Sunday, January 20, 2013

PRETORIA TOE

Sedert die dag van die ongeluk op 23 Februarie 2001 tot 19 Maart 2004 het ek en Henru 37 000 km gery na dokters, hospitale en fisioterapeute toe. Weens hierdie feit het ek besluit om 'n verplasing te vra na Pretoria en kry toe die pos van die Hoof: Voorsienings Lynbestuur: Wierdabrug in Valhalla.
Dit was vir my 'n uiters moeilike besluit om te neem weens die feit dat ek die ander drie kinders, Hannes, Francois en Amòr, nie meer so dikwels sal kan sien nie want ek kan nie elke tweede naweek Harrismith toe ry om hulle te gaan haal en weer terug te neem nie, dan gaan ek in elk geval steeds baie op die pad wees.  Verder ook die feit dat Henru groter word en sy hantering raak moeiliker.
Behalwe hierdie ryery, is die enigste ander oorweging van die verplasing die feit dat ons naby die dokters is wie hom behandel en dit vinniger gaan wees om hulp te kry indien daar 'n krisis sou wees. Daar is ook nie sodanige terapeute beskikbaar in Harrismith en Bethlehem nie en so word ons trek gelaai en ry ons 22 April 2004 na Pretoria, ons nuwe tuiste.

 

OUERS
Deur Lillian Aucamp op Dinsdag 27 Desember 2011 om 16:53
 
Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. – Joh. 3:35

LIEFDE word op so baie maniere oorgedra. Daar is egter geen liefde so mooi en onvoorwaardelik soos die van ‘n ouer vir sy kind nie. En so het ons hemelse Vader ons ook lief – onvoorwaardelik, te alle tye en onder alle omstandighede.

Hy staan ons by, inspireer ons, voorsien ons van die nodige insig en kennis en help ons om vanuit Sy liefde, lig en krag binne-in ons ‘n sukses van ons lewens te maak.

Kom ons lê ons dan nou daarop toe om vandag, en sommer elke dag van nou af aan, aan andere die soort liefde te gee wat God ons gee. As nuwe ouers, of as ouers vir wie die tyd aangebreek het om hul kinders op hul eie voete te laat staan, kan ons ‘n atmosfeer van liefde en inspirasie skep wat hul aanmoedig om te groei en verder te ontvou.

Kinders herinner ons aan die dinge wat mooi en goed is. Laat ons dan hierdie inherente skoonheid van kinders aanwakker en laat uitblom, want hulle is die grootmense van die toekoms.

En wanneer ouers uitgesluit word uit hul kinders se lewens en verworpe voel, kan hulle nog altyd aan hul liefde betoon deur vir hulle te bid en op te dra aan God. Al versmaai hulle vandag u ouerliefde, sal hulle eendag wel verlang daarna en dit soek – daarvoor sorg ons eie Hemelvader – al is dit ook eers eendag wanneer hulle in presies dieselfde bootjie is as wat u nou is. As God klein alledaagse gebede wat u bid verhoor, hoeveel te meer sal Hy u vurige en aanhoudende gebede as Ouers verhoor!

 

No comments:

Post a Comment