Ek ry van die toneel af weg en my gedagtes is 'n warboel van emosies van woede, haat, hartseer, bekommernis, verwyte en ek weet nie wat alles nie. Toe ek by die kerk verbyry, sien ek Ds. Sherrer en ek stop vinnig by hom en vertel hom wat aangaan.
Ek ry huis toe en laai die bagasie van Telma af. Ek besluit om die kinders se bagasie saam te neem omdat ek nie weet wat gaan gebeur en wat die omstandighede gaan wees nie.
Terwyl ek besig is, stop Kolonel Maree (my bevelvoerder) en sy vrou buite en kom praat my moed in. Ek neem vir myself ook 'n paar kledingstukke saam en vertrek Bethlehem toe.
By MediClinic laat hulle my toe om die ander kinders te sien. Amòr se sleutelbeen is gebreek, maar geen ander beserings is waargeneem nie. Die seuns is ook oraait, hulle het geen beserings nie. Amòr sal die nag vir waarneming in die hospitaal moet bly, maar daar is geen gevaar nie. Daarna sal hulle na my suster, Hanlie, toe gaan op die plaas tot ek verdere besluite kan neem.
Op pad om uit die hospitaal te stap om te gaan hoor van Henru, keer hulle my voor by ontvangs en wil weet van Telma se behandeling aangesien ek haar van my medies afgehaal het toe sy uit die huis is. As sy nie medies het nie, moet sy provinsiale hospitaal toe gaan. Haar broer is ook daar en ek sê dat dit nie aan my saak maak nie, sy kan maar provinsiale hospitaal toe gaan of haar ouers kan vir haar betaal.
Ongelukkig is ek 'n "sucker" en ken die ontvangsdame. Sy huil later letterlik dat ek dit moet oorweeg om haar te help want Telma het baie seergekry en sy het hulp dringend nodig. Ek bel toe my medies en hulle sê dat hulle dit onmiddellik kan regstel en gee magtiging vir Telma se behandeling.
No comments:
Post a Comment