Ek ry vanoggend werk toe en op pad lui my selfoon, maar ek antwoord dit
nooit as ek ry nie. By die polisiestasie aangekom, lyk dit of daar 'n erewag
staan en of ek die onderwerp van bespreking is en voel skoon ongemaklik. Tot
Annetjie Venter staan daar en dit is uiters vreemd. Ek klim uit my voertuig en
stap na die ingang en skielik begroet hulle my met "Geluk Majoor". My
selfoon lui weer en dis AO Oosthuizen van Hercules polisiestasie en hy wens my
ook geluk, maar ek wis van niks. Na die oproep keer ek terug na die groep en
hulle deel my mee dat daar 'n bevorderings lys is en my naam verskyn daarop.
Wow, dis ongelooflik! Na 20 jaar in een rang het ek iets iewers reg gedoen en
word uiteindelik bevorder. Dankie Liewe Jesus vir hierdie geleentheid wat U na
my kant toe gestuur het!
So verloop die dag en moet ek dokumentasie gereed kry wat ingedien moet word.
13:00 vertrek ek met 'n swaar hart skool toe om Amor te gaan haal, maar
behalwe dit neem ek haar en twee vriende na die begrafnis van 'n jong seun wie
die 13de Februarie 2013 oorlede is in 'n motorfietsongeluk en hy sou die 14de
Februarie 16 wees. Ek hou my sterk, maar ek baklei in my binneste en die
emosionele pyn wat ek ervaar kan ek vir niemand beskryf nie. Die ergste is dat
ek hierdie seun glad nie geken het nie, maar eers van hom verneem die dag toe
ek Amor gevra het of sy bewus is van die ongeluk.
Die gebou waar die diens gehou word kan nie al die mense akkommodeer nie
en ek sit saam met Koos van Staden, kollega van my en wie die ongelukstoneel
bygewoon het, maar ook vriende was met die seun, Chad, se ouers, buite. Hier en
daar kan mens iets hoor en die Skriflesing kom uit Psalm 23: Die Here is my
Herder. Die oorwinningslied word gesing saam met 'n CD. Die heel tyd maal Henru
in my gedagtes.
Amor en haar vriendin huil erg en ek troos hulle. Na die verrigtinge in
die gebou begin 'n doedelsakspeler sy lied speel en dit skeur deur Amor en
Benine en ek stort ook 'n traan of drie. Amor vra dat ons ry, hulle wil nie
graf toe gaan nie. Net daarna besluit hulle dat hulle tog gaan en ek staan by
Koos en praat en verneem Chad se pa is ook ongeveer vier jaar gelede dood in 'n
motorongeluk. Dis stukkend in my oor hierdie ma en haar jongste seun se
verliese van 'n eggenoot en seun en pa en broer. Weer maal dit in my hoe dit
sal wees die dag as ek een van my kinders aan die dood sal afstaan? Behalwe die
seer en die pyn, die feit dat daar soveel nydigheid is tussen my en hulle ma.
Maak nie saak wat ek doen of probeer nie, ek bly altyd die vark in die verhaal.
Soos gister ook weer met bewerings en beskuldigings wat rondgeslinger is op fb.
Ons ry terug
huis toe en ek maak Henru se kos reg, voer hom, gee sy bottel met sy medisyne,
doen sy fisio op sy longe en stoom hom. Hannes is saam met sy meisie Madelein
uit en Amor vra of sy na 'n vriendin kan gaan want sy het nie môre skool nie en
ek en Henru is alleen by die huis. Dit hier waar die hartseer en verlange na my
Ma my tref en ek wonder wat sy vandag sou sê of doen. Dit was haar grootste
begeerte dat ek 'n offisier moes word voor ek 30 was. Ek het die doelwit wel
bereik om my eksamens te slaag, maar kon eers my kursus in 1993 doen, maar ek
was offisier voor ek 31 was en ek sal moederlief se gesig nooit vergeet toe ek
dit op die video sien die dag met die uit passering in die Paarl, 2 Desember
1993. Die trots wat sy gehad het en die afwagting om my te sien toe ons van die
paradegrond af terug gegaan het. Dankie Ma vir dit wat Ma vir my beteken het en
vandag met hierdie bevordering dra ek dit op aan Ma daar waar Ma sit in die
hemel en ek glo ook alles weet wat hier met ons gebeur. Ek mis Ma!
No comments:
Post a Comment