Sunday, February 3, 2013

ONS SOEK 'n STOEL

Ons het redelik ver en wyd gesoek vir 'n geskikte stoel om Henru mee te kon hanteer aangesien sy ou stoel glad nie geskik was om hom mee te hanteer nie.  Ek het sommer met 'n mes die stukke wat daar was vir die rug in die ou stoel uitgesny, maar ek kon nie die sitplek aanpas nie.  Omdat die sitplek diep was om Henru te ondersteun, het die plate wat nog in beide sy heupe is, teen die kante vasgedruk en dit het hom seer gemaak.

Ek het op die internet gaan soek en met ortotiste gepraat, maar die stoele vir gestremdes soos Henru is ontsaglik duur.  Ek het tot een kwotasie gekry van R70 000!

Ek het toe Henru se "girlfriend" Lyn Bowker gekontak en sy het my verwys na Gagik Hakopian vir 'n stoel.  Ek het die Vrydag middag hier by die huis gesit en gebel en hulle het 'n stoel beskikbaar gehad.  Gelukkig is dit nie ver nie (Rivonia) en ons het sommer daarheen gery om te gaan kyk want ek moes seker maak die stoel is reg en die moeite werd.

Gagik het ons gesien en die stoel gemeet en gepas en alles verduidelik.  Ons was by hom vir meer as 'n uur en hy het geen kostes vir ons gevra nie.  Die stoel was baie goed en het baie voordele, maar die prys was steeds R44 885.  Dit nadat hy ons 5% afslag gegee het.  Lyn het ook vir my gesê toe ek met haar gepraat het, dat sy Ashley se stoel vir ongeveer R40 000 gekoop het maar dit was 'n jaar of twee gelede.
 
"Ñ Skulpie suig aan ñ hoé rots vas in die see, waar storms & bruisende golwe oor hom slaan. As dit rustig word & die see trek terug, dan sit hy steeds vas aan die rots... So sal ons ook wees, as ons aan DIE HOOGSTE ROTS vashou! Geen lewens-storms sal ons va HOM losslaan nie!"
 
Omdat daar nie fondse beskikbaar was nie, het ons begin met 'n fondsinsamelingsveldtog.  Dirk du Plooy het vir my gehelp om 'n ondersteuningsgroep op facebook te maak en Guillaume Rood, 'n oud kollega op Frankfort, het per e-pos mense genader om fondse in te samel.  Een van my ou skoolmaats, Dawid Momberg, het ons matriekklas uitgedaag om elkeen R100 by te dra en so het ons met almal wie bygedra het, die bedrag van R52 300 ingesamel en kon ek die stoel aankoop.  Ek gaan nie name noem hier van die skenkers nie, want daar is skenkers wie wel hulle besonderhede verstrek het, maar gevra het dat hulle annoniem wil bly oor hulle bydraes, derhalwe respekteer ek dit, maar nogmaals dankie aan elkeen se bydrae. dit maak die lewe vir my en Henru baie makliker.  Nie net vir ons nie, maar ook vir Hannes, Francois en Amòr, want nou hoef ons nie meer elke naweek by die huis te sit nie.  Ons kan ook bietjie uitkom en al is dit nie na 'n spesifieke plek nie, ons kan darem in die middae bietjie gaan stap ook net om bietjie uit die huis te kan kom, selfs al kan ons net in die stoel onder die boom sit.



Susan Mare van die Vrystaat Koerant in Bethlehem het ook 'n e-pos onderhoud met my gevoer en daardeur het nog mense geld vir Henru beskikbaar gestel.

 

Baie dankie aan elkeen wie 'n bydrae gemaak het.  Sonder julle sou ons nou nog nie die stoel gehad het nie.

No comments:

Post a Comment