Friday, January 11, 2013

ICU

Dr Zorio, die Neurologiese Chirurg, het my meegedeel dat die bloeding tussen die brein lobbe is. Dit is te diep om te dreineer en net tyd sal leer wat gebeur. Die drukking blyk hoog te wees en hulle moet 'n monitor insit waarmee die drukking gemeet kan word. Dit word gedoen deur 'n gaatjie in die skedel te boor en die meter insit en dit apparaat vas te skroef in die skedelbeen. Ek weet nie presies hoe dit gedoen is nie, maar nadat die apparaat gekoppel is, is ek meegedeel dat die drukking tussen 0-15 moet wees, tot by 20 is aanvaarbaar, maar daarna was dit glad nie aanvaarbaar nie. Ek het die drukmeter afgeneem waar dit op 75 gestaan het. Ek is toe versoek dat ek nie mag toelaat dat Henru agterkom ek is in die vertrek nie. Ons het deur die masjiene vasgestel dat hy reageer as ek daar aankom en met hom praat, want dan het al die masjiene meer aktiwiteite getoon. Hy het geen reaksie getoon as my Pa en Ouma Hannetjie daar was nie. Soos byvoorbeeld die drukmeter wat daal tot ongeveer 50 en die hartmonitor tot 130 en as ek met hom praat of hom aanraak, styg die drukmeter tot 75 en die hart tot 170. Die asemhaling kon ook waargeneem word hoe dit vinniger raak as ek daar is.
Sy toestand het daagliks bietjie vir bietjie verbeter, maar hy het steeds geslaap weens die sedasie en hy het net so af en toe sy oë bietjie oopgemaak, so gefladder en weer toegemaak. Elke dag moes die vog op sy longe dreineer word en die buis voedingsbuis moes gespoel word.
Hy is later verskuif na 'n ander saal in die ICU omrede hulle die "cubicle" benodig het vir 'n ander pasiënt. Henru was steeds aan die masjiene, maar die brein monitor het begin stabiliseer op 13 en nadat dit vir twee dae konstant gebly het, of ek met hom praat of nie, het hulle die monitor verwyder. Die sedasie is stelselmatig verminder en het meer "wakker" geword en sy oë meer oopgehou.
Ek het dikwels tussen besoektye of as die personeel met hom besig was, daar in ICU se trauma kamer gaan sit waar dit stil en rustig was en soms ook so bietjie daar geslaap as daar niemand was nie. Dit was maar soos 'n sitkamer en daar kon maklik ongeveer 10 persone sit. Een dag het ek daar aan die slaap geraak en toe ek wakker word was daar ander mense in die vertrek saam met my. Die een vrou het my gevra of ek dalk 'n koeldrank wou hê en ons het maar so oor en weer begin gesels oor die pasiënte wie daar in ICU was.
Die vrou het haar toe voorgestel as Marina van Aswegen en het my gesê dat hulle 'n karavaanpark het in Honeydew omgewing en dat sy my Pa-hulle uitnooi om daar te gaan slaap waar dit goedkoper sou wees as in die hotel waar hulle toe gebly het. My Pa-hulle het toe elke dag ingekom hospitaal toe en saans weer uit na Marina-hulle toe.
 

No comments:

Post a Comment