Saturday, February 9, 2013

9 FEBRUARIE2013

Jesus is dettol om sielswonde te ontsmet, die myprodol vir die pyn en die panamor om op te staan as jy geval het. Hy is ons apteek. Kry sonder voorskrif Sy liefde, Sy genade het geen bybetaling nie en Hy is nooit uit voorraad nie! Geniet al die Jesus liefde wat Hy ons bied.

Die 7de en 8ste was maar dieselfde as die ander dae, bietjie wakker in die oggend voordat ek werk toe gaan en slaap die res van die dag, behalwe wanneer ons fisio toe gaan.  Selfs daar by die fisio terwyl sy hom so klop, raak hy aan die slaap, maar ten minste begin die bors beter klink.  Donderdag en Vrydag was dit egter vir my 'n baie vreemde verskynsel wanneer hy wakker word so in die omgeweing van 16:00 tot 16:30 en wens ek dat ek die videos wat ek op my foon geneem het hier kon laai.  Hy giggel verskriklik!  Ek het by hom geburb, toe begin hy so lag dat die are in sy nek so uitdruk en hy so rooi in die gesig raak, dan sê ek vir hom "haal asem" dan haal hy asem en lag verder.  Dit gebeur ook nie net een keer nie of net 'n paar sekondes nie, hy hou aan lag.  Wanneer ek sy kos gee en ek maak net my keel skoon of gee 'n kuggie, dan moet ek eers wa got hy klaar lag en as hy sy bottel drink, dan suig hy so rukkie en bars uit van die lag.  Dis snaaks, maar ons geniet hierdie terdeë.  Hannes het ook langs hom op die bed gaan lê en sy hand vasgehou, dan giggel hy net so, dis te wonderlik vir woorde.
 
Laas nag  (Vrydag 8 Februarie) het hy nie veel geslaap die nag nie en het baie gehoes, wat ons wil hê met die bronchitus en moes ons vanoggend 08:00 weer by die fisio wees.  Ek het eer 04:10 in die bed geklim, die wekker gestel vir 06:00 vir sy medisyne en aan die slaap geraak.

06:00 toe die wekker afgaan, was Henru wakker en het ek sy medisyne gegee en gedink ek gaan net nog so 5 minute lê, wat natuurlik altyd 'n ramp is!  Ek skrik 07:47 (volgens die wekker voor my bed wat 2 minute voor is) wakker en spring met 'n vaart uit die bed.  Henru was ook wakker.  Ek was my hare want dit wil nooit net so kam as dit nie gewas is nie.  Ek trek aan en trek vir Henru 'n broek aan oor die doek.  Gelukkig is die fisioterapeut letterlik net om die hoek van ons en toe ek voor die spreekkamer stop, toe moes ek wag dat sy nog die spreekkamer oopsluit.

Henru se longe klink baie beter en daar is nie so baie slym soos voorheen nie en sy is tevrede.  Sy sê dat as daar iets gebeur, sy is op bystand en kan ek net bel.

Ek besluit toe dat Henru nou klaar in die kombi is en ek gaan gou sy hare sny want dit is vreeslik lank, nou lyk hy weer beter.



 



Ek is baie versigtig optimisties, want toe ons by die huis kom, het ek vir hom ontbyt en 'n bottel gegee en het hy nog nie geslaap nie teen 11:30.  Ek en Amor is in die sitkamer en hy begin bietjie kla in die stoel en ek sit hom op die bed neer.  Hy slaap so vir ongeveer 5 minute en is weer wakker en volg gesels.  Ek raak so vaak dat ek nie my oë kan oophou nie en gaan lê saam met hom op die bed in die kamer teen ongeveer 13:00.  Hy maak nog geluide, maar toe rak ek aan die slaap.

Net na 15:00 kom maak die kinders my wakker want hulle is op pad na 'n partytjie en sê dat Henru so af en toe geluide gemaak het.  Ek staan op en teen ongeveer 16:00 raak Henru bietjie aan die slaap nadat ek vir hom weer 'n bottel gegee het.  Hy slaap vir ongeveer 40 minute en is nog wakker teen 17:30.  Ek gee sy medisyne, kos en bottel en hy is weer so laf tot ongeveer 20:30 waarna hy slaap tot vanoggend (Sondag 10 Februarie 2013) 06:10 toe ek wakker word en sy medisyne gee en besluit ek gee ook sommer sy ontbyt, dan kan ons nog bietjie slaap tot 08:17 toe ek wakker word van 'n sms.  Ek gee hom weer bietjie tee en hy is nou nog wakker sonder enige klagtes nie.


oooOOOooo

"  'n Seuntjie het buite gespeel en hy was besig om vir hom huisies te bou en paaie te maak sodat hy met sy karretjies daarop kon ry. In die proses was daar n baie groot rots wat in sy pad was en hy het alles probeer om die rots geskuif te kry. Hy het dit getrek, hy het dit gestoot, hy het naderhand sy fietsie... gaan haal en 'n tou daarom vasgemaak en dit so probeer wegtrek, maar alles tevergeefs. Die sweet het hom afgetap, en hy het moedeloos langs sy pa gaan sit wat onder 'n boom op 'n bank gesit het, en hierdie hele petalje aankou het. Sy pa het hom vol liefde aangekyk en vir hom gevra: "Boetman het jy nou alles probeer?" Baie verontwaardig se hy vir sy pa: "Pappa het gesien hoe hard ek gesukkel het, ek is nou so moeg en die rots beweeg nie". Sy pa het saggies oor sy koppie gestreel, en vir hom gese: "Maar jy het nog nie als probeer nie". Boetman het opgespring en gese: "Maar pappa het gesien hoe sukkel ek" En toe antwoord sy pa in n sagte stem, "Nee my seun, jy het nog nie alles probeer nie, want jy het my nog nie gevra nie". Here hoe dikwels het ons hierdie vreeslike rots in ons pad, en niks wat ons doen of se beweeg dit nie, en as ons dan op 'n hopie neersak en ons wil huil van moedeloosheid, dan vra U so saggies: " My kind, het jy my al gevra" Ons erken vandag dat ons eers in ons eie krag probeer, en as niks wil werk nie, dan gaan ons na U toe as 'n laaste poging. Here, van hierdie dag af, onderneem ek om eerste by U Voete te gaan sit, dan het ek nie nodig om my eie kragte so uit te put nie.  "

 

No comments:

Post a Comment