20 Augustus 2003 was ons weer vir opvolg by Dr. Zorio
en Dr. Shah en Henru se medikasie is weer aangepas omdat hy darem so bietjie
gewig opgetel het.
21 Augustus 2003 het Oupa Hannes ons verras en
gehelp om vir Henru 'n kombi te koop. Dit was meer betroubaar as die een wat ek
gery het en dit was geriefliker om met Henru daarin te ry as Ouma Hannetjie se
BMW en Oupa se "double cab" Ford. Ek kon sy kar stoel beter vasmaak op die
voorste sitplek omdat hierdie kombi ook veiligheidsgordels gehad het waar die
ander een van die ouer modelle was wat nog nie toegerus was met
veiligheidsgordels nie en ek van ander “ratchet straps” gebruik gemaak het om
die kar stoel stewig op die sitplek vas te kon maak.
28 Augustus 2003 was ons weer by Christa en sy het
aanbeveel dat ons Botox-behandeling moes probeer vir die hande en sy was
bietjie bekommerd oor die heupe en het gevra ek moes ook laat X-strale daarvan
neem. Die Botox help om die “sterker”
spier te laat ontspan sodat die swakker spier geoefen en versterk kan word.
Die 29ste Augustus 2003 het ek die X-strale laat
neem op Bethlehem en daar het Henru sy eerste erge epileptiese aanval gehad. Ek
moes hom mond-tot-mond asemhaling gee om hom by te kry. Hier was ek ook so kwaad vir die radioloog,
want Henru het opgegooi en skuimbolle by sy mond uitgestaan en sy het haar nie
eers verwerdig om my te kom help om hom te hanteer daar nie. Ek het die gemors net so vir haar gelos om
skoon te maak en was bitter teleurgesteld daarin dat sy nie eers probeer help
nie.
Die X-strale het aangedui dat daar effense
ontwrigting in die heupe plaasvind, maar die verslag het gesê dat dit nie
kommerwekkend is nie en met behandeling hanteer kan word deur oefeninge. Christa het toe aanbeveel dat Henru meer in
die “staan bed” moes staan. Die
ontwrigting of “subleksasie” word toegeskryf aan die feit dat Henru nie
normaalweg loop of staan nie en ontwikkel die heupe in die potjies nie soos dit
“veronderstel” is om te ontwikkel nie.
Ek laat die 30ste weer sy bloed toets en
die toksiese vlakke is weer hoog. Ek bel Dr. Zorio en hy wil weer 'n brein scan
laat doen. Ons ry deur Johannesburg toe en 18:00 die aand is die scans gedoen.
Weer steeds dieselfde en sonder enige verbetering nie - die vergrote ventrikels
met die vog en bloeding wat steeds waargeneem kan word met die drukking wat ook
steeds daar is, ten spyte daarvan dat die shunt se pompie daagliks gepomp word.
Hy word die 1ste September 2003 weer uit
Milpark Hospitaal ontslaan en moet ek sy bloed 2 keer per week laat toets vir
die toksiese vlakke. Elke keer word die
bloed in die nek getrek en lyk hy naderhand soos 'n dwelmverslaafde van al die kere
wat die bloed getrek word.
16 Oktober 2003 lui my telefoon ongeveer 14:00 en
dis Roselinah. Sy is baie benoud en sê daar
is fout met Henru. Ek jaag huis toe. Hy lyk op die oog af goed maar mens kan
sien daar is fout. Sy oë lyk verwilderd en dit flikker. Ek ruil sy doek om en
die volgende trek hy krom na die regterkant. Hy haal nie asem nie en begin blou
word in die gesig. Ek kap hom met die vuis op die bors soos hulle my in die
hospitaal gewys het. Hy snak na sy asem, maar net so een teug en haal weer nie
asem nie. Ek pas mond-tot-mond asemhaling toe en ek kry hom weer by en dis wat
vir my eintlik verstommend is van Henru. Na hierdie gebeure smile hy, so asof
hy wil sê ek het jou lekker laat skrik, ne? en hy raak aan die slaap.
Ek gaan weer terug werk toe en ongeveer 15:10 bel Roselinah
my weer. Henru het weer dieselfde episode. Dit herhaal teen 15:30, 15:57 en
16:17 en daarna slaap hy. Ek neem hom 17:00 na Dr Döhne toe om die bloed te
laat trek. Dr. Döhne ek moet Henru net monitor en alles in my vermoë doen dat
hy nie in 'n koma gaan nie.
Terug by die huis gee ek hom purity om te eet en hy
raak aan die slaap.
19:04 het hy weer so episode. Teen 20:10 slaap hy rustig tot 20:21 toe hy wakker
word en weer 'n aanval het. Hierdie laaste aanval is egter die waaraan ek teen
die tyd al gewoond is en hy raak weer na 'n ruk aan die slaap.
No comments:
Post a Comment