Sunday, February 3, 2013

'n MOEILIKE PAAR DAE

Ek begin 14 Januarie 2013 weer werk en dit gaan goed met Henru by die huis en Tebogo kom goed reg met hom.  Elke dag rapporteer sy aan my presies wat gebeur het en ek kan dit ook monitor op die CCTV wat in die huis is.  Sy doen sy oefeninge korrek, gee sy kos en bottel en ek het niks om oor te kla nie.

Vanaf 18 Januarie 2013 is Henru meer slaperig as gewoonlik, maar hy eet en drink en ek neem aan dat dit die vreeslike hitte is omdat ons 'n hittegolf beleef hier in Gauteng. Wanneer ek Amor van die skool af huis toe bring is Henru oraait, maar steeds baie slaperig.  Vrydag oggend toe ek hom van die kamer af sitkamer toe neem, slaap hy nog, maar toe ek by die huis kom is hy wakker.  Behalwe dit, neem die konvulsies van die epilepsie vir my toe.  Waar dit byvoorbeeld 5 minute geduur het of minder en een of twee keer elke paar dae, begin dit nou elke nag gebeur en stelselmatif word dit langer.  Dit het ook al in die verlede gebeur, maar dan het dit weer beter geword.

Saterdag 19 Januarie 2013 slaap hy lekker en ek kan ook bietjie laat slaap tot ongeveer 10:30 nadat ek sy medisyne 06:00 so in sy slaap vir hom gegee het.  Ek gee sy bottel en deur die dag is hy wakkerder en dis koeler ook, derhalwe dink ek dat dit wel die hitte kan wes wat 'n uitwerking op hom het.

Sondag die 20ste gee ek hom deur die dag sy kos en bottel en alles is normaal.  Die nag kry hy konvulsies wat tot 30 minute duur en dit gebeur drie keer die nag.

Maandagoggend vat ek hom sitkamer toe, maar hy word nie wakker nie.  Ek gaan werk toe en bel kort-kort om te hoor by Tebogo wat aangaan,  Hy word steeds nie wakker nie, maar eet en drink so in sy slaap.  Ek kom huis toe nadat ek Amòr by die skool gaan haal het en bly by hom want hy word nie wakker nie.

Die 23ste Januarie 2013 doen die dokter bloedtoetse om die toksiese vlakke te toets en volbloedtelling en ek weet nie wat alles nie, maar kry niks in die bloed nie.  Sy woorde "Die bloedtoetse se uitslae is pragtig".  So gaan ek maar elke oggend werk toe en kom na skool huis toe, maar ek kry nie gewerk nie, dit vreet aan my om Henru so te sien.  Die dokter vermoed die drukking is verhoog in die brein en moet ek die shunt pomp om te kyk of dit werk en of dit nie help nie, maar niks word beter nie.  Henru word bietjie wakker, maar sy oë draai so in sy oogkaste rond en flikker so en die aanvalle raak meer intens.

Dokter Lippert gee toe nog medikasie, Urbanol, om die konvulsies te probeer beheer.  Ek gee dit vir hom en die volgende dag begin dit betre raak en sedert Vrydag 25 Januarie 2013 ongeveer 14:00 het hy nog nie weer konvulsies gehad nie.

Die verskaffer bel en sê ons kan Saterdag 14:00 die stoel gaan haal.  Ek gee 06:00 Henru se medikasie en hy slaap.  11:30 was ek hom en trek hom aan, maar hy word nie wakker nie.  Ek laai hom in die kar en ry Rivonia toe en hy slaap.  By die verskaffer se spreekkamer laai ek hom af en sit hom op die bed in die spreekkamer neer en hy slaap.  Hulle kry die stoel reg, ons sit hom in die stoel en hanteer hom om al die verstellings reg te kry en hy slaap.  Ek ry met hom by die spreekkamer in die stoel uit en hy slaap, laai hom in die kar, ry huis toe en sit hom weer in die stoel en al die pad slaap hy.  Hy word later bietjie wakker en ons gaan stap met die nuwe stoel, maar hy raak kort-kort aan die slaap.

Sondag slaap hy, maar word met tussenposes bietjie wakker.  Ek gee dan sy bottel en begin kos gee en as hy 18:00 sy medikasie kry, dan sluk hy dit so in sy slaap.

Maandag 28 Januarie 2013 gaan ek werk toe, maar ek kan niks gedoen kry nie.  08:00 bel ek die dokter en die ontvangsdame sê sy sal later terug bel nadat sy met die dokter gepraat het.  Ek bel 09:00 huis toe en Tebogo sê hy slaap nog.  12:00 bel ek weer en hy slaap steeds. Amòr kom vroeër by die skool uit en ek gaan huis toe en Henru is glad nie met ons nie en het in 'n koma gegaan.  Dit voel of ek van my kop kan raak en ons kry niks met Henru uitgerig nie.  Ek en Amor huil oor Henru en ek bel vir Telma om haar mee te deel wat aangaan en haar reaksie is: "Hou my asseblief op hoogte van wat aangaan en as ek by hom kan kom sit in die hospitaal en jy moet gaan werk, laat weet my dan doen ek dit." Eerlikwaar, dink sy ek gaan by die werk sit as dit sleg gaan met hom en hy in die hospitaal is?  Vir 12 jaar pas ek hom op en loop 'n pad met hom, daar is nie 'n manier wat ek by die werk gaan sit en hy sonder my in die hospitaal wees nie.  NOU skielik wil sy by hom kom sit...  Dirk kom hier aan en dis 'n tranedal en hy bid vir Henru en dis net of ek geen rigting kan kry nie.

Die dokter bel later terug en sê dat as Henru nie beter word nie, sal hy hom in ICU opneem, maar as ons eerlik wil wees, ons weet almal wat die prognose is en Henru se brein is erg verkrimp.  Solank Henru gemaklik en rustig is en nie pyn het nie, is dit vir hom beter om by die huis te wees as om in die vreemde omstandighede in die hospitaal in ICU te wees, maar as daar enige verdere probleme is, moet ek nie huiwer om hom hospitaal toe te neem nie.  Behalwe hierdie feite, sal ek steeds by Henru in die hospitaal moet bly om hom te versorg, want, uit al my ondervinding, het ek nog nie by 'n hospitaal iemand gekry wie hom kan kos en bottel gee nie.

"Daar is tye wanneer ons swak, platgeslaan en mismoedig voel! Daar is tye wanneer die lewe ons bitter houe toedien en ons drome reg voor ons oe laat verkrummel, wanneer iets wat ons geglo het gaan uitwerk, verkeerd uitdraai... Moenie opgee nie! Moenie moed verloor nie! Onthou altyd...God is by jou!"
 
Teen 16:00 word Henru wakker asof daar niks fout was nie en giggel en maak geluide en 5 minute later slaap hy weer.  Hus is dus in en uit die koma.  Hy wil toe ook niks meer drink nie en ek begin om vir hom vloeistof met die spuit in te gee om ontwatering te voorkom,  So is hy wakker en slaap en ek wil mal raak omdat dit nie na 'n kant toe kan gaan nie.  Al wat ek doen is bid dat die Here se wil sal geskied en dat ek net krag en genade sal kry saam met my kinders om hierdeur te gaan.  Intussen het hy ook vog op sy longe begin opbou en daarom sit ek hom so in sy slaap so lank as moontlik in die stoel dat hy net kan regop wees en nie die heeltyd lê nie.
 
Die situasie bly voortduur maar teen die 1ste Februarie kom daar 'n wending en is hy meer wakker.

Pos op facebook 2 Februarie 2013
 
Spesiaal aan Hannes, Francois en Amor:
 
Ek lê jou by Jesus se voete neer (Juanita du Plessis)
Ek wens ek kon die pyn vir jou dra
Ek wens ek kon jou seerkry wegvat
Ek wens ek kon al jou vrae antwoord
Ek wens ek kon die wêreld vir jou gee
Maar ek is net ‘n mens en ek is magteloos
hier op my knieë is my gebed:
Ek lê jou by Jesus se voete neer
Hy ken jou vrese, jou twyfel al jou seer
Hy bring lewe en vrede in jou hart
Hy sal jou vashou,
Hy sal jou nooit verlaat nie
Hy’s altyd by jou al maak niks vir jou sin nie
Ek lê jou by Jesus se voete neer.
Dit breek my hart om jou so te sien
Ek weet dat jy dit nooit verdien
Maar vir elke traan wat jy huil, huil ek myne
En dan bring ek jou net weer tot voor die Troon
So as jy alleen en wag in die donker lê en wag
Onthou my woorde want dis Sy belofte
Ek lê jou by Jesus se voete neer
Hy ken jou vrese, jou twyfel al jou seer
Hy bring lewe en vrede in jou hart
Hy sal jou vashou,
Hy sal jou nooit verlaat nie
Hy’s altyd by jou al maak niks vir jou sin nie
Ek lê jou by Jesus se voete neer





DIE GEHEIM VAN VRA
Jy gaan die krag van GEBED ervaar soos nog nooit tevore nie, sê die Here. Onthou my Woord: Julle het nie, omdat julle nie bid nie. Want hy wat bid, ontvang. Die wat soek, vind. En wanneer jy klop, sê die Here, sal Ek vir jou die deur oopmaak. Jy ontdek opnuut die krag van vra. Vra, spreek van jou en My verhouding. Jy vra nooit van iemand wat jy nie vertrou nie.

Ek loof en prys U Here en dank U vir U genade.

...
Ek het die afgelope paar dae nie updates gegee nie, want die een oomblik het dit goed gegaan en die volgende oomblik weer die teenoorgestelde. Sedert gister (1 Feb) het daar 'n totale wending in Henru se toestand plaasgevind.

Hy het ongeveer 13:00 wakker geword na hy die vorige aand teen ± 22:30 gaan slaap het. Met groot moeite kon ons om kry om van 13:00 tot 18:00 250ml te drink. Hy was egter die heel tyd wakker tot ek soos altyd teen 18:00 sy kos gegee het, maar steeds het hy geweier om self te drink. Ek het maar kort-kort probeer dat hy drink en teen 22:15 toe drink hy die bottel sommer leeg.

Vanoggend was hy teen 05:40 wakker. Ek het sy medisyne gegee en hy het met moeite 50ml tee gedrink. Ek het vir hom oats gegee om te eet wat hy maklik geëet het. Daarna moes ek weer aan die slaap geraak het en Mariëtte (my sus) het gebel teen 10:30 en Henru was wakker en vol gesels. Ek het op die CCTV gaan kyk wat gebeur het en gesien ek het teen ongeveer 09:10 weer aan die slaap geraak en Henru was die hele tyd wakker. Ek het hom weer sy bottel gegee, die keer "Nutren Fibre" en hy het die hele bottel binne 10 minute leeg gedrink.

So is hy nog steeds wakker en giggel vir alles wat ek aan hom aandag gee.

Dankie vir almal se ondersteuning met gebede, oproepe, boodskappe en sms'e. Saam met God dra julle ons ook deur hierdie omstandighede. ♥♥♥

oooOOOooo

Sondag 3 Februarie 2013 - ek gee 06:00 Henru se medikasie en hy is so effens wakker.  Ek raak weer bietjie aan die slaap, maar die ander kinders is wakker en sien om na Henru.  09:00 word ek weer wakker en hy is steeds wakker.  hy drink sy bottel en eet sy ontbyt en is die hele dag wakkerder, alhoewel hy soms insluimer.  Hy drink sy bottel normaal en teen 16:00 gaan bad ek hom, gee later sy aandete en alles gaan net te goed.  Teen 19:00 raak hy aan die slaap en is rustig.  behalwe vir die hoesie wat hy so af en toe gee en dan soms bietjie wakker word vir 'n paar minute, slaap hy nou, 23:37 baie rustig en snork sommer.  Daar is geen geluid van slym op die bors nie en al wat ek kan sê is: Dankie Here dat U ons tot hiertoe gedra het en met al die genade geseën het en neem U ons op die pad wat ons vorentoe moet loop.  Ek val in by U plan want U het ons geken nog voordat ons gebore is en weet wat U met ons wil doen.
 
 
oooOOOooo
 
 
'Giving up does not always mean you're weak, sometimes it just means your strong enough to let go.'
 
 
 
oooOOOooo

No comments:

Post a Comment