Thursday, January 24, 2013

DIE HEUP EN DIE BREEK

Met ons opvolgkonsultasie by Dr Pretorius, verduidelik hy my hoe Henru se heup besig is om te ontwrig want weens die feit dat hy nie gewig op sy bene dra nie, ontwikkel die heup-potjie nie en is die bobeen (femur) besig om reguit verby die heuppotjie te groei. Hy sal moet opereer en net onder die femurkop 'n stukkie van die been moet uitsny om die been te buig om in die potjie te pas en dan sal hy vir die heuppotjie 'n dak moet bou om die potjie te vorm en die femurkop in posisie te hou en dan ook skroewe, plate en penne in die heup sit om die been dan in posisie te hou. 19 September 2006 08:15 lê Henru in die teater van Jakaranda Hospitaal se ontvangs en wag dat die dokters hom moet kom haal vir die operasie van 6 en 'n half uur. Dr Pretorius kom vertel my wat gedoen gaan word en stel sy narkotiseur en assistent aan my voor.



Ek voel vreeslik sleg - so asof ek 'n lam ter slagting lei! Ses ure later kom roep hulle my om na die wakkermaak kamer te gaan en met Henru te praat. Hy kerm so bietjie, maar het nog die pyp in die keel. Hy herstel goed en kry net koud, maar word toe saal toe geneem. Die nag slaap hy nog goed met die medikasie en seker nog die narkose, maar vroeg die oggend begin hy kla en huil. Hulle gee sy medikasie en die proses van die adduktore operasie herhaal homself. Hy kry spasmas en kort-kort wat hy so ruk beweging gee asof hy seerkry net asof dit lyk en mens dink hy ontspan. Dan slaap hy ‘'n rukkie en die hele proses herhaal homself die hele tyd/deurentyd.Slaap 'n rukkie, ruk en huil.

 
Hy wil nie sy bottel drink nie en wil nie eet nie. Ek kry weer die spuite bymekaar en gee hom weer so kos en drinkgoed. Ek gaan koop goed vir sy keel as dit dalk is dat sy keel nog seer is na die operasie, maar dit werk ook nie. Die spasmas en huil raak net erger. Behalwe dit, is ons nog in 'n kamer waar nog drie ander kinders is wie ook die een of ander operasie gehad het en ek raak ongemaklik, want die kinders kla dat hulle nie kan slaap met Henru nie.



Ek het weereens die ondervinding van die personeel wat ek steeds dink hulle word opleiding gegee om soveel geraas as moontlik in die hospitaal te maak. Die een wie die saal skoonmaak blyk ook opleiding te gekry het van hoe om teen die bed en alles in die kamer te stamp met die besem in plaas daarvan om die bed weg te skuif as sy skoonmaak.
 
 
 
Die nagte is hel soos Henru huil, medikasie ten spyte en die ander pasiënte se ouers kan nie slaap nie. Ek voel sleg maar hulle verseker my dat daar niks gedoen kan word nie en hulle het begrip vir die situasie.
 
Na die fisioterapeut vir my gewys het wat om te doen en na die 4de dag in die hospitaal vra ek die dokter om huis toe te gaan, want ek moet in elk geval alles doen vir Henru en ek moet nog betaal ook daarvoor.  Daar is nie veel hulp van die verpleegpersoneel nie, behalwe dat hulle die observasies kom doen.  Die ergste met hierdie observasies is die feit dat hulle dit kom doen net sodra Henru slaap en dan is hy wakker daarna.
Hy wys my wat om te doen en met betrekking tot die higiëne as sy maag gewerk het en hoe om Henru te dra en ons gaan huis toe gewapen met Lioresal om die spasmas te hanteer. 
So hanteer ons maar (soos altyd) elke dag soos dit kom. Die maag werk en dis 'n probleem om die spika (gips) skoon te hou. Ek praat met een van die ander kinders se ouers en sy beveel vir my sanitêre doeke aan vir gestremde dames. Ek kry van dit by Smartmed hier in Pretoria en die probleem is opgelos. 
Die fisioterapeut in die hospitaal het my ook gewys hoe om Henru op sy sy te laat lê, maar o weë! Die tweede dag wat hy op sy sy lê, loop die piepie in die been met die kort gips aan regdeur tot by die knie uit op die bed. Ek bel Dr. Pretorius en hy sê ek moet net 'n waaier op die spika sit en nie bekommerd wees nie, maar ek kan nie anders nie, want die been met die kort gips is ook geopereer om die spier aan die kant van die been te verleng en nou gaan daardie wond mos nat word van die piepie en wat as dit nou septies word?  So hoop en bid ek maar net dat daar nie probleme sal wees nie en vertrou die dokter in die opsig want dit is nie sy eerste operasie nie en glo hy sal beter weet as wat ek doen dit.  





.
  Dit gaan heel goed, maar steeds weier hy om te eet en te drink en hou ons maar vol met die spuite om te sorg dat hy genoeg eet en vloeistof inneem. Na die 4de week begin hy darem weer die bottel vat om te drink.

Die spika word die 18de Oktober afgehaal. Groot was my verbasing toe die spika afgehaal word dat daar geen reuk hoegenaamd is wat aandui dat Henru die ding natgemaak het nie. Die ergste was egter om die wonde te beleef. Die arme kind was behoorlik opgekerf
 
 












 
Ons begin weer met fisio by Bridgette Herselman, maar dis maar moeilik om te ry daarheen, want die spasmas is weer erg noudat die spika af is en ons gebruik weer die Lioresal wat ons later stelselmatig speen totdat hy einde Desember daarvan af is en weer "normaal" funksioneer.


 


 

 
Asof hierdie nie genoeg is nie!
Ongeveer 11:30 op 18 Julie 2007 bel Roselinah my en sê dat daar iets fout is met Henru. Hy het 'n epileptiese aanval gehad en in spasma gegaan en toe net begin skree. Ek jaag huis toe en stel ondersoek in en voel 'n effense knop aan die linkerbeen net bokant die knie en daar is so fyn rooi strepie so oor hierdie swelling. As ek aan die been beweeg, dan skreeu hy. Ek maak die sitplekke in die Caddy plat en maak vir hom bed dat hy daar kan lê. Ek dra hom kar toe en hy skreeu steeds. Toe ek hom neerlê en hy gemaklik is, toe hou hy op met huil.
Ongeveer 12:00 is ons by ongevalle by Unitas. Hulle neem X-strale en kom sê my dat die been gebreek het net bokant die knie. Dit moes gebeur het toe hy in spasma gegaan het. Hulle gee hom Panado-stroop en hy word na die saal gestuur. So sit ek by hom en probeer hom rustig hou. Hy huil van die pyn, dan bring hulle vir hom Panado-stroop, maar niks help nie. Ek verstaan ten volle dat Henru nie die enigste pasiënt is nie en dat daar ook ander gevalle is, maar elke keer as ek vra wie en waar die dokter is wie hom moet sien, dan sê hulle net dat hy op pad is.  Ek kon later darem vasstel dat die ortopeed op 'n gereedheidsgrondslag 'n dokter Zondagh is.
Ek bel later Dr. Pretorius se spreekkamer, maar hy is nie in Pretoria nie.
Teen 18:00 kan ek dit net nie meer verdra nie en bel Dr. Lippert om te hoor of hy nie van 'n ander dokter weet wie kan help nie. Hy sê hy sal kyk wat hy kan doen en op daardie oomblik stap die Ortopeed (Dr. Zondag) die saal in en ek en hy is sommer dadelik aan mekaar en vertel ek hom presies hoe ek voel want toe is ek al lekker opgewerk!
Hy kyk na die X-strale en sê hy sal die been onder narkose moet spalk want dit is 'n slegte breek. Hulle kom haal Henru 19:30 en 21:00 kom hy uit die teater. Die dokter hou ons daar vir die nag, maar dit is hel toe Henru wakker word. Hy skreeu as mens aan die been raak en al wat hulle hom gee vir pyn is Panado- stroop. Dit laat hom so bietjie slaap, maar as hy wakker word, huil hy. Weer is dit dieselfde storie van vooraf waar hy weier om te eet of te drink en ons stryd begin weer van vooraf met spuite.
Die middag toe die dokter sy rondtes kom doen sê ek hom dat ek wil huis toe gaan. Soos in al die gevalle waar Henru gehospitaliseer is, is die ondervinding van personeel wie raas ongelooflik. Ek het dit al hoeveel keer gesê dat ek dink verpleegpersoneel word opleiding gegee om die maksimum geraas te maak in 'n hospitaal en elke keer as daar iets gebeur, skrik Henru en ruk sy lyf en begin hy huil.  Daarom wil ek net so vinnig moontlik uit die hospitaal wil gaan waar ek in die rustigheid en stilte van die huis kan wees om Henru rustig en kalm te hou.
So gaan ons toe huis toe en die naweek is dit hel!  Ek kan net nie die been in 'n posisie kry dat Henru gemaklik is nie. Die 20ste Julie 2007 kan ek nie meer nie en neem hom weer na Unitas ongevalle waar ons weer 'n leeftyd wag voordat hulle ons kom help en intussen skreeu hy.  Kort-kort loer iemand agter die gordyn in en vra of hulle kan help waarop ek maar net antwoord dat ons wag vir die dokter wat Henru moet sien.
Die dokter neem weer X-strale en sê dit moet maar net die ongemak wees van die gips. Ek kry so gly in die dokter en sê hom dat al is hy die laaste dokter, hy sal my en Henru nie weer sien nie.
So gaan ons die naweek deur en Maandag kry ek 'n afspraak by Dr. Pattterson wie altyd vir Dr. Pretorius assisteer met die heup operasies. Hy help my om die gips gemaklik te maak vir Henru. Hy verduidelik vir my iets van termiese gips wat hitte veroorsaak en dit is vir Henru bietjie erg. Ek moet ook by die huis 'n waaier op die been sit dan sal dit beter word.  Ons doen dit toe en dit gee verligting en Henru raak beter en rustiger.
Intussen is dit steeds die weiering om te eet en drink. Ek is weer terug op die spuite waarmee ek hom voer en laat drink. Om die vloeistof makliker in te kry, gebruik ek "Thick & Easy" wat die vloeistof soos 'n pap maak en dan "eet" hy basies sy vloeistof.


 



Henru wou nie dat ons sy bene op die bed sit nie. Hy het altyd die een been so uitgeskop en moes ons dit met bande vasmaak om albei op die bed te hou.












Hier kan gesien word hoeveel gewig hy al verloor het.

No comments:

Post a Comment