Sunday, February 3, 2013

DIE HERE SORG

My verlof was ook net tot die 4de Januarie 2013 en moes ek die 7de Januarie 2013 weer diens hervat.  Waar gaan soek en kry mens nou iemand om Henru op te pas en te versorg soos wat Roselinah dit gedoen het?  Al die plekke is toe en ek moet wag tot die 2de Januarie 2013 voordat ek kan begin bel.  Intussen maak ek telefoonnommer bymekaar.

Ek kry 'n klomp telefoonnommers van instansies wat sulke versorgers beskikbaar stel, maar kan nie geholpe raak nie.  Almal se pryse is onbekostigbaar duur.

My tannie, Jeanette van der Watt, wie ook hier in Pretoria woon, laat weet my van iemand wie haar ma opgepas het voordat sy oorlede is en ek kontak die vrou, Tebogo.  Sy is in Soshanguwe en kan kom vir 'n onderhoud op Vrydag 4 Januarie 2013.  Sy bel my die oggend en laat weet dat sy nie die omgewing ken nie en of ek haar nie kan gaan haal by die KFC in Ruimteweg nie en ek maak so.

By die huis wys ek haar wat ddie omstandighede is en wat ek van haar verwag en wat sy moet doen en indien sy die werk sou aanvaar, dan word sy op 'n drie maande proef tydperk aangestel sodat ek kan sien waartoe sy in staat is en of sy kan aanpas met Henru.  Behalwe dit, het sy ook nog opleiding in versorging van pasiënte spesifiek met was en voeding, maar omdat Henru se voeding meer intensief is, sal ek haar eers moet leer wat om te doen.  Henru is ook baie sensitief met sy bottel en as die hoek waarmee die tiet in sy mond gesit word nie reg is nie, dan drink hy nie.

Sy sê dat sy die werk aanvaar en Maandag 7 Januarie 2013 meld sy aan vir diens.  Ek het gereël dat ek nog 'n week se verlof sal neem om haar te monitor en te leer met die versorging van Henru.

Die fisioterapeut, Michelle Meintjies, kom die Dinsdagoggend en is tevrede met haar.  Tebogo snap vinnig en verstaan goed wat om te doen met die strekoefeninge van Henru.  Met die voeding gaan dit goed en sy draai hom gereëld om en weet ook van die voorkoming van druksere, dus smeer sy hom dikwels in met handeroom en is ek tevrede sodat ek die 14de Januarie kan teruggaan werk toe.

So is een versorger weggeneem en is 'n nuwe een spoedig in haar plek gekry en dit kan ek alleen aan die genade van die Here toeskryf.  So sorg Hy vir ons en hoef ons nie te bekommer oor die dag van môre nie.

No comments:

Post a Comment