Sunday, January 13, 2013

23 Maart 2001

23 Maart 2001:

Dr Pitcher sê dat hy die naweek weggaan maar Dr Zorio staan vir hom in. Ek moes probeer om dit reg te kry dat Henru uit sy bottel kan drink voordat hulle die buis kan verwyder en voordat ons enigsins daaraan kan dink om huis toe te gaan. Tot op hierdie stadium wou Henru niks weet van 'n dummy nie en ook nog minder van die bottel. Hy het net eenvoudig geen suig aksie getoon nie. Ook nie tydens die fisio kon hulle enigiets regkry nie.

24 Maart 2001: Henru kry tydens 'n spasma die voedingsbuis in sy hand terwyl die suster besig is met die buis en hy trek dit uit. Die suster het dit probeer terug plaas, maar dit is verstop en hulle moet dit vervang en wag vir Dr Zorio.

Ek vra hom toe of ek 'n kans kan kry tot die volgende dag om te kyk of ek iets regkry en hy sê dit is reg, maar Dr Pitcher sal dan weer terug wees en hy sal dan verdere besluite neem. Ek moes elke milliliter wat Henru inneem aanteken sodat hulle presies kan weet wat aangaan.
 
Ek het probeer met die bottel, maar niks - hy wou net eenvoudig nie suig nie. Ek het 'n 2,5ml spuit gekry en elke keer as Henru sy mond oopmaak, het ek 'n druppel melk, water of vrugtesap op sy tong gedrup. Dit het die sluk aksie begin stimuleer. Ek het dit reggekry dat hy na 'n uur 25ml ingeneem het.

Teen die tyd dat Dr Zorio die aand sy rondtes gedoen het, het Henru 525ml ingeneem vir die dag! Dr Zorio was tevrede en het gesê ek moes net uiters versigtig wees dat Henru onder geen omstandighede mag opgooi nie.

Die volgende dag het ek ook sop vir hom ingegee en teen die aand het ons die inname verhoog tot 900ml. Toe Dr Pitcher die Maandag daar aankom, was hy tevrede en het ook voorgeskryf watter tipes kos Henru moes inneem. Hy MOES 1700ml kos en vloeistof per dag inneem.

Ek het toe 'n groter spuit gekry met 'n dikker punt en so die kos laat puree en vir hom ingegee. Hy het ook baie jelly en vla gekry. Die aand het hy baie gehuil en ek het alles probeer dat hy iets moes drink of suig. Ouma Hannetjie het 'n bakkie met "Sunrise" toffies daar gelos en ek het gedink dal sal die soet help. Die toffie was baie taai en ek het dit gekou en 'n klein stukkie aan die dummy geplak en so in sy mond gehou. Hy het later effens begin suig en aangehou vir ongeveer 'n minuut. Ek het vir hom vrugtesap in die bottel gegooi en hy het 5ml gedrink! Na 'n lang ruk het hy in totaal 20ml uit die bottel gedrink. Dit was 'n begin en ek het dadelik my Pa gebel en hulle vertel daarvan.

 

No comments:

Post a Comment