Tuesday, February 12, 2013

12 FEBRUARIE 2013

Henru was gistermiddag (11/02/2013) na 16:00 toe ek by die huis kom so aan en af wakker en slaap.  Soos altyd 18:00 kry hy medikasie, eet en drink sy bottel sonder enige moeilikheid.  Teen 19:00 slaap hy en is weer so teen 21:30 wakker.

Ek doen werk en klim so teen 01:00 vanoggend in die bed.  Hy is vol lag en gesels.  Ek maak sy doek droog, draai hom bietjie op sy sy en speel 'n game op my telefoon.  Hy raak so teen 01:50 aan die slaap en ek gaan slaap ook.

Hy slaap nog teen 05:50 en ek kry sy medikasie reg en probeer dit vir hom te gee met die bottel, maar hy weier volstrek om sy mond oop te maak.  Hy pers letterlik sy lippe teen mekaar een ek besluit die enigste uitweg is die spuit.  Hy weier ook om sy mond oop te maak met die spuit.  Omdat dit 'n spuit is vir medikasie wat saam met die Convulex verpak is en 'n plat punt het, kan ek dit tussen sy lippe inkry en so teen sy tande skuif na agter waar ek die medisyne bietjie vir bietjie inspuit.  Hy wil ook nie sluk nie en maak sulke gorrel geluide met die medisyne in sy keel.  Ek stimuleer sy keel deur drukbewegings uit te oefen onder sy ken en teen sy keel af en dan sluk hy.  Teen 06:40 het ek alles uiteindelik ingekry en gaan stort.

Toe ek terugkom in die kamer, slaap hy.  Ek trek aan en maak klaar en vat hom sitkamer toe waar hy steeds slaap.  Dit lyk of hy woedend is vir my omdat ek die medisyne vir hom gegee het.  Hy wil nie eers bietjie "smile" vir my nie.  Ek soen hom op sy ken en hy begin darem bietjie meer lewe toon totdat ek darem so effense laggie kry toe ek hom groet en ek is werk toe teen 07:10.

Tebogo hou boek van die dag se gebeure sodat ek kan antwoord as die dokter vrae vra.  Haar aantekeninge vandag was:
Oefen (fisio) van 07:30 tot 08:15.
08:25 - oats geëet
08:35 - hy wou nie die bootel drink nie en hy was vas aan die slaap tot 10:30
10:35 - hy het 250ml rooibostee gedrink en slaap weer.
12:45 - hy was nog aan die slaap, maar het 250ml sojamelk gedrink en hy slaap nog
(Ek het Amor van die skool af huis toe gebring en hy het geslaap toe ek by die huis was.  Ek het hom probeer wakker maak, maar hy dop net sy oë so om en slaap verder en ek is ongeveer 14:30 hier weg terug werk toe)
14:35 - hy het geslaap tot 15:45, maar het 225ml tee gedrink.

Ek was 16:07 by die huis en hy het geslaap.  Ek het hom geklop vir sy longe en hy het goed gehoes, was wakker en het selfs gelag toe ek hom geklop het.  Ek het die ozone-masjie aangesit en hom gesmeer met "essential oils" kan nou nie die naam onthou nie en hy het lekker baie slym uitgespoeg so met die hoes en klop.

Ek het vir hom groente met mince en rys gegee en hy het baie goed geëet.  Hy het weer so aan die slaap geraak en ek het sy antibiotika met sy Urbanol en Lyrica gegee so tussen die kos deur op die teelepel en die Convulex met die spuit en dit was BAIE beter as vanoggend.  Hy het geslaap en ek het TV gekyk, maar het aan die slaap geraak voor die TV.  EK het teen 19:40 wakker geword en hy het nog geslaap.  EK het hom probeer wakker maak en sy bottel Nutren Fibre gegee.  Hy het baie stadig gedrink, maar het gemaklik gedrink en die bottel leeg gemaak sondder om te "sukkel", maar het ook so slaperig gedrink.

Ek het hom kamer toe gevat en hy het nie eers wakker geword soos ek hom gedra en op die bed neergelê het nie.  Ek het werk gedoen en nou is dit 22:25 en hy slaap steeds.  Vandag was die meeste wat hy nog geslaap het sedert die 20ste Januarie 2013 toe die slapery begin het en hy is ook nie baie geselserig vandag met die rukkies wat hy wakker is soos ander dae nie.

Dit begin my opstres, want ek raak "bang" en weet nie wat om meer te doen nie.  Behalwe dit, voel dit of ek Hannes en Amor afskeep en voel ek skuldig daaroor en ek kan nie alles met hulle bespreek nie, want dan beïnvloed dit hulle ook weer.  Dis 'n baie moeilike situasie vir my om in te wees en dan is daar nog die werk ook wat daar onder ly en kan ek nie alles doen wat ek wil en moet doen nie en dan is daar ook nog die mense wie nie wil saamwerk nie en ag, sommer net alles raak bietjie erg vir my....

Psalm 91:15: “Hy sal my aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.” 


Ek weet van elke TRAAN wat jy stort, se die Here. Jou HARTSEER en PYN ken Ek. Ek weet van elke TELEURSTELLING wat jy ervaar. Van elke VERWERPING. Ek weet van elke keer wat jy KWAAD was vir JOUSELF..en ook soms vir MY. Moenie BEKOMMER nie. Dit het My nie ONTSTEL nie, want Ek VERSTAAN jou soos niemand anders nie. Ek het jou ontsettend LIEF, ongeag die goed en sleg, JESUS.(Lillian Aucamp).

No comments:

Post a Comment