Monday, January 21, 2013

SCOTSON THERAPY

14 Maart 2005
Ek het verneem van hierdie terapie en het besluit om dit te probeer. Soos ek voorheen gesê het, ek probeer alles - elke moontlike ding wat ek kan - om dit vir Henru beter te maak. Werk dit, is dit goed, werk dit nie, dan het ek ten minste probeer. Dit het R4000 gekos om die kursus vir die week te gaan doen en dan nog die vervoer elke dag heen en weer. Roselinah het ook saamgegaan sodat sy kon leer en Ilze van die skool het haar dogtertjie ook saamgeneem. Hulle het Henru evalueer en gesê dit kan werk.
Die vrou Linda Scotson, kom van Engeland af wie dit aanbied en het self dit op haar gestremde seun gedoen en met welslae volgens haar dit gebruik. Die kind is beter as wat hy was. Dit gaan oor asemhaling en stimulasie van die diafragma.
Ons het die hele week die kursus bygewoon en die tegniek geleer en begin om dit op Henru toe te pas. Soos en wanneer ek kans gekry het, het ek dit self gedoen en Roselinah en Ilze het dit elke dag by die skool gedoen, maar daar was nie 'n verbetering wat ek kon waarneem nie.
Ons het dit volgehou tot die einde van die jaar en daarna het ek besluit om dit te staak aangesien daar niks gebeur nie. Ek kon absoluut geen verskil hoegenaamd agterkom nie. Ek kraak dit nie af nie, want daar is kinders wat voordeel getrek het en wie beter geword het, dit het net nie vir Henru gewerk nie.
http://www.scotsontechnique.com/intro.php What is it? When Linda Scotson's son, Doran was three days old she was told he was incurably brain injured and would be able to do nothing. She decided differently!
After exploring every hopeful avenue, Doran seemed little better. Linda saw that existing therapies relied on managing a child to use alternative muscles not the restoration of the right muscles. As children grew, this poor foundation caused increasing stress and collapsed under them. She began to believe that the answer lay in a principal that also applied to normal development and she set about the adventure of finding that answer!
Modern medicine often sees the answer in some chemical fix for the symptoms. Linda knew that she wanted to deal with the actual cause at a more natural level. As a loving mother with total understanding of the problem, she had a unique qualification before she even began her studies at University College, London.
Every brain -injured child Linda met had a problem breathing so Linda decided to focus her PhD research on the respiratory system. Her work showed that all neurological problems led to deep respiratory problems.
Moreover, without normal respiratory mechanics, metabolic recovery in the brain was impossible. Linda's extensive research and dedication led to the development of The Scotson Technique which, without the use of drugs or invasive therapy, proved the abnormalities associated with brain injury could potentially be reversed. Recovery was possible.
The real miracle of this carefully measured progress was that it was predictable and worked with ALL children. The unique, gentle, deeply restorative therapy, gradually transformed the lives of the children and their families.
Thanks to Linda's passion and determination to find a better way of living for her son and others like him, the Advance institute for The Scotson Technique has now helped families worldwide and can help you Advance your child.
 

2005

10 Januarie 2005 was ons na Dr. Zorio by Sunninghill Hospitaal se spreekkamers waar hy Henru se shunt ondersoek het. Hy was baie tevrede met Henru se toestand en het my gekomplimenteer en gesê dat die wyse waarop Henru versorg word, kan Henru my nog oorleef en dalk nog 60 jaar oud word.  Dit het my laat terugdink aan die tyd toe Telma by die gesinsadvokaat gesê het sy is bekommerd en glo nie ek doen Henru se oefeninge nie. 
Ek moes die aand werk en het Henru se matras saamgevat werk toe en sy bed daar gemaak waar hy rustig geslaap het terwyl ek gewerk het en ons was omtrent 00:30 11 Januarie 2005 by die huis.
24 Januarie 2005 gaan ons na Correana van Velze, 'n arbeidsterapeut wie spesialiseer in hande en sy maak vir Henru nuwe handspalkies wat die gewrigte beter ondersteun en die duime oop hou. Dit werk baie beter as al die ander spalkies wat ons nog gebruik het.
26 Januarie 2005 gaan ons weer na Dr. Lippert vir EEG en opvolgkonsultasie. Die EEG wys dat daar steeds verbetering is en word Henru se medikasie verminder.  Na drie maande moet ek dit weer verminder en dan weer drie maande later gaan vir opvolg ondersoeke. Omdat hy sedasie ontvang vir die EEG, kan hy nie gaan perdry of fisio toe gaan nie en moes ek albei afsprake kanselleer. Hy het eers teen 17:30 wakker geword, iets gedrink en toe weer geslaap.
27 Januarie 2005 weer na Dr. Marè en hy is ook tevrede met die heupe en sê ons moet maar net aangaan met die fisio en perde terapie.
28 Januarie 2005 gaan na Jaco by Deist en van der Spuy ortotiste waar hulle Henru meet en pas om vir hom 'n stoel te maak wat aan hom meer ondersteuning te gee.
29 Januarie 2005: Ek het verneem van 'n vrou, Ilze Schlebush, wie ook 'n gestremde dogtertjie het en wie die kinders by haar huis versorg en stimulasie gee, maar Roselinah moet saamgaan. Sy gee ook opleiding aan die versorgers. Sy het ons uitgenooi om 'n bekendstellingsgeleentheid by te woon by 'n teetuin in Valhalla en is ons daarheen. Dit was lekker om die mense te ontmoet en elkeen met hulle unieke omstandighede te leer ken.
31 Januarie 2005 het Henru begin om "skool" toe te gaan toe ek hom na Ilze se groepie geneem het. Die middag toe ek hulle gaan haal het na werk, het Roselinah gesê dat hulle baie goed doen en speel en dat dit lyk of Henru dit geniet.
1 Februarie 2005 weer na Correana van Velze vir die aanpassing van Henru se spalkies en sy is tevrede met dit wat alreeds bereik is in die rukkie.
24 Februarie 2005 is ons na die begrafnis van Oom Tjol Nel wie Henru se "staan bed" gemaak het.
Ek het nie hier meer soveel en streng dagboek gehou oor wat gebeur nie, want elke dag het ons maar hanteer soos dit kom.  Dit is hier waar ek geleer het om te leef soos wat daar in die Bybel staan dat ons elke dag moet leef asof dit die laaste is, want wie weet of ons môre nog daar gaan wees?  As mens jou bekommer oor iets en dit gebeur nie, dan het jy jou verniet bekommer, so bekommer jou van dag tot dag oor elke dag se unieke omstandighede.
 

Sunday, January 20, 2013

DIE RES VAN 2004

Daar gebeur nie veel verder nie en vat maar net elke dag soos dit kom en gaan.  
Met Henru gaan dit elke dag beter en ons hervat die perde en fisio terapie. Alhoewel dit aanvanklik weer styf en stram gaan, raak dit weer beter en gaan ons soos normaal aan. 
Ons was Kersfees by Betsie-hulle op Newcastle en dit was lekker om saam met die familie te wees. Al wat baie sleg was, was die feit dat daar 'n swembad is en die ander kinders baljaar het en arme Henru moes maar of in sy stoel sit of op die matras lê.  
Dit maak my soms bitter en kwaad en hartseer en ek weet nie wat alles nie, want mens kan nie met hom in die koue water ingaan nie. Ek het dit al probeer, maar hy gaan dan in totale spasma in. Nie eers kan hy met sy voete in die water sit nie.  
Oujaar het ek by Dirk en Engela gekuier en het eers ongeveer 04:00 huis toe gekom.
 

'n GROTER HUIS

Met ons trek hier na Pretoria het ek 'n ou klein huisie gekry. Alhoewel dit 'n 3-slaapkamer huis was, kon ek een van die hangkaste nie eers in die een kamer kry nie en het dit in die sitkamer gestaan. Ek het net 'n ses maande kontrak geteken met die oog om te soek na 'n groter huis.
So gaan ek maar elke Donderdag as die "Rekord" koerant afgelewer word deur die advertensies en kyk ook elke moontlike boek wat ek kan kry vir huise, maar ek kry nie een wat in my prysklas val wat ek kan bekostig nie.  
Drie weke voor my kontrak verval, is daar 'n advertensie. Ek bel en die vrou, Sanette Bester, sê dat daar reeds iemand is wie ook belangstel, maar ek is welkom om te gaan kyk hoe lyk die huis.  
Die huis is perfek vir my en Henru. Dis ook drie slaapkamers, maar die kamers is groter. Daar is twee badkamers en die een het 'n stort, maar die beste van alles is die oopplan sit- en eetkamer met die kombuis. Daar sal voldoende spasie wees om Henru se bed in die sitkamer te sit en die erf is nie te groot om in stand te hou nie.  
Ek onderhandel met Sanette en Sarel en hulle sê hulle sal my laat weet wat hulle besluit.   
Ek onderhandel ook met die eienaar van die huis waar ek toe bly en hy is nie snaaks nie omdat ek nie 'n volle maand kan kennis gee nie.   Alles werk toe ook baie goed uit en dit is waar ek sê dit is nie toeval nie, maar die Here wat help en ek kry toe ook binne die volgende week iemand wie kan intrek sodra ek uittrek en dus is die eienaar nog meer tevrede.  
1 November 2004 trek ek na die nuwe huis en dit is 1000 keer beter as die vorige waar mens uit die huis moes gaan om jou gedagtes te verander en so bly ons nog steeds hier!
 

BILATERALE ADDUKTORE

Tydens die terapie sessies by Bridget hanteer ons die situasie soos en wanneer dit opduik. Sy versoek my om Henru te neem vir 'n ondersoek deur 'n ortopeed te gaan sien oor Henru se heupe want dit voel nie vir haar reg nie. Behalwe dit, ook nog die feit dat hy na regs oortrek en dit sy rug se groei beïnvloed. Na bespreking en navrae en ook die feit dat Dr. Marè alreeds Botox gedoen het en hy ook baie met gestremde kinders van Nuwe Hoop Skool vir Gestremdes werk, besluit ons dat hy die aangewese ortopeed sal wees en gaan sien ons hom op 27 Augustus 2004. Sy bevinding is dat Henru se heupe wel besig is om te ontwrig, maar dit kan voorkom word deur die "bilaterale adduktore" te verleng wat dan kan help.
Volgens wat aan my verduidelik is, word die spiere in die lieste verleng wat dan verhoed dat die bene te veel stremming op die heupe het en verder voorkom dat die heup ontwrig en die bobeen se kop uit die potjie glip. In hierdie gevalle maak mens so staat op die dokter en glo en vertrou jy dat hy die beste sal weet omdat hy met soveel gevalle werk of gewerk het, maar steeds moet jy die finale besluit neem. Omdat dit vir my klink of dit reg is en nadat ek met Christa en Bridget hieroor gesels het, beveel hulle ook aan dat dit gedoen moet word en word daar gereël dat die operasie die 31ste Augustus 2004 gedoen sal word in die Eugene Marais hospitaal. Die inligting wat aan my gegee is, was as volg:
Why does my child need this surgery?
These muscles often become tight due to spasticity, and require releasing. There are three major indications for these releases: Tight adductors cause an imbalance in the ball and socket joint that we call the "hip". The result of this imbalance is a subluxation and eventual dislocation of the hip. This is the process of the "ball" moving out of the "socket." It typically occurs between the ages of 3 and 6, although it may occur at any time. It is extremely beneficial to deal with this subluxation before the hip fully dislocates, since this muscle surgery is far preferable to the bony surgery necessary when the hip is dislocated. The second indication for this surgery is to help a child who is walking or trying to walk and having trouble with "scissoring." This occurs when the legs cannot be spread apart and constantly cross over each other. This problem sometimes resolves without surgery. However, when it persists, and impedes walking, most commonly between the ages of 5-10. The third indication for this surgery is to improve the ability to provide perineal care by lengthening the muscles so that the legs can be spread apart. These tight muscles can make it very difficult for toileting and hygiene care.
What are the possible complications associated with this surgery?
Infections can occur. However, they are usually minor and do not delay recovery. Additional complications involve the over release of these muscles, which causes the legs to be contracted in a spread-open position. This is detrimental for children who are walkers in that it produces a wide based gait. Even in children who are sitters, it is cosmetically unappealing. A combination of over-correction on one side and under correction of the other can cause a “ windswept ‘ appearance. This deformity can occur without medical intervention as well. Every effort is made during surgery to lengthen these muscles so that these complications do not occur.

 















Toe Henru uit die teater kom is hy nog slaperig. Albei sy bene is in gips soos 'n "A". Die gips is aan elke been omtrent 5cm van die lieste af, dus is dit nie soos 'n "spika" waar die heupe ook toe is nie en sal dit nie te erg wees om die doeke aan te sit en te ruil nie.
Soos hy wakker word, begin dit vir my al erger word. Alhoewel hulle vir hom pynstillers gee, is dit absolute hel om hom so te beleef. Hy raak aan die slaap en net as mens dink dat hy slaap, lyk dit of hy skrik en ruk sy bene en hy gaan aan die huil. Asof dit nie genoeg is nie - en dit is my ondervinding in elke hospitaal wat ek al gewonder het of die personeel opleiding ondergaan om soveel geraas te maak as moontlik - is daar kort-kort die een of ander geraas wat hom laat skrik en dan is dit weer van vooraf. Ek kan nie wag dat die drie dae moet omgaan dat ons huis toe kan gaan nie.
2 September 2004 gaan ons huis toe, maar dit gaan uiters moeilik. Ek besluit die beste oplossing gaan wees om 'n hospitaalbed te koop waarop hy kan lê en kry 'n tweedehandse een vir R10 000 wat die verskaffer by my huis kom aflaai. Ek slaap soos en wanneer Henru slaap in die sitkamer op die bank want die bed kan nie in die kamer pas nie. Stelselmatig gaan dit beter.
22 September 2004 gaan haal ek die kinders in Harrismith vir die vakansie en Amor gaan saam met my toe ons die gips laat afhaal die 23ste September 2004.
12 Oktober 2004 met ons opvolg by Dr Maré, is hy nie tevrede met die bene nie en word Henru weer opgeneem om hom in traksie te sit.




Om kostes te spaar vra ek die dokter na die 2de dag dat ons kan huis toe gaan en ek huur die traksie toerusting by 'n ortopediese plek daar naby en ons is die 15de Oktober 2004 huis toe. Weer slaap ek maar op die bank in die sitkamer om naby Henru te wees.


 .

DERDEPARTY EIS

8 Junie 2004 kom die saak in die Hooggeregshof hier in Pretoria voor.

Ek wil hier probeer om mense met toekomstige soortgelyke omstandighede adviseer om baie mooi te dink voordat 'n skikking aangegaan word.  Ons, wie betrokke is in hierdie omstandighede, het nie ‘'n idee van wat op ons wag in die toekoms nie.

Omdat ek daagliks met Henru gewerk het en gesien het dat daar “nie veel anders is” as 'n kind wat 'n baba bly, alhoewel hy groter word en ook omdat ek my absoluut op die advies van die regsgeleerdes verlaat het, het ek op aanbeveling van die Advokaat geskik na 'n aanvanklike eis van R11,8 miljoen op R2 250 000 met 'n onderneming dat die Padongelukkefonds Henru se toekomstige mediese behandeling sal betaal.

Nadat die Prokureurs hulle 25% gevat het vir die werk gedoen en die rekeninge wat POLMED moes betaal het terug betaal is, kry Henru se boedel R937 000 kontant wat vir die res van sy lewe sy "cash flow" sal wees om onkostes te betaal en dan terug te eis vanaf die RAF (POF) soos Henru behandeling nodig het.

Alle rekeninge moet dus eers deur die kurator bonis vereffen word en die gespesifiseerde rekeninge met 'n motivering vir die uitgawe moet dan aan die POF gelewer word en betaal hulle dan terug soos en wanneer dit hulle pas.

My skikkingsakte vir die egskeiding bepaal dat die geld in 'n trust geplaas moet word en deur 'n kurator bonis geadministreer moet word.  Ek het dit ook juis so laat opstel weens die feit dat ek en Telma gedurigdeur in konflik met mekaar is en dat ek nie toekomstige verwyte wou hê vandat ek Henru se fondse misbruik nie.  Ek het dus geen toegang tot Henru se fondse nie en alles word deur die kurator bonis hanteer.  Alle rekeninge word aan hulle verskaf, hulle doen die betalings en eis terug van die POF.

Karen Vermaak, wie die derdeparty eis hanteer het, het my laat weet dat Telma “agteraf” en sonder my medewete probeer om 'n prokureur in Bloemfontein aan te stel en dit terwyl Henru in my sorg geplaas is deur die hof soos deur my en haar ooreengekom.

Karen beveel toe aan dat ons Lionel Karp moet gaan sien wie die diens vir ons kan verrig. Hy was op daardie stadium aangewys as die beste finansiële adviseur in Suid-Afrika, maar Telma wil nie toestemming hiervoor gee nie.  Seker net om steeds op die een of ander manier beheer te probeer uitoefen.

Karen verwys my toe na Constant Wilsnach.  Ons versoek Telma vir die nodige toestemming waarna sy in gebreke bly om te reageer op ons versoek.  Op grond van haar stilswye gaan ons toe voort om hom aan te stel.

Constant reël met my vir 'n onderhoud sodat ons die werkswyse vorentoe gaan bespreek want POLMED het my kennis gegee dat geen mediese kostes ten opsigte van Henru wat ongeluks verwant is, verder deur hulle betaal sal word nie.

Met my afspraak op 17 Junie 2004 wys Constant aan my 'n faks wat Telma gestuur het waar sy navraag doen wat van Henru se geld gaan word sou hy te sterwe kom en haar voorstel is dat dit tussen die drie ander kinders gelykop verdeel sal word. Ek kon my oë nie glo nie!  Die gedagte het nog nooit by my opgekom daaroor nie want hier probeer ek alles in my vermoë doen om Henru se goed en gemaklik as moontlik te maak, en sy wonder al oor die geld sou hy sterf! Miskien redeneer ek verkeerd, maar werklik, ek het nie woorde om iets daaroor hier te sê nie.

So administreer Constant en Desiree steeds Henru se fondse.  Ons het al so hier en daar bietjie koppe gestamp, maar ek het geen probleme as sodanig met hulle administrasie nie.

26 November 2012 het Constant vir my onder andere die volgende geskryf na aanleiding van die feit dat ons nie meer fondse beskikbaar gehad het om vir Henru 'n nuwe rolstoel te koop nadat hy die rugoperasie ondergaan het op 20 September 2012.  Feitlik/in werklikheid beteken dit dus dat daar nie meet kontantvloei is in Henru se rekening nie en in die toekoms gaan dit dus beteken dat ek alle kostes self sal moet betaal waarna ek dit aan die POF sal gee en hulle sal besluit of hulle dit gaan betaal al dan nie.  Dis hoekom ek sê mense moet baie mooi navorsing gaan doen voordat enige skikkings bereik word.

Henru se uitgawes raak elke jaar meer en meer soos hy groei en daar altyd nuwe komplikasies intree soos hy ouer en groter word en wat mens nie besef het toe hy so klein was nie.  Kom ons neem net tietie bottels as ‘'n eenvoudige voorbeeld.  Sy heel eerste bottel wat ek in Milpark Hospitaal gekoop het, was 'n NUK en het R30 gekos.  Vandag kos hierdie bottels al R130 en net die tiete beloop R60 vir twee.  Doeke het met R90 per boks gestyg van Februarie 2012 na Maart 2012 van R 780 vir 112 doeke (8 pakke met 14 doeke) na R 870 vir dieselfde doeke.

Hy gebruik ook Nutren Fibre melk formule en dit het gestyg vanaf R429 na R672 vir 5 blikke per maand.  Dit is R243 per maand meer.  Dus op doeke en melk kos dit my R333 per maand meer en dan praat ons nie van die ander uitgawes nie.

Constant se brief bevat onder andere die volgende:  

“Ek het die e-posse tussen jou en Desiree dopgehou.  Die situasie is nou dat ons ‘n punt bereik het waar ons nie meer kontant in die boedel het tot tyd en wyl ons ‘n uitbetaling van die Padongelukkefonds ontvang nie.

Jy sal weet hoe moeilik dit is en hoe lank dit tipies neem.

Ons verdere probleem is dat daar maandeliks ook gewone administrasiekoste in die boedel is wat nie veel is nie, maar dit is daar.

Ons kan dus nie behulpsaam wees om die stoel te koop nie.  Dit kan ook wees dat ons binnekort ‘n borgakte moet betaal en sal ons ook daarvoor voorsiening moet maak.

Dit is ‘n uiters ongemaklike situasie wanneer mens by ‘n punt kom waar daar nie meer geld is nie, maar is dit ongelukkig iets wat ons sal moet aanvaar.

Ons beweeg ook nader aan die punt waar daar geen fondse meer oor gaan wees in die kuratele boedel nie. 

Die gevolg daarvan gaan wees dat jy die Onderneming, wat tans deur ons geadministreer word, self sal moet administreer. 

Indien ons die Padongelukkefonds uitbetaling egter spoedig kry kan dit darem nog ‘n rukkie duur. 

Ek deel solank hierdie inligting in totaliteit met jou mee sodat jy bewus is daarvan, maar ek is seker jy is reeds.

BEGRIP VAN SAPD

Ons het intussen ook deur middel van Christa Kritzinger vir Bridget Herselman ontmoet wie ook 'n NDT Terapeut is om ons te help met Henru se terapie sodat ons nie meer nodig het om Klerksdorp toe te ry nie.
Ons het ons afsprake toe so aangepas dat dit Woensdae sal plaasvind van 13:30 tot 14:00 by die perde en van 15:30 tot 16:30 by Bridget vir fisio.
Superintendent Britz was toe my bevelvoerder en het gesê dat dit in orde is dat ek van 12:30 op Woensdae van diens kan gaan om Henru te neem, aangesien ek Henru moet gaan oplaai en dan die 22km uitry na Diepsloot.
As ons daar klaar is, dan ry ons terug huis toe waar ons Roselinah oplaai om dan 15:30 by Bridget te wees wat nog 25km na Fairy Glenn toe is - albei heeltemal teenoorgestelde rigtings. Dit gee 94km elke Woensdag vir terapie waar dit ongeveer 750km was een ker per maand Klerksdorp toe. Ons spaar darem so 300km per maand op die ryery.
So was daar na Superintendent Brits Senior Superintendent Palahd, van Rooyen, Kleynhans, Kolonel Masia, Ramangwa, Mokgonyana en op die huidige stadium Luitenant Kolonel Dladla. Almal van hierdie bevelvoerders het hulle begrip getoon teenoor my en Henru se omstandighede en het van hulle kant uit hul pad gegaan om te help hier in Pretoria. Elke keer met die terapie het hulle gehelp dat ek vroeër van diens kon gaan, alhoewel ek daagliks Maandag, Dinsdag, Donderdag en Vrydag my etenstye ingewerk het hiervoor.
Met elke operasie wat Henru ondergaan het, het hulle ook begrip gehad en ons bygestaan. Daarom moet ek aan hulle erkenning geen en ook baie dankie sê daarvoor. Meer nog is my personeel van my afdeling met hulle begrip en ondersteuning. Ons kom nou al 8 jaar saam, maar julle begrip en ondersteuning beteken ontsettend baie. Dankie Natie en Annetjie vir alles wat julle doen wanneer ek nie by die kantoor is nie en die wyse waarop julle my ondersteun.

PERDE TERAPIE (EQUINE THERAPY)

2 Mei 2004 het Marina van Aswegen my vertel van Alice Muller, wie ook 'n gestremde kind, Jani, het wie sy neem vir perde terapie en hulle vind dat daar positiewe reaksie is.   Ek maak kontak met Alice en sy neem my saam om te gaan uitvind of dit vir Henru gedoen kan word en dat ek self kan sien wat dit behels.
Dit is by "Sumbashaba Equine Therapy" sentrum in Mnandi, "Shillelagh Farm", Diepsloot en so ongeveer 22km van my huis af.  Die terapeut is Sharon Boyce en sy het ook sielkunde studeer asook arbeidsterapie en fisioterapie.
Ons kry plek vir Woensdag-middae vanaf 13:30 tot 14:00 en kan die 5de Mei 2004 daarmee begin.
Daar is besliste verbetering met Henru en sy hande kan al beter oopmaak na die eerste sessie.
Sharon ry saam met hom op die perd wat deur 'n persoon gelei word in die sirkel en so op die perd se rug doen sy terapie met hom. Henru se kop beheer word ook reeds beter soos ons aangaan en sy spastisiteit in die bene verbeter ook. Sy doen rek en strek oefeninge en laat hom aan die perd vat. Die perd se naam is Suzie, 'n swart merrie en Sharon sê sy werk toe alreeds ongeveer 8 jaar met Suzie en die gestremde kinders. Dis een van haar beste perde.
Elke keer as Henru gaan vir terapie en hulle het klaar gery, moet hy vir Suzie dankie sê deur vir haar iets te gee om te eet soos 'n appel of 'n wortel. Sharon het ook vir my gesê dit maak die kinders baie moeg om so op die perde te ry en toe ons huis toe ry, het hy binne 5 minute aan die slaap geraak.
Ons het volgehou met hierdie terapie tot Henru se eerste heupoperasie waarna die dokter gesê het dit is nie gewens om dit te doen nie omrede Henru se bene baie bros is en maklik kan breek as hy net op 'n verkeerde manier geposisioneer is.
Behalwe dit, was die kostes daaraan verbonde nie meer vir ons haalbaar nie en het ons dit gestaak.  Daar was ook nie meer noemenswaardige veranderinge te bespeur nie.
 

PRETORIA TOE

Sedert die dag van die ongeluk op 23 Februarie 2001 tot 19 Maart 2004 het ek en Henru 37 000 km gery na dokters, hospitale en fisioterapeute toe. Weens hierdie feit het ek besluit om 'n verplasing te vra na Pretoria en kry toe die pos van die Hoof: Voorsienings Lynbestuur: Wierdabrug in Valhalla.
Dit was vir my 'n uiters moeilike besluit om te neem weens die feit dat ek die ander drie kinders, Hannes, Francois en Amòr, nie meer so dikwels sal kan sien nie want ek kan nie elke tweede naweek Harrismith toe ry om hulle te gaan haal en weer terug te neem nie, dan gaan ek in elk geval steeds baie op die pad wees.  Verder ook die feit dat Henru groter word en sy hantering raak moeiliker.
Behalwe hierdie ryery, is die enigste ander oorweging van die verplasing die feit dat ons naby die dokters is wie hom behandel en dit vinniger gaan wees om hulp te kry indien daar 'n krisis sou wees. Daar is ook nie sodanige terapeute beskikbaar in Harrismith en Bethlehem nie en so word ons trek gelaai en ry ons 22 April 2004 na Pretoria, ons nuwe tuiste.

 

OUERS
Deur Lillian Aucamp op Dinsdag 27 Desember 2011 om 16:53
 
Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. – Joh. 3:35

LIEFDE word op so baie maniere oorgedra. Daar is egter geen liefde so mooi en onvoorwaardelik soos die van ‘n ouer vir sy kind nie. En so het ons hemelse Vader ons ook lief – onvoorwaardelik, te alle tye en onder alle omstandighede.

Hy staan ons by, inspireer ons, voorsien ons van die nodige insig en kennis en help ons om vanuit Sy liefde, lig en krag binne-in ons ‘n sukses van ons lewens te maak.

Kom ons lê ons dan nou daarop toe om vandag, en sommer elke dag van nou af aan, aan andere die soort liefde te gee wat God ons gee. As nuwe ouers, of as ouers vir wie die tyd aangebreek het om hul kinders op hul eie voete te laat staan, kan ons ‘n atmosfeer van liefde en inspirasie skep wat hul aanmoedig om te groei en verder te ontvou.

Kinders herinner ons aan die dinge wat mooi en goed is. Laat ons dan hierdie inherente skoonheid van kinders aanwakker en laat uitblom, want hulle is die grootmense van die toekoms.

En wanneer ouers uitgesluit word uit hul kinders se lewens en verworpe voel, kan hulle nog altyd aan hul liefde betoon deur vir hulle te bid en op te dra aan God. Al versmaai hulle vandag u ouerliefde, sal hulle eendag wel verlang daarna en dit soek – daarvoor sorg ons eie Hemelvader – al is dit ook eers eendag wanneer hulle in presies dieselfde bootjie is as wat u nou is. As God klein alledaagse gebede wat u bid verhoor, hoeveel te meer sal Hy u vurige en aanhoudende gebede as Ouers verhoor!

 

NOG BOTOX

Die Botox behandeling moes herhaal word, maar hierdie keer wou ek dit nie weer doen soos laas nie want ek het nie kans gesien dat Henru weer so seer kry nie. Ek het met Dr Smuts by die Wilgers Hospitaal gepraat, maar hy wou dit nie anders doen as laas (so in die stoel in die spreekkamer nie) en het my na Dr Colyn verwys sodat hulle dit onder narkose kon doen.
Met ons besoek het Dr Colyn gesê dit help nie dat hy die Botox doen en hy opereer nie die heupe nie, want die heupe is besig om te ontwrig. Dit het my gevoel of hy my in 'n rigting forseer en ek was nie gemaklik daarmee nie. Ek het met Christa Kritzinger gepraat en sy het aanbeveel dat ek moet wag. Dit is een van die probleme wat gebeur en ons moes eers kyk wat ons kan doen om die heupe te probeer fikseer anders as met 'n operasie. 'n Operasie in Henru se geval is die laaste uitweg.
Sy het my na Estelle Brown verwys in Johannesburg wie ook 'n NDT terapeut is en sy het ook ander apparaat wat mens vir Henru kan gebruik. Haar voorstel was ook soos die van Christa, dat ons 'n operasie as die laaste uitweg sal gebruik. Daar was nie sodanige ontwrigting nie en as ons Henru in die "postbox" kan laat staan vir meer gewig op die heupe, kan dit dalk iets doen.

Die "POST BOX"


 
Dit is 'n hout kassie met 'n deur wat mens agter oopmaak. Binne in is die met spons uitgevoer om die hout bietjie sagter te maak. Henru word dan in die kassie staan gemaak en ondersteun met die spalkies sodat hy in die kas kan staan. Die deur word toegemaak agter sy rug en met knippies vasgeknip om dit toe te hou en dan staan hy so vir ongeveer 20-30minute. Daarna roteer ons hom na sy bed dat hy bietjie kan rus, dan na sy rolstoel, na die "staan bed" en weer na sy bed toe, "post box" toe, stoel, staan en so gaan ons die hele dag deur en nog met terapie tussen in ook.


Die probleem met die "post box" was egter dat hy vooroor gaan lê op die tafel. As mens egter op die tafel klop, dan strek hy regop, maar dan gaan lê hy weer op die blad. So kan mens hom dus nie net in die "post box" plaas en aangaan met iets anders nie, ons hou aan klop om te help om dan ook die rug en nekspiere te oefen en terselfdertyd dra hy dan ook gewig op die heupe.


 

 

Christa en Estelle het albei steeds die Botox aanbeveel omdat daar sukses is daarmee. Dit word in die spier ingespuit wat basies die sterk spier is. Dit het dan die gevolg dat die sterk spier bietjie "ontspan" vir ongeveer 3 maande en dan kan mens die swak spier oefen. Soos by die bo-arm byvoorbeeld sal mens dit in die biseps spuit om die triseps te oefen. 
Na 'n groot gesukkel en motiveringsbriewe en R10 000 verder, kon ons die Botox doen. 
Christa het my verwys na Dr. Marè by Eugene Marais Hospitaal waar hy dit toe gedoen het onder narkose op 19 Maart 2004. 
Ten spyte daarvan dat dit onder narkose gedoen is, huil Henru hartverskeurend toe hy uit die teater kom.

Ons gaan huis toe en elke dag is daar tog 'n baie effense beterskap en kan mens agterkom dat die spiere tog bietjie ontspan en die spasmas bietjie verlig