Thursday, January 24, 2013

VAKANSIE IN DIE KAAP

My vriend Dirk du Plooy en sy vrou Engela het ons saamgenooi na hulle vakansieplek in Nature's Valley vir die April-Mei 2006 vakansie, maar ons het 'n probleem gehad met die vervoer. Henru se heupe was besig om te ontwrig en hy kan nie so ver ry nie.
 
Ek het te hore gekom dat Kulula vir lede van die SAPD spesiale aanbiedinge gehad het en het met hulle begin onderhandel om te hoor van vliegtuigkaartjies vir my en Henru dan sou Dirk en Engela met die kar afry en ons op George by die lughawe kry.
Met ons onderhandelinge gee Kulula toe vir my en Henru 'n retoerkaartjie van OR Thambo na George vir R500! Nog vriende van my, Santie Joubert en haar dogters Juanita en Yvette het ons by die lughawe gaan aflaai en so het ons die wonderlikste ervaring gehad met ons eerste vlug in 'n vliegtuig.
Eerstens by die inboek het hulle ons wonderlik gehelp en ondersteun, want ek het nie 'n idee gehad wat gaan op 'n lughawe aan nie. Toe ons deur is, het hulle ons na 'n wagkamer geneem en gesê ons moet daar wag totdat hulle ons kom haal. Daarvandaan het hulle ons deurgeneem en met 'n klein vragmotortjie kom oplaai - Henru al die tyd in sy stoel - tot by die vliegtuig se agterdeur en opgehys tot by die deur waar ons oorgestap het en ek Henru uit die stoel gehaal het en is ons na ons sitplek.
Daar was reeds 'n man wat by die venster gesit het en ek en Henru het die sitplekke langs hom ingeneem. Net voor die vliegtuig opstyg, het die lugwaardin die man kom vra of hy nie op 'n ander sitplek wil gaan sit nie, aangesien die vlug nie vol was nie en dan was daar plek waar ek Henru kon neerlê as ons klaar opgestyg het. So het ons toe gerieflike spasie gehad van Johannesburg af tot op George.
Dit was ongelooflik om dit te beleef en dat ons binne 'n uur en 'n half van hier tot daar kon vlieg.
Dit was baie aangenaam om vir die tydperk daar te kon deurbring.  Ek het met Henru in sy stoel op die strand gaan stap, maar o wee!  Groot fout!  Die stoel se wiele en die sand het nie lekker saamgewerk nie en as mens op die waterlyn stap het dit ook nie gewerk nie.  Ek het later die stoel agter my aangetrek inplaas van om dit te stoot, want die klein wieletjies voor wou nie lekker werk nie.  So het ek darem ook 'n goeie oefensessie ingekry.
Ek wens so ek kon weet wat in Henru se gedagtes omgegaan het of wat hy ervaar het, want daar was tye waar hy spontaan gelag het, so asof hy dit werklik kon geniet het.
Ons verblyf was ook baie lekker.  Dit is 'n groot huis waarin ons gebly het met 'n groot bo-vertrek.  Daar was geen TV nie en was ons regtig net lekker rustig.  Alhoewel daar 'n paar dae was wat dit gereën het, was dit steeds lekker om net te kon sit en niks doen met die see en die natuurskoon om mens. 
Met die terugkom op die vliegtuig (en ook weer op die lughawens) het ons ook weer dieselfde uitstekende diens en behandeling gekry. Ek het al gehoor van baie mense wie klagtes gehad het oor die behandeling wat gestremdes ontvang het, maar met Henru het ons "VIP Treatment" gehad en dankie aan Dirk en Engela vir die heerlike tyd wat ons daar geniet het.  Ek sal beslis weer so maak as die geleentheid daar is. 

 


 

Henru se posbus is ook saam
met Dirk-hulle in die waentjie.


Met die terugkomslag bokant George.
 
 
Nature's Valley se see.
 
 
In Monkey Land
 
 
Hierdie papegaai was by een van die uitkykpunte in die
voëlpark waar ons ook was en het so op die plank aangestap
gekom na Henru en voor hom gaan staan en vir hom
"Hallo" gesê. 


No comments:

Post a Comment