Saturday, January 19, 2013

NOG VAN 2002

10 Junie 2002 was Henru nie lekker nie.
Toe ek by die huis kom, was Roselinah se terugvoering dat hy baie slaperig is en ook naar word.
Dr. Zorio het weer bloedtoetse aangevra en is ons na Dr. Le Roux waar sy bloed getrek het. (Hou in gedagte dat Henru nie maklik bereikbare are het op sy hande of waar mens normaalweg bloed trek in die buig van die arm nie. Elke keer moet ek sy kop vashou en iets doen wat hom of laat huil of gesels of iets sodat die are in sy nek kan uitstaan en dan trek hulle bloed uit sy nekare.)
11 Junie 2002 kry ons die bloeduitslae en beveel Dr le Roux aan dat ons Johannesburg toe gaan en 19:20 word Henru opgeneem in Milpark. Die Epanutin veroorsaak toksiese vlakke in die bloed en dit het te hoog gestyg en moes hy 'n drup kry om dit te stabiliseer.  Die 12de was hy weer beter en die 13de is ons weer huis toe.
Ongelukkig het Suzaan Botes geƫmigreer na Kanada en moes ons 'n nuwe terapeut kry. Die "gewone" fisioterapeute wou nie met Henru werk nie en het verduidelik dat dit gaan oor die korrekte posisionering en strekke wat met serebraal gestremde persone gedoen word en dit is waar die "Neuro ontwikkelings terapeute" voor gekwalifiseerd is.
Suzaan het toe aan ons die die voorstelle gemaak van een in Pretoria en een in Klerksdorp. Ons het op Klerksdorp besluit aangesien Ouma Hannetjie se suster in Klerksdorp bly en so het ons by Christa Kritzinger uitgekom.
Ons het een keer per maand op 'n Saterdag na haar gegaan waar sy dan vir ongeveer tot drie ure met Henru gewerk het en vir ons gewys het wat om te doen. Ons het dit op video geneem sodat ek kon sien wat om te doen, dan het ons huis toe gegaan en die oefeninge gedoen vir die maand. Die volgende keer wys sy vir ons ander oefeninge en so kry ek en Roselinah dan opleiding en word een keer per maand geƫvalueer om te sien of ons dit korrek doen.

 

No comments:

Post a Comment