Monday, January 21, 2013

2005

10 Januarie 2005 was ons na Dr. Zorio by Sunninghill Hospitaal se spreekkamers waar hy Henru se shunt ondersoek het. Hy was baie tevrede met Henru se toestand en het my gekomplimenteer en gesê dat die wyse waarop Henru versorg word, kan Henru my nog oorleef en dalk nog 60 jaar oud word.  Dit het my laat terugdink aan die tyd toe Telma by die gesinsadvokaat gesê het sy is bekommerd en glo nie ek doen Henru se oefeninge nie. 
Ek moes die aand werk en het Henru se matras saamgevat werk toe en sy bed daar gemaak waar hy rustig geslaap het terwyl ek gewerk het en ons was omtrent 00:30 11 Januarie 2005 by die huis.
24 Januarie 2005 gaan ons na Correana van Velze, 'n arbeidsterapeut wie spesialiseer in hande en sy maak vir Henru nuwe handspalkies wat die gewrigte beter ondersteun en die duime oop hou. Dit werk baie beter as al die ander spalkies wat ons nog gebruik het.
26 Januarie 2005 gaan ons weer na Dr. Lippert vir EEG en opvolgkonsultasie. Die EEG wys dat daar steeds verbetering is en word Henru se medikasie verminder.  Na drie maande moet ek dit weer verminder en dan weer drie maande later gaan vir opvolg ondersoeke. Omdat hy sedasie ontvang vir die EEG, kan hy nie gaan perdry of fisio toe gaan nie en moes ek albei afsprake kanselleer. Hy het eers teen 17:30 wakker geword, iets gedrink en toe weer geslaap.
27 Januarie 2005 weer na Dr. Marè en hy is ook tevrede met die heupe en sê ons moet maar net aangaan met die fisio en perde terapie.
28 Januarie 2005 gaan na Jaco by Deist en van der Spuy ortotiste waar hulle Henru meet en pas om vir hom 'n stoel te maak wat aan hom meer ondersteuning te gee.
29 Januarie 2005: Ek het verneem van 'n vrou, Ilze Schlebush, wie ook 'n gestremde dogtertjie het en wie die kinders by haar huis versorg en stimulasie gee, maar Roselinah moet saamgaan. Sy gee ook opleiding aan die versorgers. Sy het ons uitgenooi om 'n bekendstellingsgeleentheid by te woon by 'n teetuin in Valhalla en is ons daarheen. Dit was lekker om die mense te ontmoet en elkeen met hulle unieke omstandighede te leer ken.
31 Januarie 2005 het Henru begin om "skool" toe te gaan toe ek hom na Ilze se groepie geneem het. Die middag toe ek hulle gaan haal het na werk, het Roselinah gesê dat hulle baie goed doen en speel en dat dit lyk of Henru dit geniet.
1 Februarie 2005 weer na Correana van Velze vir die aanpassing van Henru se spalkies en sy is tevrede met dit wat alreeds bereik is in die rukkie.
24 Februarie 2005 is ons na die begrafnis van Oom Tjol Nel wie Henru se "staan bed" gemaak het.
Ek het nie hier meer soveel en streng dagboek gehou oor wat gebeur nie, want elke dag het ons maar hanteer soos dit kom.  Dit is hier waar ek geleer het om te leef soos wat daar in die Bybel staan dat ons elke dag moet leef asof dit die laaste is, want wie weet of ons môre nog daar gaan wees?  As mens jou bekommer oor iets en dit gebeur nie, dan het jy jou verniet bekommer, so bekommer jou van dag tot dag oor elke dag se unieke omstandighede.
 

No comments:

Post a Comment