Friday, January 11, 2013

DIE ONGELUK


Op 9 November 2000 sê Telma my dat sy wil skei en my hele wêreld tuimel in duie. Sy trek uit die huis uit op 8 Desember 2000. Ek wil selfmoord pleeg, maar dankie Here, ek het dit nie gedoen nie en gaan vir behandeling in Bloemcare Kliniek in Bloemfontein in Januarie 2001.

Ek begin my besig hou deur lesse te neem om die kerkorrel te bespeel. NG Kerk, Kerkenberg keur my aansoek goed om hulle orrel te gebruik en die orrelis op daardie stadium, Corné, gee aan my lesse. Ek kry 'n sleutel van die kerk en kan gaan oefen soos en wanneer ek wil.

Vrydag, 23 Februarie 2001 het ek die kinders, Hannes, Francois, Amor en Henru by die skool/kleuterskool gaan haal. Telma kom haal hulle later die middag en hulle vertrek na Telma se ouers in Naboomspruit.

Dit is reënerig en ek is hartseer en alleen en ek gaan oefen orrel. Ongeveer 16:30 lui my selfoon. Dis Freda Botha, Telma se werkgewer en sy lig my in dat daar 'n ongeluk was waarin Telma-hulle betrokke was. Dit was op die N3 iewers anderkant Warden.

Ek ry uit na die toneel en die pad voel oneindig. Freda het my meegedeel dat Henru ernstig beseer is en reeds per helikopter na 'n hospitaal in Johannesburg geneem is. Ek bel vir Dirk du Plooy, my goeie vriend, en ek vra hom om te bid dat die kinders oraait sal wees. Ek laat weet my Pa en susters en die pad wil net nie ophou nie. By elke draai of bult waar ek oorgaan of omgaan, verwag ek om op die toneel af te kom, maar dit voel soos 'n ewigheid voor ek wel daar aankom. Dis toe naby die Roadside afrit amper 30km of so van Warden af.

Soos ek nader ry, doen ek waarnemings en sien 'n wit kar wat in die ongeluk betrokke was waar dit in die veld aan die linkerkant van die pad staan met sy neus in die verkeerde rigting. Die bakkie waarin die kinders gery het, staan op die pad. Die ambulans staan daar en paramedici is ook besig. Ek parkeer my voertuig op 'n veilige afstand om nie in die pad te wees nie.

Een van die paramedici keer my voor en sê ek mag nie op die toneel wees nie. Ek sê vir hom ek is die kinders se pa en hy sê vir my dat die bestuurder van die voertuig (Willem) gesê het hy is die kinders se pa en ek verloor dit!

Ek vertel hulle duidelik wie en wat die man is en hy kom en sê: "Dis nou 'n kaptein in die polisie wie so tekere gaan." Ek sal dit in my lewe nooit vergeet nie. Hier het hierdie man wie deel is van die opbreek van my huwelik en nou nog met my kind wie so beseer is die vermetelheid om dit te kom kwytraak! Paramedici hou ons uit mekaar uit en vertel my wat aangaan.  (een van hulle het my later die aand selfs gebel en om verskoning gevra dat hulle Willem se woord aanvaar het dat hy die kinders se pa is.  Hy het verduidelik dat hulle nie ingelig was nie en gedink ek kom inmeng op die toneel, maar dat hy volle begrip het vir die omstandighede.  Hy het uitgevra na Henru en my sterkte toegewens,)

Ek stap na die ambulans en by die skuifdeur sien ek Telma op die stretcher en sê vir haar: "Die Here praat met ons en ons moet luister" waarop haar antwoord is: "Dis nie die Here wat praat nie, dit was 'n ongeluk." Ek het net dar omgedraai ene weggestap van haar af na die agterdeur van die ambulans waar Amor gelê en huil het. Sy soebat my om haar saam met my te neem. Ek praat met die paramedici en hulle verduidelik dat hulle nie kan vasstel watter aard van beserings sy het nie en as daar iets fout is, kan hulle aandag daaraan gee in die ambulans waar as sy saam met my is, kan ek nie vir haar help soos hulle kan nie.

Ek troos haar en verduidelik aan haar wat aangaan en dat sy saam met Telma in die ambulans is en nie alleen nie, dat dit beter vir haar sal wees as sy saam met die ambulans ry. Sy aanvaar dit en word rustiger.

Ek stap na die bakkie waarmee hulle gery het en kry Francois en Hannes agterin. Hulle kla dat hulle seer is van stampe, maar alles anders voel oraait. Ek verduidelik ook aan hulle dat hulle eerder per ambulans Bethlehem toe geneem sal word en ek sal hulle by die hospitaal kry.

Ek laai hulle tasse in my voertuig en ry terug Harrismith toe om vir my die nodige te gaan kry en vertrek Bethlehem toe.  [Ek sal ook nooit vergeet nie, daar was ‘n sak aartappels ook agter in die bakkie en een van die polisiemanne het gevra of ek dit nie ook wou saamneem nie en wat van die ander tas (ek het aangeneem dit was Willem se tas) waarop ek gesê het hulle kan dit weggooi wat my aanbetref, maar dat ek geen belang daarby gehadd het nie.]
 

DIE HERE WEET
deur Lillian Aucamp op Vrydag 2 Desember 2011

Wanneer jy moeg en moedeloos voel
weens verpletterende omstandighede en situasies
Weet die Here hoe hard jy probeer het.
Wanneer jy so lank trane gestort het
En jou hart is beklemd ....
Het die Here jou trane getel.
As jy voel jou lewe is doelloos
En die tyd het jou agtergelaat .
Was die Here saam met jou.
Wanneer jy eensaam voel en jou vriende
Te besig is om te bel of nie verstaan nie ...
Wag die Here saam met jou.
Die Here is aan jou sy wanneer jy dink jy alles
Probeer het en nie meer raad weet nie ....
Hy het die oplossing.
Wanneer niks sin maak nie en jy seer,
Verwar of gefrustreerd voel ....
Het die Here die antwoord.
As jou blik op die lewe verhelder
En jy tekens van hoop in die lewe vind
Het die Here vir jou gefluister.
Wanneer alles klopdisselboom gaan
En jy volop stof tot dank het ....
Het die Here jou geseën.
Wanneer iets verstommends gebeur
En jy daardie spesiale iemand vind ....
Het die Here se glimlag op jou gerus.
As jy 'n droom het om te volg
En ook 'n werklikheid om uit te lewe
Het die Here jou oë geopen en jou naam genoem.
Onthou net, waar jy ook al is,
en wat jy ook al in die gesig staar

DIE HERE WEET!

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment