Saturday, January 19, 2013

ANTWOORDE ONTBREEK

6 November 2002 om 15:25 het die regter in die Hooggeregshof, Bloemfontein my huwelik van 12 Jaar (vanaf 17 September 1988 tot 7 November 2000 toe Telma my gesê het sy wil skei) as ontbind verklaar.
Ontbind - ek sit nou en dink daaroor, dis eintlik waar, want ons huwelik het ontbind, vrot geword en in die niet vergaan.  Iets wat ek gedink het mooi was en oor gedroom het as ons gespaar sou word, oor ons kinders en hoe ons saam sou oud word en dinge saam kon doen en as die kinders groot is en uit die huis is, ons saam die land deur kon toer. Maar, skynbaar was ek die grootste vark in die verhaal en kon Telma nie saam met my leef nie en dis hoekom sy groener velde gaan soek het.
In elk geval, die hofbevel het gesê dat die kinders elke alternatiewe naweek by ons moet gaan kuier. Dit het dus daarop neergekom dat as die ander kinders by my kuier, gaan Henru na sy ma toe sodat ons elkeen onderskeidelik meer tyd met die kinders kan spandeer.
Daardie skoolvakansie is Henru vir die eerste keer na sy ma vir so lang tyd.

 
Susan Mare het in die "Vrystaat" van 13 Junie 2002 die eerste berig oor Henru geplaas en weens die hulp wat ek daaruit gekry het, het ek gevoel ek kan ook iets vir iemand doen.
 


Ek het toe besluit om vir die mense van Eliza Liddle Tehuis vir Bejaardes op Harrismith - wie nie na hulle mense toe is of nie meer mense het na wie toe hulle kon gaan oor die tyd nie - vir Nuwejaarsdag 'n skaap op die spit te gaan braai en hulle bietjie te trakteer.   Ek en Phillip Schulz het 'n skaap gekry wat geskenk is deur Busstop Slaghuis en die braai vir hulle gaan doen.
 
Terwyl ons daar besig was met die braai, het Telma gebel en gesê dat hulle weg was en hulle honde was in die huis en het die huis bemors en hulle moes die huis skoonmaak en of sy maar die kinders na my toe bring.
 
Ek het aan haar verduidelik dat ek besig was met die braai en nie die kinders kon oppas nie. Ten spyte hiervan het sy steeds die kinders daar by my kom aflaai.
 
Ek het Henru met sy stoel in die kombi laat sit en Phillip se vrou, Rita, het daar by Henru gesit om hom op te pas tot ons klaar was met die braai en ek kon huis toe gaan.

Telma het nie weer vir Henru kom haal nie en die ander kinders eers weer kom haal toe die skool begin het.  Sy het wel nog die alternatiewe naweke hom kom haal wat hy by haar gaan kuier het en weer die Junie-vakansie 2003.


No comments:

Post a Comment