Friday, January 11, 2013

25 FEBRUARIE 2001


Ek het soveel moontlik tyd daar by Henru deurgebring. My Pa en Ouma Hannetjie het ook maar so rondgehang daar in die hospitaal, dan in die wagkamer, dan in die kafeteria en dan bietjie gaan skuins lê vir wat dit werd was in die kar. Hulle het ook in die kar geslaap daar in die parkeerterrein. Soggens het ek reëlings getref dat hulle darem bietjie kon gaan was in 'n badkamer. Die nag matrones het saans na 23:00 vir my gereël dat ek in 'n saal kon gaan slaap waar daar 'n oop bed beskikbaar was.

Die dokters wie Henru behandel het was Dr Pitcher, die Pediater en Dr Zorio, die Neurochirurg.

Teen ongeveer 19:00 het Dr Pitcher sy rondtes kom doen en gesê dat Henru nog kritiek is, maar stabiel en hulle gaan sy sedasie die Maandagoggend begin verminder sodat hulle kan sien wat sy reaksie is. Hy het my gewaarsku dat Henru nog uiters kritiek is en dit is 'n risiko wat hulle moet neem om hom te begin wakker maak.

Net na hy weg is het die suster wie diens gedoen het by Henru, gevra ek moet Henru dophou, sy gaan net sy medikasie vir die nag kry by die diensstasie wat skaars 10 meter van Henru af is. Toe sy so halfpad oppad was daarheen, het die masjiene aan die skree gegaan en dit het gelyk of mens Henru stadig met 'n kombers toetrek soos hy blou verkleur het. Ek het haar geroep en sy het onmiddellik teruggekom na Henru. Daar het nog ander personeel ook kom help en ek was half vasgekeer in die hoek en wou uitkom om spasie te maak dat hulle met hom kon werk. Sy het vir my gesê: "Bly waar jy is, jou kind is besig om dood te gaan" en hulle het hom met die hand masjien gepomp om asem te haal en ek weet nie wat alles nog nie en toe werk die masjiene weer normaal.

Al wat ek op daardie stadium gesê het was "Here, laat U wil geskied".

Hulle het die dokter gebel en het my meegedeel dat Henru uiters onstabiel en kritiek is en ek moet die ergste verwag. Die suster het ook my om verskoning gevra dat sy dit so kras gestel het, maar dat dit 'n kritieke situasie en die waarheid was en hulle moes doen wat hulle kon om hom te red.

Ek het teen 23:00 gaan slaap en was voor 05:00 weer by Henru. Die suster het my meegedeel dat Henru se hart nog 4 keer gaan staan het deur die nag, maar dat hulle hom kon stabiliseer.

Met Dr Pitcher se rondtes het hy vir my gesê dat Henru steeds uiters kritiek maar weer stabiel is. Hy het ook gesê dat ek sy ma in kennis moes stel van sy toestand en dat hy steeds vrees vir Henru se lewe. As sy hom nog lewend wou sien, sou hy aanbeveel dat sy ook oorgeplaas word na Milpark.

Ek het sy ma gebel die 26ste Februarie. Willem het die telefoon beantwoord en ek het hom gesê ek wil met Telma praat en het aan haar vertel wat gebeur het en wat die dokter gesê het. Sy het talle vrae gehad van hoe sy daar sou kom, wie die kostes betaal en dies meer, so asof sy enige verskoning gesoek het om nie oorgeplaas te word nie. Ek het haar meegedeel dat ek alles reeds met die mediese fonds uitgeklaar het, alles sal betaal word an dat daar geen probleem is nie, toe gooi sy my met die aantyging dat ek net jaloers is dat sy en Willem saam is en hulle net uitmekaar wou hê.

Daar het ek besluit dat dit die laaste is - ek het gedoen wat ek kon en sy wil nie by haar kind wees nie. Behalwe dit het ek ook nie kans gesien om met haar en Henru in dieselfde hospitaal te wees as dit is wat haar houding en gevoel was nie en het haar gesê dat sy moes bly waar sy is, ek sal Henru se situasie op my eie hanteer.

 

No comments:

Post a Comment