Ons is weer Milpark Hospitaal toe, maar die keer net vir 'n opvolgbesoek en toetse en weer 'n scan.
(Ons het ook ons pret hegad so in die
hospitaal. Toe ons daar aankom, was Dr. Orio
in die teater en moes ons daar in die kamer wag op hom. Ouma Hannetjie het later gesê sy is baie moeg
en ek maak toe die voorstel dat ek vir Henru vashou, dan kan sy in die kot
slaap en sy is toe baie gelukkig dat sy bietjie kon lê. Sy het toe aan die slaap geraak en my Pa het
die kante opgetel sodat die bed heeltemal toegemaak is aan die kante. Dr. Zorio het toe daar opgedaag en toe ons
Ouma Hannetjie wakker maak, het sy geskrik omdat sy so toegemaak is in die
kot.)
Dr Zorio is tevrede, maar die ventrikels in die
brein is BAIE vergroot. Al wat nou gedoen kan word is wag en kyk wat gebeur en
daar kan niks verder vir hom gedoen word nie.
8 September 2001
Ons kan weer huis toe gaan. Henru se toestand
verbeter, maar uiters stadig. As ek aandag aan hom gee, glimlag hy en maak
geluidjies, maar geen lag nie. Deur die geluide wat hy maak, leer ek om te
onderskei tussen sy gemoedstoestand van wanneer hy tevrede is en wanneer daar
fout is. As ek agterkom daar is fout, soek mens elke dingetjie en kyk wat sy
reaksie is deur hom van posisie te verander, op te tel, winde uitvryf - enige
moontlikheid totdat mens weer kan identifiseer dat hy tevrede is.
Met sy gehoor skort daar niks. Sy versorger vertel
my hoe hy reageer as ek met die voertuig by die huis aankom en draai hy sy kop
in die rigting van die klank. Ook kan ek duidelike reaksies waarneem wanneer ek
met hom praat en wanneer iemand anders met hom praat, want as iemand anders met
hom praat, toon hy geen reaksie nie en lê doodstil, maar as ek met hom praat,
dan draai hy sy kop in my rigting en het so skelm glimlaggie.
Ek hou vol met die arbeidsterapie en die Omron
apparaat en dit laat die spasmas bietjie ontspan.
21 September 2001 neem ek Henru vir 'n tweede
opinie na 'n oogspesialis in Bloemfontein, Dr. Potgieter. Hy bevestig Dr. Taylor
se bevinding van die kortikale blindheid en sê ook dat hy verdere slegte nuus
het. Henru se pupille reageer geensins op die lig nie. hy doen nog verdere
toetse en sê dat die oog senuwees nie beskadig is nie en dat dit voorkom dat
die bloedsirkulasie goed is in die oë. Henru is beslis blind volgens hom.
10 Oktober 2001
Ons is weer na Dr Zorio vir opvolg ondersoek en
weereens is hy tevrede met Henru se toestand onder die omstandighede. Die
ventrikels is steeds uiters vergroot, die drukking is steeds daar en daar is
ook steeds bloeding in die vog.
19 Oktober 2001 huil Henru en omdat hy nie veel
geluide maak en huil nie, weet ek daar is fout. Hy het ook koors. Ek dien 'n
setpil toe en dan kalmeer hy, maar na die pil uitgewerk is, begin hy weer huil.
Ek bel Dr Zorio en hy sê ek moet die shunt se
pompie druk en pomp. Ek gee weer 'n setpil en hy raak beter. Ek druk die pompie
so paar keer elke uur en dit verlig die drukking en teen die 23ste Oktober is
hy weer homself.
3 November 2001 braak hy verskriklik en huil baie.
Ek druk sommer by voorbaat die pompie en hy herstel weer. Dr Zorio sê dit is
soos die vog opbou en nie vinnig genoeg dreineer nie wat die braking veroorsaak
en dan het hy ook ontsettende hoofpyn. Hy sê ook dit is baie duidelik dat die
shunt goed funksioneer aangesien Henru 'n duidelike reaksie het wanneer die
shunt gepomp word. Sy toestand stabiliseer. Ek druk die pompie ten minste een
keer per dag en sy drink en eet verbeter. Hy word nie meer so maklik naar nie
en ek begin sy kos stelselmatig dikker maak. Hy hou ook van purity. Hy begin
ook fyn vleis eet en fyn rys. Daar is geen verbetering in die sit nie en ten
spyte van alle metodes wat ons geleer het by die fisioterapeut en oefeninge,
kan hy steeds nie self omrol nie en moet telkens van posisie verander word. Sy spasmas
verbeter ook, maar sodra hy in 'n vreemde omgewing is of iemand anders as ek of
Roselinah, sy versorger, hom hanteer, dan gaan hy weer in spasma in.
Een naweek was my Pa-hulle by my en ek was buite
die huis toe Ouma Hannetjie na hom omgesien het in die huis. Hy het begin huil
en ek het ingegaan en met hom gepraat en hy het onmiddellik opgehou huil en aan
die slaap geraak.
18 Desember 2001 het Hanlie, my suster, verjaar en
ek het haar gaan besoek by die kliniek waar sy gewerk het. Hulle het ons genooi
vir koek en tee en daar het Henru vir die eerste keer hardop gelag, sommer so
uit sy maag uit, maar daarna het dit nie sommer weer gebeur nie.
24 Desember 2001 sien ek hy het 'n veluitslag en
neem hom dokter toe. Dit is 'n tipe ekseem en hy kry salf wat ek moet aansmeer.
Ek vra haar om te kyk na die pupille want dit wil vir my voorkom asof daar 'n
effense reaksie is met die pupille en hy maak ook sy oë toe as hy in die sonlig
is. Sy bevestig dat daar wel reaksie is alhoewel die linkerkant stadiger
reageer as die regterkant, maar daar is geen reaksie op enige beweging.
No comments:
Post a Comment