Sunday, February 3, 2013

RUGOPERASIE

Weens die feit dat Henru se een kant sterker is as die ander, trek hy meer oor na die regterkant, met die gevolg dat sy hele rug verkrom het. Ons was Mei 2011 by die dokter en hy het gesê dat hy nie gaan opereer nie, aangesien Henru nog groei en die kurwe is onder beheer met behulp van ‘n stut wat hy dra. Die kurwe is slegs 40° wanneer hy die stut aan het.
Wanneer ek Henru voer, sit hy gewoonlik op my skoot en dan voer ek hom. Donderdagaand, 16 Augustus 2012, is hy baie klaerig. Ek voer hom klaar en sit hom terug op die bed. Vrydagaand is dit dieselfde en Saterdagoggend kan ek hom glad nie optel nie, dan skree hy van die pyn. Ek vermoed toe dat dit dalk iets te doen het met die heupoperasie van April 2011 en dat sy heupe dalk seer is en probeer by Dr. Pretorius ‘n afspraak kry maar hy bel my terug en sê die simptome wat ek beskryf klink meer of dit die rug kan wees en ek moet met Dr. Coetzee praat. Daar kry ek toe eers ‘n afspraak in November 2012, ten spyte van wat ek die ontvangsdame meedeel.
Die Maandag, 28 Augustus 2012 was dit die roudiens van my pa se oudste broer, Oom Henrik. My pa, sy suster en my suster het tot hier by my gery vanwaar ons saam na die roudiens is en voor hulle vertrek terug Reitz en Bethlehem toe, wou my pa se suster 'n foto neem van my en Henru. Ek het probeer om hom vir die wyle vir die neem van die foto op te tel, maar hy het dadelik begin huil. Vir die doel van die foto het ek toe maar die bed opgestel dat hy in 'n half sittende posisie kon wees sodat my tannie ten minste net 'n beter foto kon kry.
Ek bel weer Maandag die 3deSeptember 2012 Dr. Pretorius en deel die ontvangsdame mee dat dit werklik vir my 'n krisis situasie is en daar word toe gereël dat Dr. Pretorius Henru die Woensdagoggend 6 September 2012 om 07:15 sou sien omdat hy self ook 'n knieoperasie moes ondergaan en nie beskikbaar sou wees vir 'n tyd nie.
Hy kry toe niks fout by die heupe nie, maar as mens op Henru se buik druk, dan huil hy en dit is klip hard, direk onder die vel, aan die een kant van sy buik. Hy stuur ons toe vir ‘n sonar en daar word toe vasgestel dat die een nier vasgedruk word en veral as ek hom hanteer, dan druk dit ook op die nier en dit is hoekom hy so seer het. Dr. Pretorius sê toe hy sal met Dr. Coetzee skakel en my laat weet. Ek ry terug huis toe, laai Henru af en gaan terug werk toe en toe ek by die kantoor instap, bel Dr. Pretorius my en sê Dr. Coetzee wag vir ons.
Na die ondersoek sê Dr. Coetzee dat daar so gou moontlik geopereer moet word, want die kurwe het vererger van 40° na 75° en die pyn wat Henru ervaar, is soortgelyk aan nierstene en dit gaan net vererger, want die longe en hart gaan ook aangetas word. Die operasie word toe geskeduleer vir 20 September 2012 vanaf 08:15 tot 12:00.
Ek ontvang die kwotasies en merk dat om die rug te opereer, moet daar in totaal 36 skroewe en 2 stawe in Henru se rug gesit word wat dan die rug sal reguit strek en sy postuur verbeter, die rug verbeter en die borskas spasie sal verbeter.

Die aand voor die operasie.
 

06:00 op 20 September 2012 meld ons aan by die Life Faerie Glen Hospitaal en die Ortotis is die eerste persoon wie Henru kom sien. Hy gee ons sulke wit, styfpassende kouse wat ek vir Henru moet aantrek om te voorkom dat daar bloedklonte kan vorm in sy bene. 

Die volgende is die Narkotiseur en alles is reg met Henru. 08:15 kom haal hulle hom en ons is teater toe waar ek saam ingaan en hom 'n soen gee net toe hy aan die slaap raak. 

Teen 12:00 wag ek voor die teater. Na 'n rukkie kom Dr. Coetzee uit en sê dat alles goed gegaan het. Henru het nie baie bloed verloor nie en hulle is besig om hom wakker te maak. Dit raak al langer en is later amper 12:30 en hulle bring hom nie uit nie. 

Terwyl ek daar staan en wag, gaan die hysbak se deur oop en Telma en Francois stap uit. Telma gaan soek na 'n toilet en net nadat sy weg is, kom roep een van die susters my en sê ek moet 'n teater jas, hoed en skoene aantrek, hulle kry nie vir Henru wakker nie en dalk sal hy reageer op my stem. 

Ons probeer alles, maar Henru wil nie wakker word nie en hulle besluit om hom op die masjiene te koppel en ICU toe te neem.


 
 
 In ICU bly hy steeds slaap en raak nie wakker nie.
Telma bly daar tot 17:00 en hulle gaan na haar ouers op Naboomspruit.


 

Die 21ste September begin hy bietjie reageer en net na 7 die oggend word hy wakker. Telma kom weer so teen 10:30 daar aan tot 13:00 waarna hulle teruggaan Harrismith toe.



Hulle haal later die pype uit en dit gaan beter. Hy wil nie uit die bottel drink nie en eerste moet hy vloeitsowwe inneem. Hulle bring sulke waterige sop wat ek vir hom met die spuit gee. Sy suurstof tel nog nie goed genoeg op nie en net die suurstof pypie bly nog, maar die dokters is tevrede. Dan is daar ook die hemoglobien wat nie herstel nie en daar word besluit vir hom 250ml bloed te gee.



Die ortotiste het intussen sy rugstut ook kom maak met die gipsvorm en bring later die klaargemaakte stut vir hom. Toe die fisioterapeut die middag daar kom, wys sy vir ons om die stut aan te sit om hom te ondersteun en die rug in posisie te hou.



Die middag kry ek darem die eerste effense glimlag. Dit gaan verbasend goed. Daar is geen spasmas nie en mens kan sien dat hy nie seer het nie. Dit was nie naastenby die reaksie wat ek verwag het nie as mens die vorige operasies wat hy ondergaan het nie in ag neem nie.



Later die middag word hy oorgeplaas na die algemene saal waar die fisioterapeut ons ook later kom wys hoe om hom in die stoel te sit. Dit gaan ook uitstekend en hy sit sommer vir ongeveer 'n uur in die stoel en het selfs met tye aan die slaap geraak.




Die 25ste September het hulle die wond kom oop en skoonmaak en elke tweede staple uitgehaal. Daar was 62 van hulle in. Daarna is die wond weer met pleisters toegeplak.




Daar is ook X-strale geneem van my rug met die klomp ysters in. As mens die X-strale dwars draai, dan lyk dit of ek aan die wasgoeddraad hang met wasgoedpennetjies. Ek kon ook baie meer regop sit toe hulle dit geneem het in vergelyking met die eerste keer toe die X-strale geneem is.




Hier was al die dreineringspype en die kateter verwyder en het ons net gewag om huis toe te gaan.



Hier het ons net by die huis gestop. Ek het soveel beter en meer regop in die stoel in die kombi gesit en my kop kon ek ook beter regop hou.




Uiteindelik op my eie bed in die sitkamer by die huis waar ek lekker op my sy kon lê.



En weer lekker in my eie bed kon slaap by die huis die nag. Die "bergie" van my ribbetjie sal blykbaar later bietjie kleiner word.







Die 5de November 2012 gaan ons vir 'n opvolgondersoek by Dr. Coetzee. Hy is baie tevrede met sy vordering en sê dat Henru nie meer die stut langer hoef te dra nie. Nou kan hy weer bietjie sit, maar hy het nie 'n stoel waarin hy kan sit nie, want sy ou stoel is gemaak vir sy krom rug en nou is sy rug reguit en dit gaan nie werk nie. 

Henru kan selfs vir klein rukkies alleen op die bank sit sonder dat iemand of iets hom ondersteun. Ons moet Dr. Coetzee eers weer die 11deMaart 2013 gaan sien om te kyk of alles nog reg is.




Ons was ook weer die 13de November by Dr. Lippert en hy was ook tevrede. Hy het my medikasie verminder deur die Stilnox weg te vat en ook gesê dat ons die Ativan net moet gebruik as ek erge epileptiese aanvalle kry.
Die 21ste November 2012 was ons by Dr. Pretorius en hy was ook steeds tevrede met my heupe die enigste probleem wat daar nou was, was om 'n stoel te kry waarmee ek ook bietjie gemaklik kan beweeg.
Sussa (Amòr) het vir my 'n skapie gegee wat ek darem so in my arm kon vashou.



Ons is vir Kersfees 2012 na Bethlehem waar ons by Tannie Hanlie hulle gebly het vir die tyd. Francois het ook bietjie saam met ons kom kuier en hier sit ek en hy bietjie op die bank in die sitkamer.





Is ek nie te seksie nie? Lekker klaar gebad, tande geborsel en hare gekam.





2 comments:

  1. More My naam is Japie Ek is 63 En het baie goeie friende met n vroutjie gemaak Sy sit ook met die selfde probleem En is afhanklik van mense Sy is 21 En ht die ongluk gehaat toe sy 18 was Kan jy/julle my bietjie raad gee om de lewe n bietjie makliker vir haar te maak
    Baie danke

    ReplyDelete
  2. Hallo Japie,
    Ek sit hier en dink wat om vir jou te sê, maar ek het nie werklik raad wat dit vir haar makliker gaan maak nie. Al wat ek beslis weet, is goeie ondersteuning van haar mense is baie belangrik. My dogter was ook verlede jaar in 'n motoongeluk en het haar rug gebreek. Gelukkig is sy nie verlam nie, maar het ook dieselfde prosedure gehad as Henru. Die "fusion" van die rug met die skroewe en stawe. Dit is baie moeilik om sulke pasiênte te bemoedig en positief te hou. Sy het dikwels vir my gesê sy voel "useless" omdat sy nie alles kan doen wat sy voorheen gedoen het nie. Verder ook omdat sy so afhanklis is van ander om haar te help. Die grootste ding wat ek sou sê, is die aanvbaarding van dit wat is en dit wat sy nie meer kan doen nie. Berus in jou omstandighede. Jy kan niks verander aan die feit dat sy in die ongeluk was en die besering opgedoen het nie. Dit klink hard om dit te sê, maar dis die feit van die saak. Aanvaar dit en leer om daarmee saam te leef. Belangrikste van alles, vat elke dag soos dit kom - dag vir dag. Dit help niks om te "vrees" vir die dag van môre nie. Jy gaan jou siek maak daaroor en dit gaan niks help nie. Werk net daarna om deur die dag van vandag te kom en die beste daarvan te maak. En dan laaste, maar die belangrikste: Bid! Dit is die enigste manier hoe ek deur hierdie omstandighede kom. Laat elke dag in die hande van die Here. Hy sorg, of ons dit wil weet of nie, maar Hy sorg. Wanneer dit vir my op die donkerste lyk, dan kom die Here en skyn met sy lig helde op my pad en ek kan weer aangaan.
    So ja, aanvaarding, berusting, ondersteuning, geloof en vertroue is al wat mens daar deur dra.
    Baie sterkte, ek hoop dit help bietjie.

    ReplyDelete