Friday, February 1, 2013

2012

Gedurende Februarie 2012 neem ek Henru weer na Dr. Pretorius vir die opvolgondersoek met die heupe en hy is tevrede. Ons gaan voort met die terapie en die rugstut wat hy dra.
 
Een kollega van my, Johan Zeelie, vertel kort-kort vir ons hoe hy soms die Vrydag verlof neem, dan ry hy deur wildtuin toe en spandeer nie naweek daar en kom dan weer terug.  Ons bespreek eendag weer sy gereelde besoeke aan die wildtuin en hy vertel my toe dat die SAPD-lede goedkoop akkommodasie in die Kruger Wildtuin kan geniet en gee my toe die nodige kontakbesonderhede.
 
Ek doen toe navraag en dit kos ons net R200 per nag.  Vir 10 nagte sal dit ons dus R2 000 kos en daar is slaapplek vir 8 persone.
 
Ek kontak toe ook my twee susters, Betsie en Mariëtte en hulle wil ook saamgaan met hulle kinders en so help dit ons om bietjie vakansie te kan gaan hou en bietjie weg te kom uit die huis.
 
Ons bespreek die plek van die 1ste Julie 2012 tot die 10de en moet dus die 11de Julie 2012 uit wees. Ons is almal baie opgewonde want ek was laas in 1990 in die wildtuin saam met my gewese skoonouers met die karavaan toe Hannes ongeveer 6 maande oud was en dit was vir my baie lekker.
 
Ons vertrek die oggend van die 1ste Julie vroeg die oggend hier van ons huis in Pretoria en Henru hanteer die ryery daarheen uiters goed en ons arriveer in Satara kamp ongeveer 15:30 die middag. Die volgende dag gaan ry ons die oggend rond en kom terug kamp toe en die middag gaan ons weer ry.
 
Dinsdag die 3de Julie 2012 tref die ongeluk vir Henru. Terwyl ek besig is om sy toonnaels te knip, vervat ek sy voet om die volgende toonnael te knip. Hy is baie sensitief onder sy voete en met die wat ek vervat, ruk hy sy been weg en soos sy been gestut was teen my sy, voel ek iets klap en die volgende oomblik begin hy huil.
 
Ek probeer vasstel wat aangaan en beweeg die heupe versigtig, maar kan niks voel nie. Hy raak effens rustig en toe ek aan sy knie vat, begin hy weer huil. Ek merk toe dat daar 'n effense swelling bokant die knie is en weet: sy been het weer gebreek.
 
Ek bel Dr. Pretorius se spreekkamer om te hoor wat ek kan doen en hy beveel aan dat ek na Nelspruit hospitaal sal gaan waar 'n ortopeed ons kan help. Ek probeer Henru in sy stoel in die kombi sit, maar hy kan dit nie hanteer nie en ek besluit dat ek nou geen ander keuse het as om hom op die sitplek te laat lê nie.
 
Ons maak vir hom bed op die sitplek en ek en Hannes vertrek met hom na Nelspruit. Op pad uit reël ons by die kantoor dat ons kan ry en hulle gee ons toestemming om waar die pad dit toelaat, die spoedbeperking te oorskry en so gaan ons van Satara na die Orpen hek. Waar die pad reguit en die veld oop is dat mens kan sien, ry ek teen ongeveer 80km/h, maar waar dit bietjie meer ruig is, ry ek stadiger want ek is bang daar kom 'n dier uit die veld die pad binne. Dit voel soos 'n ewigheid voordat ons die Orpen hek bereik en daarvandaan nog 'n ewigheid tot by Nelspruit MediClinic.
 
As ek geweet het die diens daar sou so pateties wees, het ek werklik eerder Pretoria toe gery. Ons arriveer ongeveer 12:15 by die hospitaal en gaan na ongevalle waar ons wag dat iemand ons kom sien. Eers moet al die vorms voltooi word en toe die medies die magtiging gee dat dit in orde is, kom daar uiteindelik 'n dokter wie na Henru kyk.
 
Sy verwys ons vir X-strale en na ongeveer 'n uur en 'n half kom hulle met die X-strale en bevestig dat die been gebreek het: weer direk bokant die knie. Interessant was om te sien hoe die vorige breek se merk verskuif het en dit nou ongeveer in die middel van die bobeen is soos die been gegroei het.
 
 
Die dokter deel ons mee dat dit gelukkig 'n "skoon" breek is en dat die ortopeed ons sal kom sien om die verdere behandeling te bespreek. Ek deel haar mee dat Dr. Pretorius wag vir die ortopeed om hom te skakel en versoek haar om Dr. Pretorius se telefoon nommer aan die ortopeed te verskaf. Sy weier om dit te doen en wil nie eers dat ek die nommer vir haar gee om die ortopeed Dr. Pretorius te laat skakel nie, sy volstaan daarby dat ek kan wag tot die ortopeed Henru sal kom sien. My “refs” begin al klaar in die rooi hardloop! Ek bel vir Dr. Pretorius en hy sê dat hy die dokter ken en met hom sal skakel.
 
 
Teen ongeveer 15:30 kom die ortopeed daar aan en deel ons mee dat hy Henru gaan opneem vir die nag en die ortotis sal hom dan die volgende oggend kom sien. Die been kan nie met skroewe geheg word nie, aangesien dit so dun en bros is en skroewe gaan die been net weer laat breek waar die skroef ingeplaas is.
 
 
Hy gee vir Henru 'n voorskrif vir Panado-stroop vir die nag. Ek soebat hom om te help en deel hom mee dat ons met vakansie is in die wildtuin en dat ons graag sal wil terug gaan, maar hy is net so ongevoelig en sê dat Hannes maar in 'n gastehuis of iets kan gaan slaap, maar ek gaan in elk geval saam met Henru in die saal slaap omdat ek hom ken en die personeel hom nie sal kan versorg nie.
 
 
Hulle neem Henru na die saal, maar ek kook behoorlik! Die saalsuster kom later om en ek vertel haar dat ek bitter ongelukkig is oor die situasie en dring daarop aan om met die ortotis te praat. Hy is nog meer ongevoelig en deel my mee dat hy Henru die volgende oggend enige tyd van 09:00 sal sien en dan sal besluit wat hy gaan doen. Ek versoek hom ook om te help weens die feit van die vakansie, maar hy is onwrikbaar. Ek vra of ons nie 'n vaste tyd kan bepaal nie en hy deel my ewe ongevoelig toe "enige tyd van 09:00 tot 16:00".
 
 
Die volgende oggend is die ortopeed teen 08:00 daar en deel my mee dat hulle Henru sedasie medikasie gaan kom gee en dan sal die ortotis hom sien.
 
 
Teen 09:00 kom haal hulle Henru en die ortotis sit 'n spalk aan soos ek nog nooit in my lewe gesien het nie. Dis so vel plastiek of iets wat hy in warm water sit en om Henru se been vorm met so hoek van ongeveer 90º. Hy maak eers die deel van die bo-been en dan die onderbeen en las die twee dan aan mekaar en plak "velcro" daaraan vas. Dan trek hy so kous soos kaasdoek oor die been aan en sit die spalk oor. Dit alles duur ongeveer 15 minute en daarna sê hy net dat ons die res van die vakansie moet geniet.

Net na die ortopeed die spalk aangesit het
en Henru nog onder sedasie was.

 
Ek laai Henru in die kombi en gaan terug wildtuin toe.
 
 
In die wildtuin is dit ongemaklik om met Henru rond te ry en iemand moet maar altyd agterbly as ek uitgaan om na hom om te sien. Ons gaan die week so deur en kyk of dit nie beter word nie, maar dit gebeur nie en ons kom die Sondag 8 Julie terug huis toe.
 
 
Ons volgende afspraak was alreeds gemaak by Dr Pretorius vir die 25ste Julie en dus hoef ek nie weer 'n afspraak te maak vir die verwydering van die spalk nie.
 
 
Die middag van 19 Julie 2012 toe ek by die huis kom, sê Roselinah vir my dat Henru nie lekker is nie en klaerig is. Ek probeer kyk of ek iets sien en skuif die gespalkte been rond totdat dit in 'n posisie is waar dit lyk of Henru tevrede is.

 
Ek gaan maak kos, maar hy bly klaerig. nadat ek sy kos gegee het, probeer ek steeds vasstel wat hom ongelukkig maak en sien aan die onderkant van die spalk dat die kous daar 'n vou in het en dink toe dat die vou hom dalk kan druk.

 
Ek probeer die vou plat vryf deur my vinger onder die spalk in te druk en toe ek so vryf, voel ek dit is nat onder die spalk. Ek en Amor was alleen by die huis en ek vra haar toe om te kom help dat ek die spalk kan afhaal sodat ek kan sien wat daar onder aangaan. Ek is in 'n toestand van skok toe die spalk af is, want onder die spalk het die kous letterlik gemuf!


Ek bel weer vir Dr Pretorius en hy sê dat hy ongelukkig met verlof is in die Natalse kus iewers, maar beveel aan dat ek eerder met Henru na Unitas ongevalle moet gaan dat hulle daarna kan kyk. Hy vra my of ek die kous onder die spalk elke dag vervang het, aangesien die spalk geen ventilasie het nie en die ortotis veronderstel was om aan my genoeg kouse te gee sodat ek dit kon vervang en was.

 
Tot my ontsteltenis is dit die eerste woord wat ek hiervan verneem en is Dr Pretorius net so geskok toe hy dit verneem. Hy vertel my dat ek veronderstel was om elke dag die spalk af te haal, 'n ander kous aan te trek en dan die spalk weer terug te sit.  Die ortotis in Nelspruit het dit nooit aan my vertel nie en ook nie aan my kouse gegee nie. Die gevolg was dat die been gesweet het onder die spalk en dit het veroorsaak dat daar 'n swam gevorm is en nou lyk die been so.


 
 


Ek bel vir Dirk en vra hom om te kom help dat ons Henru by die hospitaal kan kry en weereens, soos by al die hospitale, wag ons 'n ewigheid.
 
 
Ons was ongeveer 21:00 daar by die hospitaal en het eers na 01:00 by die huis gekom. Die personeel was egter baie behulpsaam en vriendelik.  Hulle het die aangetaste deel baie mooi skoon gemaak en bedek met gaas en ek weet nie wat alles nie en gesê ons moes na 3dae weer na die suster gaan dat hulle die "dressing" kan verander en weer skoonmaak.
 
 
Toe dit tyd is vir die skoonmaak, gaan ek na die apteek naby my huis en die apteker, Herman en die suster help my gratis om Henru se aangetaste been skoon te maak en 'n ander dressing op te sit.
 
 
Die 25ste Julie gaan ons na Dr. Pretorius en hy help om die dressing weer te verander, neem X-strale van die heupe en die been en is tevrede dat die heupe nog reg is en die wond op die ander been goed genees. Met die bestudering van die X-strale sê hy weer hoe maklik die bene kan breek om dat dit so dun en bros is.
 
 
Ons gaan weer die 27ste apteek toe en Herman meng 'n salf wat ons elke dag moet aansmeer en die wond genees verbasend goed en vinnig.




 

No comments:

Post a Comment