Die
goed:
Ek en
Roselinah het so aangegaan met Henru se behandeling en tuis versorging en dit
het net goed gegaan. Daar was nie weer terugslae nie, die toksiese vlakke in sy
bloed het gestabiliseer en daar was niks om oor te kla nie.
Die sleg:
Ouma Hannetjie het siek geword met nier moeilikheid. Dit was baie swaar om haar
so te sien, maar dit het weer beter geword. Sy is weer opgeneem in die hospitaal vir die nier
storie en het 'n bloedklont in haar lies gehad met die verdere gevolg dat haar
linker been geamputeer moes word net bokant die knie.
Dit
het haar gebreek en sy het net sieker en sieker geword. Sy was later in ICU en
aan 'n ventilator gekoppel. Tydens een besoek aan haar was sy baie hartseer en
het gevra na Henru en dat ek hom moes bring. Ek het hom weer op Kersdag na haar
geneem en sy was baie bly oor wat ek haar vertel het van sy vordering, alhoewel
sy nie kon praat met die pyp van die ventilator nie, maar sy het vir my die
duim op gewys.
Weer
goed:
Ek en
my suster Mariƫtte, het plek gekry met behulp van AO Marius Swart wie saam met
my op Harrismith gewerk het om bietjie weg te kon kom en is vir 12 dae
Hiberdene toe. Die ander kinders kon die
see baie geniet en ek het vir Henru 'n swem suit" gekry wat soos 'n "baby
grow" lyk en het hom ook bietjie in die water gesit. Alhoewel dit koud
was, het hy die water nogtans geniet, maar dit was te koud vir hom. Dit was vir
my baie sleg om met Henru daar te wees weens die feit dat die kindertjies van
sy ouderdom daar in die vlak branders baljaar en hier sit hy en kan nie eers
sien of ervaar waar hy is nie.
Dit
lyk asof die seelug hom goed gedoen het en hy het lekker in sy stoel gesit en
slaap.
Baie sleg:
9 Januarie 2004 het ons die oproep ontvang dat Ouma Hannetjie
oorlede is. Min het ek besef dat toe ons haar besoek het op Kersdag, dit die
laaste sou wees dat ons haar sou sien. Sy was, saam met my pa, een van my groot
steunpilare. Sy het alles met ons meegemaak van die dag van die ongeluk af en
het gereeld gebel om te hoor hoe dit gaan. Ons het baie pret saam beleef saam
met die hartseer wat ons beleef het. In die hospitaal het my Pa en ek baie
poetse op haar gebak, maar net so kon ons saam huil en het haar dood ook 'n
groot leemte by ons gelaat. Henru het selfs 'n geluid gemaak wat geklink het
soos "Ouma" en waar gaan hy nou weer 'n Ouma kry?
No comments:
Post a Comment