Saturday, January 19, 2013

EPILEPSIE

Henru se toksiese vlakke wou net nie stabiliseer nie en toe ek sy bloeduitslae weer kry op 10 September 2002 en dit vir Dr Zorio deurgee, het hy versoek Henru moet weer Milpark toe gaan vir 'n scan en EEG toetse en is hy die 11de September 2002 weer opgeneem.

Die scan het gewys dat die ventrikels steeds vergroot is en daar was ook steeds bloeding in die brein volgend die verslag, Die shunt het steeds goed gefunksioneer.

13 September 2002 het Dr Shah, 'n pediater en Dr Schulz Henru na die epilepsie kamer geneem in Milpark. Hier is hy soos in ICU in 'n "cubicle" gesit met 'n videokamera wat op hom gerig is. 'n Klomp elektrodes is aan sy kop vasgeplak wat dan die breingolwe registreer in verskillende kleure op 'n rekenaarskerm en moes hy 72 uur so gemonitor word.

Hierdie golwe wat veronderstel was om redelike eweredige kurwes binne 'n spektrum te gee, was totale chaos. Sommige van hulle was totaal buite die spektrum.  Dr Shah het aan my gesê dat Henru basies 24uur per dag in 'n permanente staat van epilepsie is en deur hierdie toetse en evaluering sal sy kan bepaal watter behandeling hy moes kry.
 
 
 
 
Hier is dit in Pretoria waar ons ook gereëld EEG's laat doen om die epilepsie te monitor.








My goeie vriend, Dirk du Plooy (hy is eintlik meer van 'n broer as 'n vriend) het besoektyd by ons 'n draai kom maak. Ek het op die rekenaarskerm gaan kyk wat aangaan toe ek op die videokamera se monitor sien hoe Dirk sy hande op Henru lê en hy vir hom bid. Soos wat ek op die kamera sien hoe hy bid, so neem ek toe ook waar hoe hierdie warboel van lyne van die EEG na hulle onderskeie spektrums terug beweeg. Hoewel nie heeltemal binne die spektrum nie, maar daar is ten minste nou lyne en nie 'n gekrabbel op die skerm nie.

As ek dit nie self beleef het nie, sou ek dit bitter moeilik vind om dit te glo, maar daar voor my oë verander hierdie lyne soos in grafiek lyne.  Dit kan ook nie toegeskryf word aan medikasie nie, aangesien Henru sedert sy opname die 11de nog geen medikasie weer ontvang het nie.

Toe ek sien Dirk het klaar gebid, toe roep ek hom en hyself kon nie glo wat hy waarneem nie. Dit was een van die grootste oomblikke vir ons albei waar ons kon sien wat die krag van gebed is.

Toe Dr Shah die volgende oggend met haar rondtes omkom, het sy net eenvoudig gesê "This change is unbelievable". Die 16de het hulle die klomp drade (wat ek sommer die kragstasie noem) afgehaal en medikasie begin toedien en die 18de is ons weer terug huis toe.

Ek moes hom toe weekliks weeg en monitor om sy medikasie, wat volgens gewig toegedien word. te kon monitor. 3 Oktober 2002 het hy 13,5kg geweeg.

15 Oktober 2002 was ons weer by Dr Shah en was sy tevrede met Henru se toestand en vordering



Hier is 'n video-opname van Henru tydens een van sy epileptiese sessies.









No comments:

Post a Comment