeveer 09:30 en dat hy twee bottels rooibos tee gedrink het, maar dat hy weer slaap van 09:30 af.  Ek maak hom wakker en is baie bekommerd oor die longe, dit roggel sommer so vol slym is dit.

Genoeg is genoeg en ek bel die dokter om te reël dat hy Henru opneem om die longe skoon te kry en dan ook te probeer vasstel hoekom hy so slaap.  Ek is bekommerd oor die feit dat Roselinah TB gehad het en wil nie so aangaan nie.  Een keer laat weet jy die belangstellendes dat dit goed gaan net om 'n paar minute of ure later weer te laat weet dat daar 'n krisis is.  Behalwe dit, ontstel dit Amòr, maar ook myself en dit is baie traumaties om so aan te gaan.  Ek kan nie konsentreer op die werk nie en bly die heel tyd bekommerd oor hom.  Nou wag ek net om te hoor wat die dokter sê.

Die dokter het 16:00 gebel en gesê ons moet 07:00 môre oggend, 5 Februarie 2013, by die hospitaal wees sodat hy Henru kan ondersoek en kyk wat om verder te doen, anders, as hy hom vanaand al opneem, moet ons 'n ekstra nag in die hospitaal betaal.

Die situasie raak nou bietjie moeilik.  Nes mens se hoop opvlam dat dit beter gaan, dan trap jy op iets wat weer jou voete onder jou uitslaan...

No comments:

Post a Comment